06 February 2007

As die Tupperware-grys jou vang...


Goeiemôre uit ’n wintergrys Londen.

Libby Purves, ’n rubriekskrywer in The Times beskryf die Londense weer vroeër die week as “Tupperware-grys” – die beste beskrywing vir daardie amper wit wolkekleed wat hierdie tyd van die jaar permanent oor die Britse hoofstad hang.

As hierdie grys oor Engeland toesak vergeet ’n mens gou dat daar hoegenaamd iets soos blou lug bestaan. Aan die ander kant maak dit die weervoorspellings taamlik maklik: ’n Eenvoudig keuse tussen twee opsies – óf bewolk óf reën.

Maar laat ek nie té klaerig raak nie. Ten spyte van die plastiekhemel bo ons koppe het Engeland vanjaar ’n besonder warm winter.

Hier in Londen het die termometer nog net ’n paar keer vanjaar – in die dae kort voor Kersfees – by vriespunt gaan draai.

Die Britse weerdiens het verlede jaar gesê die afgelope herfs was die warmste sedert die Engelse in die 1600s begin rekord hou het van sulke dinge. In baie van die Europese ski-oorde het daar teen Kersfees nog nie ’n sneeuvlokkie geval nie en oordbestuurders sit met hulle hande in die hare oor die ongewone toedrag van sake.

Baie mense hier gee nou aardverwarming die skuld vir dié toedrag van sake, terwyl die grapjasse sê aardverwarming is die beste ding wat met die Britse eilande kan gebeur.

Self sal ek liewer tot so in die middel van Februarie wag voordat ek enige uitsprake oor ’n warm winter begin maak. Uit dure ondervinding weet ek dat hy wat nie eers Februarie deurgesien het nie, nie moet sê dat hy ’n Engelse winter beleef het nie.

Ek vertel dit alles net om te sê hoe baie ’n mens hierdie tyd van die jaar huis toe verlang.

Kersfees in die noordelike halfrond is wonderlik en daar is iets spesiaals daaraan om jou Kersinkopies in ’n dikke jas en serp te gaan doen. Daar is niks heeltemal so spesiaal soos ’n Kersmark langs ’n opelug ysskaatsbaan soos dié een wat elke jaar voor die Natuurhistoriese Museum hier in Londen gehou word nie.

Maar om oujaarsaand voor die verwarmer deur te bring is nie my idee van ’n partytjie nie. Nuwejaar is vir die see en die son – of op die allerminste langs die swembad in die binneland.

Selfs die Britte besef dit en hier rondom die jaarwisseling loop Londen leeg en duisende witbeen-Engelse kies koers na die warm suide waar hulle dan té lank in die son lê net om ’n paar weke later rooi en seer terug te keer na hul vaderland met sy Tupperware-hemel.

En dan wonder mens hoekom hulle hierdie tyd van die jaar so nors en stuurs is? Sou jy nie ook omgekrap gewees het as jy ná tien dae op Clifton se strand moes terugkeer hierheen nie?

Hulle antwoord is om uiting te gee aan hul frustrasie deur te kla – en daar is min mense in die wêreld wat met soveel oorgawe soos ’n Engelsman kan kla.

Openbare vervoer? Pateties, hoekom vra jy nog?

Die posdiens? Onuitstaanbaar, die laksheid. En so duur!

Wat help dit as ek, arme derde wêreldse wurm, aan hulle probeer uitwys dat ek die openbare vervoerstelsel heel effektief vind. So effektief dat ek vir die eerste tien maande van my verblyf hier nooit agter die stuur van ’n motor was nie.

En waarom sou ’n mens kla oor ’n posdiens wat so effektief is dat as een van jou kuiergaste haar tandeborsel by jou vergeet het, jy dit vir haar kan pos met die wete dat sy dit môreoggend sal hê?

In die middel van Januarie, as die ganse Brittanje in ’n tamaai Tupperware-bak verdwyn, steur my stuurs Britse vriende hulle egter glad nie aan enige van hierdie argumente nie.

Die rede, het ek intussen uitgevind, is dat die Britte nie regtig ontevrede is met die stand van openbare vervoer of die Royal Mail nie. Om die waarheid te sê, is hul eintlik heimlik trots op hul moltreine, hul rooi busse en die ellelange tou mense wat geduldig wag om gehelp te word in die plaaslike poskantoor. (Toustaan is immers ’n tipies Engelse tydverdryf!).

Die treine en die poskantoor is egter ’n handige sondebok omdat dít waaroor hulle eintlik wil kla die een ding is waaroor hulle absoluut niks kan doen nie – die Tupperware-weer.

  • Hierdie rubriek is vir die eerste keer op 11 Januarie 2007 in Volksblad gepubliseer.

No comments: