14 December 2007

Die wêreld is 'n ERNSTIGE plek

Laat my sommer by voorbaat om verskoning vra.
Toe ek vanoggend voor my rekenaar gaan sit was ek vas van plan om oor ERNSTIGE sake te skryf.
Die wêreld is uit die aard van die saak ’n ernstige plek. Ernstige dinge gebeur.
Oorloë word geveg, mense sterf, toesprake word gemaak. Alles ernstige dinge.
Die afgelope naweek was ek in die Portugese hoofstad Lissabon waar presidente en eerste ministers van 80 Afrika- en Europese lande teenwoordig was om te praat oor ernstige goed.
Ekonomiese samewerking, armoede verligting, onwettige immigrasie en konflikhantering. Alles onderwerpe met vleis. Die tipe geo-politieke goeters waarin Volksblad lesers, opgevoede wesens wat hulle is, sou belangstel.
Maar vanoggend gaan ek die Vrystaters teleurstel. Ek is jammer.
Net voordat ek voor my rekenaar gaan sit het in ’n ernstige gemoedstemming en gewigtige vingers om oor al hierdie somber onderwerpe verslag te doen, val my oog op ’n storie in die The Times oor kinders wat speel.
Maar as jy dink dat speel nie ’n voldoende serieuse onderwerp vir hierdie rubriek is nie, verstaan jy nie die Britse vermoë om dodelike erns te maak uit iets waaruit die res van die wêreld slegs plesier put nie.
Die Britse regering gaan gedurende die volgende paar jaar miljoene ponde spandeer aan “speelfasiliteite om die agteruitgang in die kwaliteit van kindwees te stuit”.
’n Besluit is op die hoogste vlak geneem om weg te beweeg van die “geen balspele kultuur” van die verlede wat kinders verhinder het om buite te speel en Britse kinders gaan geleer word om hulself “onafhanklik te geniet”.
Jip, jy het reg gehoor. Die klein bleekbeentjies gaan balskop. Op hulle eie. En buite!
Verder gaan kinders wat stout is aangemoedig word om verskoning te vra vir hul dade. Wat ’n deurbraak!
’n Ironie wat misgekyk is deur al die koerante wat oor hierdie nuwe verwikkeling verslag gedoen het, is dat dié aankondiging gedoen is deur die minister van kindersake, mnr. Ed Balls.
“Balls wil kinders laat bal skop”, klink vir my na een van die beste koerantopskrifte in ’n baie lang tyd, maar ongelukkig het Fleet Street se subredakteurs die geleentheid misgekyk. Miskien het hulle kreatiwiteit ook gely het onder die feit dat hulle nooit kon buite speel nie...
Want sien, as hierdie berigte jou laat vermoed dat die Engelse nou heeltemal kop verloor het, is jy heeltemal reg. Want waar dit die opvoeding van hul kinders betref, is hulle beslis op ’n ander planeet as die res van ons.
Die verval het reeds so vyf of ses jaar gelede begin toe Britse staatskole toegelaat is om hul sportgronde te verkoop. Asof dit nie reeds genoeg is nie, is Britse kinders se godgegewe reg om te speel verder ingekalwe deur ’n magdom reëls en regulasies.
Baie sport- en stokperdjieklubs weier byvoorbeeld deesdae dat kinders van skoolgaande ouderdom lid word as hul ouers nie reeds lid van die klub is nie. Waarom? Nie omdat die klubs nie van kinders hou nie, maar omdat enige afrigter of seëlversamelaar wat gereeld met kinders by só ’n klub te doen kry eers ’n polisieklaring moet kry om te bewys dat hulle nie in die verre verlede lelike goed met klein seuntjies aangevang het nie en dus geen gevaar vir die jeugdige klublede inhou nie.
En dan praat ons natuurlik nie van die noodhulpkursusse en magdom ander hoepels waardeur iemand moet spring voordat die Britse staat uiteindelik tevrede is dat hy of sy wel met kinders in aanraking mag kom nie.
Baie klublede weier dus, heeltemal verstaanbaar, om hulself aan so ’n inkwisisie bloot te stel. Waarom moet jy soos ’n krimineel by die polisiestasie in ’n tou gaan staan om ’n polisieklaring te kry as jou grootste sonde die feit is dat jy van jou vrye tyd wil opoffer om kinders ’n voorliefde vir seëls, modeltreintjies of balskop aan te leer?
Kan dit wees dat ’n land iets so eenvoudig soos speel só verkeerd kan kry?
As dit nie so ’n ernstig saak was nie, het mens sommer gehuil.
  • Hierdie rubriek het vir die eerste keer in Volksblad verskyn op 13 Desember 2007.

09 December 2007

Geen wind waai kouer as hierdie ou bliksem

My vriende sê ek is ’n nors ou bliksem.
Dit kan egter ook nie anders nie, want daar is meer as genoeg om die lewe te versuur.
Ek lewe immers met die oortuiging dat elke dag, saam met die oneindige stroom van rekeninge wat die posman soggens kort na nege onderdeur my deur stoot, ’n hele rits nuwe dinge bring waaroor ek my kan vervies en verknies.
Verkoopsassistente wat goodie bags in my hand stop – vol nuttelose objekte soos penne wat nie kan skryf nie en T-hemde met onooglike logo’s wat ná die eerste was uitmekaar val – is een van hulle.
Waarom, vra ek my telkens af, laat ek toe dat ek omgerokkel word om hierdie nuttelose objekte huis toe te piekel waar kleuters vir drie minute daarmee speel voordat dit selfs hulle begin verveel? Net om dit dan in die gang te laat lê waar iemand vannag daaroor gaan struikel en ’n enkel breek op pad toilet toe.
Verban goodie bags. En terwyl jy besig is, verbied sommer ook Suid-Afrikaners wat Australië toe geëmigreer het om briewe aan Afrikaanse koerante skryf waarin hulle selfvoldaan vertel hoe hulle besluit om voortaan net Quantas te vlieg die beste besluit van hul lewe was.
Vra sommer ook vir Koos Kombuis om vir ’n oomblik koebaai te sê aan sy geykte middelklas bestaan en sy gerieflike huisie by die see en weer vir die wêreld iets so wonderlik anarchisties en bitter te skryf soos sy “Sommige Ou Tannies Blues”:
Sommige ou tannies hang rond vir kwaadgeld
In Garlicks se teekamer
En verober kaaskoek en skons
Terwyl hulle Polaroid-kiekies smokkel in hul handtasse
Van oorlede mans en stoutgat bedorwe kleinkinders
Op ander kontinente.
Net soos die ou Koos haat ek ook ou tannies. En jong televisie aanbieders met perfekte tande en laboratoriumborste wat met hul soet lippies mooitjies glimlag en niemand tot enige voordeel strek behalwe ’n handvol miljoenêrs wat ryk geword het uit die verkoop van lipstiffie en rooi naellak nie.
Ek verpes mense wat woorde soos “kerjakker” en “prentjiemooi” gebruik, joernaliste wat inligting “deurgee” en skoofhoofde wat “leerders onderrig” in plaas daarvan om die kinders te leer lees.
Waarom kan die persoon aan die ander kant van die lyn my nooit hoor as ek hulle bel nie en hoekom is dit so dêm moeilik om die Britse weergawe van Telkom te oortuig dat daar iets fout is met die diens waarvoor ek elke maand honderde ponde betaal?
Watter natuurwet bepaal dat banke reg oor die wêreld moet meeding om die prys vir die vrotste kliëntediens en waarom kom Krismis in die maand wanneer jy die minste geld in jou sak het?
Saam met Charles Dickens se beroemde karakter voel ek: “What is Christmas time to you but a time for paying bills without money; a time for finding yourself a year older, but not an hour richer.”
Saam met Scrooge wil ek uitroep: “Merry Christmas! What right have you to be merry?”
In Londen se Oxford Street word Kersfees op die oomblik met tipiese kapitalistiese oordadigheid gevier en is dit moeilik om die geblêr van Jingles Bells bo die geklingel van die kasregisters te hoor.
Die koue windjie wat hierdie tyd van die jaar gereeld uit die rigting van Tottenham Court Road waai skrik my nie eers af nie, want, soos dit met Ebenezer Scrooge die geval is, kan geen wind méér bitter waai as ek nie.
Voor Selfridges staan ’n Salvation Army blaasorkes en speel en ek gaan staan vir ’n oomblik stil om te luister. Dis deuntjies wat ons almal al ’n duisend maal gehoor het.
O come all ye faithfull
Joyful and truimphant
O come ye, O come ye
To Bethlehem…

En tot my skaamte pik ek ’n traan weg.
Want is dit nie die tyd van die jaar om jou harde hart vir ’n oomblik te versag nie?
“To think of people below you as if they really were fellow-passengers to the grave, and not another race of creatures bound on other journeys.”
So in die gees van die seisoen en Dickens se beroemde Kersstorie vergewe ek vir Koos Kombuis, die briefskrywers uit Australië en selfs my gesiglose bankbestuurder met die blikstem.
Geseënde Kersfees. Mag 2008 vir julle almal ’n wonderlike en voorspoedige jaar wees.
  • Hierdie rubriek het vir die eerste keer verskyn in Rapport op 9 Desember 2007.