05 June 2008

Morele bankrotskap is 'n versoeking te groot om te weerstaan

Benoude katte maak benoude spronge en daar is maar min katte wat meer benoud spring as ’n politikus wat in ’n hoek gedryf word.
Konfronteer ’n politikus met ’n krisis en die edele ideale verdwyn vinniger as ’n kis bier in ’n studentekroeg. Gou is al wat oorbly’n oneweredige distelaat wat genoeg is om selfs die taaiste lewer met sirrose te laat.
In Suid-Afrika het ons al gewoond geword dat die politieke rassekaart gespeel word elke keer as ’n plaaslike politikus deur omstandighede in ’n hoek gedryf word.
Ek weet nie of dit enige vertroosting sal bied aan mense wat al moeg geluister is na hierdie oorbekende Suid-Afrikaanse deuntjie nie, maar Brittanje het sy eie weergawe van die rassekaart.
Hier noem hulle dit die klassekaart – en dit word met dieselfde domastrante naïwiteit aangewend.
Die mees onlangse voorbeeld hiervan (en daar is talle, veral tydens die debatte in die Britse Laerhuis), was toe die Arbeidersparty tydens ’n onlangse tussenverkiesing die Konserwatiewe Party se kandidaat, Edward Timpson, op plakkate uitgebeeld het as ’n toff met pluiskuil en ’n manelpak. Dit was ’n onbeholpe poging om die aandag te vestig op Timpson se bevoorregte agtergrond met die subteks dat iemand wat in ’n miljoenêrswoning bly nie die belange van arm werkersklasmense kan verteenwoordig nie.
Ongelukkig vir die Arbeiders was die kiesers van Crewe en Nantwich, twee dorpe net suid van Manchester, nie so liggelowig nie. Die taktiek het uiteindelik skouspelagtig gefaal toe Timpson die Arbeiders se meerderheid van 7 000 omgeskakel het in ’n Tory meerderheid van digby 8 000 stemme.
Dié uitslag was geen verrassing nie. Dit is immers ’n ysterwet van Britse politiek wat al vir meer as 200 jaar geld dat liberaal en konserwatiewe regerings mekaar met gereelde tussenposes afwissel en die Crewe-uitslag was maar net nóg ’n aanduiding dat die gety onherroeplik teen die Arbeiders aan die draai is.
Die hele sage illustreer egter ook hoe irrelevant die ou klassestryd in moderne Brittanje geword het.
Ek ontmoet gereeld mense (dikwels Suid-Afrikaners) wat heiliglik oortuig is dat die klasse-skeiding in die Britse samelewing ’n rigiede en onoorbrugbare gegewe is en dat die upper classes op almal onder hulle neerkyk en dit wat hulle s’n is, jaloers bewaar.
Dit is absolute twak.
Selfs die mees terloopse kennis van die Britse geskiedenis sedert die Tweede Wêreldoorlog illustreer hoe dié anachronistiese stelsel op elke denkbare terrein van die samelewing afgebreek is.
Vergelyk ’n bietjie bandopnames van die koningin se kersboodskappe in die 1950s met die mees onlangse en luister hoe daardie warm-aartappel vokale oor die jare verplat het om meer soos dié van haar onderdane te klink.
Haar kleinkinders het die ontklassing van die koningshuis tot die uiterstes gevoer: Deur hul kuierplekke, musieksmaak en alkoholverbruik te sinchroniseer met dié van miljoenêr sokkerspelers uit ’n werkersklasagtergrond is dit nou onmoontlik om te onderskei tussen ’n dronknes in Birmingham en ’n soirée in Balmoral. (Op die koop toe val die prinse soos vlieë vir die sjarme van middelklasmeisies).
Uiteindelik het die klasse-sisteem in die Britse samelewing verdwyn omdat dit eenvoudig nie meer gepas het by dit wat gewone Britte vir hulself en hul kinders wil hê nie.
Is dit daarom nie ironies dat dit die Arbeidersparty is – die sogenaamde verteenwoordigers van die werkersklas – wat by implikasie die heengaan van die klassestelsel die meeste betreur nie?
Vir dekades het hulle, heeltemal tereg, geargumenteer dat ’n persoon se kanse in die lewe nie bepaal moet word deur die ongeluk van haar geboorte of die tipe hoed wat haar pa werk toe dra nie. Nou sê lede van dieselfde party dat iemand gediskwalifiseer moet word om ’n kiesafdeling in die parlement te verteenwoordig omdat hy ’n miljoenêr erfgenaam is!
Dié strategie is beide intellektueel onverdedigbaar en moreel bankrot.
Dit dien slegs een doel: om die onbeholpe en bedenklikes te beskerm ten koste van hulle wat wil uitstyg en uitblink deur te weier dat hul verlede hul toekoms bepaal.
Die ooreenkomste met die Suid-Afrikaanse swape wat onder presies dieselfde omstandighede die rassekaart speel, is daar vir almal om te sien.
Daar is ongelukkig ook ’n les in die Britse ondervinding te leer: Moenie verwag dat die versoeking om dié kaart te speel gou gaan verdwyn nie.

No comments: