30 July 2007

Die Teems is meer as net 'n rivier


Daar is party uitdagings waarvoor ’n mens moeilik nee sê.

’n Uitnodiging om die grootste gedeelte van die Teemsrivier se 330 km-lange kronkelpad na die see in ’n kano aan te pak is een van hulle.

Om die Teems te verken is ook ’n geleentheid om Engeland beter te verstaan en om die verband tussen Londen en sy hinterland te ondersoek deur dít te verken wat stad en platteland in gemeen het – die rivier.

Ons groep (almal lede van die Richmond Kanoklub in die weste van Londen) se avontuur het begin in Lechlade, ’n klein dorpie 70 km noordoos van Bristol:

Dag 1: Lechlade

Die oorsprong van die Teems hou reeds vir eeue ’n bekoring in.

In 1592 bring Koningin Elizabeth I besoek aan Cirencester, net noord van Lechlade, en volgens oorlewering dring sy daarop aan om stroom-op gedra te word om self “the very first trickle of my fine Thames” te kan gadeslaan.

Hierdie “very first trickle” lê ten minste 20 km stroom-op van Lechlade, maar omdat dit nie heelpad gerieflik begaanbaar vir kano’s is nie, besluit ons op dié dorpie as ’n gerieflike beginpunt.

Ons sit ons bote in die water onder ’n mooi ou boogbrug wat onder plaaslike inwoners as die Ha’penny Bridge bekendstaan. Hier, by Lechlade, is daar al sedert die 13de eeu ’n brug oor die rivier. Moeilik om klein te kry vir iemand wat van ’n land kom waar iets wat in die 1800’s gebou is, as “oud” beskryf word...

Naby Swinford

Die naam van die Teems is blykbaar afgelei van die Sanskrit Tamas wat “donkerte” beteken – ’n naam wat aan die rivier gegee is omdat dit so anders lyk as die helder, kabbelende kalkstroompies waarvoor die suide van Engeland so bekend is.

Hier is die Teems egter alles behalwe donker en onheilspellend. Die water is glashelder en so af en toe is daar ’n gaping tussen die bome en riete en kan ’n mens die Cotswold-heuwels in die verte sien.

Dag 2: Oxford

’n Uur of wat se roei van ons kampplek by Eynsham-sluis word die rivier skielik breër en oper en sien ons die beroemde torings van Oxford vir die eerste keer in die verte.

Hier rond staan die Teems bekend as die Isis, maar die Teems historikus, Peter Chaplin, skryf dié gebruik is niks meer as ’n “intellektuele affektasie” nie, omdat die hele rivier al sedert die eerste millenium af as die Teems bekend staan.

Hiermee is my Engelse roeimaats dit roerend eens, behalwe dat hulle eie beskrywing van die Oxford akademici se affektasies veel minder aan die verbeelding oorlaat...

Iffley Sluis

Sowat 4km stroom-af van Oxford is die Iffley-sluis. In 1635 is een van die eerste “moderne” Hollandse dubbele sluise in die Teems hier by Iffley gebou, ’n ontwikkeling wat rivierbote in staat gestel het om baie makliker en vinniger tussen hoër- en laerliggende dele van die rivier te navigeer.

Sedertdien is die hele lengte van die Teems só makgemaak en op ons tog navigeer ons sowat 50 sluise tussen Londen en Lechlade.

Dag 3: Rondom Reading

Dit is opmerklik hoe die rivierverkeer toeneem hoe nader ons aan Londen kom.

Die uitbreiding van die spoorweë in die 19de eeu het gaandeweg die vervoer van goedere per boot onnodig gemaak en teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog was daar haas geen barg of trekskuit op die land se waterweë oor nie.

Die gewildheid van bootvakansies op hierdie trekskuite of “narrow boats” het egter alles verander en British Waterways reken dat daar vandag meer verkeer op Engelse riviere en kanale is as tydens die hoogtepunt van die industriële revolusie.

Dag 4: Henley

In die omgewing van Henley open die hemelse sluise – asof ons nie reeds nat genoeg is ná drie dae op die water nie. Oor ’n dag of twee begin die beroemde Royal Regatta by Henley en die twee kilometer-lange roeibane is reeds netjies uitgemerk.

Roei was vir baie lank ’n aktiwiteit vir die werkersklas en het eers in die 19de eeu onder die Engelse aristokrasie gewild geword as sport.

Om “resies te roei” was natuurlik nie goed genoeg vir die verfynde Victoriane nie – vandaar die gebruik van die Venesiese “regatta”, ’n woord wat vandag sinoniem is met die Teems.

Dag 5: Runnymede

Onthou nou: ’n Resies op die Teems is ’n regatta en ’n eiland ’n “eyot”.

En van al die honderde eilande in die Teems is geen só spesiaal soos Runnymede nie.

Dis hier waar die Engelse Koning John in Junie 1215 die Magna Carta onderteken het – die dokument wat elke Engelsman se gelykheid voor die reg waarborg.

Die Magna Carta bepaal egter nie net die verhouding tussen monarg en onderdane nie. ’n Hele paar van die 63 klousules spreek ook water- en rivierregte aan – soos klousule 33 wat bepaal dat riviere skoon gehou moet word van visvywers om navigasie te vergemaklik!

Dag 6: Teddington Sluis

Teddington is waar die varswater-Teems die gety-rivier ontmoet. Ons is dus uiteindelik in Londen – ’n stad só sinoniem met die Teems dat ’n mens jou skaars dié rivier onafhanklik van Londen kan voorstel.

Na ses dae se roei besef ’n mens egter hoeveel méér van dié rivier daar werklik is…

No comments: