10 February 2007

In twee geskeur tussen afsku en verlange



Die groot nuus hier op Tupperware-eiland (behalwe die weer, dêmmit maar dis koud op die oomblik!) is die feit dat Brittanje een van die lande in die Europese Unie is wat die ergste onder misdaad deurloop.

’n EU-misdaadstudie het bevind dat Brittanje, Ierland, Estonië, Nederland en Denemark die lande is waar jou kanse om ’n slagoffer van misdaad te wees 30% meer is as die Europese gemiddelde.

Verder sê die navorsers dat Londen die misdaadhoofstad van Europa is en jou kanse om hier die slagoffer van geringe misdaad te word, is nou selfs hoër as in New York.

Te midde van dié ontstellende nuus oor die agteruitgang en verval rondom my, kry ek ’n e-pos van my goeie vriend Mauritz in Johannesburg.

Mauritz bly in my huis vir die paar jaar wat ek in Londen kerjakker en hy doen verslag oor die herstelwerk wat hy die afgelope paar maande laat doen het.

Mauritz is ’n rekenmeester. Sy verslag kom dus in die vorm van ’n netjiese ontledingstaat met kolomme vir begrote en werklike uitgawes met subtotale en totale en aftrekkings en belastings en wie-weet-wat-nog-alles. Dankie Mauritz!

Dis egter die tweede helfte van sy boodskap wat by my bly vassteek.

Hy vertel dat hy onlangs ’n “sekuriteitspesialis” (ek sou sommer na hom verwys as ’n ou wat alarms verkoop, Mauritz) by die huis gehad het om hom te adviseer oor veiligheid.

Dit volg nadat hy onlangs twee ouens in die tuin betrap het wat oor die muur – wat reeds ver oor die ses voet hoog is – gespring het.

Die kenner het vorendag gekom met ’n lang lys van knoppies en sensors en drade en klokkies wat moet help om Mauritz, sy gesin en sy besittings veilig te hou.

Dit sluit ekstra alarms en goete in die garage in nadat die ekspert verklaar het dat Mauritz “gelukkig” is dat sy kar nog nie uit die garage gesteel is nie!

Ek vermoed iemand wat nog nie vir ’n lang tyd in die buiteland gebly het, ooit die gevoel wat jy kry met die lees van so ’n e-pos werklik sal verstaan nie. Dis ’n gevoel van totaal in twee geskeur wees tussen afsku en verlange.

Hier in Londen het die Europese winter nou goed toegeslaan. Dis kort voor 11:00 in die oggend, maar die termometer buite my venster bly halstarrig vashaak kort duskant 1˚C. Daar is gerugte van sneeu op die draadloos.

Dis die tyd van die jaar dat alle Suid-Afrikaners in die noorde huis toe verlang – veral dié van ons wat nie Kersfees by die huis was nie.

En dan kom ’n e-pos soos dié van Mauritz wat vertel dat hy homself gelukkig ag dat sy kar nog nie gesteel is nie, van inbrekers wat “meer en meer professioneel raak” en hoe “een laag van sekuriteit” nie meer genoeg is nie.

En ek slaan hard met my plathand op my lessenaar en skreeu: “Dêmmit man, iets is nie reg nie!” Maar niemand luister nie.

Dan staan ek maar op, trek my dikste jas aan, sit ’n wolmus op my kop en stap na die kafee op die hoek om die koerant te koop.

En daar, tussen die nuus oor bomontploffings in Irak, voëlgriep in die noorde van Engeland, en die jongste treffer om op jou iPod te laai, val my oog op ’n klein storietjie onderaan bladsy sewe van The Guardian.

“ ’n Brons skeepsklok is die jongste van ’n hele reeks items wat gesteel is van die Aylesford Klooster in Kent, waar die klok vir meer as 70 jaar gestaan het.”

Kan dit wees dat ’n storie van ’n brons skeepsklok wat by ’n klooster in die suid-ooste van Engeland gesteel is, nog die nuusblaaie van ’n nasionale koerant maak?

En dit in ’n land wat pas aangewys is as een van die mees misdadige lande in Europa?

Maar daar staan dit. In swart op wit – met ’n kleurfoto van die klok daar by.

En ek kyk en ek kyk na die foto van die skeepsklok wat gesteel is en ek wonder hoekom die nonne nie hulle klok snags toegesluit het nie.

En ek weet nie of ek moet lag of huil nie…

  • Hierdie rubriek het vir die eerste keer in Volksblad verskyn op 15 Februarie 2007.

No comments: