16 August 2008

Oor dubbele standaarde en Engelse snobs

’n Paar aande gelede gaan kyk ek na ’n nuwe produksie van Pygmalion, George Bernard Shaw se beroemde drama oor snobisme, die klassestelsel en die verhouding tussen die geslagte.
Dis ook natuurlik die teks waarop die bekende musiekblyspel My Fair Lady gebaseer is – die verhaal van die seksistiese en bombastiese Henry Higgins, ’n professor in fonetika, wat ’n weddenskap met ’n vriend aangaan dat hy die blommeverkoper Eliza Doolittle se Cockney-aksent tot só ’n mate kan “regdokter” dat sy haar as ’n hertogin sal kan voordoen.
Daar is egter iets wat my pla van die jongste produksie, dink ek terwyl ek ná die tyd van die Old Vic af huis toe dwaal op ’n heerlike soel Londense somersaand.
Henry Higgins se pogings om ’n dame van Eliza te maak en sy chauvinistiese aandrang dat hy haar gemaak het wat sy is en dat sy daarom aan hom “behoort” kom vreemd voor in ’n moderne Britse samelewing waar die klasseskeiding nie naastenby so rigied is as in Shaw se Edwardiaanse Londen nie. (En, moet ’n mens byvoeg, dáár waar die klasse-skeiding steeds in moderne Brittanje bestaan is dit jou bankbalans, eerder as jou aksent, wat jou ’n uitnodiging na die “regte” partytjies sal verseker.)
Net toe ek egter tot die gevolgtrekking kom dat Pygmalion effens uit die oude doos is en nie die toets van die tyd weerstaan het nie, gebeur iets wat my twee keer laat dink.
Die meeste mense in Suid-Afrika het waarskynlik nog nooit van Katie Price (Jordan vir haar aanhangers) gehoor nie, maar hier word sy as een van die land se bekendste vrouens gereken.
In ordentlike geselskap word sy beskryf as ’n “glansmodel” – dit wil sê ’n model wat anders as, sê Kate Moss, nie soseer bekend is vir die klere wat sy dra nie. As jy weet wat ek bedoel.
Sy is ook om ’n ander rede bekend en ek gaan… kug-kug… sukkel om dit op ’n gesinskoerant-manier te sê. So kom ek volstaan deur bloot te noem dat haar neus nie die eerste ding is wat jy sou opmerk as sy op hierdie oomblik by die deur sou instap nie…
Dis egter nie die dinge waarmee Price haar voor die kameras besig hou wat hier ter sake is nie, alhoewel dit sekerlik relevant is vir dié storie.
’n Week of wat gelede besluit sy om haar familie te bederf met ’n dag by die Cartier Internasionale Polo-toernooi, ’n uitstappie wat haar R87 000 uit die sak sou jaag vir ’n tafel in ’n eksklusiewe onthaalarea.
Haar tjek het egter skaars op die organiseerders se tafel geland of hulle laat weet dat sy nie welkom is nie, blykbaar omdat sy nie die “tipe persoon is wat hulle daar wil hê nie”.
Net soos Bernard Shaw se Eliza Doolittle is Price egter nie ’n katjie om sonder handskoene te pak nie. Nie net is sy nie op haar bek geval nie; ironies genoeg vir iemand wat nie by ’n perde-geleentheid welkom is nie, is sy ook die skrywer van ’n paar kinderboeke oor ponies.
In ’n rubriek wat sy vir The Times oor haar afjak skryf kom sy daarom sommer onmiddelik by die punt: Waarom, vra sy, is ’n man wat skuldig bevind is aan die aanranding van ’n bejaarde egpaar meer welkom by ’n polo-toernooi as ’n meisie wat in effe minder as haar pajamas op die derde bladsy van sekere koerante verskyn?
“Ek wil nie koninklikes ontmoet nie. Ek het al die prins van Wallis en die koningin ontmoet. Ek wil nie saam met A-lys bekendes afgeneem word nie. Ek het al genoeg van hulle ontmoet. Ek wou na die polo kyk en my gesin trakteer.”
Haar gevolgtrekking: Aspirant aktrises in “miniskule rokkies” is meer welkom by ’n polotoernooi as ’n meisie wat op sewe geleer perdry het.
You go Katie!.
Lyk my Pygmalion is glad nie so uit die oude doos soos ek gedink het nie.
* Vir die eerste keer gepubliseer in Rapport op 10 Augustus 2008.

1 comment:

Qposter said...

It is a great pleasure going through your site because I love your every post. That's why I have bookmarked your site to check out new stuff from you. Thanks for sharing ...