30 June 2008

Die Engelse moet leer om te KUIER

Ek sien groot dele van Suid-Afrika bibber op die oomblik met oggendtemperature van hier kort duskant nul.
Dit is daarom miskien ’n bietjie ongeskik om oor die somer te praat, maar ek gaan dit in elk geval doen – veilig in die wete dat daar wel iemand gaan wees wat teen Desembermaand die lekker Johannesburgse kuierweer onder my neus gaan vryf.
Kyk, laat daar geen twyfel wees van die erns waarmee die Britte somer benader nie. Die sonseisoen word met mening gevier met een groot geleentheid na die ander. Soveel so dat ’n mens teen die tyd dat die weer begin draai skoon uitgeput op die rusbank neerslaan van al die opwinding.
Vir die sportmalles is daar Wimbledon, Glastonbury vir die musiekliefhebbers, Farnborough vir die vlieëniers, polo vir die rykes en natuurlik Ascot vir die uitspattiges.
Royal Ascot Week, dié hoogtepunt op die Engelse perdewedrenkalender, het verlede week plaasgevind en watter sonderlinge tentoonstelling van puur Britse teenstrydighede was dit nie!
Laat my verduidelik.
Die stywe-bolip brigade van Ascot het vanjaar soos ’n ton bakstene neergekom op onfatsoenlike kleredrag.Veral dié met kaartjies vir die koninklike pawiljoen, is opnuut gemaan om tog ordentlik aan te trek.
Vir mans beteken dit ’n morning suit en pluiskuil, daardie eiesoortige – en mag ek byvoeg buitensporige – Engelse mansuitrusting.
Vir vrouens grens die reëls aan die absurde. Die regulasie van geen kaal skouers en ’n reël dat rokke nie meer as ’n duim bo die knie mag sit nie, kan ’n mens nog verstaan. Maar wat op dees aarde moet ’n mens maak van ’n regulasie wat lui: Knickers must be worn, but not seen?
Die gedragskode is ook doodstil oor ’n ander gewilde Ascot tydverdryf – die gebruik van reuse hoeveelhede alkohol.
Daar is niks wat die Engelse se ongesonde verhouding met die vrug van die wingerdstok beter illustreer nie as die beskonke liggame wat menige geleentheid hierdie tyd van die jaar ontsier nie.
Vir baie Britte is alkohol nie bloot die smeermiddel wat help om die tyd wat jy saam met vriende spandeer, so aangenaam moontlik te maak nie. Nee, dis eerder ’n doel opsigself, iets wat jy drink vir geen ander rede as om die sensasie van dronkwees te ervaar nie.
In Europa sê hulle dis maklik om die toeriste van verskillende nasies te herken. Die Japanese neem foto’s, die Duitsers kla, die Hollanders soek ’n goedkoper blyplek en die Britte… lê besope in die slootjie.
Soos Sisifus deur die gode gestraf is om tot in die ewigheid ’n marmerblok teen ’n berg op te rol, is Britse politici se vonnis om vir immermeer die oorsake van die “nasionale drankprobleem” te debateer.
Pogings van Britse regerings om hulle onderdane te oorreed om ’n kontinentale drinkkultuur te aanvaar, grens aan die absurde.
So drie jaar gelede het die huidige regering ’n plan opgedroom om Britse pubs toe te laat om ná 11-uur in die aand oop te bly. Die redenasie destyds was dat die buitensporige vroeë sluitingstyd van die tradisionele Engelse local aanleiding gee tot nóg ’n tradisie: om kort voor sluitingstyd ’n laaste pint (of twee) te bestel en dit dan so vinnig moontlik weg te slaan voordat die landlady jou onder jou alie skop.
Het dit Britse drinkgewoontes verander? Natuurlik nie. Soos ’n taxidrywer onlangs vir my gesê het, beteken dit net dat die hele stad se dronkes nie nou almal op een slag ’n geleentheid huis toe soek nie.
Die mees onlangse teiken vir dié nimmereindigende debat was kinders – dit nadat die minister van kindersake, Ed Balls, dit in sy kop gekry het dat hy die nasie in verantwoordelike Europeërs sal omskep deur ouers te verbied om aan hul jong kinders ’n glasie wyn aan tafel te gee.
Huhh? Ek dog Europese manier is juis om kinders op ’n vroeë ouderdom bekend te stel aan die beskaafde gewoonte van ’n glasie wyn saam met ete?
Dit alles laat my dink aan ’n Afrikaanse uitdrukking, wat nie in Engels bestaan nie, en miskien aan die hart lê van die Engelse se genetiese onvermoë om drank te verstaan.
Dit is die mooi gebruik van die woord “kuier” om te verwys na die tipe sosiale samesyn waarin ’n brannefientjie ’n sentrale rol speel.
Want dit, in kort, is wat met Britse drinkgewoontes skort. Hulle kuier nie.
* Die rubriek is die eerste keer in Rapport gepubliseer op 29 Junie 2008.

16 June 2008

Die Koning is dood - lank leef die Koning



Aan die bopunt van Whitehall, net so ’n klipgooi van Suid-Afrikahuis, staan ’n standbeeld van Charles I, die enigste Britse monarg in die geskiedenis wat tereggestel is.
Een van my gidsboeke beskryf dit as “arguably the finest, most striking and most evocative of all London statues”, ’n sentiment wat ek heelhartig deel.
Moet egter nie skuldig voel as jy al telkemale op Trafalgarplein gestaan het en hom nog nooit raakgesien het nie. Koning Charles lyk maar taamlik verwese, daar waar hy staan op ’n verkeerseiland in die skadu van die veel meer imposante kolom ter ere van Admiraal Nelson.
Die standbeeld het ’n interessante geskiedenis. Dit is gegiet in 1633, terwyl die koning nog geleef het. Ná Charles I se ontydige dood in Januarie 1649 was dit bestem vir die skrootwerf, maar dit is deur lojale royaliste begrawe en later, nadat die Britse monargie in 1660 herstel is, weer opgerig.
Dit beteken dat dit al vir meer as 300 jaar hier, op dieselfde plek aan die bopunt van Whitehall staan; by verre die oudste standbeeld in dié deel van Londen.
Draai egter jou rug op die koning, kies Big Ben as jou baken en stap in Whitehall af, verby die Banqueting House waar Londenaars destyds saamgedrom het om in stille afgryse (ten minste volgens een beskrywing) te kyk hoe hulle koning onthoof word.
Hou aan loop totdat jy langs die Paleis van Westminster, die Britse parlement, te staan kom voor die imposante beeld van die republikein en puritein Oliver Cromwell, die man wat vir Charles se dood verantwoordelik was.
“Jy moet nie Whitehall mis nie,” was die raad wat die Nobelpryswenner, Sir Edward Appleton, op ’n keer aan besoekers aan die Britse hoofstad gegee het.
“At one end you will find a statue of one of our kings who was beheaded; at the other the monument to the man who did it. This is just an example of our attempt to be fair to everybody.”
Hierdie vermoë van die Engelse om regverdig teenoor almal te wees; om oënskynlik onversoenbare teenstrydighede te akkommodeer asof dit die normaalste ding denkbaar is, is iets wat my altyd sal fassineer.
Beide Charles I en Cromwell het diepliggende karaktergebreke gehad, Cromwell miskien meer so omdat hy uiteindelik net so ’n groot despoot was soos die monarg wat hy onthoof het.
Tog begroet die Engelse dié standbeelde met ’n ongeërgde skouerophaling. Ja, dis waar dat Cromwell staan voor dieselfde parlement wat hy ontbind het; maar soos die Hertog van Roseberry, die 19de eeuse eerste minister (en een van Cromwell se grootste bewonderaars), dit gestel het, was hy ook ’n man van aksie, “a defender of the faith; the raiser and maintainer of the Empire.”
Ek begin glo dat dit slegs mense is met ’n supreme selfvertroue, ’n kollektiewe gemaklikheid in hul eie vel, wat sulke teenstrydighede in hul nasionale identiteit kan aanvaar asof dit dit die natuurlikste ding op aarde is.
Dit is dus baie meer as ’n blote sin vir regverdigheid (om Appleton se woorde te gebruik) wat toelaat dat ’n republikeinse leier en sy onthoofde slagoffer die teenoorgestelde kante van dieselfde straat kan deel.
Die hele ding laat my dink aan ’n debat waarby ek onlangs betrek is – teen my sin, moet ek byvoeg. Dit het gegaan oor Afrikaners en Suid-Afrikaners en die holruggeryde kwessie: wat kom eerste? Is jy eers ’n Suid-Afrikaner en dan ’n Afrikaner, of andersom?
Ek was sommer onmiddelik moeg. Want maak dit saak, het ek gewonder? Moet jy noodwendig meer of minder van die een as die ander wees?
Waarom hierdie ongesonde behoefte om trou te sweer aan één gedeelde ideaal, een grondwet, een weergawe van die geskiedenis en een party. Waaruit is dit anders gebore as ’n akute gebrek aan kollektiewe selfvertroue?
En as jy bostaande lees as ’n kritiek op die heersende ANC-ideologie, dink weer. Dis net soseer van toepassing op die heersende debat in bruin én Afrikaner-geledere.
Ek, daarenteen verlekker my in my eie teenstrydighede – om tegelyk republikein en monargis te wees; Afrikaan en Europeër; ’n draadsitter én ’n deelnemer.

  • Die rubriek het die eerste keer in Rapport verskyn op 15 Junie 2008.

15 June 2008

Magna Carta: 'n Nuwe stryd om vryheid?

Op 15 Junie 1215 – môre presies 793 jaar gelede – het die Engelse koning John ’n dokument geteken wat ’n blywende invloed op die moderne reg gehad het.
Sommige geskiedskrywers gaan sover om die Magna Carta te beskryf as Engeland se enkele grootste bydrae tot die politieke denke – ’n vroeë uitdrukking van die demokratiese ideaal van die oppergesag van die reg en die beskerming van fundamentele regte, ongeag jou herkoms.
Klousule 39 is seker die mees belangrike en bepaal dat geen vrygebore burger in die tronk gegooi kan word, van sy eiendom ontneem, verban of gemolesteer kan word sonder ’n verhoor deur sy eweknieë nie – die eerste verwysing na habeas corpus in die Engelse reg.
Gebeure die afgelope paar weke suggereer egter dat hierdie – en ander individuele regte hierdie regte in Brittanje – besig is om te erodeer.
Die debat is gesentreer rondom wysigings in die Britse wetgewing wat dit moontlik sal maak om tereurverdagtes vir 42 dae (in plaas van die huidige 28) aan te hou voordat hulle aangekla word.
Die Arbeidersregering van mnr. Gordon Brown het Woensdagaand daarin geslaag om die 42-dag bepalings met ’n meerderheid van slegs ses stemme deur die Britse Laerhuis te stoomroller nadat 36 Arbeiders teen hul eie regering gerebelleer het deur saam met die opposisie te stem.
Die argument ten gunste van 42 dae sonder sonder verhoor is dat moderne terreurondersoeke ongelooflik kompleks is en dat die polisie meer tyd nodig het om hul ondersoek te doen voordat hulle verdagtes formeel kan aankla.
In ’n poging om dié wet goedgekeur te kry moes Brown reuse toegewings maak – toegewings wat die wet, volgens kritici, in die praktyk onwerkbaar gaan maak.
Dit lyk dus onwaarskynlik of die Britse Hoërhuis ooit hierdie aanmekaargelapte wet sal steun – veral nadat die direkteur van openbare vervolging, die man wat die wet sal moet toepas, ook sy teenkanting uitgespreek het.
Die moontlikheid bestaan egter dat Brown só angstig is om sy kwynende outoriteit te vestig dat hy besluit om die parlementêre wet te gebruik om die Hoërhuis te dwing om die 42-dae wet goed te keur. (Volgens die bepalings van dié wet kan die Hoërhuis nie ’n wet weier wat in twee agtereenvolgende sittings onveranderd deur die Laerhuis goedgekeur word nie). Dit sou ’n hoogs ongewone stap wees omdat dié effekte veto van die Hoërhuis slegs enkele kere die afgelope 90 jaar gebruik is.
Dit sou die aanklag versterk dat Brown met ’n siniese politiek speletjie besig is om homself skets as iemand wat terroriste wil kortvat – al is dit ten koste van een van die Brittanje se mees basiese vryhede.
So waarom doen hy dit? Omdat dit gewild is.
Verskeie meningsopnames die afgelope tyd toon dat die oorgrote meerderheid van die Britse bevolking glo dat terroristeverdagtes so lank opgesluit moet word as wat dit nodig is vir die polisie om hul ondersoek te voltooi.
Net soos Suid-Afrikaanse kiesers oor die doodstraf, voel Britse kiesers eenvoudig ’n veer vir filosofiese regsargumente oor habeas corpus en die Magna Carta as hul eie en landsveiligheid ter sprake is.
Die Tories en die rebelle binne die Arbeidersparty veg dus ’n idealistiese stryd teen Brown én heersende openbare mening.
Daar is ook ander, soos David Davis, die Tories se skadu-minister van binnelandse sake, wat glo dat hierdie ’n groter stryd is teen die “bedrieglike, onderduimse en meedoënlose erosie van fundamentele Britse vryhede”.
Hy glo dat die debat behoort te handel oor veel meer as net 42 dae sonder verhoor. Davis argumenteer dat die Arbeiders se planne vir ID-kaarte, ’n DNS-databasis wat inligting hou van mense, selfs al is hulle nie aan ’n misdaad skuldig bevind nie, en die feit dat Brittanje een kringtelevisiekamera vir elke 14 mense het, alles voorbeelde is van ’n staat met diktatoriale tendense.
Davis het Donderdag uit die Laerhuis uit protes bedank en beplan om ’n tussenverkiesing af te dwing wat hy wil oor die “stadige wurggreep” wat die regering op fundamentele vryhede het.
Dit alles maak vir fassinerende politieke teater, een wat nie net gaan oor fundamentele regte nie, maar wat uiteindelik ook die toekoms van Gordon Brown as eerste minister kan bepaal.

  • Hierdie rubriek het vir die eerste keer in Beeld verskyn op 14 Junie 2008.

05 June 2008

Morele bankrotskap is 'n versoeking te groot om te weerstaan

Benoude katte maak benoude spronge en daar is maar min katte wat meer benoud spring as ’n politikus wat in ’n hoek gedryf word.
Konfronteer ’n politikus met ’n krisis en die edele ideale verdwyn vinniger as ’n kis bier in ’n studentekroeg. Gou is al wat oorbly’n oneweredige distelaat wat genoeg is om selfs die taaiste lewer met sirrose te laat.
In Suid-Afrika het ons al gewoond geword dat die politieke rassekaart gespeel word elke keer as ’n plaaslike politikus deur omstandighede in ’n hoek gedryf word.
Ek weet nie of dit enige vertroosting sal bied aan mense wat al moeg geluister is na hierdie oorbekende Suid-Afrikaanse deuntjie nie, maar Brittanje het sy eie weergawe van die rassekaart.
Hier noem hulle dit die klassekaart – en dit word met dieselfde domastrante naïwiteit aangewend.
Die mees onlangse voorbeeld hiervan (en daar is talle, veral tydens die debatte in die Britse Laerhuis), was toe die Arbeidersparty tydens ’n onlangse tussenverkiesing die Konserwatiewe Party se kandidaat, Edward Timpson, op plakkate uitgebeeld het as ’n toff met pluiskuil en ’n manelpak. Dit was ’n onbeholpe poging om die aandag te vestig op Timpson se bevoorregte agtergrond met die subteks dat iemand wat in ’n miljoenêrswoning bly nie die belange van arm werkersklasmense kan verteenwoordig nie.
Ongelukkig vir die Arbeiders was die kiesers van Crewe en Nantwich, twee dorpe net suid van Manchester, nie so liggelowig nie. Die taktiek het uiteindelik skouspelagtig gefaal toe Timpson die Arbeiders se meerderheid van 7 000 omgeskakel het in ’n Tory meerderheid van digby 8 000 stemme.
Dié uitslag was geen verrassing nie. Dit is immers ’n ysterwet van Britse politiek wat al vir meer as 200 jaar geld dat liberaal en konserwatiewe regerings mekaar met gereelde tussenposes afwissel en die Crewe-uitslag was maar net nóg ’n aanduiding dat die gety onherroeplik teen die Arbeiders aan die draai is.
Die hele sage illustreer egter ook hoe irrelevant die ou klassestryd in moderne Brittanje geword het.
Ek ontmoet gereeld mense (dikwels Suid-Afrikaners) wat heiliglik oortuig is dat die klasse-skeiding in die Britse samelewing ’n rigiede en onoorbrugbare gegewe is en dat die upper classes op almal onder hulle neerkyk en dit wat hulle s’n is, jaloers bewaar.
Dit is absolute twak.
Selfs die mees terloopse kennis van die Britse geskiedenis sedert die Tweede Wêreldoorlog illustreer hoe dié anachronistiese stelsel op elke denkbare terrein van die samelewing afgebreek is.
Vergelyk ’n bietjie bandopnames van die koningin se kersboodskappe in die 1950s met die mees onlangse en luister hoe daardie warm-aartappel vokale oor die jare verplat het om meer soos dié van haar onderdane te klink.
Haar kleinkinders het die ontklassing van die koningshuis tot die uiterstes gevoer: Deur hul kuierplekke, musieksmaak en alkoholverbruik te sinchroniseer met dié van miljoenêr sokkerspelers uit ’n werkersklasagtergrond is dit nou onmoontlik om te onderskei tussen ’n dronknes in Birmingham en ’n soirée in Balmoral. (Op die koop toe val die prinse soos vlieë vir die sjarme van middelklasmeisies).
Uiteindelik het die klasse-sisteem in die Britse samelewing verdwyn omdat dit eenvoudig nie meer gepas het by dit wat gewone Britte vir hulself en hul kinders wil hê nie.
Is dit daarom nie ironies dat dit die Arbeidersparty is – die sogenaamde verteenwoordigers van die werkersklas – wat by implikasie die heengaan van die klassestelsel die meeste betreur nie?
Vir dekades het hulle, heeltemal tereg, geargumenteer dat ’n persoon se kanse in die lewe nie bepaal moet word deur die ongeluk van haar geboorte of die tipe hoed wat haar pa werk toe dra nie. Nou sê lede van dieselfde party dat iemand gediskwalifiseer moet word om ’n kiesafdeling in die parlement te verteenwoordig omdat hy ’n miljoenêr erfgenaam is!
Dié strategie is beide intellektueel onverdedigbaar en moreel bankrot.
Dit dien slegs een doel: om die onbeholpe en bedenklikes te beskerm ten koste van hulle wat wil uitstyg en uitblink deur te weier dat hul verlede hul toekoms bepaal.
Die ooreenkomste met die Suid-Afrikaanse swape wat onder presies dieselfde omstandighede die rassekaart speel, is daar vir almal om te sien.
Daar is ongelukkig ook ’n les in die Britse ondervinding te leer: Moenie verwag dat die versoeking om dié kaart te speel gou gaan verdwyn nie.