11 November 2007

Die vreemde reis van Babalela



Jolandi, die Karoomeisie wat in die week na ons kinders help omsien, is baie beslis as ek uitvra na die dinge waarsonder sy nie in Londen kan klaarkom nie.
“Ricoffy en Ouma-beskuit. As ek nie daai twee goed het nie, is ek baie ongelukkig.”
’n Mens hoef net by een van die talle Suid-Afrikaanse winkels in Londen in te stap om ’n idee te kry van die dinge waarsonder bannelinge nie in die vreemde kan klaarkom nie.
Êrens in Londen is daar iemand wat vanaand smag na groen Creme Soda-koeldrank of wat peusel aan ’n pakkie Niknaks om die reuse gat in die hart te probeer vul.
David Kramer is my Ouma-beskuit. Oor die maande het ek al geleer dat daar niks is wat die verlange tegelyk kan verdiep én stil soos sy musiek nie en ek glo dit is dié enkele Suid-Afrikaanse produk waarsonder ek nie die Europese winter sal kan deursien nie.
Kramer se musiek kry ekstra betekenis as jy daarna luister op ’n moltrein tussen Embankment en Tower Hill – juis omdat jy dan soveel ligjare verwyderd is van daardie plek met die “wind en sand en diamantdrome”.
En as jy in die grys herfslig aanstap huis toe verlang jy skielik na ’n “koue bloue hemel met geen genade”.
Daar is mos net een plekkie
En dis my plekkie daai.
So gebeur dit dan ’n week gelede dat my twee-jarige seun sý naelstring met sy moederland verloor.
Babalela is nie net ’n eienaardige pers-pienk lappop met kroeshare en groot oë nie. Dis ook Henri se boesemvriend en vertroueling – en belangriker nog, die een wat hom saans aan die slaap sus.
En, as skepping van die Afrikaanse kinderboek-illustreerders Andries en Erica Maritz, is Babalela ook sy mees tasbare konneksie met die groot, donker kontinent wat hy laas gesien het toe hy net drie maande oud was.
Ek kan Martie Preller se teks al in my slaap opsê: “Diep, diep in ’n donker bos, in ’n hol boomstomp, net onder ’n blaar, woon die Babalela.”
Vir al hierdie redes was die dag waarop Henri Babalela se verdwyning aankondig, oomblikke nadat ons op ’n trein geklim het, dus baie traumaties.
Alle planne vir ’n sorgelose gesinsdag is onmiddelik op ys geplaas en ek klim op die volgende stasie af om op ons spoor terug te loop – op soek na “die pers een”.
Verloor ’n tienpond-noot in Kensington se strate en dit sal môreoggend steeds daar lê – bloot omdat die mense hier rond soveel geld het dat dit te veel moeite sal wees om dit op te tel. Maar verloor ’n pers, Afrikaanse pop wat deur geen speelgoedwinkel in Londen in voorraad gehou word nie, en hy verdwyn soos ’n naald in ’n hooimied.
Dis amper ’n uur later dat ek Babalela uiteindelik vind waar hy op die spoorlyn lê waar iemand hom klaarblyklik argeloos van die perron geskop het nadat Henri hom laat val het.
Hy lê minder as ’n sentimeter van ’n staalspoor wat amper 500 volt dra en om hom te probeer red sou selfmoord wees. Nadat ek die netelige situasie aan die stasiemeester verduidelik het, stel hy voor dat ek die volgende oggend om halftwee, as die elektrisiteit uiteindelik afgeskakel word, vir Babalela kom haal.
Vroeg verlede Sondagoggend strompel ek dus vaak-vaak deur ’n verlate Londen op ’n missie om Babalela te red.
Voordat ek hom kan terugneem huis toe, dring die stasiemeester daarop aan dat ek ontvangs erken deur vir hom te teken in ’n voorvalleboek waar hy taamlik klinies as ’n “purple soft toy” beskryf word.
Ek druk Babalela se oliebesmeerde gesiggie teen my skouer vas terwyl ek terugloop huis toe – net soos Henri my al honderde kere tevore beveel het om te doen voordat hy en sy vriend gaan slaap.
Die insident word die perfekte spieëlbeeld vir Babalela se eie storieboekreis waarin hy triomfanklik terugkeer na die bos nadat hy deur ’n nare wetenskaplike ontvoer is.
“ ‘Ha!’ sê die Babalela, en kies koers na die bos”, waar hy weer sy intrek neem “in ’n hol boomstomp, net onder ’n blaar”.
Want, so lui die slotsin, “dís waar hy hoort.”
En terwyl ek aanstap neurie ek my eie Londense verlang-deuntjie:
Daar is net een plekkie
En dis my plekkie daai…

  • Hierdie rubriek het vir die eerste keer verskyn in Rapport op 11 November 2007.

No comments: