18 May 2008

As jou droom ontaard in ’n nagmerrie

Daar was ’n foto van Gordon Brown in een van die Britse koerante hierdie week wat sy huidige probleme uitstekend opsom.
Hy staar glasig voor hom uit – nie net die oë van ’n man wat hopeloos te min slaap kry nie – maar ook die blik van iemand wat besig is om tot die pynlike besef te kom dat hy nie meer alleenbeheer oor sy eie lot het nie.
Watter tragiese figuur is hy nie?
Hier is ’n man wie se hele volwasse lewe oorheers was deur ’n allesverterende ambisie om eerste minister te wees. Iemand wat vir tien jaar lank teensinnig tweede viool moes speel nadat Tony Blair, sy meer charismatiese en uitgeslape opponent, hom uitoorlê het. Net om te sien hoe sy droom in ’n nagmerrie ontaard die oomblik toe hy uiteindelik die sleutels van Downing Street in sy hand neem.
Dit is duidelik dat die politieke weerpatrone in Brittanje besig is om onherroeplik teen Brown en die Arbeidersparty te draai.
Soos Douglas Hurd, minister van buitelandse sake onder John Major, op ’n keer gesê het: Daar kom ’n tyd dat kiesers net moeg is vir jou, maak nie saak wat jy doen nie.
Brown se probleme word verder vererger deur ’n paar embarasserende uittreksels uit politieke memoirs wat die afgelope paar weke verskyn het van mense wat nie skroom om die Arbeidersparty se vuil wasgoed in die openbaar te was nie.
So weet ons nou (danksy ’n Blair-vertroueling, Lord Michael Levy) dat Blair van mening is dat Brown nooit die Tory-leier David Cameron in ’n verkiesing sal klop nie. Beide Cherie Blair en John Prescott, Blair se adjunk, het baie te sê oor Brown se gekonkel en die manier waarop hy deurgaans Blair as eerste minister probeer ondermyn het.
Die feit dat die felste kritiek teenoor Brown gedurende die afgelope paar weke vanuit die geledere van die Arbeidersparty self kom, beteken een van twee dinge. Óf die party is so hartlik sat vir hulle leier dat ’n paleisrewolusie nie meer té ver in die toekoms lê nie, óf hulle is só pessimisties oor die Arbeiders se kanse in ’n volgende verkiesing dat hulle net nie meer omgee nie.
Konvensionele Britse politieke wysheid wil dit hê dat die Arbeiders – anders as die Tories – nie graag hul leiers in die rug steek nie. Die party se grondwet maak dit ook moeilik vir diegene wat oproer teen ’n dienende leier wil stook.
Die meer onmiddelike probleem vir enigeen wat só ’n rewolusie beplan, is die feit dat Brown en Blair gedurende tien jaar so ’n reuse skaduwee oor hul party gegooi het dat daar nie juis geleentheid was vir jonger leierskaptalent om wortel te skiet nie.
Brown, indien hy hoegenaamd nog sy oë toemaak in die nag, kan ook seker slaap in die wete dat hy eers in die eerste helfte van 2010 ’n algemene verkiesing hoef uit te roep.
Dis egter geringe troos, want as ’n ywerige student van Britse politieke geskiedenis, moet Brown akuut bewus wees van die feit dat geen Britse eerste minister sedert die Tweede Wêreldoorlog só gou só diep in die moeilikheid was nadat hy by sy voorganger oorgeneem het nie.
Daar is ’n verdere ooreenkoms wat Brown met baie van sy voorgangers deel – ’n ooreenkoms wat onlangs deur die historikus Peter Hennessy uitgewys is.
Dit is die ongelukkige tradisie dat baie Britse premiers se bewind uitrafel juis op dié gebied waar hulle veronderstel is om die grootste eksperts te wees.
Anthony Eden, vir baie jare minister van buitelandse sake en ’n kenner van die Midde Ooste, se bewind is in 1957 kortgeknip deur sy hantering van die Suez-krisis.
Jim Callaghan, self ’n vakbondman, se Arbeiderregering is vernietig deur die stakings gedurende die “winter of discontent” van 1978/79. Sy opvolger, Margaret Thatcher, iemand wat aan die begin van haar bewind reuse insigte getoon het in die probleme van plaaslike belastingbetalers, is uiteindelik vernietig deur haar halstarrige vasklou aan die gehate “poll tax”.
Brown spog graag dat hy, as minister van finansies, ’n einde gemaak het aan die siklus van “boom and bust” wat die Britse ekonomie onder die Tories gekenmerk het. So sal dit nie ironies wees as dit uiteindelik ’n ekonomiese resessie is wat Brown se ondergang verhaas nie?
  • Die rubriek is vir die eerste keer gepubliseer in Rapport op 17 Mei 2008.

13 May 2008

’n Bier op jou eie is die ergste alleen


Alleen wees is nie lekker nie.
Dit kom ’n mens die eerste keer agter as jy in ’n donker kamer wakker word terwyl die res van die huis slaap en jy bang-bang lê en wonder of die res van jou gesin nie intussen die pad gevat het en jou op jou eie gelaat het nie.
Later in jou lewe kom jy agter daar is ook ander alleenwees wat nie lekker is nie. Soos alleen eet. Of alleen rugby kyk.
Maar veral alleen bier drink. Dis erg sleg.
Vra maar vir Jack Hammond van Hampshire.
Ten spyte van sy vrou se dood 12 jaar gelede was Jack nooit alleen nie. As die eensaamheid hom beetpak kon hy altyd by sy plaaslike pub inval vir ’n pint en ’n bietjie bonhomie. Jy weet waarvan ek praat – die tipe ordentlik en opbouende geselskap wat ’n goue hopsdrankie in selfs die slegstes onder ons losmaak.
Onlangs het Jack egter in ’n nuwe ouetehuis ingetrek, met die gevolg dat hy sy ou kuierplek kwyt is.
By sy nuwe blyplek is die meeste van sy mede-inwoners vrouens – en op 88 is Jack oud genoeg om te weet dat ’n mens pub toe gaan omdat jy dors is, nie om die meisies te beïndruk nie.
Om alles te kroon is die enigste ander manlike inwoner van die tehuis nie Jack se tipe nie. Hy is ’n plaasjapie terwyl Jack sy hele lewe in die stad gebly het. Hy praat graag oor skape en beeste terwyl Jack van gholf hou. Maar belangriker nóg is die feit dat die ander ou nie eintlike ’n “goer” is nie. En in Jack se oë is daar net een ding wat erger is as alleen wees – en dit is om jou dors by die huis te les.
Gelukkig het Jack se seun, Mike, ’n plan gehad: ’n Advertensie op die kennisgewingbord van die plaaslike poskantoor.
“Gesoek, iemand wat nie té bombasties is nie, hou van ’n gawe pint en bereid is om my bejaarde pa te vergesel op sy weeklikse uitstappie na die local. Salaris £7 per uur plus uitgawes.”
Met so ’n gulhartige aanbod is dit natuurlik geen wonder dat die kompetisie onder die aspirant drinkebroers taamlik straf was nie – veral nadat ’n paar koerante ook oor die sonderlinge aanbod berig het.
Uiteindelik het Mike ná ’n reeks telefoniese onderhoude ’n kortlys opgestel van kandidate met potensiaal en hy en sy pa het hulle genooi vir ’n onderhoud – of sal ons sê ’n toetsdop.
Uiteindelik was daar net twee kandidate staande (by wyse van spreke). Trevor Pugh, ’n 78-jarige afgetrede ambagsman wat, soos Jack, ’n militêre agtergrond het, en ’n 58-jarige afgetrede dokter, Henry Rosenvinge.
Jack se seun was so ingenome met die twee dat hy besluit het om sommer albei aan te stel, ’n besluit wat makliker gemaak is deur die feit dat Henry gesê het die werk klink vir hom so lekker, hy sal dit verniet doen. Trevor was ewe toegeeflik deur daarop aan te dring om vir sy eie bier te betaal.
Die gevolg is dat Jack nou ’n taamlik besige sosiale lewe het met afsprake by die Compass Inn vir vyf dae van die week – twee aande met sy seun en drie saam met sy nuwe vriende.
Myns insiens is dit egter Henry wat die kuns van die perfekte drinkebroer die beste verstaan en pragtig illustreer wat dit is wat Jack die meeste gemis het van die eensaamheid.
In ’n onderhoud met The Times sê Henry dat hy hoop om nog jare lank saam met sy nuwe vriend te kuier. “Hy het ’n klomp stories en ons kom beide van Lancashire, so daar is baie waaroor ons kan stry.”
Mense wat nie “goers” is nie, sal dié sentiment natuurlik nooit verstaan nie – die reuse plesierigheid om saam met ’n vriend ’n bier te drink en te sit en luister hoe hy die grootste onsin onder die son kwytraak terwyl jy jou kans afwag om hom én sy drogargumente uit die water te skiet.
Daarom lig ek vandag my glasie op vriende – die intelligentes en die twakpraters (julle weet immers wie julle is). Ek hoop julle glasies klink nooit alleen nie.


  • Hierdie rubriek het vir die eerste keer in Rapport verskyn op 4 Mei 2008.