19 August 2007

He spins them right round

Onthou enigiemand nog ’n band met die lawwe naam Dead or Alive wat hier in die middel tagtigs taamlik gewild was.
Dié ouens se grootste (of was dit enigste?) treffer was ’n verstandsverlammende liedjie met die naam You Spin Me Right Round (Like A Record).
Dis waarskynlik hoe die meeste Britse kiesers voel oor hul voormalige eerste minister Tony Blair – die man met die Bambi-glimlag, wat hulle vir tien jaar soos ’n plaat om en om gespin het totdat hulle nie meer geweet het waar die waarheid ophou en die leuen begin nie.
Die enigste probleem is dat Blair se opvolger, Gordon Brown, eenvoudig nie die gravitas en charisma het om die sukkelende Arbeiders uit die donker tonnel te kry waarin Blair hulle gelei het nie. Of so het baie Britse politieke kommentators nog ’n paar maande gelede gemeen.
Brown se premierskap is nog nie eers 100 dae oud nie, maar in Arbeidersgeledere word daar reeds gepraat van ’n reuse oplewing en sommige meen selfs dat Brown so gou as moontlik ’n verkiesing moet uitroep om sy steun te konsolideer.
Brown se eerste paar weke aan bewind was ’n ware vuurdoop. Dit het begin met die harde woorde wat daar tussen Brittanje en Rusland geval het oor die uitlewering van Andrei Lugovoi, die Rus wat deur die Britse polisie daarvan verdink word dat hy verlede jaar die Russiese afvallige Alexander Litvenenko in Londen met radioaktiewe polonium vergiftig het.
Dié diplomatieke krisis is gevolg deur vloede in die weste van Engeland en bek-en-klouseer in die suidooste.
Brown het nie vir een oomblik toegelaat dat dié krisisse hom onderkry nie en terselfdertyd homself vinnig van die Blair-era gedistansieer – onder meer deur die planne van sommige van Blair se liefling-projekte in die asblik te smyt.
Die een wat die meeste aandag getrek het was Blair se planne vir supercasino’s – soortgelyke aan die reuse komplekse waaraan Suid-Afrikaners die laaste dekade gewoond geraak het.
Blair het ’n lisensie vir so ’n gedrog toegeken aan niemand anders as ons eie sonkoning, die nimlike Sol Kerzner nie. Brown het ’n stokkie hiervoor gesteek en Kerzner is sy casino kwyt.
Brown se regering, so sê sy ondersteuners, is een wat die era van Blair-spin vaarwel toegeroep het. Uiteindelik het die Britte ’n eerste minister wat hul kan vertrou, wat doen wat hy sê en homself nie aan tierlantyntjies steur nie.
Dis natuurlik alles nonsens.
Neem Brown se onlangse besluit om sy somervakansie in Dorset kort te knip om “beheer” te neem van die bek-en-klouseer epidemie. ’n Dag nadat die eerste geval van bek-en-klouseer aangemeld is vlieg hy Londen toe om te wys dat hy “in beheer is”.
Moet ons regtig glo dat, in die eeu van selfone en epos, dit nodig is vir ’n eerste minister om op kantoor te wees om “persoonlik beheer” te neem?
Wat op aarde kan Brown in Londen doen wat een van sy ministers nie kan doen nie?
En waarom het Brown in die eerste plek aan die Engelse suidkus gaan vakansie hou? Dit nadat hy vir jare reeds sy somervakansies in Cape Cod aan die ooskus van Amerika deurbring?
Kan dit dalk wees dat Brown besluit het om sy vakansie in Amerika op te offer uit vrees dat die Britse kiesers sal dink hy is té lief vir die Amerikaners?
En waarom doodgewone goeie ou Dorset? Miskien om hom te distansieer van sy voorganger wie gewoonlik gevlieg het na eksotiese eilandbestemmings in die Bahamas?
Brown het dus nie weggedoen met spin nie. Hy spin net anders.
Moet ons bekommerd wees oor hierdie tendens tot politieke oëverblindery?
Allermins.
Spin is net soveel deel van die politieke proses soos toesprake en rugstekery – deel van die “teater van politiek”, om ’n frase te leen by die politieke kommentator Daniel Finkelstein.
Voor Brown premier geword het is daar gevrees dat hy goed sal wees met die meganika van leierskap – die witskrifte, die wetgewende programme, die legotla’s en die bosberade. ’n Bietjie van ’n Thabo Mbeki met ander woorde.
Maar politiek bestaan nie net uit vergaderings en witskrifte nie. Die toertjies en die oëverblindery is ’n integrale en nodige deel daarvan.
Dis iets wat die meeste groot leiers instinktief verstaan. Franklin D. Roosevelt, Winston Churchill, Ronald Reagan en Nelson Mandela het almal hul gewildheid te danke aan die feit dat hulle die waarde van politieke teater verstaan het en tot hulle voordeel aangewend het.
En Gordon Brown weet dit ook. Om die kiesers by die stembus te kry is daar net een manier: Spin them right round (like a record baby).
  • Hierdie rubriek is vir die eerste keer gepubliseer in Rapport op 19 Augustus 2007.

05 August 2007

Red ons van ’n staat wat net wil torring

Daar gaan skaars ’n week verby dat ’n Britse koerant of kommentator nie kla oor die “nanny state” nie – die regering se hunkering om elke liewe aspek van die individu se lewe te reguleer deur ’n magdom wette en reëls.
Gewoonlik kla hulle met goeie rede, want dié land het reëls en regulasies vir absoluut alles en daar is geen uithoek van die eiland waar jy kan ontsnap van stipulasies wat jou óf verbied om te doen wat jy graag wou doen óf opdrag gee om te doen waarvoor jy nie lus is nie.
Onlangs was daar byvoorbeeld voorstelle dat alle créches en bewaarskole op gereelde basis moet verslag doen oor die vordering van die baba’s en kleuters in hul sorg. Alle kinders onder vyf moet beoordeel word na gelang van die geluidjies wat hulle maak en die tipe speletjies wat hulle speel ­– regulasies net ontwerp om staatsamptenare iets te gee om te monitor.
In antwoord op ’n epidemie van oorgewig kinders speel die Britse regering met die idee van ouerskapklasse waar ouers geleer gaan word om vir hulle kinders gesond te kook.
Die patroon is altyd dieselfde: ’n Sosiale probleem is skaars geïdentifiseer of die staat staan reg met ’n handvol reëls en regulasies “wat die probleem sal aanspreek”.
Nooit is daar enige sprake dat landsburgers ook persoonlike verantwoordelikheid vir hul eie probleme moet aanvaar nie.
Die gevolg hiervan is ’n samelewing wat al hoe minder daartoe in staat is om vir hulself te dink en na hulself om te sien. Waarom sal ek as die staat alles vir my doen?
Die onlangse vloede in die weste van Engeland het hierdie punt pragtig geïllustreer.
Terwyl ek ’n week of so gelede na die televisiebeelde van die oorstromings sit en kyk val dit my op hoe onnosel die Engelse bestuur.
Telkemale is daar beeldmateriaal van een of ander sot agter die stuur van ’n belaglike klein motortjie wat deur ’n dam water dieper as heuphoogte probeer jaag terwyl ’n tsunami besig is om sy enjinkap te oorweldig.
Die voor die handliggende verklaring is natuurlik dat die arme swaap nie besef dat motorenjins nie gemaak is om onder water te loop nie – veral nie as die watervlak rondom die luginlaat begin klots nie.
Maar daar is ’n belangriker rede: Niemand het hom gewaarsku om dit nie te doen nie. Want sien, omdat jy gewoond is dat die staat altyd alle gevare duidelik delinieer is dit net redelik van jou om te verwag dat die plaaslike polisiehoof een van sy konstabels opdrag sou gee om jou te kom waarsku as dit té gevaarlik sal wees om deur die diep water te ry.
Of soos een man teenoor ’n televisieverslaggewer gekla het: “Dis chaos. Hulle moes ons gewaarsku het.”
Reddingswerkers wat hulp verleen het tydens die vloede vertel verhale van hoeveel beter die ouer geslag die ramp gehanteer het.
Een vertel tydens ’n radio-onderhoud van ’n bejaarde tannie wat hom verseker het dat alles in orde is terwyl sy net ’n halwe kastrol skoon water in die huis het – dit terwyl ’n jong vrou histeries tekere gaan omdat sy nie ’n dag lank kan oorleef op die bottels en bottels gesuiwerde water wat die regering uitgedeel het nie.
Nog ’n voorbeeld, hierdie keer ’n bietjie nader aan die huis: ’n Week gelede val my twee-jarige seun sy oogbank oop – ’n bloederige affêre, soos die meeste ouers sekerlik weet.
Met die wond gewas en ontsmet is dit egter gou duidelik dat dit ’n klein snytjie is wat niks meer as ’n bietjie Dettol-water en ’n pleister nodig het nie en teen die tyd dat die trane opgedroog het is die bloed gestop en die voorval vergete.
’n Dag later neem my vrou hom dokter toe (vir ’n onverwante kwaal) en terwyl sy daar is vra sy die dokter om sommer te kyk of alles wel is met die “kopwond”.
Sy vertel later dat die dokter heeltemal verstom was oor die tuisbehandeling.
Sy is onmiddelik toegegooi onder die vrae: “Wie het die wond versorg?”, “Is hy opgelei om dit te doen?” Een van sy kollegas moes terstond kom kyk na dié wonderwerk.
Die rede vir sy verstommenis word gou duidelik: Dokters in Engeland is nie meer gewoond daaraan dat ouers hul kinders se wonde self verpleeg nie.
Wonde soos dié (ja, selfs al is die snytjie beswaarlik vyf millimeter lank) eindig gewoonlik in ’n hospitaal-eenheid spesiaal vir “kleiner noodgevalle”.
Wat my laat dink: Om te kla dat die “nanny state” alewig aan jou torring is een ding.
Maar dan moet jy darem nie só hopeloos wees dat dit die staat geen ander keuse laat as om jou teen jouself te beskerm nie.
  • Hierdie rubriek is die eerste keer gepubliseer in Rapport op 5 Augustus 2007.