22 January 2007

Die adeldom verg verantwoordelikhede wat die rykes nie verstaan nie


Waarvoor is ’n koningin goed?

Dis ’n vraag wat my nou reeds ’n paar maande lank besig hou – veral op dié gelukkige dae wanneer my pad my deur Londen se St James’s Park neem met sy lieflike uitsigte op Buckingham Paleis en Koningin Victoria se goue troukoekfontein voor die paleis.

Uit die honderde toeriste wat daagliks – winter of somer, sonskyn of reën – voor die paleis saamdrom, is dit duidelik dat die koningin, haar wagte en haar paleise, ongetwyfeld die grootste toeriste attraksie in die stad is.

Sonder ’n koningin sal Londen net nóg ’n Europese stad wees – ’n groot metropool met ou kerke en baie museums.

Daar is egter nog ’n rede waarom die monargie nie so ’n slegte idee is nie, besef ek verlede naweek op ’n besoek aan die Londen Tower, waar die kroonjuwele gebêre word.

Die hoogtepunt van ’n toer deur dié kompleks is ongetwyfeld die geleentheid om die tamaai eier van ’n diamant te sien wat in 1905 by die Cullinan-myn naby Pretoria gevind is en nou in haar majesteit se septer pryk.

Die moerse steen – dit weeg 530 karaat, en is steeds skaars ’n vyfde van die grootte van die oorspronklike moedersteen – het my egter laat wonder: Wat sal gebeur as iemand môre ’n nóg groter diamant langs die Weskus uit die see duik?

Wie sal dit koop? Om die hals van watter sokkerspeler se blonde vrou sal dit uiteindelik tot ruste kom?

Kan jy jou die spektakel voorstel wat hom sal afspeel terwyl Russiese oligarge en Amerikaanse internet-biljoenêrs met mekaar meeding om dié juweel te besit – net om dit dan in ’n kluis te gaan toesluit waar niemand, behalwe ’n paar uitgelese gaste, dit ooit weer sal sien?

Was dit nie destyds ’n eindeloos meer elegante oplossing om die Cullinan-diamant – ’n sieraad só uitsonderlik dat dit haas ontmoontlik is om die waarde daarvan in geld te meet – aan die Britse monarg present te gee nie?

Want kom ons wees eerlik. Die Cullinan-diamant “behoort” vandag so min aan Koningin Elizabeth II as wat die see aan ’n snoek behoort.

Dit is miskien haar eiendom in die sin dat die destydse Suid-Afrikaanse regering dit aan haar voorouer, Edward VII, geskenk het, maar beslis nie hare om daarmee te maak wat sy wil nie. Die feit dat mense daagliks toustaan om dit te besigtig – en toegelaat word om dit te doen – bewys hoe ernstig sy haar rol as kurator van dié sieraad sien.

Ek lees onlangs dat die hoofde van die grootste FTSE-maatskappye in Londen nou 70 keer meer verdien as die gemiddelde salarisse wat aan hulle werknemers betaal word. In 1980 was dié gaping slegs 10 keer en is die gaping tussen ryk en arm dus besig om elke jaar groter te word.

Vroeër die week kyk ek na ’n televisieprogram oor die buitensporige bonusse wat deesdae betaal word aan die top aandelemakelaars in Londen.

Die mees suksesvolle onder hulle het verlede maand bonusse van meer as R700 miljoen (£50 miljoen) gekry.

Die program vertel dat hierdie biljoenêrs nou – net soos die koninklikes van honderde jare gelede – besig is om groot dele van die aardbol vir hulself te annekseer in die naam van private grondeienaarskap.

Groot dele van die Mosambiekse kus, duisende hektare reënwoud in die Amesone en honderde eilande in die Indiese en Stille Oseaan “behoort” nou aan iemand wat waarskynlik nie meer as ’n paar keer in sy (of haar) lewe genoeg vakansie gaan neem om daar besoek af te lê nie.

In plaas daarvan om luidkeels te protesteer dat ’n paar individue besig is om vir hulself dele van die aarde toe-eien wat aan die ganse mensdom moet behoort, staan ons bloot en toekyk in sprakelose en misplaaste bewondering oor hul fabelagtige rykdom – en wens heimlik dat ons ook soveel geld het.

Dis in gevalle soos hierdie wat ek wens ’n mens kan jou weer op ’n koningin beroep om die balans te herstel, dit vir die kroon te annekseer en haar vra om toe te sien dat almal van ons die vreugde en die prag daarvan kan geniet.

En op die koop toe kry jy sommer ook iemand wat skole kan open, die siekes kan besoek en wat op haar verjaarsdag vriendelik van onder ’n pers hoed vir die skares wuif.

  • Dié rubriek het vir die eerste keer in Rapport verskyn op 21 Januarie 2007.