22 October 2007

Jonny en die Waterkar

Nadat Nieu Seeland en Australië huis toe gestuur is en die Engelse dit tot in die finaal van vanjaar se wêreldbeker gemaak het, het by myself gedink: Wel, nou het ek alles gesien.
Die wêreldbeker-verrassings hou egter net nie op nie.
Die jongste wêreldbeker onthulling – en wat my betref die heel grootste – is die feit dat die Engelse losskakel Jonny Wilkinson ná Saterdagaand se wedstryd van die waterkar afgeval het.
Ja, jy’t reg gehoor. Wêreldrugby se soetste en voorbeeldigste seun skryf gister in sy rubriek in The Times dat hy ná Saterdag se game ’n knertsie gemaak het. Blykbaar nie net enetjie nie, want hy erken dat hy Sondagoggend met ’n moerse kopseer wakker geword het. Skande!
“Dit was die eerste keer in jare, maar dit het eenvoudig na die regte ding op die regte tyd gevoel.”
My liewe hemel Jonny! As ’n verloorwedstryd dit aan jou doen, hoop ons van harte dat Engeland nooit weer die wêreldbeker wen terwyl jy in die omgewing is nie. Wat is volgende? Iemand anders se vrou?
Vergelyk dit met Schalk Burger wat blykbaar Saterdagaand sy onderhoud met ’n joernalis van The Guardian afgesluit het met die woorde: “Ek is in die bui om net so ’n bietjie dronk te word vanaand.”
Waarop ’n mens net kan antwoord: Ons was ook Schalkie, ons was ook…
Op ’n meer ernstige noot skryf Wilkinson dat hy sy swak skepskoppe toeskryf aan die feit dat die enkel wat hy voor die wedstryd teen Suid-Afrika verswik het, nooit werklik herstel het nie.
Hy sê sedert hy sy enkel beseer het het hy nooit met sy regtervoet in oefeninge geskop nie. Sy skepskoppoging gedurende Saterdag se finaal was slegs die derde keer dat hy met sy regtervoet probeer skop het sedert die besering. Die ander twee was gedurende die wedstryde teen Samoa en teen Frankryk – en albei dié skoppe was ook mis.
Die ander (en hopelik laaste verrassing) van die wêreldbeker is die Engelse reaksie op hul nederlaag. Daar is beswaarlik ’n sweempie van suur druiwe te bespeur.
In gister se koerante moes ’n mens hard soek vir enigiemand wat nog glo dat daardie drie van Mark Cueto in Saterdag se finaal wel legitiem was.
Die Engelse vleuel Paul Sackey het aan die Daily Mail erken dat dit “taamlik verdag” lyk as ’n mens na die drie op die kykweer kyk.
Matt Dawson, Engelse skrumskakel tydens die 2003 Wêreldbeker, sê daar was “geen manier” waarop die skeidsregter die drie kon toeken nie.
Martin Corry skryf in The Guardian dat Suid-Afrika waardige wenners was. Corry sê Suid-Afrikaanse span het die “volle pakket” gehad met moeilike en tawwe voorspelers, ’n uitstekende lynstaan en die vermoë om wyd aan te val.
“Engeland het verloor omdat hulle uiteindelik net nie goed genoeg was nie,” skryf Peter Jackson van die Daily Mail.
“Die polemiek oor Cueto se drie sal voortduur, maar dit kan nie die feit verbloem dat die Springbokke gewen het omdat hulle verdien het om te wen nie.”
Jackson sê dit is veral die Bokke se ysere dissipline en die feit dat hulle Wilkinson minder kanse pale toe gegee het as wat hy nog ooit in ’n belangrike toetswedstryd gehad het, wat aan hulle ’n oorwinning besorg het.
So volgende keer as jy ’n Engelsman sien, geen hom ’n hartlike handdruk en wens sy span geluk met ’n bo-menslike poging.
Want ná Sondag se Grand Prix het die arme drommels darem wragtig genoeg sport-teleurstellings vir een naweek gehad!
  • Die rubriek het die eerste keer in Die Burger en Beeld verskyn op 23 Oktober 2007.

21 October 2007

Die Strate was Groen - Reënbooggroen


Die plan was om te gaan rugby kyk in die lêplek van die leeu – reg in die middel van die Britse hoofstad.
Maar wat veronderstel was om ’n aand van vrees en bewing te wees terwyl ek sit en naelskou omring deur groot manne wat my met roostakke slaan elke keer as Jonny Wilkinson aan die bal vat, het ontaard in ’n reuse partytjie met honderde Suid-Afrikaners wat in Londen se strate dans.
Ek is jammer. Ek het my plig versaak. Ek sou graag wou berig oor uitgegroeide Engelsmanne wat op straathoeke sit en huil, maar ek kan nie. Ek is seker êrens sit daar op hierdie oomblik ’n Engelsman in ’n wit trui en grens, maar ek kan hom nie kry nie.
Die tekens van ’n Engelse nederlaag was laatmiddag reeds duidelik, maar toe was die meeste van ons só senuweeagtig, ons het dit nie eers raakgesien nie.
Eers was daar die groepies Engelse wat sukkel-sukkel en baie vals probeer om hul soete strydwa aan die swaai te kry.
Maar meer nog: Trafalgarplein, die plek waar die Engelse eeu lank reeds bymekaarkom om fees te vier, was verlate. Geen groot skerm om die wedstryd op te kyk nie. Geen planne vir uitbundige vreugdesvieringe wat tot vroegdag toe aanhou nie. Dis asof die Londense stadsvaders lánk voor die tyd reeds geweet het dat daar niks sou wees om te vier nie.
Dit beteken egter nie dat Londen Saterdagaand in sak en as was nie.
Allermins.
Van waar op die oomblik sit, op die stoep van ’n vriendelike pasta-restaurant in Londen se weseinde, kon ek net groen sien. Nee wag, dis nie waar nie. Dis oorwegend groen, met ’n titseltjie reënboog .
Die klankbaan: Nkosi, afgewissel met Shosoloza en natuurlik die alomteenwoordige olé, olé. En is dit Leon Schuster wat ek daar in die verte hoor?
Van vroegaand reeds was dit duidelik dat die Bok Bar in Bedfordstraat nooit in der ewigheid genoeg plek (of koue Castles) gaan hê vir die honderde Suid-Afrikaners wat die wedstryd daar wou kom kyk nie.
En die eindfluitjie het skaars geblaas of dié hele Londen se Suid-Afrikaners het hierheen gestroom om in die strate te kom feesvier.
Maar terug by die Engelse. Waar kan hulle wees?
Vrydagaand was daar nog een in Trafalgarplein – of so is my vertel.
Op die mees veradderlike wyse het die owerhede na donker ’n beeld van Jonny Wilkinson op Suid-Afrika Huis geprojekteer, maar selfs dié het gedurende die nag verdwyn.
Teen Saterdagaand was Jonny nie meer daar nie – die Rose se laaste wapen het soos mis voor Londen se herfsonnetjie verdwyn.
En Londen se strate was groen. Reënboog groen.

19 October 2007

Engelse Losgemaal: Tiocaidh an la, tiochaidh an fear


Hier in die Britse hoofstad is die Engelse só seker dat hulle die wêreldbeker gaan wen, hulle het reeds vir Jonny Wilkinson ’n standbeeld Trafalgarplein opgerig.
Is true. Ek het self gaan kyk.
Daar staan hy, met biddende handjies, sy rug gekeur op Suid-Afrika Huis. Reg om ’n bôl tot bo-oor die National Gallery te skop.
“Kyk maar mooi hoe hy lyk, want dié standbeeld gaan nie baie lank meer hier staan nie,” vertel ek voorbarig aan ’n Engelsman in ’n swart pak wat besig is om foto’s van Koning Jonny te neem.
“Dis waar,” sê die man. “As ons hom weer hier op Trafalgarplein sien sal dit in lewende lywe wees met die goue beker in die hand.”
Ek lag hard en lekker. Want die vorige keer dat die Madame Tussaud’s een van hul wasbeelde hier op Trafalgarplein kom uitstal het was voor die sokker wêreldbeker verlede jaar.
Toe het hulle ’n standbeeld van David Beckham hier kom neersit en ons almal weet hoe suksesvol Engeland in daardie toernooi was. So kom ons hoop dat hierdie weer ’n geval is van misplaaste Engelse bravado.
Ten spyte van die Jonny-standbeeld op Trafalgarplein kry ’n mens nêrens in Londen die gevoel dat die Engelse eintlik oorloop van selfvertroue oor die uitslag nie.
Inteendeel. Die gemiddelde Engelse sportondersteuner het oor die jare geleer om nooit té veel van hul span te verwag nie en enige onverwagse oorwinning as ’n reuse bonus te aanvaar.
Vergelyk dit met RSG se Niekie van den Bergh wat gister selfbehaaglik aan SkyNews gesê het dat die Bokke die Engelse met 20 punte gaan trap.
Jinne Niekie. Stadig oor die klippe nou. Ons almal hoop jy’s reg, maar ’n paar weke gelede het die hele wêreld gedink die All Blacks gaan in die finaal speel. En kyk waar sit hulle nou.
Dit is tot Jake White en sy span se ewige krediet dat hulle hul gedurende die afgelope week weerhou het om (soos in die verlede) individuele Engelse spelers uit te sonder en té arrogant te wees.
Daar is niks wat die Engelse pers meer geniet as om iemand aan sy eie tou op te hang nie, en die feit dat Engelse koerante die Bokke hierdie week redelik goedgesind is, is ’n teken dat dié benadering vrugte afgewerp het.
Nadat die The Sun vroeër vir Percy “die Pou” Montgomery vir spesiale behandeling uitgesonder het deur te sê dat ’n mens net sy hare deurmekaar moet krap om hom te ontstel, het Montgomery gister netjies teruggeskiet deur aan die koerant te sê: “Wel as dit die geval is, moet ek maar net ’n bietjie ekstra haarsproei gebruik.”
Monty loop ook deur in ’n advertensie vir Spitfire, ’n gewilde Engelse ale.
“Suid-Afrika: Dit is hoe ’n seevierende Montgomery lyk,” kondig die advertensie aan. En langsaan ’n foto – nie van Percy Montgomery nie, maar van Bernard Montgomery, die Engelse veldmaarskalk en held van Al Alamein.
Selfs Schalk Burger, wat in die verlede erg getakel is deur die opposisie-koerante weens ongeoorloofde spel, is gister heel gaaf behandel. The Sun noem hom Suid-Afrika se Robo-Bok en sê die ou het so baie staalplate in sy lyf dat hy lughaweverklikkers nagmerries gee.
“Vergeet die metaalverklikkers, Engeland sal ’n tenk nodig hê om hom te stop,” skryf die koerant.
Die laaste woord oor vanaand se groot stryd kom van ’n Ierse vriend.
Die Iere en die Engelse is geswore vyande, so daar is geen twyfel vir wie hy vanaand skreeu nie.
“Slaan die Saksers waar dit seermaak,” moedig hy aan, voordat hy afsluit met ’n Keltiese boodskap: “Tiocaidh an la, tiochaidh an fear!”
Wat blykbaar beteken: “Kom die uur, kom die man.”
Of soos hulle hier in Engeland sê: Bring it on…

  • Die rubriek het die eerste keer in Beeld en Die Burger verskyn op 20 Oktober 2007.

18 October 2007

Engelse Losgemaal: Ons almal soek 'n nuwe geskiedenis

Wat het die Engelse afrigter Brian Ashton en Kitch Christie, die man wat die Bokke vir die 1995-toernooi afgerig het, in gemeen?
Nee, dis nie ’n grap nie, maar ’n vraag wat hierdie week in alle erns in die Britse pers gedebateer is.
The Guardian se Robert Kitson skryf dat Ashton en Christie “ertjies uit dieselfde peul is”.
Hy sê beide Ashton en Christie het die werk as afrigter kort voor die toernooi gekry toe hulle spanne in ’n benarde posisies was.
Soos Ashton was Christie net soveel ’n vader-figuur as ’n afrigter en altwee glo dat suksesvolle spanne die produk van kollektiewe begeerte en innerlike krag moet wees eerder as individuele talent.
’n Bereidwilligheid om van besluit te verander is ook ’n karaktereienskap van beide Ashton en Christie.
Dis nie moeilik om te sien in watter rigting Kitson met dié vergelyking tussen Ashton en Christie beur nie. Beide Ashton en Christie het ’n skepskop-spesialis tot hul beskikking. Beide ’n hardwerkende pak voorspelers en ’n span wat meer is as die som van sy individuele lede.
“Miskien gaan die geskiedenis homself herhaal. Nieu Seeland was 12 jaar gelede selfs groter gunstelinge as wat die Springbokke Saterdag sal wees,” skryf The Guardian.
Waarby ek graag sal wil voeg: Jy’s heeltemal reg mnr. Kitson. Miskien gaan die geskiedenis homself herhaal en gaan die span wat die groen hempies dra met die goue beker onder hul arms huis toe.
Voor dit gebeur is dit egter tyd vir diep asemhaal. Laat staan die opgewondenheid vir eers tot Saterdagaand.
Kom ons kyk liewer wat die Engelse koerante nóg alles sê.
“KICK HIM INTO TOUCH”, skreeu Brittanje se gewildste koerant, The Sun, gister in groot hoofletters op hul voorblad.
Die man wie se alie hul geskop wil hê is egter nie Bryan Habana of Percy Montgomery nie. Dis die Engelse sokkerafrigter Steve McClaren wie se span Woensdagaand teen Rusland verloor het. Die 2-1 loesing wat hulle van die Ruski’s gekry het, beteken dat Engeland se kanse nou byna nul is om vir volgende jaar se Euro-beker te kwalifiseer. En dit is ’n oneindige groter vernedering vir die Engelse psige as wat die 36 punte teen niks wat die Springbokke ’n paar weke gelede teen hul opgestapel het, ooit kan wees.
Volgens The Sun is dit nou net die rugbygode wat ’n teneergedrukte nasie van wanhoop kan red.
Dit laat my dink aan ’n reël uit die Simon and Garfunkel treffer: “Where have you gone, Joe DiMaggio/ Our nation turns it’s lonely eyes to you.”
Maar as dit die Engelse versugting is vir ’n DiMaggio of ’n Wilkinson om hulle weer te laat glo in hulself, waarop hoop Suid-Afrika?
Presies dieselfde natuurlik. Vervang net DiMaggio met Du Preez en Mrs Robinson kan netsowel ons wêreldbekertreffer wees.
Is dit nie eienaardig hoe die boodskappe wat in die pylvak uit beide die Engelse en die Springbok-kamp kom presies dieselfde klink nie?
Volgens die Engelse kaptein Phil Vickery wil hy en sy span “ ’n bietjie van hul eie geskiedenis maak”.
Vergelyk dit met Morné du Plessis se boodskap aan die Bokke aan die begin van die toernooi: Suid-Afrika is moeg vir die beelde van ’n Boeing wat laag oor Ellispark vlieg en Francois Pienaar wat die beker omhoog lig. Die land soek ’n nuwe storie en nuwe helde.
Dalk is The Guardian tog reg en herhaal 1995 homself.
Net soos Vickery soek ons ook ’n nuwe geskiedenis.
* Hierdie rubriek het vir die eerste keer in Beeld en Die Burger verskyn op 19 Oktober 2007

Engelse Losgemaal: Oor slotte wat in Engels tel

Elke groot sporttoernooi moet ’n alchemis hê, ’n gek professor met die vermoë om iets uit niks te tower.
In die middeleeue sou hy op ’n wit perd ry en op ’n stadium dat die veldslag heeltemal verlore lyk sal man en ruiter die draak van vernedering stormloop om ’n oorwinning uit sy kake te gryp.
Vier jaar gelede was dit Jonny Wilkinson. Vir die span van Clive Woodward was hy ’n tallisman en die blote feit van sy bestaan was genoeg om die opposisie slapelose nagte te gee.
’n Mens kan altyd jou teenstanders se selfvertroue meet aan die manier waarop “hulle” koerante oor dié tallisman praat en skryf. Ignoreer hulle hom soos ’n stopstraat of kom rugbyskrywers met hul eie planne vorendag hoe om hom te stuit?
Gemeet aan die manier waarop Engelse koerante op die oomblik oor Bryan Habana skryf, is dit duidelik dat hulle glo dat Habana die mantel as “die man om te vrees” by Wilkinson oorgeneem het.
“The man that races cheetahs,” noem hulle hom hier na aanleiding van die publiseitsfoefie ’n paar maande gelede toe hy teen ’n jagluiperd resies gejaag het by die De Wildt jagluiperdsentrum naby Pretoria.
Die feit dat Bryan Gary Habana vernoem is na twee voormalige Manchester United sokker-spelers (Bryan Robson en die Suid-Afrikaans-gebore Gary Bailey) is net verdere rede vir die Engelse pers se fassinasie met die Suid-Afrikaanse vleuel.
Hulle obsessie met “Captain Marvel” vorm deel van ’n baie interessante verskuiwing in die manier waarop die Engelse media verslag doen oor die opbou na Saterdag se groot stryd.
Die afgelope week se euforie ná die Engelse oorwinning oor Frankryk (“Drop of Gold” was die opskrif van een storie oor Wilkinson se skepdoel in beseringstyd) is nou besig om plek te maak vir ’n meer nugtere ontleding van die Engelse kanse.
Soos die horlosie meedoënloos die sekondes aftik na Saterdagmiddag se afskop in Parys begin die besef ook posvat dat die man wat teen jagluiperds resies hardloop nie die enigste Suid-Afrikaner is wat kan verhoed dat Brian Ashton tot ridder geslaan word nie.
Lui die name Victor Matfield en Bakkies Botha ’n klokkie, mnr. Ashton?
Die Daily Mail noem hulle gister die “beste lynstaankombinasie in rugby” en wonder of die Engelse slot Ben Kay genoeg skietgoed het hom hulle te troef.
Volgens dié koerant het Kay tydens die vorige toernooi geleer om in Afrikaans te tel om hom te help om die Bokke se lynstaankodes in die kwarteindstryd te ontsyfer.
Die mees pynlike brokkie vir ’n Suid-Afrikaner is die feit dat groot Ben nie eers nodig gehad het om tot tien te leer tel nie. Rudolf Straueli se Bokspan se kodes was so eenvoudig, as jy tot vyf kon tel het jy genoeg geweet, sê Kay.
Volgens die koerant het “Codebreaker Kay” egter dié keer ’n probleem. Die Bokspan van 2007 is baie meer uitgeslape en hul kodes is aansienlik meer ingewikkeld.
Maar belangriker nog: Die Bloemfonteinse meisie Sherylle Calder, wat destyds die Engelse se visuele vaardigheids-afrigter was en Kay geleer het om in Afrikaans te tel, werk nou vir die Bokke.
Nie dat Matfield en Botha reuse voordeel behoort te trek uit die feit dat Calder nou in die Bokkamp is nie. Blykbaar kon een van die twee reeds vóór die toernooi in Engels tel…
  • Hierdie rubriek het die eerste keer in Beeld en Die Burger verskyn op 18 Oktober 2007.

17 October 2007

Engelse Losgemaal: Waarna luister Percy die Pou?

Die Engelse rugbyspan se vermoë om die wette van swaartekrag te ignoreer en hulleself aan hul eie skoenveters op te trek sedert daardie verskriklike nederlaag teen die Springbokke vier weke gelede is nou al tot vervelens toe in die Engelse media gedisekteer.
Ek dink die grootste wonder van die afgelope wêreldbeker is nie die feit dat die Australiërs en die Nieu Seelanders so gou huis toe gestuur is nie. Dit kan ’n mens nog verstaan.
Maar waar op dees aarde kry die Engelse span nog tyd om te oefen tussen al die musiekluistery en filmkykery deur?
In die afgelope paar dae het ons nou al gehoor dat hulle na Kenny Rogers se “The Gambler” luister om hulle te motiveer en dat hulle inspirasie put uit ’n film oor ’n klomp ouens van Jamaika wat gaan bob-slee ry by die winter Olimpiese Spele – ten spyte van die feit dat hulle nog nooit eers sneeu gesien het nie.
Het iemand al aan hulle uitgewys dat Cool Runnings, die film waaruit Lawrence Dalaglio en sy spanmaats so baie inspirasie put, op ’n taamlike ongelukkige noot vir die manne van die Karibiese See eindig?
In hul laaste resies kom een van hul slee se lemme los, die slee val om en die span word gedwing om die bob-slee op hul skouers oor die wenstreep te dra…
Die Engelse media is egter op die oomblik veels te besig om hulself te oortuig dat hul span onoorwinlik is om hulself aan dié klein detail te steur.
As die rugby-gode enigsins ’n sin vir geregtigheid het, so lui die argument, dan moet Engeland eenvoudig Saterdag wen om die span se ongelooflike reis van nul tot bul tot sy logiese uiteinde te voer.
Ten einde dié argument te laat vlot is dit nodig om die Bokke se oorwinning van 37-13 oor Argentinië as “onoortuigend” af te maak (soos wat The Daily Telegraph vroeër die week gedoen het).
Nou ja wel. As ’n oorwinning van 24 punte “onoortuigend” is, wonder ’n mens wat ’n mens dan die verskil van vyf punte tussen Engeland en Frankryk moet noem?
Die interessantste en mees weldeurdagte ontleding van die Engelse span se ongelooflike ontwikkeling as span is egter gister deur die Daily Mail gedoen.
Die koerant identifiseer vyf redes waarom die Springbokke Engeland vroeër in die toernooi vermorsel het.
Hieronder tel die feit dat die Rose nie kon hond haaraf maak by die breekpunte nie, dat hul verdediging vrot was en dat Jason Robinson die enigste aanvalswapen tot hul beskikking was.
Die koerant verduidelik dan hoe elkeen van hierdie individuele probleme reggestel is. Hoeveel klem ’n mens ookal lê op die rol wat openhartige spanpraatjies, Kenny Rogers se musiek en Jonny Wilkinson gespeel het in die Engelse herontwaking – die naakte waarheid is dat die Engelse nou baie beter rugby speel as ’n paar weke gelede. Iets wat Jake White self vroeër die week benadruk het.
Moet egter nie sulke intellektuele ontledings op alle Britse sportblaaie verwag nie. The Sun, ’n koerant meer bekend vir sy bladsy drie meisies as sy weldeurdagte beriggewing oor rugbysake, het gister ’n foto van Percy Montgomery op sy voorbeeld onder die opskrif: “Krap hierdie man se hare deurmekaar en die wêreldbeker is ons s’n.”
“Percy die Pou” noem die koerant hom en sê hy is só heilig oor sy haardos, hy HAAT dit as iemand dit deurmekaarkrap.
“Een van sy stokperdjies is juweliersontwerp – wat maar taamlik sissierig klink,” kraai The Sun verder.
Jy soek egter vergeefs vir ’n ontleding van Montgomery se rekord pale toe gedurende die toernooi tot dusver. Vir die oningeligtes: Percy het 32 meer punte aangeteken as wat Wilkinson met sy styfgepompte rugbyballe kon regkry.
Teen hierdie tyd weet ons egter dat Monty hom bitter min steur aan al dié stories. Grappies oor Montgomery en die versameling haardroërs wat hy in sy toksak pak is al so oud dat ’n mens hulle vir Engeland se agterlyn kan kies.
Of wat praat ek alles.
  • Hierdie rubriek het vir die eerste keer in Beeld en Die Burger verskyn op 17 Oktober 2007.

14 October 2007

Is daar nog iemand soos Macavity?

Ek is nie besonder lief vir katte nie, maar daar is een kat vir wie ek nogal ’n sagte plekkie het.
Sy naam is Macavity, en lesers wat TS Elliot ken sal van hom weet:
You would know him if you saw him, for his eyes are sunken in./
His brow is deeply lined with thought, his head is highly domed…
Dit was Lord Andrew Turnbull, tot onlangs die hoof van die Britse staatsdiens en voorheen die mees senior amptenaar in die Britse departement van finansies toe Gordon Brown die minister was, wat eerste die ooreenkomste tussen Macavity en sy voormalige baas raakgesien het.
Soos Macavity is Brown se “coat… dusty from neglect, his whiskers are uncombed… And when you think he’s half asleep, he’s always wide awake.
Die ooreenkomste tussen Macavity en Brown strek egter verder as albei se voorliefde vir “complicated long division sums”.
Want Elliot se Macavity is ook ’n “mystery cat”, die een wat nooit daar is waar daar ’n misdaad vermoed word nie.
Macavity, Macavity, there’s no one like Macavity,
For he’s a fiend in feline shape, a monster of depravity.
You may meet him in a by-street, you may see him in the square –
But when a crime’s discovered, then Macavity’s not there!
Die voorbeelde van Brown se vermoë om, soos Macavity, die wette van swaartekrag te ontduik, is legio.
Waar was Macavity Brown byvoorbeeld vier weke gelede ten tyde van die krisis by die Britse bank Northern Rock? Is dit nie eienaardig dat die man wat die afgelope tien jaar in beheer was van die Britse ekonomie nêrens te sien is ten tyde van die eerste stormloop op ’n Britse bank in meer as ’n eeu nie?
Die groot narratief van Brown se premierskap sedert hy sowat drie maande gelede by Tony Blair as premier oorgeneem het, was dat die Arbeidersparty onder sy leierskap gaan wegbeweeg van politiekery en spin.
Dié trotse ideaal het egter die afgelope paar weke skipbreuk gely met bespiegelinge van ’n blitsige herfsverkiesing wat duidelik daarop gemik was om die Tories onkant te vang.
Toe die meningsopnames ná die Tories se kongres voorverlede week egter toon dat die gaping tussen die Konserwatiewes en die Arbeiders besig was om te krimp en dat Brown die gevaar loop om ’n verkiesing te verloor, het dinge egter interessant begin raak.
Want skielik was Macavity Brown in ’n hoek gekeer.
Hy moes bitter vinnig ’n einde maak aan die spekulasie oor die moontlikheid van ’n verkiesing (wat hy verlede Saterdag tydens ’n onderhoud met die BBC gedoen het) en daarna moes hy probeer verduidelik waarom ’n verkiesing skielik nie meer so ’n goeie idee was nie.
En anders as Elliot se Macavity wat altyd ’n alibi “and one or two to spare” gereed het, was Macavity Brown dié keer regtig in die knyp.
Sy verduideliking dat hy meer tyd nodig het om sy “visie vir Brittanje” te implementeer, het gesink soos ’n klip.
Maandag is hy deur ’n joernalis gevra om “met sy hand op sy hart” te verklaar dat hy steeds nie ’n verkiesing sou hou nie, selfs al het die meningsopnames gewys dat hy dit met 100 setels sou wen. Sy antwoord was ’n ondubbelsinnige ja.
Met soveel tou tot hul beskikking het die politieke laksmanne natuurlik …wel… tou gestaan om hom te hang.
“(Dit maak van Brown) die eerste premier in Britse geskiedenis wat nie ’n verkiesing wil hou nie, omdat hy dink hy gaan dit wen,” het die Tory-leier David Cameron tydens Woensdag se vraetyd in die parlement gekraai.
Tot hoe ’n mate die gebeure van die afgelope paar weke Brown se beeld onder Britse kiesers permanente skade gaan aandoen, sal ’n mens moet sien.
Dit help natuurlik dat die volgende verkiesing nie voor 2009 gaan wees nie en Brown hoop sekerlik dat kiesers teen daardie tyd lankal van sy “ligte mistykie” van die afgelope paar weke vergeet het.
Die teendeel is egter waarskynlik waar en Britse kiesers sal dié gebeure onthou as die tyd toe Macavity Brown een van sy nege katlewens verloor het – nie omdat hy te bang was om ’n verkiesing te hou nie, maar omdat hy gedink het die Britse publiek is dom genoeg om sy redes te glo.
Want jy kan jou kiesers in die duister hou, maar moet hulle nie vir gekke aansien nie.
  • Hierdie rubriek het die eerste keer verskyn in Rapport op 14 Oktober 2007.