14 October 2007

Is daar nog iemand soos Macavity?

Ek is nie besonder lief vir katte nie, maar daar is een kat vir wie ek nogal ’n sagte plekkie het.
Sy naam is Macavity, en lesers wat TS Elliot ken sal van hom weet:
You would know him if you saw him, for his eyes are sunken in./
His brow is deeply lined with thought, his head is highly domed…
Dit was Lord Andrew Turnbull, tot onlangs die hoof van die Britse staatsdiens en voorheen die mees senior amptenaar in die Britse departement van finansies toe Gordon Brown die minister was, wat eerste die ooreenkomste tussen Macavity en sy voormalige baas raakgesien het.
Soos Macavity is Brown se “coat… dusty from neglect, his whiskers are uncombed… And when you think he’s half asleep, he’s always wide awake.
Die ooreenkomste tussen Macavity en Brown strek egter verder as albei se voorliefde vir “complicated long division sums”.
Want Elliot se Macavity is ook ’n “mystery cat”, die een wat nooit daar is waar daar ’n misdaad vermoed word nie.
Macavity, Macavity, there’s no one like Macavity,
For he’s a fiend in feline shape, a monster of depravity.
You may meet him in a by-street, you may see him in the square –
But when a crime’s discovered, then Macavity’s not there!
Die voorbeelde van Brown se vermoë om, soos Macavity, die wette van swaartekrag te ontduik, is legio.
Waar was Macavity Brown byvoorbeeld vier weke gelede ten tyde van die krisis by die Britse bank Northern Rock? Is dit nie eienaardig dat die man wat die afgelope tien jaar in beheer was van die Britse ekonomie nêrens te sien is ten tyde van die eerste stormloop op ’n Britse bank in meer as ’n eeu nie?
Die groot narratief van Brown se premierskap sedert hy sowat drie maande gelede by Tony Blair as premier oorgeneem het, was dat die Arbeidersparty onder sy leierskap gaan wegbeweeg van politiekery en spin.
Dié trotse ideaal het egter die afgelope paar weke skipbreuk gely met bespiegelinge van ’n blitsige herfsverkiesing wat duidelik daarop gemik was om die Tories onkant te vang.
Toe die meningsopnames ná die Tories se kongres voorverlede week egter toon dat die gaping tussen die Konserwatiewes en die Arbeiders besig was om te krimp en dat Brown die gevaar loop om ’n verkiesing te verloor, het dinge egter interessant begin raak.
Want skielik was Macavity Brown in ’n hoek gekeer.
Hy moes bitter vinnig ’n einde maak aan die spekulasie oor die moontlikheid van ’n verkiesing (wat hy verlede Saterdag tydens ’n onderhoud met die BBC gedoen het) en daarna moes hy probeer verduidelik waarom ’n verkiesing skielik nie meer so ’n goeie idee was nie.
En anders as Elliot se Macavity wat altyd ’n alibi “and one or two to spare” gereed het, was Macavity Brown dié keer regtig in die knyp.
Sy verduideliking dat hy meer tyd nodig het om sy “visie vir Brittanje” te implementeer, het gesink soos ’n klip.
Maandag is hy deur ’n joernalis gevra om “met sy hand op sy hart” te verklaar dat hy steeds nie ’n verkiesing sou hou nie, selfs al het die meningsopnames gewys dat hy dit met 100 setels sou wen. Sy antwoord was ’n ondubbelsinnige ja.
Met soveel tou tot hul beskikking het die politieke laksmanne natuurlik …wel… tou gestaan om hom te hang.
“(Dit maak van Brown) die eerste premier in Britse geskiedenis wat nie ’n verkiesing wil hou nie, omdat hy dink hy gaan dit wen,” het die Tory-leier David Cameron tydens Woensdag se vraetyd in die parlement gekraai.
Tot hoe ’n mate die gebeure van die afgelope paar weke Brown se beeld onder Britse kiesers permanente skade gaan aandoen, sal ’n mens moet sien.
Dit help natuurlik dat die volgende verkiesing nie voor 2009 gaan wees nie en Brown hoop sekerlik dat kiesers teen daardie tyd lankal van sy “ligte mistykie” van die afgelope paar weke vergeet het.
Die teendeel is egter waarskynlik waar en Britse kiesers sal dié gebeure onthou as die tyd toe Macavity Brown een van sy nege katlewens verloor het – nie omdat hy te bang was om ’n verkiesing te hou nie, maar omdat hy gedink het die Britse publiek is dom genoeg om sy redes te glo.
Want jy kan jou kiesers in die duister hou, maar moet hulle nie vir gekke aansien nie.
  • Hierdie rubriek het die eerste keer verskyn in Rapport op 14 Oktober 2007.

No comments: