10 February 2008

Beur jouself op met ’n Manhattan mushroom-burger

Daar is iets gerustellends aan ’n Spur.
Die oorbekende spyskaart, die uie-ringe wat na ou olie ruik. En natuurlik daardie beroemde pienk sous waarmee alles soveel lekkerder smaak.
Is daar iemand wat hier lees wat nog nooit in ’n Spur geëet het nie? Want as daar is, wil ek hom wragtag ontmoet. En uitneem vir ’n Manhattan mushroom burger sodat hy (of sy) my kan vertel waar hulle al die jare was.
Dit bly vir my een van die groot raaisels van ons tyd hoe dit gekom het dat ’n restaurant met ’n lawwe Amerikaanse Indiane-tema verhef is tot eetplek van die nasie.
Al hierdie gedagtes kom by my op terwyl ek ’n week of wat gelede my vleishonger stil by die Spur in Plattekloof in die Kaap.
Dis die eerste keer in twee jaar dat ek in Suid-Afrika is, met die gevolg dat ’n besoek aan die Spur hoog op die agenda was. (Blykbaar is daar ook ’n Spur hier in Londen, maar van diegene wat al daar was, verstaan ek dat dit ’n erg teleurstellende ervaring is. Om na ’n Engelse Spur te gaan voel nie reg nie – dis soos om God Save the Queen uit volle bors op Loftus te sing. ’n Mens doen dit net nie. En in elk geval proe dit nie dieselfde nie.)
Dis ’n eienaardige ervaring, so ’n besoek aan jou land nadat jy taamlik lank weg was. Kort nadat ons op die Kaapse lughawe land sê die vlieënier van die British Airways vlug iets wat my vir die res van die vakansie bybly: “Hierdie is ’n wonderlike land. Geniet jou besoek. En as jy in gelukkig genoeg is om in Kaapstad te bly: welkom tuis.”
’n Dag of wat later dwaal ek deur die Kaapse winkels, verstom oor hoeveel duurder dinge geword het sedert ek laas met rande in my sak inkopies gedoen het. Totdat ek die pryse terugreken na ponde en besef dat alles steeds spotgoedkoop is.
Soggens word ek wakker geraas deur die uitbundige gelag van my klein seuntjie wat kaalstert deur die spreier hardloop wat sy oupa al vroegoggend vir hom oopgedraai het.
Kort voor lank is hy besig om al rondom die huis te hardloop – ’n reuse verbetering op die op en af in die gang of in en uit by die agterdeur waaraan hy en sy maatjies in Londen gewoond is.
Selfs die aanhoudende kragonderbrekings kan die behaaglikheid om elke dag die son te sien skyn nie demp nie en een snoek op die kole is genoeg om my te oortuig: dit is waaragtig die land van melk en heuning.
Dis egter gou duidelik dat almal nie met my saamstem nie.
Op TV vertel Jurie Els een aand van sy opgewondenheid om Nieu-Seeland toe te verhuis en hoe die probleme in die land dié besluit makliker gemaak het. (Hy en Hestrie het blykbaar ook deesdae “meer vriende in Nieu-Seeland as in Suid-Afrika”.)
Op Die Burger se brieweblad kla “Bootjie” van Mosselbaai dat daar ’n “groot skroef in Suid-Afrika los is” en voorspel ’n “duister toekoms” vir, as ek hom reg verstaan, alle wit mense in die land.
Teen die einde van ons kuier strek hierdie parade van lang en suur gesigte van Yzerfontein tot in die Kaap en ek begin wonder of die British Airways vlieënier om nie dalk misgis het en in die verkeerde land neergestryk het nie.
Vroeër die week verruil ek weer die land met die donker toekoms vir die een met die donker, koue hemel.
Ons vind Heathrow-lughawe nog net so chaoties deurmekaar as van ouds. Die vliegtuig se vragruim wil nie oopgaan nie en ons wag meer as ’n uur vir ons bagasie. Ek koop ’n koerant. “Dodgy MPs put in charge of sleaze reform” sê die opskrif.
Oor die radio is daar ’n program oor die land se chaotiese gesondheidstelsel en Engeland het hul eerste Ses Nasie-wedstryd teen Wallis verloor.
Die toekoms lyk donker, besluit ek. Veral vir ’n nasie wat nie eers ’n Manhattan mushroom-burger het om hul op te beur nie.
  • Hierdie rubriek het die eerste keer in Rapport verskyn op 10 Februarie 2008

1 comment:

Rondavel said...

Goeiemôre! Ek het drie jaar lank in Engeland gebly en jou beskrywing van die terugkeer na Heathrow is uitstekend. Ditto.
Maar ek is nou al een jaar in Skotland, naby Edinburgh, en die gevoel om hier te land is soveel meer positief. Ten spyte van die donker wolke en die weer wat elke twintig minute verander, voel ek tuis.