30 July 2007

Die Teems is meer as net 'n rivier


Daar is party uitdagings waarvoor ’n mens moeilik nee sê.

’n Uitnodiging om die grootste gedeelte van die Teemsrivier se 330 km-lange kronkelpad na die see in ’n kano aan te pak is een van hulle.

Om die Teems te verken is ook ’n geleentheid om Engeland beter te verstaan en om die verband tussen Londen en sy hinterland te ondersoek deur dít te verken wat stad en platteland in gemeen het – die rivier.

Ons groep (almal lede van die Richmond Kanoklub in die weste van Londen) se avontuur het begin in Lechlade, ’n klein dorpie 70 km noordoos van Bristol:

Dag 1: Lechlade

Die oorsprong van die Teems hou reeds vir eeue ’n bekoring in.

In 1592 bring Koningin Elizabeth I besoek aan Cirencester, net noord van Lechlade, en volgens oorlewering dring sy daarop aan om stroom-op gedra te word om self “the very first trickle of my fine Thames” te kan gadeslaan.

Hierdie “very first trickle” lê ten minste 20 km stroom-op van Lechlade, maar omdat dit nie heelpad gerieflik begaanbaar vir kano’s is nie, besluit ons op dié dorpie as ’n gerieflike beginpunt.

Ons sit ons bote in die water onder ’n mooi ou boogbrug wat onder plaaslike inwoners as die Ha’penny Bridge bekendstaan. Hier, by Lechlade, is daar al sedert die 13de eeu ’n brug oor die rivier. Moeilik om klein te kry vir iemand wat van ’n land kom waar iets wat in die 1800’s gebou is, as “oud” beskryf word...

Naby Swinford

Die naam van die Teems is blykbaar afgelei van die Sanskrit Tamas wat “donkerte” beteken – ’n naam wat aan die rivier gegee is omdat dit so anders lyk as die helder, kabbelende kalkstroompies waarvoor die suide van Engeland so bekend is.

Hier is die Teems egter alles behalwe donker en onheilspellend. Die water is glashelder en so af en toe is daar ’n gaping tussen die bome en riete en kan ’n mens die Cotswold-heuwels in die verte sien.

Dag 2: Oxford

’n Uur of wat se roei van ons kampplek by Eynsham-sluis word die rivier skielik breër en oper en sien ons die beroemde torings van Oxford vir die eerste keer in die verte.

Hier rond staan die Teems bekend as die Isis, maar die Teems historikus, Peter Chaplin, skryf dié gebruik is niks meer as ’n “intellektuele affektasie” nie, omdat die hele rivier al sedert die eerste millenium af as die Teems bekend staan.

Hiermee is my Engelse roeimaats dit roerend eens, behalwe dat hulle eie beskrywing van die Oxford akademici se affektasies veel minder aan die verbeelding oorlaat...

Iffley Sluis

Sowat 4km stroom-af van Oxford is die Iffley-sluis. In 1635 is een van die eerste “moderne” Hollandse dubbele sluise in die Teems hier by Iffley gebou, ’n ontwikkeling wat rivierbote in staat gestel het om baie makliker en vinniger tussen hoër- en laerliggende dele van die rivier te navigeer.

Sedertdien is die hele lengte van die Teems só makgemaak en op ons tog navigeer ons sowat 50 sluise tussen Londen en Lechlade.

Dag 3: Rondom Reading

Dit is opmerklik hoe die rivierverkeer toeneem hoe nader ons aan Londen kom.

Die uitbreiding van die spoorweë in die 19de eeu het gaandeweg die vervoer van goedere per boot onnodig gemaak en teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog was daar haas geen barg of trekskuit op die land se waterweë oor nie.

Die gewildheid van bootvakansies op hierdie trekskuite of “narrow boats” het egter alles verander en British Waterways reken dat daar vandag meer verkeer op Engelse riviere en kanale is as tydens die hoogtepunt van die industriële revolusie.

Dag 4: Henley

In die omgewing van Henley open die hemelse sluise – asof ons nie reeds nat genoeg is ná drie dae op die water nie. Oor ’n dag of twee begin die beroemde Royal Regatta by Henley en die twee kilometer-lange roeibane is reeds netjies uitgemerk.

Roei was vir baie lank ’n aktiwiteit vir die werkersklas en het eers in die 19de eeu onder die Engelse aristokrasie gewild geword as sport.

Om “resies te roei” was natuurlik nie goed genoeg vir die verfynde Victoriane nie – vandaar die gebruik van die Venesiese “regatta”, ’n woord wat vandag sinoniem is met die Teems.

Dag 5: Runnymede

Onthou nou: ’n Resies op die Teems is ’n regatta en ’n eiland ’n “eyot”.

En van al die honderde eilande in die Teems is geen só spesiaal soos Runnymede nie.

Dis hier waar die Engelse Koning John in Junie 1215 die Magna Carta onderteken het – die dokument wat elke Engelsman se gelykheid voor die reg waarborg.

Die Magna Carta bepaal egter nie net die verhouding tussen monarg en onderdane nie. ’n Hele paar van die 63 klousules spreek ook water- en rivierregte aan – soos klousule 33 wat bepaal dat riviere skoon gehou moet word van visvywers om navigasie te vergemaklik!

Dag 6: Teddington Sluis

Teddington is waar die varswater-Teems die gety-rivier ontmoet. Ons is dus uiteindelik in Londen – ’n stad só sinoniem met die Teems dat ’n mens jou skaars dié rivier onafhanklik van Londen kan voorstel.

Na ses dae se roei besef ’n mens egter hoeveel méér van dié rivier daar werklik is…

23 July 2007

Stem vir Boris en kry ’n vrou met groter borste


As politici ’n nut het – en kom ons neem vir die doel van hierdie rubriek aan dat hulle wel ’n doel op aarde het – kan hulle ten minste die goeie grasie hê om ook vermaaklik te wees.

Dit is die gedagte wat by my opkom toe dit hierdie week rugbaar word dat een van die mees eksentrieke figure in Britse politiek hom verkiesbaar gaan stel vir die pos as burgemeester van Londen.

’n Mens kan Boris Johnson van vele dinge beskuldig, maar vaal is beslis nie een van hulle nie.

Johnson, vir diegene wat hom nie so goed ken nie, is die voormalige redakteur van die konserwatiewe meningstydskrif, The Spectator, en sedert Junie 2001 die Tory-parlementslid vir die kiesafdeling Henley.

Daar word gesê dat hy een van slegs ’n handjievol Britse politici is wat onder kiesers onder slegs sy voornaam bekend is – ’n feit wat hierdie week geïllustreer is deur ’n hoofopskrif in Londen se Evening Standard wat bloot gelees het: “Boris: I will run for Mayor”.

Sy bekendheid is te danke aan hoofsaaklik twee dinge: ’n Onmiskenbare bos spierwit hare wat altyd lyk asof dit twee dae gelede laas ’n kam gesien het en sy ongeëwenaarde vermoë om homself uit die grootste penaries te wurm.

Voeg daarby ’n geskakeerde woordeskat (en daarmee bedoel ek nie dié van ’n seeman nie) en een van die skerpste penne in Britse joernalistiek (hy skryf steeds ’n gereelde rubriek vir die Daily Telegraph) en ’n mens begin verstaan waarom hy so gewild is.

Sy meer kleurryke uitsprake en sêgoed is legendaries.

Om vir Tony Blair vas te pen “is om soos jellie teen ’n muur te probeer spyker” skryf hy ’n paar jaar gelede en gedurende die 2005 verkiesingsveldtog verklaar hy: “Voting Tory will cause your wife to have bigger breasts and increase your chances of owning a BMW M3.”

Bewerings van ’n buite-egtelike verhouding beantwoord hy met die onvergeetlike frase: “It is an inverted pyramid of piffle.”

(Nodeloos om te sê was dié bewerings alles behalwe ’n “omgekeerde piramide van twak”. Die verhouding met een van sy kollegas het gelei tot twee aborsies, maar selfs dit het geen duik in Johnson se gewildheid gemaak nie.)

Dit word dikwels van Johnson gesê dat sy maltrap beeld sy manier is om sy politieke vyande te bluf en hulle die wol oor die oë te trek.

’n Mens hoef net na sy joernalistieke werk en sy boeke oor klassieke geskiedenis te kyk (hy het ’n graad in klassieke kultuur van die Universiteit van Oxford) om te besef dat daar onder die blonde bossiekop ’n eersteklas brein skuil.

Daar is selfs mense wat glo dat Johnson ’n toekomstige eerste minister kan wees, ’n vuurtjie wat Johnson geblus het met die uitspraak: “My kanse om premier te word is so goed soos om Elvis op Mars te kry. Of dat ek as ’n olyf reïnkarneer word.”

Wat in Boristaal net een ding beteken: Dis dalk nie so ’n slegte idee nie.

Johnson het sy besluit om vir burgemeester te staan Maandag aangekondig – op die trappe van die stadsraadskantore, ’n gebou waarna Londenaars verwys as die “glas testikel” vanweë sy ongewone vorm.

Hy het oudergewoonte op sy trapfiets opgedaag.

Terwyl “ernstige” politici sulke dinge doen om ’n punt te probeer maak oor die stand van openbare vervoer of die omgewing, was Johnson op sy fiets omdat… wel omdat dit die manier is waarop hy gewoonlik oor die weg kom.

Johnson is bloot die jongste voorbeeld in ’n lang lys van eksentrieke Britse politici.

’n Mens sou kon argumenteer dat die Britse politieke stelsel (of is dit alle politieke stelsels?) staatmaak op die eksentriekes, die wêreldvreemdes en die rebelle – die vreemde voëltjies wat altyd gereed is om teen die heersende mening te handel.

Die supreme voorbeeld is natuurlik Winston Churchill wat, bygestaan deur slegs ’n handjievol rebelle, in 1940 ontslae kon raak van Neville Chamberlain en sodoende hul land van ondergang red.

Klink daarom vanaand ’n glasie op almal wat marsjeer op die maat van hul eie trom.

Die probleem van ons tyd is nie dat ons ’n tekort aan politici het nie. Daar is bloot te veel wat hulself te ernstig opneem en te min wat rebelleer, uitdaag en vermaak.

08 July 2007

’n Staatsdiens vir die mense – wat ’n Bybelse gedagte!

Kort voordat ek na Londen gekom het, loop ek my liederlik vas by die departement van binnelandse sake.
Dis ’n verhaal oorbekend aan baie mense wat die afgelope paar jaar ’n paspoort nodig gehad het.
Tyd is min en jy daag by binnelandse sake op om jou paspoort, waarvoor jy maande gelede reeds aansoek gedoen het, te kollekteer.
’n Amptenaar krap lui-lui in ’n laai rond en bring jou oorspronklike aansoekvorm met die fototjie steeds vasgespeld te voorskyn met die woorde: “There’s a problem...”
Eish. Daar is inderdaad ’n moerse probleem.
In my geval het die hele sage ’n gelukkige einde. ’n Kollega gee my die naam van ’n vrou in binnelandse sake se Pretoria-kantoor wat met ’n simpatieke oor na my probleem luister en binne ’n paar dae daag my paspoort op.
Uit vrees dat ek haar in die verleentheid sal stel (watter vreemde wêreld as jy bang is dat jy iemand in verleentheid gaan stel deur haar te prys?) sal ek bloot na haar as mevrou B verwys.
Ek dink die afgelope tyd nogal baie aan mevrou B.
Britse politieke geskiedenis, veral gedurende die afgelope 300 jaar, is een van ’n voortdurende stryd om die staatsdiens meer effektief en minder korrup te maak en te omvorm in ’n produk wat presies doen wat dit op die pakkie beloof: ’n diens aan die mense.
Geen wonder daarom dat ’n loopbaan in die Britse staatsdiens vir baie dekades reeds gesien word as ’n eerbare beroep wat van die land se beste en mees energieke jongmense lok nie.
Die doodsberigte in Engelse koerante van ontslape staatsdiensamptenare onderstreep dié feit pragtig.
Neem byvoorbeeld die geval van Frank Langfield, wat verlede maand op 92-jarige leeftyd oorlede is.
Langfield het vir amper ’n halfeeu vir die Royal Mail gewerk (in die jare toe dit nog ’n staatsinstelling was) en gevorder van bode tot hoof van die televisielisensie-afdeling.
The Times onthou hom veral as die man wat in die 1950s verantwoordelikheid aanvaar het vir die produksie van posseëls en gou besef het dat daar ’n diens nodig was om die navrae van seëlversamelaars te hanteer.
Dan volg die mooi sinnetjie: “Terwyl hy in dié pos was het hy die Philatelic Bulletin, die Royal Mail se tydskrif vir seëlversamelaars, begin en was selfs vir ’n kort tydjie die redakteur daarvan – ten spyte van die feit dat hy nie self in seëls geïnteresseerd was nie.”
Dis amper ’n Bybelse gedagte, is dit nie? Om ’n diens te lewer – nie omdat jy daarin belangstel of omdat jy baie geld kan maak nie – maar bloot omdat dit is wat die publiek van jou verlang.
Nog ’n wonderlike eienskap van die Britse staatsdiens word geïllustreer in die lewe van Wilfred Hyde, wat in Januarie vanjaar oorlede is.
In ’n loopbaan van amper 40 jaar het hy in verskeie departemente gedien, maar “het nooit gekonformeer tot enige stereotipe van die staatsdiens mandaryn nie en altyd sy eie identiteit en onafhanklikheid behou”, aldus sy doodsberig in The Times in Maart vanjaar.
Om as senior amptenaar jou eie identiteit en onafhanklikheid (om van jou werk nie eers te praat nie!) onder verskeie regerings (van Winston Churchill tot John Major) te behou, is nie net ’n veer in die hoed van Hyde self nie, maar ook sprekend van die Britse staatsdiens.
Dis ’n omgewing waar ’n amptenaar in Whitehall meer is as ’n blote verlenging van hul politieke meesters.
Hoe verfrissend anders as ons eie stelsel waar die staatsdiens só verpolitiseer word dat daar uiteindelik bitter min onderskeid tussen ’n minister en sy amptenare is.
Dis ’n sondige gewoonte wat amper 60 jaar gelede onder die Nasionale Party posgevat het en ongelukkig in baie gevalle deur ons huidige regeerders tot absurde vlakke gevoer is. (Of wat praat ek alles mnre. Selebi en Nqakula?)
Die gevolg is dat daar van hierdie filosofie van ’n onafhanklike amptenary wat daarop ingestel is om ’n diens te lewer, ’n konsep wat ons van ons Bitse koloniale heersers ná afloop van die Boere-oorlog geërf het, bitter min oorgebly het.
Dank die hemel dus vir mense soos mevrou B wat haar werk as civil servant (die Engels beskryf dit soveel beter) nog ernstig opneem.
Ons wens net daar was meer soos jy.
  • Hierdie rubriek is die eerste gepubliseer in Rapport op 8 Julie 2007.