22 October 2007

Jonny en die Waterkar

Nadat Nieu Seeland en Australië huis toe gestuur is en die Engelse dit tot in die finaal van vanjaar se wêreldbeker gemaak het, het by myself gedink: Wel, nou het ek alles gesien.
Die wêreldbeker-verrassings hou egter net nie op nie.
Die jongste wêreldbeker onthulling – en wat my betref die heel grootste – is die feit dat die Engelse losskakel Jonny Wilkinson ná Saterdagaand se wedstryd van die waterkar afgeval het.
Ja, jy’t reg gehoor. Wêreldrugby se soetste en voorbeeldigste seun skryf gister in sy rubriek in The Times dat hy ná Saterdag se game ’n knertsie gemaak het. Blykbaar nie net enetjie nie, want hy erken dat hy Sondagoggend met ’n moerse kopseer wakker geword het. Skande!
“Dit was die eerste keer in jare, maar dit het eenvoudig na die regte ding op die regte tyd gevoel.”
My liewe hemel Jonny! As ’n verloorwedstryd dit aan jou doen, hoop ons van harte dat Engeland nooit weer die wêreldbeker wen terwyl jy in die omgewing is nie. Wat is volgende? Iemand anders se vrou?
Vergelyk dit met Schalk Burger wat blykbaar Saterdagaand sy onderhoud met ’n joernalis van The Guardian afgesluit het met die woorde: “Ek is in die bui om net so ’n bietjie dronk te word vanaand.”
Waarop ’n mens net kan antwoord: Ons was ook Schalkie, ons was ook…
Op ’n meer ernstige noot skryf Wilkinson dat hy sy swak skepskoppe toeskryf aan die feit dat die enkel wat hy voor die wedstryd teen Suid-Afrika verswik het, nooit werklik herstel het nie.
Hy sê sedert hy sy enkel beseer het het hy nooit met sy regtervoet in oefeninge geskop nie. Sy skepskoppoging gedurende Saterdag se finaal was slegs die derde keer dat hy met sy regtervoet probeer skop het sedert die besering. Die ander twee was gedurende die wedstryde teen Samoa en teen Frankryk – en albei dié skoppe was ook mis.
Die ander (en hopelik laaste verrassing) van die wêreldbeker is die Engelse reaksie op hul nederlaag. Daar is beswaarlik ’n sweempie van suur druiwe te bespeur.
In gister se koerante moes ’n mens hard soek vir enigiemand wat nog glo dat daardie drie van Mark Cueto in Saterdag se finaal wel legitiem was.
Die Engelse vleuel Paul Sackey het aan die Daily Mail erken dat dit “taamlik verdag” lyk as ’n mens na die drie op die kykweer kyk.
Matt Dawson, Engelse skrumskakel tydens die 2003 Wêreldbeker, sê daar was “geen manier” waarop die skeidsregter die drie kon toeken nie.
Martin Corry skryf in The Guardian dat Suid-Afrika waardige wenners was. Corry sê Suid-Afrikaanse span het die “volle pakket” gehad met moeilike en tawwe voorspelers, ’n uitstekende lynstaan en die vermoë om wyd aan te val.
“Engeland het verloor omdat hulle uiteindelik net nie goed genoeg was nie,” skryf Peter Jackson van die Daily Mail.
“Die polemiek oor Cueto se drie sal voortduur, maar dit kan nie die feit verbloem dat die Springbokke gewen het omdat hulle verdien het om te wen nie.”
Jackson sê dit is veral die Bokke se ysere dissipline en die feit dat hulle Wilkinson minder kanse pale toe gegee het as wat hy nog ooit in ’n belangrike toetswedstryd gehad het, wat aan hulle ’n oorwinning besorg het.
So volgende keer as jy ’n Engelsman sien, geen hom ’n hartlike handdruk en wens sy span geluk met ’n bo-menslike poging.
Want ná Sondag se Grand Prix het die arme drommels darem wragtig genoeg sport-teleurstellings vir een naweek gehad!
  • Die rubriek het die eerste keer in Die Burger en Beeld verskyn op 23 Oktober 2007.

1 comment:

Anonymous said...

Wou net laat weet..
Ek reken die artikel "Brief uit Londen: Beur jou op met ’n Manhattan Mushroom Burger" gepubliseer in Perpektief Rapport is uitstekend.
Sterkte daardie kant!
- SNOOP
(weekendsnoop op Windows Live Spaces)