05 August 2007

Red ons van ’n staat wat net wil torring

Daar gaan skaars ’n week verby dat ’n Britse koerant of kommentator nie kla oor die “nanny state” nie – die regering se hunkering om elke liewe aspek van die individu se lewe te reguleer deur ’n magdom wette en reëls.
Gewoonlik kla hulle met goeie rede, want dié land het reëls en regulasies vir absoluut alles en daar is geen uithoek van die eiland waar jy kan ontsnap van stipulasies wat jou óf verbied om te doen wat jy graag wou doen óf opdrag gee om te doen waarvoor jy nie lus is nie.
Onlangs was daar byvoorbeeld voorstelle dat alle créches en bewaarskole op gereelde basis moet verslag doen oor die vordering van die baba’s en kleuters in hul sorg. Alle kinders onder vyf moet beoordeel word na gelang van die geluidjies wat hulle maak en die tipe speletjies wat hulle speel ­– regulasies net ontwerp om staatsamptenare iets te gee om te monitor.
In antwoord op ’n epidemie van oorgewig kinders speel die Britse regering met die idee van ouerskapklasse waar ouers geleer gaan word om vir hulle kinders gesond te kook.
Die patroon is altyd dieselfde: ’n Sosiale probleem is skaars geïdentifiseer of die staat staan reg met ’n handvol reëls en regulasies “wat die probleem sal aanspreek”.
Nooit is daar enige sprake dat landsburgers ook persoonlike verantwoordelikheid vir hul eie probleme moet aanvaar nie.
Die gevolg hiervan is ’n samelewing wat al hoe minder daartoe in staat is om vir hulself te dink en na hulself om te sien. Waarom sal ek as die staat alles vir my doen?
Die onlangse vloede in die weste van Engeland het hierdie punt pragtig geïllustreer.
Terwyl ek ’n week of so gelede na die televisiebeelde van die oorstromings sit en kyk val dit my op hoe onnosel die Engelse bestuur.
Telkemale is daar beeldmateriaal van een of ander sot agter die stuur van ’n belaglike klein motortjie wat deur ’n dam water dieper as heuphoogte probeer jaag terwyl ’n tsunami besig is om sy enjinkap te oorweldig.
Die voor die handliggende verklaring is natuurlik dat die arme swaap nie besef dat motorenjins nie gemaak is om onder water te loop nie – veral nie as die watervlak rondom die luginlaat begin klots nie.
Maar daar is ’n belangriker rede: Niemand het hom gewaarsku om dit nie te doen nie. Want sien, omdat jy gewoond is dat die staat altyd alle gevare duidelik delinieer is dit net redelik van jou om te verwag dat die plaaslike polisiehoof een van sy konstabels opdrag sou gee om jou te kom waarsku as dit té gevaarlik sal wees om deur die diep water te ry.
Of soos een man teenoor ’n televisieverslaggewer gekla het: “Dis chaos. Hulle moes ons gewaarsku het.”
Reddingswerkers wat hulp verleen het tydens die vloede vertel verhale van hoeveel beter die ouer geslag die ramp gehanteer het.
Een vertel tydens ’n radio-onderhoud van ’n bejaarde tannie wat hom verseker het dat alles in orde is terwyl sy net ’n halwe kastrol skoon water in die huis het – dit terwyl ’n jong vrou histeries tekere gaan omdat sy nie ’n dag lank kan oorleef op die bottels en bottels gesuiwerde water wat die regering uitgedeel het nie.
Nog ’n voorbeeld, hierdie keer ’n bietjie nader aan die huis: ’n Week gelede val my twee-jarige seun sy oogbank oop – ’n bloederige affêre, soos die meeste ouers sekerlik weet.
Met die wond gewas en ontsmet is dit egter gou duidelik dat dit ’n klein snytjie is wat niks meer as ’n bietjie Dettol-water en ’n pleister nodig het nie en teen die tyd dat die trane opgedroog het is die bloed gestop en die voorval vergete.
’n Dag later neem my vrou hom dokter toe (vir ’n onverwante kwaal) en terwyl sy daar is vra sy die dokter om sommer te kyk of alles wel is met die “kopwond”.
Sy vertel later dat die dokter heeltemal verstom was oor die tuisbehandeling.
Sy is onmiddelik toegegooi onder die vrae: “Wie het die wond versorg?”, “Is hy opgelei om dit te doen?” Een van sy kollegas moes terstond kom kyk na dié wonderwerk.
Die rede vir sy verstommenis word gou duidelik: Dokters in Engeland is nie meer gewoond daaraan dat ouers hul kinders se wonde self verpleeg nie.
Wonde soos dié (ja, selfs al is die snytjie beswaarlik vyf millimeter lank) eindig gewoonlik in ’n hospitaal-eenheid spesiaal vir “kleiner noodgevalle”.
Wat my laat dink: Om te kla dat die “nanny state” alewig aan jou torring is een ding.
Maar dan moet jy darem nie só hopeloos wees dat dit die staat geen ander keuse laat as om jou teen jouself te beskerm nie.
  • Hierdie rubriek is die eerste keer gepubliseer in Rapport op 5 Augustus 2007.

No comments: