06 February 2007

Dis tog elementêr – die Britte is dom vir ’n rede

Almal weet dat Sherlock Holmes in Baker Street gebly het.

Daar is ’n standbeeld van hom buite die moltreinstasie waar toeriste gewoonlik stop vir ’n vinnige foto voordat hulle in die lang toue voor Madame Tussauds se wasmuseum in Marlybone Road gaan inval.

Maar dis die stasie self – meer as die standbeeld van die wêreld se beroemdste speurder of selfs Gerry Rafferty se bekende rock-ballade oor dié straat – wat my die meeste interesseer.

Baker Street is een van die oudste stasies van die Londense Underground en is reeds in 1863 geopen – ’n wonderwerk van Victoriaanse ingenieurswese. Gaan kyk bietjie self na die wonderlike klinkersteen-koepel oor die twee peronne wat vandag die sirkel- en distriklyne bedien.

Ek vind dit ongelooflik dat, skaars 20 jaar nadat die Voortrekkers met ossewaens oor die Drakensberge getrek het, mense in Londen al met moltreine onder die grond gery het.

Toe ek vroeër die week dié insig met ’n besoeker uit Suid-Afrika deel, is hy vinnig met ’n teenvraag: “Nou waar het die Engelse dan gaan vassteek dat ons so vinnig kon bykom?”

Ek lag eers lekker vir die verspotte gedagte, maar kom uiteindelik tot die gevolgtrekking dat daar tog waarheid in dié opmerking steek.

Hoewel ek gereeld in stomme verbasing staan oor die vindingrykheid en intellektuele vernuf van die Engelsman, is daar deesdae elke nou en dan ’n beriggie wat my laat wonder of die Britte nie inderdaad besig is om ’n bietjie “vas te steek” op intellektuele gebied nie.

Net ’n paar dae gelede lees ek die verhaal van Jack Archer en sy stryd om ’n bottel sjerrie by sy naaste supermark te koop.

Mnr Archer is digby die 90 en, te oordeel aan die foto van hom wat in die Daily Mail verskyn het, is daar geen rede om te twyfel dat hy ’n man van gevorderde leeftyd is nie.

Desondanks wou die kassiere by sy plaaslike supermark in York onlangs by hom weet of hy ouer as 18 is en daarom geregtig is op die alkoholiese drankie in sy mandjie.

Soos die meeste mense onder sulke omstandighede, het hy aanvanklik gedink sy maak ’n grap. Tot sy skok het hy egter besef dat sy inderdaad ernstig is dat hy op een of ander wyse – al is dit dan net by wyse van ’n plegtige mondelinge verklaring – bewys moet lewer van sy ouderdom.

Ander bejaardes in York sê oom Jack se ervaring was beslis nie ’n geïsoleerde geval nie en ’n woordvoerder van die supermark sê hulle “maak bloot seker dat hulle hul morele en regsverantwoordelikhede nakom ten opsigte van die verkoop van alkohol”. Nou ja toe.

Daar is egter ook ander voorbeelde wat daarop dui dat die Engelse dalk nie so skrander is soos hulle voorgee nie.

Al hoe meer Britte ry deesdae trein in ’n desperate poging om van die nagmerrie-verkeer op die paaie te ontsnap.

Om die waarheid te sê is treinry deesdae so gewild dat baie mense wat in die verre buitewyke van Londen bly, sukkel om by die werk te kom, omdat die treine so vol is.

’n Mens sou dink dat dié toedrag van sake wonderlike nuus vir treinoperateurs sou wees en dat hulle onmiddelik sal begin om meer en langer treine aan te lê om aan die groeiende vraag te voldoen, nie waar nie?

Nie in Engeland nie. Sommige treinoperateurs het in die laaste paar maande begin om hul treine op die besigste roetes korter te maak en hul kaartjiepryse in spitstye te verhoog. Want sien, hoe minder plek daar op die trein is en hoe duurder die kaartjie, hoe minder mense gaan trein ry. Kan enigeen aan ’n meer elegante oplossing vir die probleem van oorvol treine dink?

Kan dit wees dat dieselfde nasie wat eerste was om stedelinge met ondergrondse treine by die werk te kry met so ’n uniek stompsinnige oplossing vorendag kan kom?

Soos my besoeker uit die suide egter hierdie week aan my uitgewys het, is die antwoord eenvoudig.

Die rede waarom dié Britse denkers die pas makeer is om ons dommes die kans te gee om in te haal!

Soos die inwoner van 221B Baker Street sou sê: Dis tog elementêr, my liewe Watson.

  • Dié rubriek het vir die eerste keer in Rapport verskyn op 4 Februarie 2007.

No comments: