25 November 2007

Wie is jou Pappa?

Vir jare al is ons besig om hulpeloos toe te kyk hoe tradisionele familiewaardes ondermyn word deur ’n alliansie van feministe, vegters vir gay-regte, egskeidingsprokureurs en “kulturele Marxiste” wat besef dat dit die beste manier is om die Westerse samelewing te vernietig.
Aan die woord is Melanie Phillips, een van Brittanje se mees uitgesproke en politieke onkorrekte rubriekskrywers.
Phillips het dit hierdie keer teen ’n wetsontwerp wat tans in die Britse parlement gedebateer word en wat dit uiteindelik vir lesbiese paartjies moontlik sal maak om kinders te kry met die hulp van ’n naamlose spermdonateur.
Onder bestaande Britse wetgewing moet vrugbaarheidsklinieke ’n kind se “behoefte aan ’n pa” in ag neem voordat hulle ’n vrou toelaat vir in vitro bevrugting wat beteken dat vrouens in lesbiese verhoudings effektief gediskwalifiseer word.
In ’n Suid-Afrikaanse konteks is hierdie argumente natuurlik heeltemal akademies, omdat ons eie wetgewing, gerugsteun deur ons grondwet, sulke behandeling geruime tyd reeds moontlik maak.
Dit beteken egter nie dat ’n mens die Britse debat oor dié ongemaklike en emosionele onderwerp heeltemal moet ignoreer nie, veral omdat dit aansluit by ’n tema wat besig is om baie belangrik in Britse politiek te raak – die rol wat die gesin in die samelewing behoort te speel.
Een van die grootste opponente van die wetsontwerp is Iain Duncan-Smith, die voormalige leier van die Konserwatiewe Party wat sê dat die wetsontwerp net “nog ’n spyker in die doodskis van die tradisionele gesin is”.
Sy argument is ’n belangrike een, omdat dit die fokus vir ’n oomblik verskuif van gay- en lesbiese regte na ’n debat oor vaderskap en die rol wat pa’s in die lewe van hul kinders speel – of behoort te speel.
Nie net glo Duncan-Smith dat kinders wat uit twee-ouer huisgesinne kom ’n beter kans op sukses het nie, maar hy lê klem op die belangrike posisie wat manlike rolmodelle in die lewe van jong kinders – beide seuns en dogters – speel.
Hy beskuldig die liberale elite dat hulle besig is om die grense van tradisionele ouerskap te vervaag en te herdefineer op ’n manier wat ons in die toekoms gaan berou.
“Om mans op ’n kunsmatige wyse uit die familieportret te verf, raak ’n selfvervullende profesie. Hoe meer daar aan mans gesê word dat hulle nie nodig is nie, hoe meer sal hulle hulself onttrek van die samelewing en van persoonlike verhoudings.”
En soos Phillips waarsku: “Die afwesigheid van ’n pa lê aan die hart van omtrent alles wat verkeerd is in ons samelewing – van ’n onvermoë om op skool te presteer tot dwelmmisbruik en geweldsmisdaad.”
Een van die belangrikste sosiale vraagstukke van ons tyd is dus hoe ons gesinne bymekaar kan hou en hoe ons positiewe manlike rolmodelle kan verskaf in dié ongelukkige gevalle waar die biologiese pa te sleg of te dronk is om sy vaderlike plig na te kom. Wat egter besig is om te gebeur is presies die teenoorgestelde.
In Brittanje is daar byvoorbeeld geruime tyd reeds kommer oor die tekort aan manlike onderwysers. Hierdie probleem is veral sigbaar in skole in armer gebiede – juis dié skole met meer kinders uit gebroke huisgesinne met afwesige pa’s waar die behoefte aan positiewe manlike rolmodelle soveel groter is.
Daar is natuurlik diegene wat sê dat dié argumente alles ’n rookskerm is, dat die teenstanders van die wetgewing nie noodwendig pro-pa is nie, hulle is bloot anti-lesbies. Hulle weier eenvoudig om te aanvaar dat twee vrouens daartoe in staat is om ’n liefdevolle omgewing te skep waarin ’n kind gelukkig en gebalanseerd kan grootword.
Dit mag so wees – en ek sou die eerste wees om toe te gee dat dit beter vir ’n kind is om twee liefdevolle ma’s te hê as ’n dronklap vir ’n pa terwyl ma sukkel om liggaam en siel bymekaar te hou.
Daar is egter sommige deelnemers aan dié debat wat probeer aanvoer dat vrouens vir eeue reeds hul kinders alleen grootmaak terwyl die mans jag en oorlog maak en dat pa’s se rol in hul kinders se lewe heeltemal oorskat word.
As beide ’n seun en ’n pa vind ek dié argument hoogs onsmaaklik en kan ek bloot sê: Ek protesteer. En ek hoop my pa en my kinders stem saam.
  • Hierdie rubriek is vir die eerste keer in Rapport gepubliseer op 25 November 2007.

14 November 2007

Oor ’n vet beursie en swak gesondheid

Vir jare lank hou ek nou al die horison dop, maar is daar enige kans dat ek ooit my skip sal sien inkom?
Nee, natuurlik nie, daarom dat ek nou maar verlief neem met die feit dat ek vir die res van my lewe ’n sukkelende armgat gaan wees.
Maar elke nou en dan lees of hoor jy van iemand wat ’n moerse gelukkie geslaan het en jy wonder: waarom moet die lewe so dêm onregverdig wees?
Dit laat my dink aan Tevye, die paterfamilias in die musiekblyspel Fiddler on the Roof, se versugting as hy vra:
God who made the lion and the lamb…
Would it spoil some vast eternal plan
If I were a wealthy man?
Mooi, is dit nie? En ook so waar. Sou dit regtig die Ou Man daar bo se kaarte so vreeslik deurmekaar gekrap het as ek net so ’n ietsie meer gehad het as wat ek nou het? Al was dit net so ’n los Lotto-gelukkie…
Soos die een wat die Amerikaner Bonnie Brown te beurt geval het.
’n Paar jaar gelede, in 1999, was Bonnie regtig in ’n verknorsing.
Sy was pas geskei en dringend op soek na ’n werk wat brood op die tafel kon sit. Na vele gesoek kry sy werk by ’n IT-maatskappy as ’n masseuse teen R3 000 ($450) per week.
Die salaris was nie danig nie, maar om daarvoor te vergoed het sy ook ’n handvol aandele-opsies gekry – net jammer dat dié so te sê waardeloos was.
Maar dit was destyds.
Vandag is Bonnie ’n multi-miljoenêr, want die maatskappy by wie sy gaan werk het as werknemer nommer 41 het wêreldbekend geword as die internetreus Google en daardie aandele van haar is nou amper R5 300 ($800) per aandeel werd.
Soos sy onlangs aan die New York Times gesê het: “Elke keer as ek geld weggee, kom daar net nog by. Dit is soos ’n pot wat oorloop.”
In my huidige gemoedstoestand is dit juis die tipe storie wat ek nie eintlik wil hoor nie. Maar daar is nog.
Het jy geweet dat die popsangeres Britney Spears elke maand R681 000 ($102 000) uitgee aan “vermaak, geskenke en vakansies”. En ja, jy het reg gelees. Per maand, nie per jaar nie.
Hou ook asseblief in gedagte dat dit nie die geld insluit wat sy aan restaurant-etes spandeer nie. Daarvoor het sy nog R31 770 ($4758) elke maand nodig.
Volgens hofstukke wat onlangs in Los Angeles geliaseer is in haar stryd met haar eks-man Kevin Federline om toesig oor haar kinders word die ster se maandelikse uitgawes uiteengesit.
Volgens hierdie rekeninge is dit ook duidelik dat Spears ’n sagte plekkie het vir diegene wat minder bevoorreg as sy is.
Vir die wat dit nie so breed het nie, gee sy elke maand ’n hele R3 335 ($500). Of anders gestel, net 0,0682% van haar totale inkomste. Effe kort van ’n tiende, maar nou ja. Seker die gedagte wat tel, nie waar nie?
Spears se rekeninge toon ook dat sy elke maand meer as ’n halfmiljoen rand aan gesondheidsversekering en “ander mediese onkoste” spandeer.
Om die waarheid te sê is dit, ná vermaak, haar tweede grootste maandelikse uitgawe, selfs meer as die paaiemente op haar huis van R328 849 ($49 267).
Wat my laat wonder oor die meisie se gesondheid.
Want jinne jong, jy sal darem by die dokters moet boer om soveel geld elke maand op pille en brille uit te gee!
Miskien is daar vir ons armes ’n les te leer hieruit.
Net soos die hoeveelheid goed wat jy op ’n reis wil saamvat aangroei om te pas by die grootte van jou tas, verswak jou gesondheid om in pas te bly met die grootte van jou beursie.
So troos jou daaraan. Dis beter om arm en gesond as ryk en siek te wees.
Maar dit beteken nie dat ek gaan ophou om uit te kyk vir daardie skip op die horison nie – ten minste terwyl my oë nog hou…

  • Hierdie rubriek is vir die eerste keer gepubliseer in die Volksblad op 14 November 2007.

11 November 2007

Die vreemde reis van Babalela



Jolandi, die Karoomeisie wat in die week na ons kinders help omsien, is baie beslis as ek uitvra na die dinge waarsonder sy nie in Londen kan klaarkom nie.
“Ricoffy en Ouma-beskuit. As ek nie daai twee goed het nie, is ek baie ongelukkig.”
’n Mens hoef net by een van die talle Suid-Afrikaanse winkels in Londen in te stap om ’n idee te kry van die dinge waarsonder bannelinge nie in die vreemde kan klaarkom nie.
Êrens in Londen is daar iemand wat vanaand smag na groen Creme Soda-koeldrank of wat peusel aan ’n pakkie Niknaks om die reuse gat in die hart te probeer vul.
David Kramer is my Ouma-beskuit. Oor die maande het ek al geleer dat daar niks is wat die verlange tegelyk kan verdiep én stil soos sy musiek nie en ek glo dit is dié enkele Suid-Afrikaanse produk waarsonder ek nie die Europese winter sal kan deursien nie.
Kramer se musiek kry ekstra betekenis as jy daarna luister op ’n moltrein tussen Embankment en Tower Hill – juis omdat jy dan soveel ligjare verwyderd is van daardie plek met die “wind en sand en diamantdrome”.
En as jy in die grys herfslig aanstap huis toe verlang jy skielik na ’n “koue bloue hemel met geen genade”.
Daar is mos net een plekkie
En dis my plekkie daai.
So gebeur dit dan ’n week gelede dat my twee-jarige seun sý naelstring met sy moederland verloor.
Babalela is nie net ’n eienaardige pers-pienk lappop met kroeshare en groot oë nie. Dis ook Henri se boesemvriend en vertroueling – en belangriker nog, die een wat hom saans aan die slaap sus.
En, as skepping van die Afrikaanse kinderboek-illustreerders Andries en Erica Maritz, is Babalela ook sy mees tasbare konneksie met die groot, donker kontinent wat hy laas gesien het toe hy net drie maande oud was.
Ek kan Martie Preller se teks al in my slaap opsê: “Diep, diep in ’n donker bos, in ’n hol boomstomp, net onder ’n blaar, woon die Babalela.”
Vir al hierdie redes was die dag waarop Henri Babalela se verdwyning aankondig, oomblikke nadat ons op ’n trein geklim het, dus baie traumaties.
Alle planne vir ’n sorgelose gesinsdag is onmiddelik op ys geplaas en ek klim op die volgende stasie af om op ons spoor terug te loop – op soek na “die pers een”.
Verloor ’n tienpond-noot in Kensington se strate en dit sal môreoggend steeds daar lê – bloot omdat die mense hier rond soveel geld het dat dit te veel moeite sal wees om dit op te tel. Maar verloor ’n pers, Afrikaanse pop wat deur geen speelgoedwinkel in Londen in voorraad gehou word nie, en hy verdwyn soos ’n naald in ’n hooimied.
Dis amper ’n uur later dat ek Babalela uiteindelik vind waar hy op die spoorlyn lê waar iemand hom klaarblyklik argeloos van die perron geskop het nadat Henri hom laat val het.
Hy lê minder as ’n sentimeter van ’n staalspoor wat amper 500 volt dra en om hom te probeer red sou selfmoord wees. Nadat ek die netelige situasie aan die stasiemeester verduidelik het, stel hy voor dat ek die volgende oggend om halftwee, as die elektrisiteit uiteindelik afgeskakel word, vir Babalela kom haal.
Vroeg verlede Sondagoggend strompel ek dus vaak-vaak deur ’n verlate Londen op ’n missie om Babalela te red.
Voordat ek hom kan terugneem huis toe, dring die stasiemeester daarop aan dat ek ontvangs erken deur vir hom te teken in ’n voorvalleboek waar hy taamlik klinies as ’n “purple soft toy” beskryf word.
Ek druk Babalela se oliebesmeerde gesiggie teen my skouer vas terwyl ek terugloop huis toe – net soos Henri my al honderde kere tevore beveel het om te doen voordat hy en sy vriend gaan slaap.
Die insident word die perfekte spieëlbeeld vir Babalela se eie storieboekreis waarin hy triomfanklik terugkeer na die bos nadat hy deur ’n nare wetenskaplike ontvoer is.
“ ‘Ha!’ sê die Babalela, en kies koers na die bos”, waar hy weer sy intrek neem “in ’n hol boomstomp, net onder ’n blaar”.
Want, so lui die slotsin, “dís waar hy hoort.”
En terwyl ek aanstap neurie ek my eie Londense verlang-deuntjie:
Daar is net een plekkie
En dis my plekkie daai…

  • Hierdie rubriek het vir die eerste keer verskyn in Rapport op 11 November 2007.