27 May 2007

’n Perfekte wêreld? Watter gek idee

Is dit net ek of is die wêreld besig om gek te word?

En soos gewoonlik is ek die enigste een wat besef daar is iets verkeerd. Almal rondom my sluimer salig onbewus van die naderende onheil.

As jy enigsins twyfel dat alles nog piekfyn op planeet aarde is, luister ’n bietjie na die storie van Tracy Daly, die eienaar van ’n klein afgeleë kroegie in Noord-Yorkshire.

’n Paar weke gelede kry Tracy ’n vreeslike amptelike brief in die pos van ’n man wat sê hy is ’n prokureur wat namens Kentucky Fried Chicken optree.

Soos ons almal weet is prokureurs vreeslik belangrik. En prokureurs wat namens groot multi-nasionale korporasies optree is selfs meer vernaam.

Tracy lees dus die brief met die nodige ontsag, vrees en bewing.

Die prokureur skryf dat dit onder sy kliënt se aandag gekom het dat me. Daly haar jaarlikse Kersdagete adverteer as ’n “family feast” en of sy bewus is van die feit dat sy kliënt – die slim kolonel van Kentucky wat die lekker spesery-hoender maak – dié frase geregistreer het en dat dit nou aan hom en aan hom alleen behoort.

Dit beteken dat niemand, maar niemand inter alia, pro bono en sonder uitsluiting of benadeling van regte ooit weer na enige ander maaltyd as ’n familiefees mag verwys nie.

Veral nie as daar die geringste moontlikheid bestaan dat kliënte van Tracy Daly haar Kersete kan verwar met die familiefees wat KFC bedien nie.

Die maatskappy dring dus daarop aan dat sy onmiddelik ophou om haar Kersete as ’n “family feast” te bemark.

Ek het ’n bietjie daaroor gedink en uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat ek heeltemal met die kolonel se regsverteenwoordigers saamstem.

Die gevaar is tog duidelik en ek kan nie glo dat Tracy Daly dit nie saam met die slim prokureur kan insien nie: As jy besluit om in die middel van die Engelse winter jou Kersmaal te gaan nuttig by ’n afgeleë pub, meer as 6 km van die naaste dorp, is dit net logies dat jy sal verwag om ’n hoenderboudjie wat met ’n geheime resep van 17 kruie en speserye besprinkel is, te kry.

’n Mens aanvaar dit tog as vanselfprekend dat hierdie familie-maaltyd bedien sal word in ’n kartonboksie wat op jou skoot sal disintegreer terwyl kookolie wat soos diesel ruik jou beste Sondagbroek vlek. Verder neem jy aan dat die hoender vergesel sal word met ’n bakkie koolslaai en twee liter gaskoeldrank van jou keuse, nie waar nie?

Ek dink dit is heeltemal reg en vanselfsprekend dat voornemende klante beskerm moet word teen gemene en agterbakse kroegeienaars soos me. Daly wat daarop uit is om hulle in te loop deur ’n Kersete voor te sit wat bestaan uit kalkoen, geroosterde biefstuk en ’n Krismispoeding. En dan noem hulle dit nog ’n familiefees. Die vermetelheid.

Daarom is ek dankbaar vir prokureurs soos mnr. Giles Pratt van Freshfields in Londen wat op sulke onbaatsugtige wyse in die openbare belang optree om ons, as genieters van familiefeeste, te beskerm teen sulke straffelose uitbuiting.

Ek kon nie glo dat Tracy Daly boonop so voorbarig was om die besige mnr. Pratt te pla om kapsie te maak teen sy brief nie.

Die inhoud van mnr. Pratt se skrywe was tog so duidelik soos daglig en ek stem heeltemal saam met sy reaksie soos gerapporteer in The Times van 10 Mei: Dit is ’n baie ernstige saak en sy moet ag slaan op die waarskuwing.

Uiteindelik ’n regsgeleerde van imbors en een wat nie skrik vir ’n koue pampoen nie.

Met totale afgryse lees ek egter ’n dag later dat mnr. Pratt en sy kliënt, Kentucky Fried Chicken, besluit het om die saak teen me. Daly te laat vaar. Dit beteken dat sy kan voortgaan om haar kliënte om die bos te lei deur die frase “familiefees” op haar Kersfees spyskaart te gebruik.

My liewe hemel, wat gaan hier aan? Wat het geword van prokureurs en groot korporasies wat klein outjies boelie tot hul oë traan?

As dinge so aangaan reik die departement van binnelandse sake eersdaags ID’s uit waarvan die foto ooreenstem met die persoon wie se naam voor in die boekie staan.

Kort voor lank presteer Engelse sportspanne in sportsoorte wat die Engelse uitgevind het.

En hoe gek sal die wêreld dan wees?

14 May 2007

Nie almal met 'n opgepompte boesem is regtig nie

Hierdie is ’n waarskuwing.

Hierdie rubriek gaan oor die Beckhams – oor David en sy skelet-vroutjie Victoria en hul drie seuntjies Romeo, Juliet en Macbeth. (Of wat hulle name ookal is, ek kan nie meer onthou nie. Ek weet net daar is drie en dat Victoria blykbaar nóg een wil hê.)

As jy dus nie van David en sy vroutjie hou nie, moet nie hierdie rubriek verder lees nie.

Ek vermoed egter dat jy, ten spyte van die feit dat jy die tweetjies verpes, hierdie Beckham-rubriek tot aan die einde gaan lees.

Want dit is presies wat ék altyd doen. Ek haat hulle. Ek dink hulle is die mees banale en weersinwekkende egpaar ter wêreld. Maar tog lees ek elke koerantberig en kyk ek elke televisieprogram oor hulle tot reg aan die einde en beloer ek elke smaaklose foto van haar dun beentjies en opgepompte boesems met aandag.

Hoekom? Net om doodseker te maak dat die egpaar nog steeds so smaakloos en banaal is soos ek vermoed. Om dubbeld seker te maak dat ek nie verkeerd is nie.

En daarom, omdat ek vermoed dat jy presies net soos ek doen, gaan jy hierdie rubriek tot reg aan die einde lees. Ek wed jou ’n R100 dat as jy tot hier gekom het, jy nie sal kan ophou nie…

Soos ons almal wat die Beckhams se vaal en vervelige lewe met aandag dophou weet, is die tweetjies op pad na Amerika. Dit het uiteindelik tot mnr. Beckham deurgedring dat hy ’n oorskatte sokkerspeler is wie se dienste van veel meer waarde sal wees by ’n derderangse Amerikaanse klub waar atlete wat te kort is om basketbal te speel, oor naweke bymekaarkom om ’n paar bôlle te skop.

Ek verstaan dat vroutjie Victoria gedurende die laaste paar weke uiteindelik gelukkig genoeg was om ’n blyplek in Los Angeles raak te loop wat in haar smaak val.

Berigte in die Britse pers wil dit hê dat die huisie oor nege badkamers beskik. Gegee die feit dat daar net ses slaapkamers is, is daar dus klaarblyklik drie ander kamers wat ook met die agtervoegsel “en suite” kan spog. Wonder watter vertrekke dit kan wees? ’n En suite-kombuis miskien?

Die huis is blykbaar ’n “relatiewe winskopie” teen R152 miljoen. Die rede hiervoor is die feit dat daar nog ’n bietjie binneshuise versiering gedoen moet word.

Daar bestaan by my geen twyfel dat dít net een ding kan beteken: Die plek het nie genoeg spieëls nie.

Met die wêreld se twee ydelste mense saam in één huis kan ’n mens net dink hoe dit soggens in die badkamer gaan. Maar ten minste het hulle eersdaags nege badkamers om uit te kies!

Groot was my verbasing oor ’n storie in The Times ’n paar dae gelede oor die feit dat die Beckhams ook dreig om twee heeltemal onbekendes, Andy Harmer en Camilla Shadbolt, hof toe te sleep.

Andy en Camilla lyk op ’n druppel water net soos David en Victoria en hulle maak ’n baie goeie geldjie deur op te tree as dubbelgangers vir die twee.

Hulle het pas ’n televisiefilm voltooi waarin hulle verskeie mense in Los Angeles om die bos gelei het, deur te maak asof hulle die Beckhams is.

’n Nagklub laat hulle byvoorbeeld toe om in te kom sonder om vir ure buite in ’n tou te staan en wag en die verkoopsmeisie in ’n eksklusiewe boetiek het aan “Victoria” gesê sy kan enigiets in die winkel vir haar neem – heeltemal verniet en gratis. Me. Shadbolt se oog val toe op ’n lieflike string swart pêrels van R124 000. Alles reg, sê die winkelassistent. Jy kan dit maar kry. Siek, is dit nie?

Nou wil die regte Beckhams dagvaar omdat dié twee en hul televisieprogram The Beckhams Go To Hollywood hul beeld in Los Angeles gaan skade doen.

Ek wonder waaroor sou hulle so bekommerd wees? Is hulle dalk bang dat hulle nie meer verniet etes in restaurante of gratis pêrels sal kry nie, omdat mense mag dink dit is nie regtig hulle nie?

Met soveel om te verloor sou ek ook dalk met hofstappe gedreig het!

Die belangrikste vir my, is egter die feit dat jy pas – ten spyte van die feit dat jy ook die Beckhams verafsku – die hele rubriek tot aan die einde gelees het. Jy skuld my R100.

O wag. Daar is nog iets.

Camilla Shadbolt het darem later die pêrels teruggeneem. Hopelik met die waarskuwing aan die winkelassistent dat nie almal met ’n opgepompte boesem en nagemaakte glimlag regtig egtig is nie...

  • Die rubriek het vir die eerste keer in Rapport verskyn op 13 Mei 2007.