15 April 2007

As jy nie SEXY is nie moet jy snaaks wees

’n Mens sou hom beswaarlik beskryf as ’n tier op ’n gholfbaan, maar op sy eie onbehendige manier was Maurice Flitcroft tog een van die sport se grotes.

Al was dit net vir die manier waarop hy die gholf establishment ontmasker het as ’n stugge klomp ou ballies sonder enige waarneembare sin vir humor.

Flitcroft, wat drie weke gelede op 77-jarige leeftyd oorlede is, sal deur talle gholfaanhangers onthou word as die man wat die rekord hou vir die swakste telling nóg in ’n kwalifiserende rondte vir die Britse Ope – 121, ’n allemintige 49 oor baansyfer.

Dié het hy opgestel nadat hy in 1976, as ’n totale groentjie, vir ’n kwalifiserende rondte vir die Birkdale Ope ingeskryf het.

Omdat hy slegs ’n paar weke tevore sy eerste gholfstokke deur die pos bestel het, het hy nog nie ’n amateur-voorgee gehad om op sy inskrywingsvorm in te vul nie, toe kies hy maar die tweede opsie: professioneel.

Na afloop van sy rondte het hy sy vrot spel geblameer op die feit dat hy sy vier-hout in sy motor vergeet het. “Ek is ’n ekspert met die vier-hout,” het hy in alle erns verklaar. “Dodelik akkuraat.”

Die Royal and Ancient, die klub verantwoordelik vir alles wat met gholf te doen het, was siedend en het onmiddelik hul reëls aangepas om dit moeiliker te maak vir bedrieërs om die spel belaglik te maak.

Ten spyte hiervan het Flitcroft, ’n hyskraanoperateur van beroep, dit reggekry om nóg vier keer vir Ope-kwalifiseerders in te skryf. In 1978 het hy opgedaag onder die vals naam Gene Paycecki (soos in “pay check” het hy later verduidelik). Dit het net ’n paar putjies geneem voor die organiseerders besef het wat aangaan en hom van die baan geboender het.

In 1983 het hy weer probeer, hierdie keer met ’n vals snor en gekleurde hare en onder die naam “Gerald Hoppy”, ’n professionele speler van Switserland.

Ná nege putjies en met ’n telling van 63, het die gholfbase besef dat hulle “nog ’n Maurice Flitcroft” op hande het.

“Dink net hoe verbaas hulle was toe hulle besef dis die regte Maurice Flitcroft wat voor hulle staan,” het hy gespot.

Tot met sy dood verlede maand het die Royal & Ancient nooit vir Flitcroft vergewe vir die feit dat hy hulle tot gekke gemaak het in die oë van die wêreld nie.

Toe die Daily Telegraph se doodsberigskrywer die klub nader om kommentaar te lewer op sy afsterwe kon niemand daar eers hul weg oopsien om die dood van een van die sport se groot karakters te erken nie “omdat hy slegs in kwalifiserende rondtes gespeel het”.

Hierdie onvermoë van die Britte om net soms die stywe bolip so effentjies te ontspan en saam met die res van ons die absurditeite van die lewe te geniet, is iets wat my eindeloos amuseer.

Reader’s Digest het ’n paar jaar gelede ’n meningspeiling gedoen waarin die verskillende nasies in Europa gevra is wat hulle van ander Europeërs dink.

Volgens hulle mede-Europeërs is Duitsers byvoorbeeld baasspelerig en eiewys, en kry bitter min punte vir lieftalligheid. Die Britte, daarenteen, is glad nie sexy nie, maar word beskou as dié nasie met die beste sin vir humor.

Nou ja. Vertel dit vir Maurice Flitcroft.

Totdat ’n mens besef dat die stywe Engelse bolip en die legendariese Britse humor die teenoorgestelde kante van dieselfde munt is.

Kyk maar net hoeveel van die klassieke Engelse komediesketse van Monty Python, John Cleese se Fawlty Towers of Rowan Atkinson se Mr Bean skreeusnaaks is juis omdat dit die absurde in die Engelse se hoogs geregimenteerde samelewing uitbuit.

Sonder die taboes, inhibisies en belaglike reëls waarvoor die Britte so lief is, sal hul komedie nie naastenby soveel pret wees nie. En sou Maurice Flitcroft se quichotiese stryd teen die gholfowerhede van St Andrews nooit die verbeelding kon aangryp op die manier wat dit uiteindelik gedoen het nie.

Dit is daarom dat ek met ’n sekere heimwee oplet dat selfs die Britse eerste minister deesdae met ’n oopnekhemp op straat verskyn en dat perfekte Oxford-Engels nie meer ’n voorvereiste is vir ’n werk by die BBC nie.

Dié nuwe ontspanne benadering tot die lewe mag dalk wonderlik bevrydend wees vir die Engelse psige, maar ek is bevrees dit maak vreeslike vervelige komedie.

No comments: