19 October 2007

Engelse Losgemaal: Tiocaidh an la, tiochaidh an fear


Hier in die Britse hoofstad is die Engelse só seker dat hulle die wêreldbeker gaan wen, hulle het reeds vir Jonny Wilkinson ’n standbeeld Trafalgarplein opgerig.
Is true. Ek het self gaan kyk.
Daar staan hy, met biddende handjies, sy rug gekeur op Suid-Afrika Huis. Reg om ’n bôl tot bo-oor die National Gallery te skop.
“Kyk maar mooi hoe hy lyk, want dié standbeeld gaan nie baie lank meer hier staan nie,” vertel ek voorbarig aan ’n Engelsman in ’n swart pak wat besig is om foto’s van Koning Jonny te neem.
“Dis waar,” sê die man. “As ons hom weer hier op Trafalgarplein sien sal dit in lewende lywe wees met die goue beker in die hand.”
Ek lag hard en lekker. Want die vorige keer dat die Madame Tussaud’s een van hul wasbeelde hier op Trafalgarplein kom uitstal het was voor die sokker wêreldbeker verlede jaar.
Toe het hulle ’n standbeeld van David Beckham hier kom neersit en ons almal weet hoe suksesvol Engeland in daardie toernooi was. So kom ons hoop dat hierdie weer ’n geval is van misplaaste Engelse bravado.
Ten spyte van die Jonny-standbeeld op Trafalgarplein kry ’n mens nêrens in Londen die gevoel dat die Engelse eintlik oorloop van selfvertroue oor die uitslag nie.
Inteendeel. Die gemiddelde Engelse sportondersteuner het oor die jare geleer om nooit té veel van hul span te verwag nie en enige onverwagse oorwinning as ’n reuse bonus te aanvaar.
Vergelyk dit met RSG se Niekie van den Bergh wat gister selfbehaaglik aan SkyNews gesê het dat die Bokke die Engelse met 20 punte gaan trap.
Jinne Niekie. Stadig oor die klippe nou. Ons almal hoop jy’s reg, maar ’n paar weke gelede het die hele wêreld gedink die All Blacks gaan in die finaal speel. En kyk waar sit hulle nou.
Dit is tot Jake White en sy span se ewige krediet dat hulle hul gedurende die afgelope week weerhou het om (soos in die verlede) individuele Engelse spelers uit te sonder en té arrogant te wees.
Daar is niks wat die Engelse pers meer geniet as om iemand aan sy eie tou op te hang nie, en die feit dat Engelse koerante die Bokke hierdie week redelik goedgesind is, is ’n teken dat dié benadering vrugte afgewerp het.
Nadat die The Sun vroeër vir Percy “die Pou” Montgomery vir spesiale behandeling uitgesonder het deur te sê dat ’n mens net sy hare deurmekaar moet krap om hom te ontstel, het Montgomery gister netjies teruggeskiet deur aan die koerant te sê: “Wel as dit die geval is, moet ek maar net ’n bietjie ekstra haarsproei gebruik.”
Monty loop ook deur in ’n advertensie vir Spitfire, ’n gewilde Engelse ale.
“Suid-Afrika: Dit is hoe ’n seevierende Montgomery lyk,” kondig die advertensie aan. En langsaan ’n foto – nie van Percy Montgomery nie, maar van Bernard Montgomery, die Engelse veldmaarskalk en held van Al Alamein.
Selfs Schalk Burger, wat in die verlede erg getakel is deur die opposisie-koerante weens ongeoorloofde spel, is gister heel gaaf behandel. The Sun noem hom Suid-Afrika se Robo-Bok en sê die ou het so baie staalplate in sy lyf dat hy lughaweverklikkers nagmerries gee.
“Vergeet die metaalverklikkers, Engeland sal ’n tenk nodig hê om hom te stop,” skryf die koerant.
Die laaste woord oor vanaand se groot stryd kom van ’n Ierse vriend.
Die Iere en die Engelse is geswore vyande, so daar is geen twyfel vir wie hy vanaand skreeu nie.
“Slaan die Saksers waar dit seermaak,” moedig hy aan, voordat hy afsluit met ’n Keltiese boodskap: “Tiocaidh an la, tiochaidh an fear!”
Wat blykbaar beteken: “Kom die uur, kom die man.”
Of soos hulle hier in Engeland sê: Bring it on…

  • Die rubriek het die eerste keer in Beeld en Die Burger verskyn op 20 Oktober 2007.

No comments: