19 October 2008

Hoekom sal ons nou hier bly?

Die man wat die robbe toertjies leer by St Andrews se akwarium – kom ons noem hom Andy – is onmiddelik meer spraaksaam toe hy hoor ons is van Suid-Afrika.
Hy is hard besig om te spaar sodat hy weer Suid-Afrika toe kan gaan. Hy wil daar gaan klasgee en werk, vertel hy.
“Waarom sou hy dit wil doen as almal uit Suid-Afrika wil padgee? Kyk net hoeveel Suid-Afrikaners is hier in Brittanje,” wil ons weet.
Hy kyk ons aan asof ons pas voorgestel het dat ons die raarste vis in sy tenk vir aandete eet.
“Dis die mooiste plek in die wêreld. Waarom sou enigiemand nie daar wil bly nie?” vra hy verbaas.
Die gesprek met Andy spook nou reeds ’n paar dae by my. Veral omdat ons, soos Andy, ook besig is om planne te maak om “huis” toe te gaan.
Ten spyte van die feit dat ek die Britte gedurende my tyd hier leer ken het as ’n ongelooflike akkommoderende spul wat agteroor buig om ander nasies en kulture te laat welkom voel op hul eiland, is ek nie Engels nie.
Gedurende die drie jaar wat ek hier in die noordelike halfrond gebly het, het ek baie waardering gekry vir die historiese frats wat my gemaak het wat ek vandag is. My voorvaders was Frans, my taal ’n halfnaatjie boetie van Hollands terwyl my breë sosio-politiese lewensbeskouing sterk beïnvloed is deur ons Anglo-Saksiese koloniale meesters.
Ek is ’n onbeskaamde basterkind. Op my mees rasionele oomblikke voel ek my nêrens werklik tuis nie. Té wit vir Afrika en te wild vir Europa.
’n Mens moet jou egter weerhou daarvan om jou eie geval as besonders voor te hou. Die wêreld is vol sulke ontuises: Karibiese Engelse, Turkse Duitsers, Duitse Namibiërs – baie van hulle selfs meer volksvreemd as Afrikaners.
Daar is sommige (wit) Suid-Afrikaners wat argumenteer dat ’n mens dié siklus van nêrens tuis wees moet verbreek. Hulle sê ’n mens moet emigreer om jou kinders ’n beter kans te gee en is gewoonlik erg trots op die feit dat hulle spruite nou egte Engelsmannetjies is wie se plat Hollywood polisieman-Engels binne een generasie uitgeteel het of wat nou net so goed skaats soos ’n Kanadese yshokkie-speler.
Ek bewonder die opoffering wat sulke mense bereid is om vir hul nageslag te maak, maar self sien ek nie kans om só ’n reusagtige kulturele afgrond tussen my en my kinders te plaas nie.
Hoe, wonder ek, beantwoord jy ’n nuuskierige kleuter se miljoene “hoekom-vrae” oor die goggatjies, die bome, die grasse en die blommetjies wat hy elke dag teenkom as jy self nie die nuwe wêreld rondom jou ordentlik ken en verstaan nie? Hoe leer jy ’n jong seun conkers speel as jy self net kennetjie ken?
Ek weet dat ek nie die enigste een is wat met hierdie probleme worstel nie. Immigrasie prokureurs hier in Londen vertel my dat die meerderheid Suid-Afrikaners wat terugkeer huis toe, is jong mense wat ’n paar jaar hier gewerk het en pas met ’n gesin begin het. Dit is vir hulle wie die gekombineerde trekpleister van oupa en ouma en die herinneringe van hul eie grootwordjare té veel raak.
Want ja, dit sal dalk nuus wees vir baie van Rapport se meer pessimistiese lesers, maar die migrasie-vloei tussen Brittanje en Suid-Afrika is nie net in een rigting nie en duisende Suid-Afrikaners wat hier woon, speel met die idee van terugkeer.
Met die Britse ekonomie wat nou ’n seker resessie in die gesig staar, voorspel ek dat baie Suid-Afrikaners wat tot nou toe net oor die moontlikheid getob het, hulle planne tot uitvoering gaan bring. Hierdie is mense wat hulle eenvoudig nie gaan steur aan die bangmaakstories oor misdaad, oor Zuma en ANC-skeurings en die holrugdebat oor bly of gly op die koerante se brieweblaaie nie.
Elke keer as ek oor dié sake nadink, is daar ’n paar reëls uit David Kramer se Matchbox Full of Diamonds wat by my opkom. Dis baie gepas, omdat dit die irrasionele aard van enige debat oor identiteit en blyplek so mooi saamvat:
Miskien vir jou is die plek lelik/ Maar vir my is die plek mooi/ Hoekom sal ons nou hier bly/ Want die Here het ons hier gegooi.

  • Hierdie rubriek is vir die eerste keer in Rapport gepubliseer op 12 Oktober 2008.