17 October 2007

Engelse Losgemaal: Waarna luister Percy die Pou?

Die Engelse rugbyspan se vermoë om die wette van swaartekrag te ignoreer en hulleself aan hul eie skoenveters op te trek sedert daardie verskriklike nederlaag teen die Springbokke vier weke gelede is nou al tot vervelens toe in die Engelse media gedisekteer.
Ek dink die grootste wonder van die afgelope wêreldbeker is nie die feit dat die Australiërs en die Nieu Seelanders so gou huis toe gestuur is nie. Dit kan ’n mens nog verstaan.
Maar waar op dees aarde kry die Engelse span nog tyd om te oefen tussen al die musiekluistery en filmkykery deur?
In die afgelope paar dae het ons nou al gehoor dat hulle na Kenny Rogers se “The Gambler” luister om hulle te motiveer en dat hulle inspirasie put uit ’n film oor ’n klomp ouens van Jamaika wat gaan bob-slee ry by die winter Olimpiese Spele – ten spyte van die feit dat hulle nog nooit eers sneeu gesien het nie.
Het iemand al aan hulle uitgewys dat Cool Runnings, die film waaruit Lawrence Dalaglio en sy spanmaats so baie inspirasie put, op ’n taamlike ongelukkige noot vir die manne van die Karibiese See eindig?
In hul laaste resies kom een van hul slee se lemme los, die slee val om en die span word gedwing om die bob-slee op hul skouers oor die wenstreep te dra…
Die Engelse media is egter op die oomblik veels te besig om hulself te oortuig dat hul span onoorwinlik is om hulself aan dié klein detail te steur.
As die rugby-gode enigsins ’n sin vir geregtigheid het, so lui die argument, dan moet Engeland eenvoudig Saterdag wen om die span se ongelooflike reis van nul tot bul tot sy logiese uiteinde te voer.
Ten einde dié argument te laat vlot is dit nodig om die Bokke se oorwinning van 37-13 oor Argentinië as “onoortuigend” af te maak (soos wat The Daily Telegraph vroeër die week gedoen het).
Nou ja wel. As ’n oorwinning van 24 punte “onoortuigend” is, wonder ’n mens wat ’n mens dan die verskil van vyf punte tussen Engeland en Frankryk moet noem?
Die interessantste en mees weldeurdagte ontleding van die Engelse span se ongelooflike ontwikkeling as span is egter gister deur die Daily Mail gedoen.
Die koerant identifiseer vyf redes waarom die Springbokke Engeland vroeër in die toernooi vermorsel het.
Hieronder tel die feit dat die Rose nie kon hond haaraf maak by die breekpunte nie, dat hul verdediging vrot was en dat Jason Robinson die enigste aanvalswapen tot hul beskikking was.
Die koerant verduidelik dan hoe elkeen van hierdie individuele probleme reggestel is. Hoeveel klem ’n mens ookal lê op die rol wat openhartige spanpraatjies, Kenny Rogers se musiek en Jonny Wilkinson gespeel het in die Engelse herontwaking – die naakte waarheid is dat die Engelse nou baie beter rugby speel as ’n paar weke gelede. Iets wat Jake White self vroeër die week benadruk het.
Moet egter nie sulke intellektuele ontledings op alle Britse sportblaaie verwag nie. The Sun, ’n koerant meer bekend vir sy bladsy drie meisies as sy weldeurdagte beriggewing oor rugbysake, het gister ’n foto van Percy Montgomery op sy voorbeeld onder die opskrif: “Krap hierdie man se hare deurmekaar en die wêreldbeker is ons s’n.”
“Percy die Pou” noem die koerant hom en sê hy is só heilig oor sy haardos, hy HAAT dit as iemand dit deurmekaarkrap.
“Een van sy stokperdjies is juweliersontwerp – wat maar taamlik sissierig klink,” kraai The Sun verder.
Jy soek egter vergeefs vir ’n ontleding van Montgomery se rekord pale toe gedurende die toernooi tot dusver. Vir die oningeligtes: Percy het 32 meer punte aangeteken as wat Wilkinson met sy styfgepompte rugbyballe kon regkry.
Teen hierdie tyd weet ons egter dat Monty hom bitter min steur aan al dié stories. Grappies oor Montgomery en die versameling haardroërs wat hy in sy toksak pak is al so oud dat ’n mens hulle vir Engeland se agterlyn kan kies.
Of wat praat ek alles.
  • Hierdie rubriek het vir die eerste keer in Beeld en Die Burger verskyn op 17 Oktober 2007.

No comments: