28 July 2008

’n Seisoen van misnoegdheid is almal se voorland

Kuiermense uit Suid-Afrika is altyd ’n groot plesier.
Want saam met die gesels en lekker lag bring hulle ook altyd stories van sonskyn en braaivleis, van swem in die see in die middel van die winter – al die goed wat ’n mens laat uitsien na die dag waarop jy weer op die vliegtuig suidwaarts klim.
Ons vriende Lukas en Anelia bring egter ook ’n bietjie swaarmoedigheid en pessimisme.
Van donker aande sonder krag, van Jacob Zuma en bekommernis oor misdaad, van koerante wat niks anders doen as om ’n mens depressief te stem nie.
Op die internet lees ek hierdie week van hemelhoë Suid-Afrikaanse rentekoerse en ’n huismark wat in sy peetjie is. En ek sien syfers van Eerste Nasionale Bank wat suggereer dat een uit amper vyf huise wat op die oomblik verkoop word in die mark gesit word deur eienaars wat van plan is om te emigreer.
Om myself op te beur skakel ek my rekenaar af en gaan maak my op die bank tuis met ’n Engelse koerant.
“Die sewentigs is terug,” verklaar The Times op sy meningsblaaie en ek lees opgewonde verder. Ek het besef dat Abba vir baie jare reeds groot nuus is, maar beteken dit dat platform-skoene, ’n bos krulhare en glam rock ook nou ’n comeback maak?
’n Terugkeer na fondue-partytjies en wye-pyp langbroeke is egter die minste van die Britte se probleme.
Vrese dat die ekonomiese afswaai in die noordelike halfrond kan lei tot ’n “winter van misnoegdheid”, soortgelyk aan dié wat die Arbeider-regering van Jim Callaghan in 1979 tot ’n val gebring het, word al hoe meer in Brittanje gehoor.
Die “winter of discontent”, ’n Shakesperiaanse frase wat deur Callaghan sélf gebruik is om die seisoen van stakings en arbeidsonrus in die winter van 1978/79 te beskryf, is ’n belangrike waterskeiding in die Britse politieke geskiedenis van die afgelope 50 jaar en een wat ’n blywende indruk gemaak het op almal wat dit beleef het.
Nie net het dit die Arbeidersregering tot ’n val gebring nie, maar dit het in die proses ook vir Margaret Thatcher aan bewind gebring wat die ekonomie uiteindelik reggeruk het met, wat die joernalis Andrew Marr noem, “die mees potente medisyne wat ooit in die keelgat van ’n verstikkende na-oorlogse Britse keelgat afgegooi is”.
Dit is waarom enige verwysing na dié winter so onthutsend is en waarom geen ernstige politieke- of ekonomiese rubriekskrywer hier dit kan waag om só ’n voorspelling ligtelik te maak nie.
Dit was ’n tyd toe Londen amper verswelg is deur die berge rommel wat in die strate opgehoop het omdat die vullisverwyderaars vir weke lank gestaak het en die Liverpoolse stadsraad dit ernstig oorweeg het om mense ter see te begrawe nadat die lykshuise begin oorloop het omdat grafgrawers geweier het om hul werk te doen. Die televisiebeelde van dié tyd is vandag net so skokkend as toe.
Ben Macintyre skryf verlede Saterdag in The Times dat die ooreenkomste tussen die huidige en die sewentigs net té ongelooflik is om te ignoreer.
Eerstens is daar Harold Wilson, die belangrikste politieke figuur van sy tyd wat die leisels oorhandig aan sy voormalige minister van finansies, Callaghan, op presies die oomblik dat ’n jong Tory-opposisie begin om hul spiere te wys. Aan die ekonomiese front word ’n tydperk van wêreldwye groei tot stilstand gedwing deur oliepryse wat deur die dak skiet – die gevolg is stygende inflasie en dalende huispryse.
Die optimiste en die nugteres sal aanvoer dat die Britse ekonomie 30 jaar later baie anders lyk as destyds en dat die vakbonde ná Thatcher glad nie meer die ysere houvas op die ekonomie het as toe nie.
Wat niemand egter kan ontken nie is dat die algemene stemming in Brittanje op die oomblik ongelooflik pessimisties is.
Daarenteen sien ek ’n paar Suid-Afrikaanse ekonome wat hierdie week voorspel dat die plaaslike ekonomie nog steeds vanjaar ’n groeikoers van tot 4% kan handhaaf – ’n vooruitsig wat hul eweknieë in Brittanje op die oomblik diliries van opwinding sal laat.
So laat die swaarmoedigheid nie hééltemal die oorhand kry nie – daar is nog ’n silwer randjie. En besef veral dat die gras beslis nie op die oomblik soveel groener is aan ander kant van die ewenaar nie.

* Hierdie rubriek is die eerste keer in Rapport gepubliseer op 27 Julie 2008.

14 July 2008

Almal moet gehoor word


Een van my gunsteling uitstappies in Londen is na Speaker’s Corner in Hyde Park waar ’n mens lag-lag ’n uur of meer kan spandeer deur na die toesprake te luister van die karakters wat op ’n Sondag hier hulle seepkissies en trapleertjies kom staanmaak.
Die oorgrote meerderheid van hulle is swael-en-vuur-predikers wie se teologiese argumente nie altyd dieselfde sofistikasie toon as hul absolute sekerheid van die oorsake van die mensdom se probleme nie.
Maar selfs diesulkes is goeie vermaak, veral as hulle hul vasloop in ’n gedetermineerde agnostiese hekelaar wat hulle van stryk probeer bring met weldeurdagte tussenwerpsels.
Die tradisie van hekel, om in gesprek te tree met ’n spreker of sy argumente luidkeels uit te daag, is ’n belangrike deel van die Speakers’ Corner ervaring. Die beste sprekers beskou nie hekelaars as ’n oorlas nie; hulle verwelkom dit en moedig dit aan.
Soos ’n gereelde spreker, ’n Moslem met taamlike radikale standpunte, verlede Sondag gesê het: “This is Speakers’ Corner, not listener’s corner.”
Daar is ’n ander gewilde mite oor Speaker’s Corner dat jy oor enigiets hier kan praat solank jy nie die monargie beledig nie. Dis ongelukkig niks meer as ’n mite nie en in werklikheid kan ’n spreker hier op geen groter voorregte van vryheid van spraak staatmaak as op enige ander plek op dié eiland nie.
Dit doen egter nie afbreuk aan die feit dat Speakers’ Corner ’n baie trotse tradisie het as ’n plek waar eksentriekes, geroepenes en enigiemand anders wat iets op die hart het, vir meer as 150 jaar reeds kan kom keel skoonmaak.
Op ’n sonnige Sondag kan jy hier maklik tien of meer orators vind – elkeen op ’n eie kissie of trapleertjie – hard aan die werk om ’n groter gehoor as sy of haar buurman te trek.
Dis ’n harde leerskool waar die gehoor niks daarvan dink om hulle rug te draai en weg te drentel van sprekers wat hul verveel nie.
Sommige sprekers word legendaries – soos Donald Soper, ’n beroemde Britse passifis, Metodiste prediker en lid van die Britse Hoërhuis wat tot kort voor sy dood, op 95-jarige ouderdom, nog groot skares gelok het.
Die kuns van openbare redevoering is iets wat in Engeland so te sê as vanselfsprekend aanvaar word en ek verwonder my telkens aan die kwaliteit van debatte in die Britse parlement – nie omdat politici daar enigsins meer sin praat as elders nie, maar om hul vermoë om hulself helder en duidelik uit te druk.
(Dit was juis Soper, ons held van Speakers’ Corner, wat gesê het dat die kwaliteit van debatte in die Britse Hoërhuis bewys is dat dat daar wel lewe ná die dood is!)
Soos ’n mens so dikwels op Speakers’ Corner sien is dit nie noodwendig die retories swierige sprekers – die Eugene Terre’blanche van hierdie wêreld – wat die meeste indruk maak nie. Goed gekose woorde in die mond van ’n minder welsprekende redenaar kan dikwels net so ’n groot impak hê.
My bewondering vir Britse welsprekendheid is egter nie net tot Speakers’ Corner en die Britse parlement beperk nie. Skaars ’n dag gaan verby dat ek nie op televisie of radio iemand hoor met ’n buitengewone vermoë om hom- of haarself intelligent en verstaanbaar in gesproke taal uit die druk nie.
Baie is die al die afgelope paar jaar geskryf oor die onvermoë van Suid-Afrikaanse skoolverlaters om hulself in geskrewe taal uit te druk. Professore en lektore by ons universiteite kla gereeld dat hulle nie kop of stert kan uitmaak van hul studente se geskrifte nie, omdat hulle klaarblyklik nooit geleer het om te skryf nie.
Luister egter ’n bietjie krities na enige Suid-Afrikaanse radiostasie en jy kom agter dat die probleem veel erger is. Té veel Suid-Afrikaners – selfs van ons radio-omroepers – kan hulself nie eers ordentlik verstaanbaar maak in gesproke taal nie.
Net soos ons skoolstelsel glad nie genoeg klem lê op die vermoë om duidelik en verstaanbaar te kan skryf nie, is daar blykbaar ’n ongeskrewe reël wat lui dat net kinders wat advokate of politici wil word aan redenaarskompetisies hoef deel te neem.
So hier is my voorstel: stig ’n Speakers’ Corner in elke skool en moedig ons jonges aan om die woord te voer. En laat dié wat nie wil praat nie hekel.
Want ten minste het die orator en die hekelaar een ding in gemeen: Albei wil gehoor word.

* Hierdie rubriek is die eerste keer in Rapport gepubliseer op 13 Julie 2008.