04 March 2007

’n Dorpsfees gebeur nie per ongeluk nie

Ons spot graag die Amerikaners vir hul gewoonte om oor elke bakatel hof te hardloop om skadevergoeding te eis.

Die waarheid is egter dat dié gewoonte deesdae nie net tot die Amerikaners beperk is nie.

Om ander te blameer is deesdae groot geld.

Dis daarom dat ’n onlangse hofuitspraak deur die Engelse appèlhof so ’n riem onder die hart is, met regters wat uitwys dat goeie en heilsame tradisies – soos dorpsfeeste – in die slag gaan bly as organiseerders die hele tyd in vrees lewe dat hulle verantwoordelik gehou gaan word vir elke klein dingetjie wat moontlik verkeerd kan gaan.

Die detail van die saak soos volg: In April 2001 stap ’n ene Yvonne Cole oor die dorpsmeent van die dorpie East Dean aan die Engelse suidkus. In die middel van die meent trap sy in ’n gat en breek haar been.

Sy stel later vas dat dit die gat is waarin die Meipaal – daardie veelkleurige paal met die helder linte waarom Engelse plattelanders dans om die koms van die lente te vier – twee jaar tevore tydens ’n dorpsfees gestaan het. Boonop is die fees georganiseer deur die Britse Legioen, ’n welsynsorganisasie wat na oorlogsveterane omsien.

Vir mev. Cole is dié feit soos manna uit die hemel, en sy besluit om die Legioen te dagvaar omdat hulle nie toegesien het dat die gat ordentlik toegemaak is na die feesvieringe nie.

Die saak is gekompliseer deur die feit dat een van hul lede, ’n oorlogsveteraan en afgetrede argitek, Percy Grey, wel ’n paar dae na die fees terug is na die meent om die gat te gaan toemaak. Die gat het egter klaarblyklik weer ingesak in die twee jaar wat verloop het tussen die fees en die dag waarop mev. Cole haar been gebreek het.

Ten spyte hiervan wen sy in Mei verlede jaar haar saak en die hof ken aan haar ’n tamaai R2,2 miljoen (£150 000) in skadevergoeding toe.

Die Legioen teken egter appèl aan, en in hul uitspraak weeg die appèlhof die regte van die individu op teenoor die welvaart van die gemeenskap op ’n manier wat my sommer laat moed skep vir die toekoms van ons wêreld.

The Times rapporteer dat appèlregter Scott Baker sê hoewel hy groot simpatie met mev. Cole het, kan hy nie anders as om haar eis van die hand te wys nie, omdat sommige ongelukke net beskryf kan word as “egte ongelukke” waar niemand te blameer is nie.

Dit is egter Baker se kollega, Sir Igor Judge((((stet)))), wat insien dat dorpsfeeste oraloor gaan kwyn as die hof gehoor gee aan mev. Cole se eis om vergoeding.

Hy sê in sy uitspraak: “In klein dorpies oor die lengte en breedte van ons land is (dorpsfeeste ’n geleentheid vir) vreugde en vriendskap. Hierdie geleenthede gebeur nie per ongeluk nie.

“Daar is altyd ’n groep mense in die dorp wat saamstaan om die dag moontlik te maak. In hierdie geval het die Britse Legioen en baie ander hulle bydrae gelewer. Dit is informele dorpsdae en almal werk saam om te doen wat gedoen moet word.”

Oor Percy Grey se pogings om die gat ná die fees toe te maak sê Regter Judge: ’n Paar dae na die fees het ’n bejaarde oorlogsveteraan die gat uitgegrawe met ’n bajonet wat hy as soewenier gekry het en die gat weer netjies toegemaak – gelyk met die oppervlak van die dorpsmeent.

“Dit was glad nie ’n formele daad nie. Hy was toevallig ’n lid van die Britse Legioen, maar in realiteit was hy net ’n lid van die gemeenskap wat sy eie bydrae gelewer het tot die dorp en die omgewing se veiligheid.”

Judge sê Grey het die gat ordentlik toegemaak en sy taak was afgehandel. Om hom, of sy organisasie, verantwoordelik te hou vir die mediese koste van iemand wat twee jaar later in die gat getrap het en haar been gebreek het, is buitensporig.

Is dit nie ’n vreeslik elegante en sinvolle uitspraak nie?

Ek hoop dat daar êrens in die annale van Suid-Afrika se eie regspleging ’n soortgelyke uitspraak is om hierdie beginsel ook in ons eie reg neer te lê.

En as daar nie is nie, hoop ek dat die land se voorste regsgeleerdes gou iets hieromtrent sal doen!

No comments: