30 April 2007

Hoe meer haas hoe minder prins


Tot onlangs was ek salig onder die indruk dat die Engelse klassestelsel nie meer bestaan nie.

Ek het gedink daardie oorlog is 20 jaar gelede al gewen toe Margaret Thatcher die houvas wat die vakbonde op die Britse ekonomie gehad het, op brutale wyse gebreek het.

Die paar bloedspatsels wat ná Thatcher van die Britse werkersklas oorgebly het, is in die Blair-jare finaal en op die mees vernederende manier ontsmet: Deur die kinders van vakbondlede te transformeer in siellose middelklas klone wat almal hulle klere by Marks & Spencer, die Britse weergawe van Woolworths, koop. (Ja, dis reg. Tony Blair se party mag miskien die Arbeidersparty heet, maar hulle is so min ’n party van die werkers soos wat die koningin haar eie klere was.)

My geloof dat die klassestelsel in Engeland nog net in naam bestaan, is verder versterk toe ek ’n paar weke gelede na ’n Statebondsfunksie uitgenooi is waar die koningin ook haar opwagting gemaak het.

Terwyl die ou lady (sy lyk nog heel hups vir haar 80 jaar) deur die saal vol mense beweeg, het dit my opgeval hoe doodgewoon die hele geleentheid eintlik is. Niemand het oor hul voete geval van oormatige onderdanigheid nie – dit was presies dieselfde soos wat dit vir enige verkose staatshoof sou wees.

En toe die Britse Laerhuis kort daarna met ’n reuse meerderheid ’n mosie aanvaar dat die onverkose adelikes in die House of Lords vervang moet word met ’n demokratiese liggaam, was die argument, wat my betref, gewonne. In Brittanje is daar net een stand: die sosiale klas waarna politieke analiste deesdae verwys as “middel-Engeland”.

Maar dit was in die salige dae voordat die Britse troonopvolger, Prins William, sy meisie van die afgelope paar jaar, Kate Middleton, laat staan het…

Gereelde lesers van Rapport se bladsy drie sal onthou dat me. Middleton ’n “doodgewone” middelklasmeisie is wie se ouers hul miljoene gemaak het deur papierhoedjies en balonne vir kinderpartytjies te verkoop. Net nóg ’n bewys dat die tradisonele skeiding tussen hoër- en middelklas nie meer bestaan nie.

Maar skaars was die ink op William se afsêbriefie droog of alle teorieë van ’n egalitêre samelewing het by die deur uitgevlieg en Brittanje is weer terug in Edwardiaanse tye.

Volgens die Britse koerante is Carole Middleton, Kate se ma, hiervoor te blameer.

Die probleem is dat Carole Middleton nie ordentlike Engels kan praat nie.

Mev. Middleton, ’n voormalige lugwaardin en ’n afstammeling van Walliese steenkoolmyners (is dit nie verbasend wat die koerante alles van ’n mens kan uitvind nie!) is, soos ons in Suid-Afrika sou sê, ’n bietjie kommin.

Toe sy destyds vir die eerste keer aan die koningin voorgestel is, het sy byvoorbeeld gesê “please to meet you”, in plaas van “how do you do?”. Toe sy “ekskuus” wou sê het “pardon” uitgeglip in plaas van “what?” en toe sy haar neus wou gaan poeier, wou sy weet waar die toilet was, in plaas daarvan om te vra vir die “lavatory”.

Carole kon natuurlik hierdie ongelooflike vernedering gespaar gebly het deur ’n dun blou boekie – as te ware ’n handleiding hoe om jou te gedra in uitgelese geselskap – wat reeds in 1956 gepubliseer is, in die hande te kry.

Hoewel Nancy Mitford se Noblesse Oblige lankal uit druk is, kan ’n mens dit nog by die meeste Engelse biblioteke kry – die gawe bibliotekaresse in Chelsea het hierdie week hulle kopie vir my uit hul ondergrondse stoorkamer gaan opdiep.

Hierin poog Mitford en haar mede-skrywers om die “identifiable characteristics of the English Aristocracy” neer te pen. Nodeloos om te sê is dit vreeslik prettige leestof.

Volgens die boek is dit relatief maklik om U (vir “upper-class”) en non-U persone te identifiseer.

As jy U is, is jy “rich”, eerder as “wealthy”. Non-U’s eet “greens” terwyl U’s “vegetables” geniet; non-U’s bly in ’n “home”, U’s in ’n “house” en non-U’s het “dentures” terwyl U’s se “false teeth” in ’n glas langs hul bed grinnik.

Oormatige haas is, volgens Mitford, ’n tipiese eienskap van die non-U. Daarom praat hulle so graag op die telefoon terwyl U’s eerder ’n brief skryf.

Verder is stilte die enigste opgevoede reaksie in baie moderne situasies. Bly dus liewer stil as iemand op luidrugtige wyse “gesondheid” sê voordat hy ’n drankie drink.

Volgens die Engelse pers was die feit dat Kate en haar familie soos seer vingers as non-U’s uitgestaan het, die rede dat die prins die verhouding verbreek het.

Al die stories neem ek met ’n reuse knippie sout – dis immers dieselfde koerante wat voor Kersfees gesweer het dat die tweetjies voor die Nuwejaar verloof gaan raak.

Maar miskien is ek tog verkeerd.

Sedertdien lees ek ook van jong meisies soos Rosanah Innes-Ker en Isabella Anstruther-Gough-Calthorpe (’n U-naam as jy al ooit een gehoor het!) wat in die prins se geselskap uithang en ek wonder.

Met name soos dié is daar miskien tóg mense wat steeds nie hul klere by Marks & Spencer koop nie…

  • Die rubriek het die eerste keer op 29 April 2007 in Rapport verskyn.

No comments: