16 June 2008

Die Koning is dood - lank leef die Koning



Aan die bopunt van Whitehall, net so ’n klipgooi van Suid-Afrikahuis, staan ’n standbeeld van Charles I, die enigste Britse monarg in die geskiedenis wat tereggestel is.
Een van my gidsboeke beskryf dit as “arguably the finest, most striking and most evocative of all London statues”, ’n sentiment wat ek heelhartig deel.
Moet egter nie skuldig voel as jy al telkemale op Trafalgarplein gestaan het en hom nog nooit raakgesien het nie. Koning Charles lyk maar taamlik verwese, daar waar hy staan op ’n verkeerseiland in die skadu van die veel meer imposante kolom ter ere van Admiraal Nelson.
Die standbeeld het ’n interessante geskiedenis. Dit is gegiet in 1633, terwyl die koning nog geleef het. Ná Charles I se ontydige dood in Januarie 1649 was dit bestem vir die skrootwerf, maar dit is deur lojale royaliste begrawe en later, nadat die Britse monargie in 1660 herstel is, weer opgerig.
Dit beteken dat dit al vir meer as 300 jaar hier, op dieselfde plek aan die bopunt van Whitehall staan; by verre die oudste standbeeld in dié deel van Londen.
Draai egter jou rug op die koning, kies Big Ben as jou baken en stap in Whitehall af, verby die Banqueting House waar Londenaars destyds saamgedrom het om in stille afgryse (ten minste volgens een beskrywing) te kyk hoe hulle koning onthoof word.
Hou aan loop totdat jy langs die Paleis van Westminster, die Britse parlement, te staan kom voor die imposante beeld van die republikein en puritein Oliver Cromwell, die man wat vir Charles se dood verantwoordelik was.
“Jy moet nie Whitehall mis nie,” was die raad wat die Nobelpryswenner, Sir Edward Appleton, op ’n keer aan besoekers aan die Britse hoofstad gegee het.
“At one end you will find a statue of one of our kings who was beheaded; at the other the monument to the man who did it. This is just an example of our attempt to be fair to everybody.”
Hierdie vermoë van die Engelse om regverdig teenoor almal te wees; om oënskynlik onversoenbare teenstrydighede te akkommodeer asof dit die normaalste ding denkbaar is, is iets wat my altyd sal fassineer.
Beide Charles I en Cromwell het diepliggende karaktergebreke gehad, Cromwell miskien meer so omdat hy uiteindelik net so ’n groot despoot was soos die monarg wat hy onthoof het.
Tog begroet die Engelse dié standbeelde met ’n ongeërgde skouerophaling. Ja, dis waar dat Cromwell staan voor dieselfde parlement wat hy ontbind het; maar soos die Hertog van Roseberry, die 19de eeuse eerste minister (en een van Cromwell se grootste bewonderaars), dit gestel het, was hy ook ’n man van aksie, “a defender of the faith; the raiser and maintainer of the Empire.”
Ek begin glo dat dit slegs mense is met ’n supreme selfvertroue, ’n kollektiewe gemaklikheid in hul eie vel, wat sulke teenstrydighede in hul nasionale identiteit kan aanvaar asof dit dit die natuurlikste ding op aarde is.
Dit is dus baie meer as ’n blote sin vir regverdigheid (om Appleton se woorde te gebruik) wat toelaat dat ’n republikeinse leier en sy onthoofde slagoffer die teenoorgestelde kante van dieselfde straat kan deel.
Die hele ding laat my dink aan ’n debat waarby ek onlangs betrek is – teen my sin, moet ek byvoeg. Dit het gegaan oor Afrikaners en Suid-Afrikaners en die holruggeryde kwessie: wat kom eerste? Is jy eers ’n Suid-Afrikaner en dan ’n Afrikaner, of andersom?
Ek was sommer onmiddelik moeg. Want maak dit saak, het ek gewonder? Moet jy noodwendig meer of minder van die een as die ander wees?
Waarom hierdie ongesonde behoefte om trou te sweer aan één gedeelde ideaal, een grondwet, een weergawe van die geskiedenis en een party. Waaruit is dit anders gebore as ’n akute gebrek aan kollektiewe selfvertroue?
En as jy bostaande lees as ’n kritiek op die heersende ANC-ideologie, dink weer. Dis net soseer van toepassing op die heersende debat in bruin én Afrikaner-geledere.
Ek, daarenteen verlekker my in my eie teenstrydighede – om tegelyk republikein en monargis te wees; Afrikaan en Europeër; ’n draadsitter én ’n deelnemer.

  • Die rubriek het die eerste keer in Rapport verskyn op 15 Junie 2008.

No comments: