04 March 2007

’n Monster genaamd breedsprakerige snert

Miskien het jy al teen hierdie tyd gelees van die lawaaierige internet-debat wat daar tussen die BBC en die ANC losgebars het oor ’n kort dokumentêre insetsel wat die Britse uitsaaier oor misdaad in Suid-Afrika gemaak het.

Ter agtergrond: Die BBC het op die vooraand van pres. Thabo Mbeki se staatsrede drie weke gelede ’n kort nuusinsetsel (van net minder as 12 minute) uitgesaai waarin hul korrespondent, John Simpson, argumenteer dat misdaad in Suid-Afrika buite beheer is en dat die regering – by name die polisieminister en die staatspresident – die probleem ontken eerder as om iets daaraan te doen. Kortom, die tipe uitsprake waarmee verreweg die meeste Suid-Afrikaners sal saamstem.

Almal behalwe die ANC se tsar van spin, die breedsprakerige Smuts Ngonyama.

Getrou aan tradisie is Ngonyama gou om die raskaart te speel die oomblik as hy nie meer enige rasionele respons op die BBC se kritiek teen die ANC-regering kan monster nie.

Die BBC is erger rassiste as selfs die mees verregse Suid-Afrikaners, verklaar hy in die party se internet-nuusbrief, ANC Today, en hulle probeer om die aandag van Brittanje se eie “ernstige misdaadprobleme” af te lei deur op Suid-Afrika te fokus.

Volgens Ngonyama sou die SABC op dieselfde verarderlike wyse as die BBC kon toon dat misdaad in Brittanje buite beheer is deur te fokus op spesifieke probleemgebiede, soos die Londense voorstad Brixton.

Siende dat die SABC waarskynlik nooit sover gaan kom om ’n program oor misdaad in Londen te maak nie, het ek die afgelope week self ’n paar oproepe na Scotland Yard gemaak en wil graag ’n paar Londense misdaadstatistieke met Ngonyama deel, as hy nie omgee nie.

Hy is natuurlik reg dat Brixton een van die mees geweldadigste voorstede van Londen is – in die laaste twee jaar was Lambeth, die munisipaliteit waaronder Brixton resorteer – konstant een van die drie moordadigste polisiedistrikte in die Britse hoofstad.

Scotland Yard se syfers toon dat daar in die afgelope 12 maande reeds 15 van Lambeth se amper 300 000 inwoners vermoor is.

So hoe vergelyk dit met Johannesburg? By die Lindense polisiekantoor in Johannesburg, ’n stasie in die hart van die stad se boomryke noordelike voorstede, was daar tussen April 2004 en Maart verlede jaar ’n totaal van 18 moorde – ten spyte van die feit dat die bevolkingsdigtheid (en sosio-ekonomiese omstandighede) van Linden en Lambeth soos dag en nag verskil.

Die jongste beskikbare syfers toon dat daar in Gauteng gemiddeld elke twee-en-’n-half uur iemand vermoor word. In die groter Londen is die syfer een elke twee dae.

Dit grief my dat ’n mens hoegenaamd besig is om vergelykings soos hierdie te tref en het my in die verlede nog altyd hiervan probeer weerhou – totdat Ngonyama my voorneme met sy onsinnige snert bederf het.

Almal weet daar is ’n duisend-en-een redes waarom ’n mens nie die misdaadvlakke tussen Londen en Johannesburg kan of behoort te vergelyk nie. Suid-Afrikaners is realisties genoeg om te weet dat eerste wêreldse misdaadvlakke heeltemal onrealisties is. Al waarna hul smag is ’n land wat substansieel veiliger is as die een waarin hulle op die oomblik bly.

Een van my gunsteling tydverdrywe as ek op die bus of moltrein sit, is om in my kop ’n lysie te sit en maak van dié dinge wat ek die meeste in Londen (en Brittanje) bewonder en wat ek die meeste sal mis as ek hier moet weggaan.

Engelse koerante, die stad se museums, die parke in die lente en die Britse parlement is gewoonlik hoog bo-aan my lysie van dinge om te bewonder.

Maar as jy moet vra wat die één ding is wat ek die graagste saam met my huis toe sou wou neem, is dit die vermoeë om vreesloos jou gang te gaan – veral ná donker.

Dis eers hier in Londen dat ek ontdek het hoe ongelooflik gedesensitiseer Suid-Afrikaners oor die misdaadvlakke in ons land geword het.

Wanneer ’n mens laat in die aand alleen deur ’n donker stegie huis toe te loop – en nie in die proses van jou beursie of selfoon beroof word nie – besef jy hoe onnatuurlik vreesbevange Suid-Afrikaners lewe.

Hoeveel meer pret en vreugde kan ons uit ons land – en mekaar – put as ons dit kan regkry om dié monster nek om te draai?

  • Die rubriek is die eerste keer in Rapport gepubliseer op 4 Maart 2007.

No comments: