30 September 2007

Gordon: die fantastiese man met ’n sement-kuif

Een van die grootste onregte wat Suid-Afrikaanse koerantlesers die afgelope 10 jaar of so aangedoen is, is die verdwyning van die politieke sketsskrywer van die plaaslike joernalistieke toneel.
Die vloekwoord “koste-besparing”, die groot vriend van “middelmatigheid” het sekerlik iets daarmee te doen en in die proses is koerantlesers nie net ontneem van ’n reuse bron van vermaak nie, maar ook ’n vorm van verslaggewing wat ’n ekstra betekenislaag tot politieke beriggewing bygedra het.
Dalk moet Suid-Afrikaanse politici deel van die blaam dra, omdat die meeste van hulle se vertoning in die debatskuns deesdae só power is dat ’n mens eerder daaroor wil huil as lag – wat nog te sê skryf.
In Brittanje is die kuns om politieke sketse te skryf nog springlewendig en elke gerespekteerde koerant het ’n voltydse sketsskrywer in hul diens.
Die Engelse herfs is een van dié mees uitdagende tye vir dié ouens. Dis die politieke weergawe van die Super 14 en die Curriebeker almal in een – die tyd van die jaar wanneer al die politieke partye hulle kongresse hou.
Terwyl die politieke beriggewers rieme en rieme ernstige ontledings oor die partyleiers se toesprake skryf en fyn nuanses aan hul lesers probeer uitwys, het die sketsskrywers ’n veel meer opwindende taak: om selfvoldane partyleiers se balonnetjies te prik en hulle te help om van al die warm lug ontslae te raak.
Na ’n belangrike toespraak wend ek my daarom onmiddelik na die sketsskrywers om seker te maak dat ek nie enige gekodeerde boodskap gemis het nie.
Gordon Brown se toespraak voor die Arbeiderskongres Maandagmiddag was geen uitsondering nie.
“Gordon Brown is ’n Austin Maxi-orator,” skryf Quentin Letts van die Daily Mail, waarskynlik een van Fleet Street se mees talentvolle skrywers.
“Net soos die Austin Maxi, daardie Britse Leyland-model van die 1970s, sal hy die myle opeet. Hy werk volgens spesifikasie. Maar hy is effens onderweldigend. Verpletterend voorspelbaar.”
Sien wat ek bedoel? Waarom sal ek die moeite doen om al daardie vervelige politieke kopie te lees as Letts in twee woorde kan regkry wat Brown nie in 65 minute kon doen nie: “Verpletterend voorspelbaar”.
Byna elke koerant het ook opgemerk dat daar iets met Brown se hare verkeerd was: Dit was gekam.
Soveel haarsproei die osoonlaag is nou so dun soos ryspapier, skryf Letts.
Lyk soos ’n sement-brander, sê Ann Treneman in The Times en voeg by dat hy heeltyd oor homself gepraat het.
“Brittanje is ’n fantastiese plek en Gordon is ’n fantastiese man,” skryf sy en sê Brown het dit reggekry om 12 sinne agtermekaar in te ryg wat elkeen die woord “ek” bevat.
Die land se sketsskrywers verteenwoordig egter ook ’n baie spesifiek Britse lewensuitkyk, veral in die manier waarop gewone Britte politici bejeën.
Die eerste en belangrikste reël wat enige Britse burger onder die knie moet kry is dat niks en niemand bo kritiek verhewe is of té ernstig opgeneem moet word nie. Spot en satire is nie iets vir laataand televisie (soos in Amerika nie) of die braaivleisvuur (soos in Suid-Afrika nie).
In Brittanje is dit deel van die hoofstroom, om gepubliseer te word op dieselfde blad gereserveer vir “ernstige” politieke beriggewing.
Die sketsskrywers se reaksie op “Britsheid” en “nasietrots”, twee van Brown se gunsteling tema’s hierdie week, verraai nog ’n Engelse karaktertrek.
’n Mens kan dié eilandbewoners van baie beskuldig, maar dat die deursnee Brit hom aan dweepsieke patriotisme skuldig maak, is nie een van hulle nie.
Brown is nie die eerste politikus om sy landgenote op te roep tot nasietrots en hulle te herinner aan die “Britse manier van doen nie”, maar tot tyd en wyl Engelse sportspanne hul sokkies begin optrek, verwag ek nie hordes mense in Londen se strate wat hulle nasietrots in die openbaar bely nie.
Of soos Andrew Gimson dit in die Daily Telegraph stel: “Die Britse manier van doen beteken ook dat daar ’n plek is vir die boemelaar, die luiaard en die grapjas en ons heg ook ’n waarde aan vryheid en spontanïteit…”
Al hierdie praatjies van nasietrots en verantwoordelikhede klink vir hom té veel na harde werk, skryf Simon Carr in die Independent.
“Wat van ons wat net langs die rivier wil sit, wat die kleure van die stroom wil betrag en niks met niemand te doen wil hê nie?”
Veral nie met al die fantastiese mense nie …
  • Hierdie rubriek is die eerste keer verskyn in Rapport op 30 September 2007.

16 September 2007

Stede is vir Standbeelde


Ek staan gereeld verwonderd oor die mense wat die Britte kies om met standbeelde te vereer.
’n Toer van Londen se standbeelde is ’n blitskursus in Britse geskiedenis.
Toegegee, dis ’n taamlike lukrake en deurmekaar kursus, maar dis ’n opvoeding nietemin. En dikwels is dit ’n prikkel vir verdere lees wat jou op veel meer interessante paaie lei.
Een van my gunsteling Londense standbeelde is dié van Boudicca en haar twee dogters op hulle strydwa langs die Teems, reg oorkant die straat van Big Ben.
Ma en dogters word effens ontsier deur die stalletjie van ’n straatverkoper wat Londen-snuisterye aan toeriste verkoop en dis ’n erge gesukkel om die inskripsie op die voetstuk te lees tussen lawwe Union Jack-hoedens en die versameling onsmaaklike “ek-was‑stormdronk-in-Londen” T-hemde. (Wie het gesê Europa is die bakermat van hogere kultuur?)
Boudicca was die koningin van die Iceni, ’n Keltiese stam in die suid-ooste van Engeland in Romeinse tye.
Die geskiedenis leer dat die Romeine Boudicca en haar dogters taamlik onridderlik behandel het ná haar man se dood en dat dit haar só ontstel het dat sy en haar onderdane hulle op die Romeine gewreek het deur die stad Londinium in 61 n.C. tot op die grond af te brand.
Dit is vir my ’n bron van eindelose fassinasie dat moderne Londenaars besluit om dié omgekrapte vroumens met ’n standbeeld te vereer – iemand wat hulle stad só deeglik verwoes het dat historici dié gebeurtenis 2000 jaar later nog kan identifiseer deur die dun strepie as en roet wat dit in die argeologiese rekord gelaat het.
Miskien het dit te doen met die Britte se beheptheid met oorlog, want met die uitsondering van politieke leiers en konings is daar niks wat Britse beeldhouers gouer na hul beitels laat gryp as konflik nie.
Om deur Londen te stap is om te waad deur die bloed van ontelbare konflikte.
Waterloo, Mons, die Punjab, Afghanistan (en die monument vir die huidige konflik moet nog kom!), Sebastopol, El Alamein, Burma, Trafalgar – ’n mens kan nie begin om jou in te dink aan die hoeveelheid trane wat oor die eeue heen deur Britse moeders gestort is na aanleiding van gebeure in dié veraf uithoeke van die aarde nie.
Teen die tyd dat jy by die eenvoudige en strak senotaaf in die middel van Whitehall aankom, kan jy nie help om wrang en sinies te glimlag oor die woorde “the glorious dead” wat op dié steen gebeitel is nie.
(Vir ware patos verkies ek die graf van die onbekende soldaat in Westminster Abdy. Ek kan nie help om ’n knop in my keel te kry as ek daar staan nie. Sy liggaam onherkenbaar vermink tydens die Eerste Wêreldoorlog, tog lê sy beendere begrawe saam met die “most illustrious in the land” – mense soos Isaac Newton, Charles Dickens, David Livingstone en Elizabeth I.)
Maar my benadering tot die stad se standbeelde is natuurlik heeltemal té rasioneel.
Die meerderheid Londenaars het geen idee dat die kanon wat gestorwe artilleriste op Hyde Park Corner gedenk in die rigting van Vlaandere wys nie.
En weet enigeen wie genl-maj. Henry Havelock was en waarom hy ’n ereplek langs Horatio Nelson op Trafalgarplein beklee?
Maak dit saak as Londense verpleegsters nie weet waar die standbeeld van Florence Nightingale staan nie? Gee die toeriste om dat hulle geen idee het wie die man is voor wie se lelike bakkies hulle vir foto’s poseer nie?
Glad nie.
Dis natuurlik nie orals in die wêreld die geval nie. In dele van oos-Europa en ook in ons eie land glo baie mense dat ’n standbeeld slegs een van twee dinge kan wees: óf objekte van vurige patriotisme en die vergaderplek van jingoïstiese hordes, óf die simbool van ’n onderdrukkende regime wat ten alle koste omgetrek en vernietig moet word.
Hulle wat só dink, verstaan nie standbeelde nie.
Standbeelde herdenk nie net die groot momente en gebeure van ons kollektiewe verlede nie. Hulle herinner ook aan gevalle helde, aan hulle wat eens groot was, maar op wie die geskiedenis die rug gedraai het en wie se naam niemand vandag meer kan onthou nie.
Hulle versier én ontsier die stedelike landskap (en albei is nodig!) Hulle is rigtingwysers – figuurlik gesproke, maar ook letterlik. (“Draai regs by die beeld van die nors ou man.”)
En hulle hoef nie altyd grandioos te wees om te oorweldig en te ontroer nie.
So waarom, wonder ek, het Suid-Afrikaanse stede nie meer van hulle nie?


  • Die rubriek is die eerste keer in Rapport gepubliseer op 16 September 2007.

02 September 2007

Hoe meer haas hoe minder spoed

Die Spanjaarde het sedert Don Quichotte se tyd al ’n ding vir ’n verlore stryd.
Om windmeulens te bestorm is eenmaal maar ’n gunsteling Spaanse tydverdryf, maar miskien het die inwoners van die Iberiese skiereiland hierdie keer ’n punt beet en behoort die res van ons hulle by te staan in hulle stryd.
Die stadsowerhede van Madrid is op die oomblik in ’n stryd gewikkel met die ontwikkelaars van ’n nuwe lughawe met die deftige naam Madrid Sur-Ciudad.
Voel jy lus vir ’n vakansie in Spanje? Wel vlieg na Madrid Sur-Ciudad en die Spaanse hoofstad is jou oester.
Behalwe dat Madrid Sur-Ciudad – anders as wat die lughawe se naam suggereer – glad nie naby Madrid is nie. Selfs vanwaar jy in jou vliegtuigsitplek ’n paar duisend meter bo die grond sit gaan jy sukkel om die stad se liggies op die horison te sien, want die lughawe is ’n allemintige 200km van Madrid af.
Op ’n dag as die verkeer nie te besig is nie, sal dit jou twee-en-’n-half uur neem om in die middestad te kom en die taxi-fooi sal waarskynlik gelykstaande wees aan ’n vliegkaartjie van Londen na Australië.
Die ontwikkelaars van die lughawe argumenteer dat daar ’n hoëspoed treinverbinding tussen die lughawe en Madrid is wat jou binne 50 minute tot in die middestad kan neem. Maar die stadsvaders skop vas. As jou lughawe nie binne sigafstand van Madrid is nie, kan jy nie die naam Madrid in jou naam gebruik nie. Dit doen “afbreek aan ons handelsmerk”, sê hulle.
Die skewe aardrykskunde van die ouens wat lughawens benoem is natuurlik glad nie nuut nie.
Hoeveel mense het nie al op die Chicago Rockford lughawe geland, net om met ’n skok agter te kom dat hulle meer as 140 km van die winderige stad af is nie?
Frankfurt Hahn is 120km van Frankfurt en Barcelona Girona is 100km van die stad wie se naam dit dra.
Gereelde reisigers na Londen weet ook al dat Luton en Gatwick beswaarlik die voorvoegsel “Londen” verdien, veral as jy nog op dieselfde dag die verwisseling van die wag by Buckingham Paleis wil sien.
Om te weet hoe ver die lughawe van die plek is waar jy eintlik wil wees is egter net die helfte van ’n moderne reisiger se probleem.
Die feit dat baie van die sogenaamde “afslag” lugrederye van hierdie verafgeleë lughawens vlieg, beteken dat hulle goedkoop vliegkaartjies uiteindelik glad nie so goedkoop is nie.
Neem ’n vlug van Londen na Dublin byvoorbeeld. Dit is op die oomblik moontlik om van Londen na Dublin te vlieg vir so min as £8 (R115). Wat die advertensie egter nalaat om te sê is dat dit jou tussen R130 en R217 gaan kos om van sentraal Londen na die Gatwick te kom!
Die Ierse afslagredery Ryanair was die laaste paar jaar gereeld in die moeilikheid oor sulke misleidende advertensies.
In 2003 was dit die Duitse owerhede wat hulle vasgevat het oor die feit dat hulle vlugte na Düsseldorf adverteer terwyl die lughawe wat hulle gebruik 70km van dié stad af is.
Vroeër die maand is hulle deur Britse advertensie-owerhede oor die vingers getik vir ’n advertensie wat sê dit is goedkoper én vinniger om van Londen na Brussels te vlieg as om met die trein te ry.
Ryanair sê ’n vlug tussen Londen en Brussels neem 70 min en kos R217 terwyl ’n treinrit onderdeur die Engelse kanaal meer as twee uur neem en ten minste R390 kos.
Behalwe dat die trein jou van digby Big Ben tot in die middel van Brussels neem en beide Stanstedt en Charleroi meer as 40 km buite die onderskeie stede is.
Neem jy dié reistyd (en treinkaartjies) ook in gedagte neem dit baie langer (en kos dit duurder) om te vlieg.
Om van die ure en ure wat jy op die lughawe in rye moet wag terwyl elke tassie en sakkie in jou besit deur sekuriteitsbeamptes deurgevroetel word, nie eers te praat nie.
En waarom dit nodig is om ’n uur voor jou vlug op te daag en dan vir twee uur te sit en wag voordat jou vliegtuig uiteindelik opstyg, gaan die verstand te bowe.
Dit is dus raar maar waar, maar dit is inderdaad vinniger om met die trein te ry as om te vlieg.
  • Hierdie rubriek is die eerste keer in Rapport gepubliseer op 2 September 2007.