24 June 2007

Stel strikke vir die klein bliksems en vang hulle


Die Engelse pers laat my dikwels dink aan ’n naderende Hoëveldse donderstorm.

Dit kan jou met beide vrees en verwondering vervul – afhangende van hoe sekuur jou skuiling is as die blitse begin slaan.

’n Mens kan dikwels nie help om jammer te wees vir iemand in die openbare oog as Fleet Street se hiënas buite hul voordeur begin draai en deur hul asblikke begin snuffel nie.

(En ek bedoel dit letterlik: Vra maar vir die Tory-leier David Cameron. Om te toets hoe omgewingsvriendelik hy is, het verslaggewers onlangs sy asblikke omgekeer om te kyk hoeveel herwinbare rommel hy en sy gesin in die verkeerde sak gooi.)

Nou het Tony Blair, die uittredende eerste minister, die hiënas die stryd aangesê en hulle gekritiseer vir die manier waarop hulle te werk gaan.

Hy sê die Britse media jag in troppe en verwoes reputasies.

Hy kritiseer ook die manier waarop skandaal en kontroversie voorrang geniet bo feitelike verslaggewing en aanvalle op mense se motiewe belangriker is as aanvalle op hul oordeelsvermoë.

Kommentaar is deesdae net so belangrik soos nuus.

Blair sê daar was ’n tyd toe hy geglo het dat die internet dinge sou beter maak, omdat dié medium ’n alternatief sou wees “vir die toenemende skril toon van die tradisionele media”.

Nou besef hy hy was verkeerd, want hierdie nuwe medium kan selfs “meer destruktief, minder gebalanseerd en meer ingestel op die nuutste samesweringsteorie wees”.

Dit beteken dat mense in die openbare lewe vandag meer tyd bestee om die media te hanteer as om hulle werk te doen.

Blair se versugting is dié van politici en openbare figure oraloor.

Die fenomonale groei van poniekoerante in Suid-Afrika beteken dat ons eie media al hoe meer soos Brittanje s’n begin lyk.

Die toon van Suid-Afrikaanse joernalistiek gaan daarom, om Blair se woorde te gebruik, “toenemend skril” word en die asblikkrappers gaan al hoe meer aandag begin gee aan politici, amptenare en bekendes.

Is dit ’n slegte teken? Is dit nodig om Blair se waarskuwings ter harte te neem en ons media by voorbaat in ’n meer “verantwoordelike” rigting te stuur?

Die meeste politici (en selfs “ernstige” koerantlesers) sal instemmend kopknip.

Ek, daarenteen, sien uit na die dag as ons nuwe poniekoerante begin spiere kry en, soos hulle Britse eweknieë, ook hulle invloed op politieke gebied gaan laat geld, want dan gaan die poppe dans!

Blair bekla die feit dat verslaggewers in Brittanje in troppe jag. Maar in plaas daarvan om dié uitspraak as ’n waarskuwing te sien, wens ek dat Suid-Afrikaanse koerante se trop-instink beter ontwikkeld was.

Een ding wat my opval (en wat ek bewonder) van die Britse media is juis hoe hulle mekaar se goeie stories en onthullings oorneem en dit op ’n gemeenskaplike agenda plaas, op ’n manier wat dit onmoontlik maak vir politici om dit te ignoreer of dood te swyg.

Daar is ’n ou joernalistieke spreekwoord wat lui: “ ’n Politikus is skuldig totdat hy onskuldig bewys is.”

Dis miskien nie ’n leerstelling om ’n regstelsel op te bou nie, maar ’n koerant is nie ’n hof nie. Dis ook nie krieket nie. Koerante speel die man en nie die bal nie.

Simon Jenkins, voormalige redakteur van The Times, skryf in sy reaksie op Blair se uitlatings: “Die Britse regering het die konstante aandag van ’n op-en-wakker pers nodig – vol selfvertroue en verkieslik beledigend… Moenie jammer voel vir hulle nie. Hulle het groteske mag oor jou lewe en geluk en elke dag vat hulle net meer.

“ ’n Joernalis se taak… is dié van ’n rottevanger: om die strikke te stel, die gif uit te sit en die klein bliksems te vang.”

Soveel meer so as jy leef in ’n land soos Suid-Afrika waar die opposisie tandeloos in die hoek lê en doodwurg met ’n baie kort ketting om sy gorrel. Waar die parlement ontaard het in ’n gesondheidsplaas waar ministers en senior amptenare hul ego’s laat masseer (en die president nie eers meer verskyn nie).

As selfs die howe met minagting deur staatsdepartemente behandel word, wat bly vir ons oor behalwe (om Jenkins se woorde te gebruik), ’n “verontwaardige en onverantwoordelike” media.

So, maak hulle lewe hel. Koop ’n koerant.

  • Hierdie rubriek het vir die eerste keer in Rapport verskyn op 23 Junie 2007.

10 June 2007

Die wanhoop kry dikwels oorhand oor verlange


Om in die buiteland te woon is om in ’n liefde-haat verhouding met jou moederland te tree.

Dié toestand is veral akuut as jy op ’n Sondagmiddag langs ’n verlepperige braaivleisvuurtjie staan terwyl jou braairook oor die suide van Londen borrel en jouself verwyt vir die feit dat daar nie ’n swembad is waarin die kinders kan rinkink nie.

Ek sou raai, en ek dink nie ek is té ver verkeerd nie, dat die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners hulle verblyf in Brittanje as semi-permanent sien.

Dit beteken dat die meeste van hulle al baie langer in die land is as wat hulle aanvanklik beplan het, maar dat almal van hulle ’n vae hunkering koester om eendag terug te gaan. Moet net nie vra wanneer nie.

Wanneer daardie dag gaan kom weet nugter. Party raak net een oggend de bliksem in vir die oorvol moltreine en binne twee weke sit hulle op Clifton se strand. Vir talle kom die besluit ná die geboorte van ’n kind en ander wik en weeg na tien jaar steeds of hulle die karige twee-slaapkamer gehuggie in Wimbledon moet inruil vir ’n moerse groot huis met ’n swembad in Linden.

Hierdie toutrekkery van die siel is ’n arige affêre.

Vra vir baie uitgewekenes en hulle is lief om jou te vertel hoe lekker hulle huis toe verlang het toe Anton Goosen die ander aand “Jantjie kom huis toe” in die Aardvark gesing het.

Maar oor die hopeloosheid wat hulle voel as ’n mens slegte nuus oor Suid-Afrika lees, praat hulle min. Tog kry die wanhoop dikwels die oorhand oor die verlange.

’n Paar dae gelede aanvaar ek ’n uitnodiging om te gaan luister hoe die diamant-miljoenêr Nicky Oppenheimer ’n Londense gehoor probeer oortuig waarom Afrika ’n sukses sal wees.

Oppenheimer se geloof dat Afrika wel ’n blink toekoms het, behoort as geen verrassing te kom van ’n man wie se biljoene direk van Afrika se sukses afhanklik is nie.

Sy boodskap kan opgesom word met ’n cliché wat die diamantbaas telkemale herhaal het: “Die glas is half vol eerder as half leeg.”

Onder omstandighede het die wysgeer van Brenthurst redelik lig daarvan afgekom en het die gehoor tydens vraetyd nie té veel gedoen om sy veralgemenings met spesifieke voorbeelde uitmekaar te skiet nie.

So raak Oppenheimer baie opgewonde oor ’n kontinentale groeikoers van 5.8% sonder om by te voeg dat die kontinent ekonomiese groei sal moet volhou op vlakke van meer as 6% – enigiets minder sal net beteken dat hulle verder teen die armoede-paal afgly.

’n Ander gewilde cliché is om te praat oor Afrika se “komplekse probleme”. Dit terwyl baie van dié probleme glad nie so kompleks is soos voorgegee word nie.

’n Paar voorbeelde uit Suid-Afrika kan dien as illustrasie.

Hoe “kompleks” is die probleem van honderde bankrot munisipaliteite wanneer hulle bloot die onbevoegde munisipale bestuurders wat teen wil en dank aangestel is in posisies waarvoor hulle glad nie gekwalifiseerd is nie, onder die gat moet skop?

Hoe “kompleks” is die probleem dat Kaapstad se twee grootste hospitale nie meer sekere operasies kan doen nie omdat daar nie genoeg narkotiseurs is nie? Dit net omdat politici weier om wit narkotiseurs aan te stel omdat dit hulle regstellende aksie kwotas sal beduiwel?

Dis voorbeelde soos dié wat ’n Suid-Afrikaner in die buiteland magteloos weemoedig oor jou land laat.

Om in die buiteland te woon en te werk is ook om te leer dat alle lande hul probleme het, dat politici oral in die wêreld soms die kat aan die stert beet het en dat geen samelewing volmaak is nie.

Maar hier sien ’n mens ook dat ’n suksesvolle samelewing nie afhang van hoeveel mense van ’n sekere etniese groep narkotiseurs is, of na wie die hoofstraat vernoem is of aan watter politieke party die stadsklerk behoort nie.

Hierdie is bysaak. Dis goed waaroor jy stry nadat jy daarin geslaag het om die mees basiese en eenvoudige dinge met gereelde reëlmaat reg te kry.

Kry jy die basiese reg, en die res kom sommer maklik. Ook die besluit om die volgepakte moltreine vaarwel te roep, op die vliegtuig te klim en die kleinkinders vir oupa en ouma te gaan wys…