08 July 2007

’n Staatsdiens vir die mense – wat ’n Bybelse gedagte!

Kort voordat ek na Londen gekom het, loop ek my liederlik vas by die departement van binnelandse sake.
Dis ’n verhaal oorbekend aan baie mense wat die afgelope paar jaar ’n paspoort nodig gehad het.
Tyd is min en jy daag by binnelandse sake op om jou paspoort, waarvoor jy maande gelede reeds aansoek gedoen het, te kollekteer.
’n Amptenaar krap lui-lui in ’n laai rond en bring jou oorspronklike aansoekvorm met die fototjie steeds vasgespeld te voorskyn met die woorde: “There’s a problem...”
Eish. Daar is inderdaad ’n moerse probleem.
In my geval het die hele sage ’n gelukkige einde. ’n Kollega gee my die naam van ’n vrou in binnelandse sake se Pretoria-kantoor wat met ’n simpatieke oor na my probleem luister en binne ’n paar dae daag my paspoort op.
Uit vrees dat ek haar in die verleentheid sal stel (watter vreemde wêreld as jy bang is dat jy iemand in verleentheid gaan stel deur haar te prys?) sal ek bloot na haar as mevrou B verwys.
Ek dink die afgelope tyd nogal baie aan mevrou B.
Britse politieke geskiedenis, veral gedurende die afgelope 300 jaar, is een van ’n voortdurende stryd om die staatsdiens meer effektief en minder korrup te maak en te omvorm in ’n produk wat presies doen wat dit op die pakkie beloof: ’n diens aan die mense.
Geen wonder daarom dat ’n loopbaan in die Britse staatsdiens vir baie dekades reeds gesien word as ’n eerbare beroep wat van die land se beste en mees energieke jongmense lok nie.
Die doodsberigte in Engelse koerante van ontslape staatsdiensamptenare onderstreep dié feit pragtig.
Neem byvoorbeeld die geval van Frank Langfield, wat verlede maand op 92-jarige leeftyd oorlede is.
Langfield het vir amper ’n halfeeu vir die Royal Mail gewerk (in die jare toe dit nog ’n staatsinstelling was) en gevorder van bode tot hoof van die televisielisensie-afdeling.
The Times onthou hom veral as die man wat in die 1950s verantwoordelikheid aanvaar het vir die produksie van posseëls en gou besef het dat daar ’n diens nodig was om die navrae van seëlversamelaars te hanteer.
Dan volg die mooi sinnetjie: “Terwyl hy in dié pos was het hy die Philatelic Bulletin, die Royal Mail se tydskrif vir seëlversamelaars, begin en was selfs vir ’n kort tydjie die redakteur daarvan – ten spyte van die feit dat hy nie self in seëls geïnteresseerd was nie.”
Dis amper ’n Bybelse gedagte, is dit nie? Om ’n diens te lewer – nie omdat jy daarin belangstel of omdat jy baie geld kan maak nie – maar bloot omdat dit is wat die publiek van jou verlang.
Nog ’n wonderlike eienskap van die Britse staatsdiens word geïllustreer in die lewe van Wilfred Hyde, wat in Januarie vanjaar oorlede is.
In ’n loopbaan van amper 40 jaar het hy in verskeie departemente gedien, maar “het nooit gekonformeer tot enige stereotipe van die staatsdiens mandaryn nie en altyd sy eie identiteit en onafhanklikheid behou”, aldus sy doodsberig in The Times in Maart vanjaar.
Om as senior amptenaar jou eie identiteit en onafhanklikheid (om van jou werk nie eers te praat nie!) onder verskeie regerings (van Winston Churchill tot John Major) te behou, is nie net ’n veer in die hoed van Hyde self nie, maar ook sprekend van die Britse staatsdiens.
Dis ’n omgewing waar ’n amptenaar in Whitehall meer is as ’n blote verlenging van hul politieke meesters.
Hoe verfrissend anders as ons eie stelsel waar die staatsdiens só verpolitiseer word dat daar uiteindelik bitter min onderskeid tussen ’n minister en sy amptenare is.
Dis ’n sondige gewoonte wat amper 60 jaar gelede onder die Nasionale Party posgevat het en ongelukkig in baie gevalle deur ons huidige regeerders tot absurde vlakke gevoer is. (Of wat praat ek alles mnre. Selebi en Nqakula?)
Die gevolg is dat daar van hierdie filosofie van ’n onafhanklike amptenary wat daarop ingestel is om ’n diens te lewer, ’n konsep wat ons van ons Bitse koloniale heersers ná afloop van die Boere-oorlog geërf het, bitter min oorgebly het.
Dank die hemel dus vir mense soos mevrou B wat haar werk as civil servant (die Engels beskryf dit soveel beter) nog ernstig opneem.
Ons wens net daar was meer soos jy.
  • Hierdie rubriek is die eerste gepubliseer in Rapport op 8 Julie 2007.

No comments: