18 October 2007

Engelse Losgemaal: Oor slotte wat in Engels tel

Elke groot sporttoernooi moet ’n alchemis hê, ’n gek professor met die vermoë om iets uit niks te tower.
In die middeleeue sou hy op ’n wit perd ry en op ’n stadium dat die veldslag heeltemal verlore lyk sal man en ruiter die draak van vernedering stormloop om ’n oorwinning uit sy kake te gryp.
Vier jaar gelede was dit Jonny Wilkinson. Vir die span van Clive Woodward was hy ’n tallisman en die blote feit van sy bestaan was genoeg om die opposisie slapelose nagte te gee.
’n Mens kan altyd jou teenstanders se selfvertroue meet aan die manier waarop “hulle” koerante oor dié tallisman praat en skryf. Ignoreer hulle hom soos ’n stopstraat of kom rugbyskrywers met hul eie planne vorendag hoe om hom te stuit?
Gemeet aan die manier waarop Engelse koerante op die oomblik oor Bryan Habana skryf, is dit duidelik dat hulle glo dat Habana die mantel as “die man om te vrees” by Wilkinson oorgeneem het.
“The man that races cheetahs,” noem hulle hom hier na aanleiding van die publiseitsfoefie ’n paar maande gelede toe hy teen ’n jagluiperd resies gejaag het by die De Wildt jagluiperdsentrum naby Pretoria.
Die feit dat Bryan Gary Habana vernoem is na twee voormalige Manchester United sokker-spelers (Bryan Robson en die Suid-Afrikaans-gebore Gary Bailey) is net verdere rede vir die Engelse pers se fassinasie met die Suid-Afrikaanse vleuel.
Hulle obsessie met “Captain Marvel” vorm deel van ’n baie interessante verskuiwing in die manier waarop die Engelse media verslag doen oor die opbou na Saterdag se groot stryd.
Die afgelope week se euforie ná die Engelse oorwinning oor Frankryk (“Drop of Gold” was die opskrif van een storie oor Wilkinson se skepdoel in beseringstyd) is nou besig om plek te maak vir ’n meer nugtere ontleding van die Engelse kanse.
Soos die horlosie meedoënloos die sekondes aftik na Saterdagmiddag se afskop in Parys begin die besef ook posvat dat die man wat teen jagluiperds resies hardloop nie die enigste Suid-Afrikaner is wat kan verhoed dat Brian Ashton tot ridder geslaan word nie.
Lui die name Victor Matfield en Bakkies Botha ’n klokkie, mnr. Ashton?
Die Daily Mail noem hulle gister die “beste lynstaankombinasie in rugby” en wonder of die Engelse slot Ben Kay genoeg skietgoed het hom hulle te troef.
Volgens dié koerant het Kay tydens die vorige toernooi geleer om in Afrikaans te tel om hom te help om die Bokke se lynstaankodes in die kwarteindstryd te ontsyfer.
Die mees pynlike brokkie vir ’n Suid-Afrikaner is die feit dat groot Ben nie eers nodig gehad het om tot tien te leer tel nie. Rudolf Straueli se Bokspan se kodes was so eenvoudig, as jy tot vyf kon tel het jy genoeg geweet, sê Kay.
Volgens die koerant het “Codebreaker Kay” egter dié keer ’n probleem. Die Bokspan van 2007 is baie meer uitgeslape en hul kodes is aansienlik meer ingewikkeld.
Maar belangriker nog: Die Bloemfonteinse meisie Sherylle Calder, wat destyds die Engelse se visuele vaardigheids-afrigter was en Kay geleer het om in Afrikaans te tel, werk nou vir die Bokke.
Nie dat Matfield en Botha reuse voordeel behoort te trek uit die feit dat Calder nou in die Bokkamp is nie. Blykbaar kon een van die twee reeds vóór die toernooi in Engels tel…
  • Hierdie rubriek het die eerste keer in Beeld en Die Burger verskyn op 18 Oktober 2007.

No comments: