20 April 2008

Die premier sonder ’n idee (of ’n skaduwee)



Geen Britse eerste minister gooi ’n groter skaduwee oor die na-oorlogse Brittanje as Margaret Thatcher nie.
Dit is dus met ’n sekere fassinasie dat ek verlede week uittreksels lees uit ’n nuwe boek oor die Thatcher-jare deur Ferdinand Mount, hoof van Thatcher se beleidseenheid in die vroeë tagtigerjare.
Mount vertel onder meer van die langsame en frustrerende proses van toespraakskryf vir die ystervrou en herinner ons dat die dramaturg Ronald Miller verantwoordelik was vir sommige van haar mees onvergeetlike aanhalings.
Dit was Miller wat haar gewys het op die woorde van St Francis van Assisi wat sy gebruik het kort ná haar eerste verkiesingsoorwinning: “Where there is doubt, may we bring faith. And where there is despair, may we bring hope.”
Miller se grootste triomf was egter die paragraaf in daardie ongelooflike toespraak tydens die 1980 Tory-konferensie. Skaars 17 maande nadat sy aan bewind gekom het, was sy met die rug teen die muur. ’n Ekonomiese resessie het gedreig, haar kiesers was skepties, die party was bang en haar kabinet oproerig.
Teen hierdie agtergrond verklaar sy: “To those waiting with bated breath for that favourite media catchphrase, the U-turn, I have only one thing to say. You turn if you want to. The lady’s not for turning.”
(Miller het die frase geleen uit die titel van ’n Britse toneelstuk uit die 1940s, The Lady’s not for Burning.)
Mount se terugblik op sy jare in Downing Street en sy verwysings na die toespraak wat so ’n reuse rol gespeel het om Thatcher se reputasie te vestig, staan in groot kontras met ’n ander groot storie in die Londense koerante verlede naweek.
Volgens die jongste meningspeilings is Gordon Brown nou die ongewildste Britse eerste minister sedert meningspeilings vir die eerste keer in die 1930s gedoen is, skryf die Londense Sunday Times.
In seker die wreedste politieke vergelyking moontlik skryf die koerant dat die ineenstorting in Brown se persoonlike gewildheid selfs meer plotseling is as dié van Neville Chamberlain, die man wat in September 1938 sy beroemde “peace for our time” toespraak gemaak het – net om 11 maande later oorlog teen Hitler te verklaar.
Tekens van paniek in Downing Street is op die oomblik duidelik vir almal om te sien.
Die belangrikste hiervan is die aanstelling van Stephen Carter, ’n voormalige advertensieman, as primus inter pares onder die Downing Street amptenaredom.
Die teenwoordigheid van advertensie-mense in Downing Street is nie ongewoon nie. Tim Bell, ’n voormalige besturende direkteur van Saatchi & Saatchi, het immers ’n belangrike rol gespeel in al drie Thatcher se verkiesingsoorwinnings.
Brown se geskarrel – en die feit dat Carter vinnig besig is om van Brown se jarelange vertrouelinge te vervreem – is egter ’n aanduiding van ’n dieper malaise in Fort Brown.
Kan dit wees, so fluister hulle in Westminster, dat Gordon Brown nie ’n idee het waarheen hy op pad is en wat hy besig is om te doen nie?
Wag die Arbeidersparty vergeefs op hul leier se Thatcher-oomblik? Daardie toespraak waartydens hy die party aan die nekvel gaan gryp en kiesers gaan inspireer deur onder meer te verklaar hoe hy Brittanje gaan red van die ekonomiese onweerswolke wat aan die oorkant van die Atlantiese Oseaan saampak.
Die hartseer waarheid is dat dit nooit gaan gebeur nie. Elke week wat verbygaan, hoe langer Brown se premierskap aanhou, hoe duideliker word dit dat die veelbesproke Brown-visie nie bestaan nie.
Die joernalis en voormalige Tory-parlementslid Matthew Parris is die mees welsprekende voorstander van hierdie siening.
Hy sê Brown word dikwels beskuldig dat hy stug is, dat hy sekere psigologiese tekortkominge het en dat hy obsessief is. Niks hiervan behoort ’n probleem te wees nie. Selfs Winston Churchill was ’n man met gebreke.
Wat Parris Brown nie kan vergewe nie is die “leë spasie tussen sy ore waar daar ’n idee behoort te wees”.
Een “alles-oorheersende doelwit, ’n aangrypende sin vir politieke rigting”, sal al die kritiek wat ’n mens teen hom as mens het, kan oorkom, meen Parris.
Brown en sy nuwe span beeldpoetsers het waarskynlik nog tyd tot die Arbeidersparty se kongres, in die Britse herfs, om met hierdie allesoorheersende idee voorendag te kom voordat sy eie party finaal geduld met die man van Kirkcaldy gaan verloor.
Moet egter nie enige wonderwerke verwag nie.
  • Hierdie rubriek is vir die eerste keer in Rapport gepubliseer op 20 April 2008.

No comments: