21 October 2007

Die Strate was Groen - Reënbooggroen


Die plan was om te gaan rugby kyk in die lêplek van die leeu – reg in die middel van die Britse hoofstad.
Maar wat veronderstel was om ’n aand van vrees en bewing te wees terwyl ek sit en naelskou omring deur groot manne wat my met roostakke slaan elke keer as Jonny Wilkinson aan die bal vat, het ontaard in ’n reuse partytjie met honderde Suid-Afrikaners wat in Londen se strate dans.
Ek is jammer. Ek het my plig versaak. Ek sou graag wou berig oor uitgegroeide Engelsmanne wat op straathoeke sit en huil, maar ek kan nie. Ek is seker êrens sit daar op hierdie oomblik ’n Engelsman in ’n wit trui en grens, maar ek kan hom nie kry nie.
Die tekens van ’n Engelse nederlaag was laatmiddag reeds duidelik, maar toe was die meeste van ons só senuweeagtig, ons het dit nie eers raakgesien nie.
Eers was daar die groepies Engelse wat sukkel-sukkel en baie vals probeer om hul soete strydwa aan die swaai te kry.
Maar meer nog: Trafalgarplein, die plek waar die Engelse eeu lank reeds bymekaarkom om fees te vier, was verlate. Geen groot skerm om die wedstryd op te kyk nie. Geen planne vir uitbundige vreugdesvieringe wat tot vroegdag toe aanhou nie. Dis asof die Londense stadsvaders lánk voor die tyd reeds geweet het dat daar niks sou wees om te vier nie.
Dit beteken egter nie dat Londen Saterdagaand in sak en as was nie.
Allermins.
Van waar op die oomblik sit, op die stoep van ’n vriendelike pasta-restaurant in Londen se weseinde, kon ek net groen sien. Nee wag, dis nie waar nie. Dis oorwegend groen, met ’n titseltjie reënboog .
Die klankbaan: Nkosi, afgewissel met Shosoloza en natuurlik die alomteenwoordige olé, olé. En is dit Leon Schuster wat ek daar in die verte hoor?
Van vroegaand reeds was dit duidelik dat die Bok Bar in Bedfordstraat nooit in der ewigheid genoeg plek (of koue Castles) gaan hê vir die honderde Suid-Afrikaners wat die wedstryd daar wou kom kyk nie.
En die eindfluitjie het skaars geblaas of dié hele Londen se Suid-Afrikaners het hierheen gestroom om in die strate te kom feesvier.
Maar terug by die Engelse. Waar kan hulle wees?
Vrydagaand was daar nog een in Trafalgarplein – of so is my vertel.
Op die mees veradderlike wyse het die owerhede na donker ’n beeld van Jonny Wilkinson op Suid-Afrika Huis geprojekteer, maar selfs dié het gedurende die nag verdwyn.
Teen Saterdagaand was Jonny nie meer daar nie – die Rose se laaste wapen het soos mis voor Londen se herfsonnetjie verdwyn.
En Londen se strate was groen. Reënboog groen.

1 comment:

Boer said...

Ek dink die diaspora het reg oor die wereld gevier. Van Londen tot Baghdad, tot Nieu Delhi tot die VSA, Korea, Japan, Taiwan, Australie, NZ, Kanada ens. ens. Maar ek kan dink dat die gevoel in Londen (synde dat ons teen die bleekbene gewen het) ekstra lekker was!

http://boerinballingskap.wordpress.com