24 March 2008

’n Woonplek vir swak digters en agterstraat joernalistiek


Londen, dalk meer so as die meeste ander wêreldbekende stede, is bekend vir sy vername strate.
Whitehall, Fleet Street en Downing Street is maar enkeles wat veel meer verteenwoordig as ’n aanduiding van adres of werkplek.
Vroeër die week dwaal ek rond in die ooste van Londen in ’n area wat net buite die stadsmure van die ou Romeinse Londinium sou val. Ek is op soek na ’n kort en onmerkwaardige straatjie met die naam Milton Street.
Milton Street is in die meeste opsigte onbeduidend. Dis vandag niks meer as ’n stedelike systraatjie nie – ’n straat grootliks vir agterdeure en afleweringsvoertuie.
Voordat die straat egter in 1830 herdoop is na Milton Street was dit bekend as Grub Street – die spirituele tuiste van die hack, die joernalistieke of literêre ekwivalent van die huursoldaat, vandaar my pelgrimstog.
Min ander beroepe maak hom so geredelik daaraan skuldig dat hy narcisties in eie naeltjie boor soos die joernalistiek. So as ek in die volgende paar paragrawe té aandagtig in die spieël staar, vra ek by voorbaat om verskoning.
Sedert die vroeë 1600s reeds word Londen se Grub Street geassosieer met mense soos ek – “people of slovenly attire and unpleasant manners” wat ’n lewe probeer maak uit die skryf van artikels, politieke traktate en goedkoop romans.
Samuel Johnson het die straat in sy beroemde Engelse woordeboek (wat in die 1750s vir die eerste keer verskyn het) beskryf as ’n metaforiese tuiste “much inhabited by writers of small histories, dictionaries, and temporary poems”. (Let daarop hoe hy sy voorregte as woordeboekmaker misbruik het deur ook vir homself ’n woonplek in dié ongure buurt toe te eien).
Die straat het ook sy naam gegee aan die Grub Street Journal, waarskynlik die gewildste van Londen se vroeë koerante wat die eerste keer in 1730 gepubliseer is.
Die Britse joernalis Andrew Marr beskryf hierdie vroeë sterre van die Britse joernalistiek as “outsiders who forced themselves up, partly because they were articulate and partly because they were desperate” – ’n beskrywing wat ewe maklik op baie kontemporêre joernaliste van toepassing gemaak kan word.
Vir ’n straat wat so swaar dra aan historiese en metaforiese bagasie is Grub Street besonder kort – net 146 treë van Silk Street in die suide tot Chiswell in die noorde.
Van Johnson en Daniel Defoe se Grub Street is daar, helaas, niks oor nie behalwe miskien ’n brouery wat, volgens ’n inskripsie teen die muur, op 24 Mei 1787 deur Koning William III en Koningin Charlotte besoek is.
Dit wat teen die einde van die Victoriaanse era nog staande was, het Hitler se Luftwaffe tussen 1940 en 1941 weggeblaas en dit is sedertdien vervang met siellose glas en staal – deel van die ewigdurende siklus van verval en hernuwing so eie aan ’n groot stad.
“Two hundred square feet of stunning contemporary office space available now,” verklaar ’n reuse advertensie teen die glasmuur van Milton Gate.
Vir ’n stad wat so pynlik bedag is op sy plek in die geskiedenis, soek ek egter vergeefs hier in Miltonstraat na ’n monument wat mý ambag gedenk – ’n gedenkplaatjie vir die legioene onbeholpe skrywers, tweederangse joernaliste en hulle wat slapbandboekies by die dosyne sit en uitkarring op ou rekenaars met swart-en-wit skerms wat na elke tweede paragraaf vries.
Grub Street is nou die werkplek van privaatskool jappies wat donker pakke dra en met ’n iPhone teen die oor van afspraak na afspraak haas.
Op die hoek van Silk en Milton is Linklaters, ’n internasionale prokureursfirma waar senior vennote verlede jaar bonusse van £1,62 miljoen (R26 miljoen) ontvang het.
Die woonplek van hongerloon skrywers van “temporary poems” is dus oorgeneem deur ’n ander soort woordsmit – die outeurs van kontrakte en regsmenings, mense wie se woorde eerder benewel as verhelder.
Grub Street het dus as te ware ’n vol sirkel voltooi, dink ek wrang, en haal ’n pennie uit my sak wat ek deur die rooster van ’n stormwaterpyp laat val: ’n Simboliese offerhande aan al die beoefenaars van agterstraat joernalistiek wat voor my hierdie weg bewandel het.
En ook, natuurlik, as beloning vir dié rubriek – hoe vlietend dit ookal mag wees.