16 September 2007

Stede is vir Standbeelde


Ek staan gereeld verwonderd oor die mense wat die Britte kies om met standbeelde te vereer.
’n Toer van Londen se standbeelde is ’n blitskursus in Britse geskiedenis.
Toegegee, dis ’n taamlike lukrake en deurmekaar kursus, maar dis ’n opvoeding nietemin. En dikwels is dit ’n prikkel vir verdere lees wat jou op veel meer interessante paaie lei.
Een van my gunsteling Londense standbeelde is dié van Boudicca en haar twee dogters op hulle strydwa langs die Teems, reg oorkant die straat van Big Ben.
Ma en dogters word effens ontsier deur die stalletjie van ’n straatverkoper wat Londen-snuisterye aan toeriste verkoop en dis ’n erge gesukkel om die inskripsie op die voetstuk te lees tussen lawwe Union Jack-hoedens en die versameling onsmaaklike “ek-was‑stormdronk-in-Londen” T-hemde. (Wie het gesê Europa is die bakermat van hogere kultuur?)
Boudicca was die koningin van die Iceni, ’n Keltiese stam in die suid-ooste van Engeland in Romeinse tye.
Die geskiedenis leer dat die Romeine Boudicca en haar dogters taamlik onridderlik behandel het ná haar man se dood en dat dit haar só ontstel het dat sy en haar onderdane hulle op die Romeine gewreek het deur die stad Londinium in 61 n.C. tot op die grond af te brand.
Dit is vir my ’n bron van eindelose fassinasie dat moderne Londenaars besluit om dié omgekrapte vroumens met ’n standbeeld te vereer – iemand wat hulle stad só deeglik verwoes het dat historici dié gebeurtenis 2000 jaar later nog kan identifiseer deur die dun strepie as en roet wat dit in die argeologiese rekord gelaat het.
Miskien het dit te doen met die Britte se beheptheid met oorlog, want met die uitsondering van politieke leiers en konings is daar niks wat Britse beeldhouers gouer na hul beitels laat gryp as konflik nie.
Om deur Londen te stap is om te waad deur die bloed van ontelbare konflikte.
Waterloo, Mons, die Punjab, Afghanistan (en die monument vir die huidige konflik moet nog kom!), Sebastopol, El Alamein, Burma, Trafalgar – ’n mens kan nie begin om jou in te dink aan die hoeveelheid trane wat oor die eeue heen deur Britse moeders gestort is na aanleiding van gebeure in dié veraf uithoeke van die aarde nie.
Teen die tyd dat jy by die eenvoudige en strak senotaaf in die middel van Whitehall aankom, kan jy nie help om wrang en sinies te glimlag oor die woorde “the glorious dead” wat op dié steen gebeitel is nie.
(Vir ware patos verkies ek die graf van die onbekende soldaat in Westminster Abdy. Ek kan nie help om ’n knop in my keel te kry as ek daar staan nie. Sy liggaam onherkenbaar vermink tydens die Eerste Wêreldoorlog, tog lê sy beendere begrawe saam met die “most illustrious in the land” – mense soos Isaac Newton, Charles Dickens, David Livingstone en Elizabeth I.)
Maar my benadering tot die stad se standbeelde is natuurlik heeltemal té rasioneel.
Die meerderheid Londenaars het geen idee dat die kanon wat gestorwe artilleriste op Hyde Park Corner gedenk in die rigting van Vlaandere wys nie.
En weet enigeen wie genl-maj. Henry Havelock was en waarom hy ’n ereplek langs Horatio Nelson op Trafalgarplein beklee?
Maak dit saak as Londense verpleegsters nie weet waar die standbeeld van Florence Nightingale staan nie? Gee die toeriste om dat hulle geen idee het wie die man is voor wie se lelike bakkies hulle vir foto’s poseer nie?
Glad nie.
Dis natuurlik nie orals in die wêreld die geval nie. In dele van oos-Europa en ook in ons eie land glo baie mense dat ’n standbeeld slegs een van twee dinge kan wees: óf objekte van vurige patriotisme en die vergaderplek van jingoïstiese hordes, óf die simbool van ’n onderdrukkende regime wat ten alle koste omgetrek en vernietig moet word.
Hulle wat só dink, verstaan nie standbeelde nie.
Standbeelde herdenk nie net die groot momente en gebeure van ons kollektiewe verlede nie. Hulle herinner ook aan gevalle helde, aan hulle wat eens groot was, maar op wie die geskiedenis die rug gedraai het en wie se naam niemand vandag meer kan onthou nie.
Hulle versier én ontsier die stedelike landskap (en albei is nodig!) Hulle is rigtingwysers – figuurlik gesproke, maar ook letterlik. (“Draai regs by die beeld van die nors ou man.”)
En hulle hoef nie altyd grandioos te wees om te oorweldig en te ontroer nie.
So waarom, wonder ek, het Suid-Afrikaanse stede nie meer van hulle nie?


  • Die rubriek is die eerste keer in Rapport gepubliseer op 16 September 2007.

No comments: