02 April 2007

Behou diebalans met tradisie


Daar was ’n tyd toe dit die gebruik was by baie (veral Afrikaanse) universiteite om eerstejaar-studente fisies aan te rand in die naam van “doop” of sy eufemistiese alternatief, ontgroening.

Die refrein van die voorstanders van dié onnodig bruusk en gevaarlike inlywingspraktyke was destyds altyd dieselfde: Dit is tradisie in ons koshuis om dinge só te doen, selfs al het dié wat daaraan blootgestel was geen keuse of hulle daaraan wil deelneem of nie.

Die afgelope paar weke word ek gereeld hier in Londen aan dié vreemde tradisies van destyds (ek hoop van harte dis iets van die verlede!) herinner.

Vir baie mense is tradise amper sinoniem met die Engelse. Meer so as baie ander nasies het hulle die kuns vervolmaak om tradisie te gebruik om te verlei en te betower.

Hulle laat my onwillekeurig dink aan die Joodse gemeenskap van Anatevka, die Russiese dorpie of shtetl wat uitgebeeld word in die musiekblyspel Fiddler on the Roof.

Soos die mense van Anatevka, het die Engelse tradisies vir alles – vir eet, vir aantrek, vir parlementsopeninge en selfs vir oorlog maak.

Daar word dikwels gesê dat die Engelse hulle tradisies jaloers bewaar en nie sommer daaraan laat torring nie. Dit gaan hand aan hand met die satiriese beeld van die Engelsman as iemand wat verseg om te erken dat daar ’n beter, makliker of meer moderne manier is van dinge doen.

Dié beeld is effens onregverdig.

Die afgelope tyd is daar byvoorbeeld ongelooflike druk om die Britse parlement se hoër huis, die House of Lords, te hervorm.

Die rede hiervoor is dat die House of Lords ’n onverkose liggaam is – ’n tradisie wat oor honderde jare terugstrek. Lede, of “lords”, kom tradisioneel uit die adelstand, maar deesdae word die oorgrote meerderheid lords deur die koningin aangestel op aanbeveling van die eerste minister.

Soos ontgroening aan Suid-Afrikaanse universiteite, is ’n onverkose hoër huis ’n anomalie in ’n moderne samelewing, ’n tradisie waarsonder die Britte kan klaarkom. Baie Britte sien dit só en ’n paar weke gelede het die Britse Laerhuis oorweldigend gestem ten gunste van ’n ten volle verkose House of Lords.

Ten spyte hiervan is ek bereid om die laaste pond in my beursie te verwed dat die Engelse nog vir baie lank gaan pieker en tob en debatteer oor die toekoms van die House of Lords. Want pieker en tob, meer as enigiets anders, is hul tradisie.

Dié nimmereindigende debatte vóórdat enige verandering in Brittanje plaasvind, laat mens onwillekeurig reflekteer op ons Suid-Afrikaners se gesindheid teenoor verandering.

’n Mens kan Suid-Afrikaners van baie dinge beskuldig, maar vir verandering is ons beslis nie bang nie. Daar is waaragtig nie ’n instelling, in die private of openbare sfeer, wat nie vandag toetentaal anders daar uitsien as 15 jaar gelede nie. Met reg ook, want die meeste van dié instansies was nie geskik vir die nuwe Suid-Afrika wat ons destyds besig was om te bou nie.

Maar as ek die Engelse se versigtige en konserwatiewe benadering tot verandering gadeslaan, wonder ek of Suid-Afrikaners nie tog soms ’n bietjie voortvarend en oorywerig geword het om te vervang, uit te skop en te transformeer nie.

In Fiddler on the Roof is die vioolspeler op die dak ’n metafoor vir oorlewing – ’n riskante bestaan wat slegs moontlik gemaak word deur tradisie en blymoedigheid.

Tevye, die patriarg wat aanvanklik nie sy dogters wou toelaat om met die man van húl keuse te trou nie omdat dit nie die tradisionele ding is om te doen nie, verduidelik dit deur te sê dat almal eintlik ’n vioolspeler op ’n dak is:

Trying to scratch out a pleasant, simple tune

without breaking his neck.

Tevye sê dis natuurlik nie maklik nie:

Why, you may ask,

do we stay up there if its so dangerous?

Because it is our home.

And how do we keep our balance?

That, I can tell you, in one word:

Tradition.

En dit, wil dit vir my voorkom, is die uitdaging wat die Engelse oor baie eeue vervolmaak het. Om ’n samelewing versigtig voorwaarts te stuur deur gedurig uitgediende instansies en hul tradisies te vernuwe sonder om die gebou soveel te skud dat die vioolspelers op die dak hul balans verloor.

  • Hierdie rubriek het die eerste keer in Rapport verskyn op 1 April 2007.

No comments: