27 November 2006

As dinge agteruitgaan, emigreer


Moedig jou kinders aan om te emigreer. Die redes is oral rondom jou te sien. Skole gaan agteruit. Misdaad ruk handuit. Die land word oorstroom deur arm immigrante wat net die sosiale probleme in die land vererger.

Klink dit nie bekend nie?

Dit is egter nie net in Suid-Afrika waar mense deesdae wonder of hulle moet bly of gly nie.

’n Voormalige Tory-parlementslid en junior minister in Margaret Thatcher se kabinet het pas die knuppel in die Britse hoenderhok gegooi met ’n boek waarin hy Britte aanmoedig om uit hul geboorteland pad te gee.

Hy sê die land is besig om uit sy nate te bars vanweë die instroming van immigrante van regoor die wêreld en die hele sosiale struktuur gaan binnekort in duie stort.

Die beste wat jong Britte kan doen is dus om pad te gee uit hul eie land.

“Hoekom praat niemand oor wat aan die gang is in ons eie land nie?” wil George Walden weet in Time To Emigrate?

“As ’n Engelsman nie meer die vryheid het om hardop en in alle eerlikheid te sê wat hy voor hom sien gebeur nie, wat is die punt daarvan om Engels te bly?”

Met die eerste oogopslag val Walden se idees op as buitensporig radikaal.

Walden is konserwatief met ’n hoofletter K, en in die beste Engelse polemiese tradisie is hy glad nie bang om ’n ding op sy naam te noem nie.

Hy ontken ten sterkste dat hy xenofobies of rassisties is, maar sê dis onmoontlik om die feit weg te redeneer dat Engeland onder geweldige druk verkeer weens die instroming van nuwe immigrante.

Kyk verby hierdie irritasies (en die knaende vermoede dat sy idees tog op niks anders as xenofobie neerkom nie) - en mens besef dat Walden tóg sy vinger op een van Brittanje se mees knaende probleme lê. Want ja, dié eiland het reeds hopeloos te veel mense met duidelike tekens dat die sosiale weefsel besig is om lelik uit te rafel.

Vlakke van wetteloosheid, dronkenskap en wat die Britte eufemisties beskryf as “anti-sosiale gedrag” is hoër hier as in enige ander land in wes-Europa. Spanning tussen Moslems en die res van die bevolking is op breekpunt. Hoe dan anders as sowat ’n derde van Britse Moslems glo dat verlede jaar se bomaanvalle op treine in Londen geregverdig was?

En moet nooit vergeet dat verlede jaar se bomplanters almal Britse burgers was nie – daarop uit om oorlog teen hul eie land te verklaar.

Om alles te kroon doen die Britse skoolstelsel niks om hierdie ongelykhede uit te wis nie. Terwyl die beste privaatskole al hoe beter word, ontvang die armes aan die ander end van die spektrum waarskynlik vandag ’n swakker opvoeding as 20 jaar gelede.

Tydens ons gesprek vroeër die week wys hy immigrasie as die groot sondebok uit. Immigrante is bereid om meer werk vir minder geld te doen. En alhoewel hulle op dié manier inflasie in toom hou, waarsku Walden dat dit ’n vals ekonomie is: die Britte is besig om tred te verloor met presies hoeveel mense in die land is en hul bevolking groei waarskynlik vinniger as die ekonomie.

Hy is egter genoeg van ’n pragmatis om te erken dat mens net die die stroom immigrante kan probeer minder maak – jy sal dit nooit heeltemal kan keer nie.

“Die skade is in elk geval reeds gedoen. Daar is klaar te veel mense in Brittanje – dit help nie ’n mens probeer nou iets daaraan doen nie.”

En immigrasie is nie net sleg nie. “Ek hou van die idee dat immigrante wat lus is om te werk ’n bietjie ons lui Engelse agterente kom skop.”

Die totale prentjie lyk egter té bedremmeld na sy smaak, sê hy. Behalwe vir ’n enkele dowwe liggie aan die einde van die tonnel.

“ ’n Mens kan nooit die moontlikheid buite rekening laat dat op een of ander tipies onbeholpe Engelse manier alles op die ou end tog sal uitwerk nie.”

Intussen is sy raad aan sy eie kinders egter eenvoudig. Vat jou goed en trek. Spanje, Kanada, Australië of Nieu-Seeland is almal goeie opsies. Maar hou jou opsies oop. Want wie weet, dalk werk dinge uiteindelik in Brittanje uit en wil jy terugkom.

Klink bekend, nie waar nie?

  • Hierdie rubriek het die eerste keer in Rapport op 26 November verskyn.

12 November 2006

Die boodskap van die Rooi Papawer

Die afgelope paar weke is Londen onder beleg van die Guy Fawkes-brigade.

Hoe dié tradisie dit regkry om te bly voortbestaan in ’n land wat só veiligheidsbewus is ek nie my klein seuntjie in die openbaar op my skouers mag ronddra nie, is my gat se deksel.

’n Vriendelik supermarkstem moedig my die ander dag in Sainsbury’s aan om by die toonbank te vra na hulle verskeidenheid klappers en vuurwerke “that will make your bonfire-night a truly memorable occasion”.

Vir eens was dit ’n advertensie wat geen doekies omgedraai het nie. Die donderbusse en ander munisie wat hulle daar verkoop is genoeg om my woonstelblok te laat sidder soos wat dit ’n halfeeu gelede onder die aanslag van daardie Mugabe-lookalike van Duitsland gedoen het.

So. Met ’n Londen wat op die oomblik sterk herinner aan Bagdad vind ek dit daarom baie gerusstellend dat Remembrance Day so kort op Guy Fawkes volg.

Die ou tannies wat rooi plastiek papawers by die ingange van treinstasies verkoop se boodskap dat niemand van ons die aaklike prys van oorlog durf vergeet nie, kan nooit té gering geskat word nie.

Ek voel bevoorreg om ’n Londen te kan beleef waar die tannies (en omies) agter die papawertafels en –kollektebussies nog deel vorm van die institusionele geheue van dié stad.

Hulle is die laaste oorlewendes van ’n generasie – in die Weste in elk geval – wat nog die twyfelagtige voorreg gehad het om in ’n totale oorlog betrokke te wees. ’n Oorlog waarby hele families, ma, pa, boetie en sussie teen wil en dank betrek is – die mans aan die front en die vrouens in die munisie-fabrieke terwyl hulle saans in die bomskuilings wegkruip vir die Duitse bomwerpers.

Een van die eerste dinge wat ’n mens opval van die Engelse is hoe, in die woorde van ’n goeie vriend, “oorlogbedonnerd” hulle is. Wat waar is. Probeer maar net tel hoeveel monumente en museums daar in Londen is met ’n oorlogstema. Om van oorlogsdokumentêre op televisie nie eers te praat nie.

Die voor die handliggende verduideliking hiervoor staan natuurlik elke Novembermaand agter die papawertafels: As Hitler so ’n ongelooflike direkte invloede op jou lewe gehad het, sou jy ook ’n reusagtige monument ter ere van jouself en jou medestryders laat oprig het!

Om oor die verlede te pieker is reg en goed en iets waarvoor ek die Engelse baie bewonder. Maar as dit gemakliker raak om die konflikte van 60 en 90 jaar gelede te onthou as die een waarin die land tans betrokke is, het jy probleme.

Daarmee wil ek nie sê dat die Britte besig is om die olifant in hul voorhuis – die oorlog in Irak – doelbewus te ignoreer nie. Allermins.

Die probleem is egter dat die debat oor die oorlog in Irak sukkel om enigsins verder te vorder as die “ek het jou mos gesê”-variëteit, so dan en wan afgewissel met ’n politikus of kommentator wat erken dat hy altyd ten gunste van die oorlog was, maar nou besef dat hy (of sy) verkeerd was. Big deal.

Die werklike olifant in die kamer is dat niemand – nie George Bush, Tony Blair óf hul politieke teenstanders – enige idee het hoe om probleem op te los nie.

Wat help dit enigeen om nou te sê dat hulle van die begin teen die oorlog gekant was? Óf dat Donald Rumsfeld hom nie gesteur het aan die Britte se weldeurdagte planne vir ’n post-Saddam Irak nie?

Die leier wat nou my stem sal kry, is die een wat met ’n vredesplan vorendag gaan kom. En dit is duidelik dat beide die Demokratiese Party in Amerika en David Cameron se Tories in Brittanje op die oomblik net tevrede is om politieke munt te slaan uit Bush en Blair se probleme – sonder om self hulle nekke uit te steek en hul alternatiewe op die tafel te sit.

Dié benadering mag miskien sin maak in die wêreld van Westminster en Capitol Hill se fokusgroepe en meningsopnames waar sukses gemeet word aan steun by die stembus.

Ek twyfel egter of dit heeltemal in die gees is van die boodskap wat die tannie met die rooi papawertjie – een van die min onder ons wat al self die teiken van ’n bom was –vandag op Herinneringsdag wil bring.

05 November 2006

Parys: die groot bekgeveg


Ek en Emile Joubert, wynskrywer vir Rapport, ontmoet onlangs in Frankryk en oor ’n paar biere raak ons erg aan die argumenteer oor mooi en die lelik van die Franse hoofstad. Nie links nie, daag ons mekaar uit tot ’n tweegeveg – om gevoer te word in die blaaie van Rapport se Perspektief bylaag. Hier is die hele bloederige sage:

Emile Joubert skryf:

Skuins ná die 1970’s begin het, sleep my ouers my na ’n stad genaamd Parys. Die plek was immers net oorkant die water vanwaar my pa diens gedoen in Londen vir Nasionale Pers. Maar dit – Parys - kon netsowel ’n ander planeet gewees het.

Ek onthou die vreemde dog musikale eksotiese taal op my ore. Die rondstap saam met my ouers, hul mede-joernalis George Boshoff en jonger broer en suster, op soek na ’n goedkoop eetplek wat die joernaliste se flenterbeursies sou pas. Die reuk van skerp sigarette, vis, ryk souse en omgestapte rooiwyn. Die gekultiveerde lawaai van die nou strate, die alewige bont liggies aan die gelééfde geboue. En dan goedkoop etes – seker in die Les Halles-gebied daai tyd – in rumoerige eetsale vol mans in blou werksklere en vroue wat gehawend, dog vol liefde was.

Ons het ’n goedkoop bord varkpote omhul in broodkrummels gedeel, en ek het onder die tafel aan die slaap geraak. Op saagsels.

En presies 25 jaar gelede word ek weer wakker in die Stad van Lig, dié keer drie weke voordat ek my vir diensplig moes aanmeld. Ses dae se rondstap en kyk, en droom en proe besef ek dat die bekoring van daardie destydse sewejarige laaitie in ’n heuglike liefde verander het. Tot vandag vra ek myself af: hoe kan mens so lief wees vir een plek? Daardie plek genaamd Parys?

Soos met alle liefdes, help herinnerings. Die herinneringe is soet danksy mense. Mense saam met wie ek in verskeie stadiums van my lewe die museums en kafees en strate en eindelose ruimte kon verken. Mense met wie ek Parys se ontsettend prag kon deel. My ouers. Die twee Francois’s. Skoolpêl Heinie. Frankie die Wynmaker.

Jy’t wragtag hulp nodig, want Parys bly ’n stad wat swaar op jou sintuie hamer. Die blik van die enorme Eiffel as jy hom van die D’Orsay-kant bekruip. Die snakkend mooi Picasso’s in die Marais-area, en herfsblare in die statige Boulevard St Germain. Die spookagtige middernagstilte van Place Vosges en die teatrale debattering tussen ’n kelner en ’n restaurantklant wat, anders as wat eersgenoemde dit wil hê, nie vanaand die kalfskop wil eet nie, eerder die steak tartare. Die reuk van die Seine in winter, niks anders nie as ’n kopvol skoon suurstof met die wind wat groente en straatgeure van die Latynse Kwartier aandra. Die ferm warmte van ’n gegrimeerde skoonheid, wat rede het om arrogant oor haar voorkoms te wees, wanneer sy langs jou in die propvol Metro inskuif op pad na die Champs.

Die histeriese klank van die Stade de France wanneer die plaaslike rugbyspan Stade Francais opdraf. En die geur van ’n ryp stuk Brie-kaas en vars baguette, afgespoel met ’n rou wyn uit die suidweste.

Daar is te veel om te sien. Te veel om te doen. Dus sal ek bly teurggaan tot ek kan. Ook vir die herleef van goue herinnerings, en die wete dat elke besoek nóg ’n vragvol nuwes sal bring.

Ek dink dat, dekades nadat die sewe jarige seun aan die slaap geraak het, Parys tog die laaste plek sal wees waaraan hy op sy laaste dag sal dink. En hy sal áltyd daaroor droom.

Pieter Malan antwoord:

Waar kom hierdie versotheid, hierdie dolle verliefdheid met Parys vandaan?

Wat is dit aan die Franse hoofstad dat rasionele en goed gebalanseerde mense skielik wankelrig van knieg en glasig van oog raak as hulle begin praat van ’n stad wat niks meer spesiaal kan bied as ’n bloederige geskiedenis en ’n koddige vierbeentoring nie?

My vriend Emile het duidelik Hemingway se A Moveable Feast een keer té veel gelees.

Of miskien het een van daardie rondegesig Franse meisietjies met hul klein swart ogies hom so warmgevry in Place Vosges dat hy net nie kan onthou hoe baie die stad na piepie ruik nie.

Wat is dit met die Franse dat hulle só min van hul eie hoofstad dink dat hulle die hele plek verander het in ’n reuse urinaal?

En hul parke! ’n Verbeeldinglose laslap van geometriese patrone en regop bome met voetpaadjies bedek in skitterwit klippies – só wit en verblindend in die somerson dat die hele stad soos ’n simmerende lugspieëling op die horison dobber. Die stad van (verblindende) lig, inderdaad!

Geen wonder dat daar op elke tweede bankie ’n verliefde paartjie sit en vry nie. Sou jy nie ook liewer jou oë in warme omhelsing wou sluit vir ’n stad wat só onvanpas op jou sintuie hamer nie?

Parys maak my bang. Emile sê hy het Parys besoek ’n paar weke voor hy met diensplig begin het. Wat hy nalaat om te sê is dat die Infanterieskool op Oudtshoorn soos ’n vriendelike familiepiekniek moes voel ná sy besoek aan die stad van die guillotine.

Parys is ’n stad vol teenstrydighede. Die kastige geboorteplek van die demokrasie waar Napoleon homself tot keiser gekroon het slegs 15 jaar ná die bestorming van die Bastille. (Net om dinge in konteks te plaas: In dieselfde jaar dat Napoleon die kroon uit die pous se hande neem en op sy eie kop sit, wys die Engelse vir William Pitt aan as hul 18de eerste minister.)

Emile, ek is bevrees onder die veneer van jou “snakkende mooi Marais” en die teatrale en skynbaar beskaafde debatte tussen klante en kelners in die straatkafees broei die volgende revolusie. Want as daar een ding is wat die geskiedenis ons leer is dat Parysenaars nooit moeg word vir brandsteek en klipgooi nie.

Hulle revolusies bly, vreemd genoeg, vir ewig onvoltrek en onafgehandel. Op die chaos volg bloot ’n ongemaklike vrede terwyl die burgemeester en sy vrou voortgaan om R7000 per dag aan kos uit te gee – soos Jacques “die Sonkoning” Chirac tydens sy tyd as die stad se eerste burger gedoen het.

Ek is bevrees die Parys van Picasso, Hemingway en Jan Rabie leef nog net in die nostalgiese drome van toeriste wat in die Montparnasse met hul groen Michelin toeristegidse onder die neus ronddwaal.

Ek het nuus vir hulle. Die wêreld se Nobelpryswenners het lankal verkas na interessanter plekke soos Istanbul en Dublin.

Intussen staan Parys se Eifel en verroes.