30 June 2008

Die Engelse moet leer om te KUIER

Ek sien groot dele van Suid-Afrika bibber op die oomblik met oggendtemperature van hier kort duskant nul.
Dit is daarom miskien ’n bietjie ongeskik om oor die somer te praat, maar ek gaan dit in elk geval doen – veilig in die wete dat daar wel iemand gaan wees wat teen Desembermaand die lekker Johannesburgse kuierweer onder my neus gaan vryf.
Kyk, laat daar geen twyfel wees van die erns waarmee die Britte somer benader nie. Die sonseisoen word met mening gevier met een groot geleentheid na die ander. Soveel so dat ’n mens teen die tyd dat die weer begin draai skoon uitgeput op die rusbank neerslaan van al die opwinding.
Vir die sportmalles is daar Wimbledon, Glastonbury vir die musiekliefhebbers, Farnborough vir die vlieëniers, polo vir die rykes en natuurlik Ascot vir die uitspattiges.
Royal Ascot Week, dié hoogtepunt op die Engelse perdewedrenkalender, het verlede week plaasgevind en watter sonderlinge tentoonstelling van puur Britse teenstrydighede was dit nie!
Laat my verduidelik.
Die stywe-bolip brigade van Ascot het vanjaar soos ’n ton bakstene neergekom op onfatsoenlike kleredrag.Veral dié met kaartjies vir die koninklike pawiljoen, is opnuut gemaan om tog ordentlik aan te trek.
Vir mans beteken dit ’n morning suit en pluiskuil, daardie eiesoortige – en mag ek byvoeg buitensporige – Engelse mansuitrusting.
Vir vrouens grens die reëls aan die absurde. Die regulasie van geen kaal skouers en ’n reël dat rokke nie meer as ’n duim bo die knie mag sit nie, kan ’n mens nog verstaan. Maar wat op dees aarde moet ’n mens maak van ’n regulasie wat lui: Knickers must be worn, but not seen?
Die gedragskode is ook doodstil oor ’n ander gewilde Ascot tydverdryf – die gebruik van reuse hoeveelhede alkohol.
Daar is niks wat die Engelse se ongesonde verhouding met die vrug van die wingerdstok beter illustreer nie as die beskonke liggame wat menige geleentheid hierdie tyd van die jaar ontsier nie.
Vir baie Britte is alkohol nie bloot die smeermiddel wat help om die tyd wat jy saam met vriende spandeer, so aangenaam moontlik te maak nie. Nee, dis eerder ’n doel opsigself, iets wat jy drink vir geen ander rede as om die sensasie van dronkwees te ervaar nie.
In Europa sê hulle dis maklik om die toeriste van verskillende nasies te herken. Die Japanese neem foto’s, die Duitsers kla, die Hollanders soek ’n goedkoper blyplek en die Britte… lê besope in die slootjie.
Soos Sisifus deur die gode gestraf is om tot in die ewigheid ’n marmerblok teen ’n berg op te rol, is Britse politici se vonnis om vir immermeer die oorsake van die “nasionale drankprobleem” te debateer.
Pogings van Britse regerings om hulle onderdane te oorreed om ’n kontinentale drinkkultuur te aanvaar, grens aan die absurde.
So drie jaar gelede het die huidige regering ’n plan opgedroom om Britse pubs toe te laat om ná 11-uur in die aand oop te bly. Die redenasie destyds was dat die buitensporige vroeë sluitingstyd van die tradisionele Engelse local aanleiding gee tot nóg ’n tradisie: om kort voor sluitingstyd ’n laaste pint (of twee) te bestel en dit dan so vinnig moontlik weg te slaan voordat die landlady jou onder jou alie skop.
Het dit Britse drinkgewoontes verander? Natuurlik nie. Soos ’n taxidrywer onlangs vir my gesê het, beteken dit net dat die hele stad se dronkes nie nou almal op een slag ’n geleentheid huis toe soek nie.
Die mees onlangse teiken vir dié nimmereindigende debat was kinders – dit nadat die minister van kindersake, Ed Balls, dit in sy kop gekry het dat hy die nasie in verantwoordelike Europeërs sal omskep deur ouers te verbied om aan hul jong kinders ’n glasie wyn aan tafel te gee.
Huhh? Ek dog Europese manier is juis om kinders op ’n vroeë ouderdom bekend te stel aan die beskaafde gewoonte van ’n glasie wyn saam met ete?
Dit alles laat my dink aan ’n Afrikaanse uitdrukking, wat nie in Engels bestaan nie, en miskien aan die hart lê van die Engelse se genetiese onvermoë om drank te verstaan.
Dit is die mooi gebruik van die woord “kuier” om te verwys na die tipe sosiale samesyn waarin ’n brannefientjie ’n sentrale rol speel.
Want dit, in kort, is wat met Britse drinkgewoontes skort. Hulle kuier nie.
* Die rubriek is die eerste keer in Rapport gepubliseer op 29 Junie 2008.

No comments: