19 March 2007

Was hy ’n dwaas, kon ons hom nog vergewe…


Hy was die goue seun van die politiek.

Gesalf as die man om sy land die nuwe millenium in te lei. Iemand wat nie net sy eie mense kon inspireer met sy visie vir die toekoms nie, maar ook internasionaal sy stempel as staatsman kon afdruk.

Maar dit was baie lank gelede.

Deesdae sukkel hy om sy gefragmenteerde party bymekaar te hou en dit is húlle – sy eie partygenote – wat hom op ’n daaglikse basis meer skade doen as enige van sy politieke teenstanders ooit kan hoop om te doen. ’n Onbetaamlike gekibbel oor wie hom as leier moet opvolg is verder besig om sy gesag te ondermyn.

En asof dít alles nie genoeg is nie, sirkel daar deesdae ook ’n paar aasvoëls in die gedaante van polisie-speurders bo sy kantoor. Hulle is besig met ’n korrupsie-ondersoek en in die media word gespekuleer dat die stinkende spoor uiteindelik tot voor sy deur sal lei.

Geen wonder dat Die Leier deesdae altyd afgemat en moeg lyk as hy op televisie verskyn nie en dat hy soveel ouer en gryser lyk as op die koerantfoto’s van tien jaar gelede…

Dit klink bekend nie waar nie?

Maar as jy dink ek is besig om die Suid-Afrikaanse president, Thabo Mbeki, te beskryf, is jy besig om jou eie Afro-pessimistiese vooroordele te verklap.

Die prentjie hierbo is een wat die joernalis en politieke biograaf Michael Cockerell van Tony Blair skets in ’n uitstekende dokumentêre reeks wat pas deur die BBC uitgesaai is.

Cockerell weerstaan die versoeking om net te konsentreer op die rampspoedige aspekte van Blair se bewind – veral in dié laaste paar jaar.

Tonele van Britse kiesers, dol van ekstase ná Blair se oorwinning in die verkiesing van 1997, en sy inspirende toesprake van destyds het my laat terugdink aan ons eie president se oomblikke van glorie.

Want net soos die Tory-leier David Cameron van Blair gesê het, kan ’n mens ook van Mbeki sê: “He was the future, once.”

Wie onthou nog sy “I am an African”-toespraak in 1996? Wie kan eerlik sê dat hulle nie geïnspireer was deur dié woorde nie?

“I owe my being to the hills and the valleys, the mountains and the glades, the rivers, the deserts, the trees, the flowers, the seas and the ever-changing seasons that define the face of our native land.”

Wie kon uitgesluit voel toe hy ’n Afrikaan beskryf het as, onder meer, die “kleinkind wat vars blomme op Boere-grafte op St Helena lê en in (haar) geestesoog die swaarkry van eenvoudige mense in konsentrasie kampe sien – hulle huise vernietig, hulle drome aan skerwe”?

Tien jaar later is beide Blair en Mbeki se politieke kapitaal uitgeput.

Mbeki se visioenêre idee was ’n Afrika-renaissance. Blair s’n was wêreldvrede.

Binne die eerste maand van sy premierskap maak Blair ’n beroemde toespraak waarin hy sê dat die huidige generasie Britte die eerste kan wees wat nooit ’n enkele soldaat oorlog toe stuur nie.

Tien jaar later is sy jammerlike erflating die meer as 130 Britse soldate – almal die seuns van “sy generasie” – wat die afgelope paar jaar in Irak gesterf het.

Mbeki se droom van ’n Afrika Renaissance het skipbreuk gely lank voordat sy bootjie op die stormwaters van Burundi, die Kongo of Sudan aangekom het.

Dit lê gestrand, hoog en droog, op die noordelike oewer van die Limpopo terwyl die diktator en folteraar Robert Mugabe homself verlustig in sy suidelike buurman se verleentheid in die oë van die wêreld.

In die BBC-dokumentêr vra Cockerell die afgetrede koerantredakteur Max Hastings watter oordeel toekomstige generasies oor die Blair-jare gaan uitspreek.

Hastings antwoord: “I think in many ways history will judge Tony Blair’s premiership as a tragedy, because if he was a man of no substance, if he was a fool, if he was an inadequate as John Major was, then you’d shrug you shoulders and say: So what? But Blair was and is a man of the highest gifts whose premiership started with the highest hopes.”

Is dit nie presies waarop die presidentskap van Mbeki afstuur nie? Iemand met só baie om te bied, geruïneer deur omstandighede en ’n tragies defek in sy karakter – sy onvermoë om warmte en gemoedelikheid uit te straal.

As hy ’n dwaas was, kon ons ons skouers optrek en sê: so what…

  • Hierdie rubriek het die eerste keer in Rapport verskyn op 18 Maart 2007.

No comments: