30 October 2006

Sy het gekom, gesien en liederlik gefaal


Sy het haar gehoor verveel, beledig en hul intelligensie onderskat. Nie sleg vir die land se hoof-diplomaat nie.

Was dit ’n minister van Kazakstan of Gambië, ’n land ver op die gesigseinder waarvan jy nog net vaagweg gehoor het, sou jy jou hande in die lug kon gooi en dit aflag.

Maar dit is nie.

Die diplomaat is haar eksellensie, die Suid-Afrikaanse minister van buitelandse sake, dr. Nkosazana Dlamini Zuma.

Die plek: die London School of Economics, waar Dlamini-Zuma gevra is om te praat oor die toekoms van die Verenigde Nasies – ’n lesingreeks wat beplan is rondom die 60ste bestaansjaar van die organisasie.

Suid-Afrikaners het in die laaste paar jaar gewoond geraak – miskien té gewoond geraak – aan ’n gulle ontvangs in Londen. Probeer maar net onthou hoeveel keer Londenaars Trafalgarplein volgepak het om vir Nelson Mandela te sien.

Enigeen wat twyfel dat dié euforiese post-94 dae vir goed verby is, moes Woensdagaand in die ou ouditorium van die LSE gewees het.

Met die charisma van ’n lykbesorger op Valium het Dlamini-Zuma die gehoor geamuseer en verveel.

Die professors en studente in internasionale politiek het gekom om te hoor wat die minister te sê het oor die rol wat Suid-Afrika vir homself sien as pasverkose lid van die VN se veiligheidsraad.

Wat hulle gekry het, was ’n langdradige lesing oor die geskiedenis van die stryd teen apartheid en die VN, ’n toespraak waarin sy lang uittreksels uit die aanhef van die VN se stigtingsakte gelees het.

Binne minute nadat sy begin het, het ’n paar Zimbabwiërs opgespring om haar te onderbreek. Vir ’n paar minute was daar hogere drama – veral toe Peter Thatchell, ’n Londense aktivis wat gereeld in die voorste linies van menige menseregte-betogings gesien word, tot op die verhoog langs Zuma gevorder het.

Nadat Thatchell met geweld uit die saal geboender is, is Dlamini-Zuma toegelaat om voort te draal. Elke paragraaf gepunktueer deur ’n diep sug asof sy wil sê: Die enigste mens meer verveeld met hierdie toespraak as julle, is ek.

Genadiglik raak selfs die swakste toespraakskrywers se ink uiteindelik op en was daar ’n paar minute vir vrae.

“Met die hulp van die VN het dit die ANC 40 jaar geneem om Suid-Afrika te bevry,” het die eerse vraesteller opgemerk. “Beteken dit dat dit Zimbabwe en die mense van Darfoer ook 40 jaar moet wag?”

’n Tweede was verbaas dat die minister geen melding gemaak het van Vigs in haar toespraak nie, gegee dat dit een van die wêreld se grootste krisisse is. Het dit iets te doen met die feit dat haar eie president ontken dat daar iets soos Vigs bestaan?

Enige pertinente antwoorde op dié kwessies het verlore gegaan in ’n see van ideologiese clichés waartydens Dlamini-Zuma ook die tyd gevind het om ’n lid van die gehoor die kop te was omdat hy dit durf waag om sy kop te skud omdat hy nie met haar weergawe van die werklikheid saamstem nie.

’n Ander vraag oor die hoeveelheid wapens wat Suid-Afrika verkoop, is beantwoord met die absurde stelling: “Ons verkoop nie wapens wat in ’n konflik gebruik kan word nie.” Terwyl die gehoor skater laat ’n paar Suid-Afrikaanse diplomate in die gehoor hul kop in hul hande sak…

Toe die soveelste Zimbabwiër opstaan om haar te kritiseer oor Suid-Afrika se onvermoë om hulle by te staan in hul uur van nood, het haar geduld begin opraak.

“Julle Zimbabwiërs sit hier in Londen en doen niks aan die situasie in julle eie land nie,” begin sy preek. ’n Koor van protes klink op. Die ironie gaan nie by die Zimbabwiërs verby nie – Dlamini-Zuma het immers self as banneling in Brittanje studeer.

“Ek dink ons het die punt van krimpende opbrengste bereik,” sê Howard Davies, die voorsitter en direkteur van die LSE, en beëindig verrigtinge.

Na afloop van die vergadering vertel ’n joernalis van die BBC se internasionale diens dat hulle vir dae lank probeer het om ’n onderhoud met die minister te kry terwyl sy in Londen is. Verslaggewers van SkyNews en Radio 4 se Today nuusprogram – een van die mees gerekende aktualiteitsprogramme ter wêreld – was ewe onsuksesvol.

“Ek het gekom, ek het gesien, ek het oorwin,” was Julius Caesar se selfvoldane boodskap aan die senaat na sy oorwinning in die Slag van Zela.

Ek wonder wat die Latyn sou wees vir “ek het liederlik gefaal”?

  • Die rubriek is vir die eerste keer in Rapport gepubliseer op 29 Oktober 2006.

18 October 2006

Waar kry hulle hierdie ape?


Ek sit vandag op kantoor en luister met ’n halwe oor na die debatte oor die sluiting van poskantore in Brittanje.

Beleidmakers in Whitehall sê ’n klomp poskantore, veral dié in plattelandse gebiede, moet gesluit word omdat dit nie meer ekonomies is nie. Volgens dié argumente is elke poskantoor ’n klein besigheid op sy eie. As hy (of is ’n poskantoor ’n sy?) nie winsgewend is nie, moet dit toegemaak word.

“Dis nie reg dat ’n poskantoor in Londen ’n poskantoor in die sticks moet finansier nie,” seg ’n amptenaar aan SkyNews.

Het jy al ooit ’n groter klomp vryemark claptrap gehoor as dit? Waarom mag ’n poskantoor in een van die rykste stede ter wêreld nie ’n poskantoor in ’n arm afgeleë deel van die land finansier nie?

Hierdie selle argument word deur privatiseerders reg oor die wêreld – ook in Suid-Afrika – gebruik om klein arm plattelandse gemeenskappe te beroof van dienste wat van kardinale belang is vir hulle voortbestaan. ’n Diens wat hulle op geen manier kan bekostig as hulle nie kan staatmaak op die beginsels van kruissubsidering nie.

En om te sê hulle kan die telefoon of die internet eerder as die poskantoor gebruik is bog. Want dit is ook nie vir ’n internetdiensverskaffer die moeite werd om een kliënt in die sticks te hê nie.

Is daar enige kliënte van die poskantoor wat omgee dat twee pennies uit hulle pond gebruik word om ’n diens wat in die stad as selfvansprekend aanvaar word in die noorde van Skotland te subsidieer? Ek dink nie so nie.

17 October 2006

Too posh to push?


Vanoggend vir meer as ’n uur op Heathrow rondgestaan en wag in die hoop om my oog te lê op Madonna se Malawiese bybie. Die joys van joernalistiek darem!

Uiteindelik het ek ’n redelik goeie fotorekord van elke liewe swart kind wat vanoggend in Londen uit Johannesburg aangekom het – maar geen David Banda nie!

Die hele debakel het al die elemente van ’n blêddie goeie tabloid­-storie. Vir die een oomblik is jy ’n brandarm kaalvoetklonkie in ’n weeshuis onder die Afrikason, die volgende oomblik sit jy in ’n Edwardiaanse herehuis in Marlybone onder die vaalgrys Engelse uitspansel.

Vir eeue was daar bitter min ooreenkomste tussen die armes en die rykes. Behalwe vir die feit dat alle vrouens – ryk of arm – op dieselfde pynvolle manier geboorte geskenk het.

Deesdae is die rykste mammies too posh to push en word die kleintjie met die hulp van ’n skalpel die wêreld ingebring.

Madonna en haar superster-vriendinne neem dit een verder – laat die mammas in Afrika die drukwerk vir ons doen.

16 October 2006

Parys: ’n agterlike hool langs ’n stinkende rivier


Pas terug uit Frankryk. Was vir ’n week in Beaune in Boergondië waar ek ’n paar Suid-Afrikaanse kelder- en plaaswerkers ontmoet het vir ’n storie vir die dagblaaie.

Ook vir wynmaker Clive Torr gaan sien. Clive was ’n paar jaar gelede wynmaker by Villiera, maar is intussen daar weg om klas te gee by die Cape Wine Academy. Maak deesdae wyn uit sy garage in Somerset Wes. Hy het ook ’n paar rye wingerd in Boergondië en spandeer ’n paar weke per jaar daar om wyn te maak. Clive is wonderlike geselskap en is passievol oor die streek en Pinot Noir .

En dan natuurlik Parys.

Is die Franse hoofstad nie die mees over-rated stad in die wêreld nie?

Aaklige plek, suur mense. En die hele plek ryk na piepie.

Geen wonder nie, want daar is nie ’n openbare toilet in sig nie. En as jy uiteindelik een kry moet jy nog betaal vir die voorreg.

Komaan. Almal van julle moet saamstem. Die beeld van die romantiese, pragtige hoofstad het geen ooreenkomste met die werklike Parys nie.

Die plek is niks anders as ’n agterlike hool langs ’n stinkende rivier nie. Ag nee wat.

08 October 2006

Slegte wyn is ’n teken van onheil


Die stuk beesvleis wat die kelner in die Pique Boeuf voor my neersit lyk nie net heerlik nie, dit smaak ook vorentoe.

In dié geweste slag die Franse ’n groot bonkige wit bees, charolais boeuf, vir hul aandete. En net soos Leipoldt oor een van sy gunsteling Afrikaanse disse gesê het, verklaar die mense van Boergonje ook oor hierdie bees: Dis die lekkerste vleis wat tande kan kou.

Vir my voorgereg het ek een van dié geweste se ander gunstelinge weggepak: Oeufs en meurette – ’n geposjeerde eier in rooiwynsous.

Weet nie of dit die ryke spyse by die Pique Boeuf of die heerlike rooiwyn van die Beaune-omgewing was nie, maar daardie aand dra ’n paar vriendelike vriende my op ’n draagbaar terug na die hotelkamer en lê my saggies neer.

Teen nege-uur die volgende oggend lê ek steeds in staatsie met my hande oor my maag gevou. Omgeef deur harde sponskussings terwyl ’n menige droewige Franse meisies oor my lyk kom rou.

Die skril tjier-tjier van die telefoon ruk my terug na die hede. Dis vriend Emile wat my geirriteerd herinner aan ons volgende afspraak en ’n paar minute later sit ek in sy motor op pad na wynmaker Clive Torr.

Clive is in die Kaapse wynkringe bekend as die voormalige wynmaker van Villiera. Deesdae maak hy wyn op ’n veel, veel kleiner skaal in sy garage in Somerset Wes. Kort voor die Franse winter verkas hy na die dorpie Beaune in Boergonje waar hy ’n paar rye wingerdstokke besit waarvan hy elke jaar ’n paar vaatjies Pinot Noir in die ware Boergondiese styl maak.

’n Liefdestaak, noem hy dit. ’n Stokperdjie, alles net vir sy plesier.

So verwyl ons die oggend deur te praat oor wyn en Boergonje, liefde en lekker, honger en dors. Maar veral oor laasgenoemde.

“Kom ons gaan eet,” sê Clive.

“Waar?” vra Emile.

“Het net die plek,” sê Clive.

“Maar waar?” vra Emile.

In die Café de France sit die manne breedgeskouerd sy aan sy aan lang tafels.

Dié onpretensieuse interieur is ligjare verwyder van die effens selfvoldane atmosfeer van die Pique Boeuf die vorige aand.

Dis die gunsteling eetplek van die streek se vragmotorbestuurders, verduidelik Clive die sterk manne se teenwoordigheid terwyl ons na ’n tafel soek.

Clive sê hy is ’n onbeskaamde estetikus en kies sjefs op voorkoms alleen.

“Die reël is eintlik heel eenvoudig. Moet nooit ’n maer sjef vertrou nie.”

Löic en sy suster Christelle – die effens stugge eienaars van Café de France, stel nie teleur nie. Nie wat hul kulinêre vermoëns óf die omtrek van hul middellywe betref nie.

Die spyskaart is so onpretensieus soos die dékor. Jy eet wat jy kry en daarmee basta.

Vanmiddag is dit ’n kaaspastei met koolslaai vir voorgereg en gerookte varkwors, aartappel en roomsous vir ’n hoofgereg. Alles vir ’n baie billike €10,50.

Die hoogtepunt van die maal is egter ’n liter vin de table, ’n onpretensieuse rosé met die fênsie naam Perle de Vigne. Dié een is soos die weduwee se kruik – bodemloos. As hy leeg is sit Löic nog een op die tafel neer.

Na ete word ’n kaasbord van tafel na tafel aangestuur. Teen die tyd dat die bordjie by ons kom is die meeste van Löic en Christelle se kliënte terug agter die stuurwiele van hul Renault vragmotors, maar Clive sê daar is nog een belangrike ritueel om te volvoer.

Enige Franse vragmotorbestuurder wat sy sout werd is, sluk na ete eers ’n dop van die plaaslike blits om die ingewande te reinig voordat hy agter die stuur van sy groot trok spring om die Franse hoofweë te gaan pakgee.

Die Marc de Borgogne, sê Clive, word gestook van die doppe en ander keldervullis wat hulle sommer na parstyd met ’n bulldozer op ’n groot hoop stoot.

Die geil mengsel van doppe, grond en hidroliese olie word aan die regering oorhandig wat volgens wet die enigste is wat dié drank mag stook.

Voor jy kan sê stookketel sit elkeen van ons met ’n glasie van dié petrol in die hand om die koffie meer draaglik te maak.

Met ’n Marc in die hand oorleef ek nóg ’n Franse ontbering en ’n paar uur later is ons terug by Clive se garagekelder teen die heuwel bo Beaune. Clive is hard aan die werk om sy 2006 Pinot Noir gereed te kry vir die vat voordat dit tyd is vir hom om terug te vlieg Suid-Afrika toe.

Deel van dié voorbereidings behels ’n ritueel waarin ’n beker vol rooiwyn hemelwaarts geskiet word as ’n soenoffer aan Bacchus.

Waai dit in jou gesig terug, het jy probleme, sê Clive. Dit beteken Bachus is ontevrede en die wyn is sleg.

En slegte wyn is ’n teken van onheil vir almal van ons.

In die Pique Boeuf én in die Café de France.

  • Hierdie rubriek is vir die eerste keer in Rapport gepubliseer op 15 Oktober 2006.

02 October 2006

Arm was ek gister, maar in Oktober is ek ryk


Dis al weer Oktober.

Uit die foto’s wat my vriend Andrew uit die Hantamwyk aanstuur, is dit duidelik dat Oktober in daardie geweste weer die mooiste, mooiste maand denkbaar is.

Dan is die dag so helder,

So groen is elke aand.

Ek dink die mense vier vir ewig in die hemel

Oktobermaand soos hier!

In Londen sukkel ek om Leipoldt se Hantam-Oktober met die kruipende winter van die noordelike halfrond te versoen.

Hierdie is egter nie ’n weeklaag oor die bittere Engelse weer nie. Inteendeel, soos ek hier sit en skryf, is dit ’n lieflike, soel herfsdag daarbuite. Die noordelike halfrond se seisoenwisselinge is ’n openbaring vir ’n Afrikaan wat net die twee seisoene van winter en somer ken. Hier gee die somer vir weke en maande langsaam boedel oor aan die koue en nat winter – asof om jou geleidelik voor te berei op die donker Kersfees wat kom.

Die seisoene gee ook hier die pas aan vir die alledaagse lewe op ’n manier wat ’n mens selde in Suid-Afrika ondervind. Daarom verwys die koerante na iets wat “volgende somer sal gebeur” of hou politieke partye hul “herfskonferensies”, soos tans aan die gebeur is.

Lente is ’n seisoen van opgewondenheid en afwagting – nie net vir tuiniers en verliefdes nie, maar ook vir politici, sakemanne en sportlui. Die gevoel van optimisme en hoop is tasbaar van die oomblik dat Europeërs hul horlosies een uur terug draai op die laaste Sondag van Maart.

Daarna volg die frenetiese somer, ’n paar maande van wonderlike lang somersdae wat eers hier teen 10-uur in die aand hul fut verloor en waarin almal probeer om in ’n helse gejaag soveel as moontlik uit die lewe te haal voordat die winterkoue toeslaan. Geen wonder dat ’n mens teen Septembermaand heeltemal uitgeput is nie en uiteindelik die korter wordende dae en koeler aande begin verwelkom nie. Dit gee jou tyd om te reflekteer op wat verby is, te besef hoeveel jy nóg wou doen en, veral, hoe armsalig kort die lysie is van dit waarvoor jy wel tyd gekry het.

Daarom is Oktober hier, net soos tuis, die tyd vir die ou versugting: “Kyk, dis amper al weer Krismis. Kan jy glo die jaar het so vinnig gevlieg?”

As ek op die jaar terugkyk, doen ek dit egter deur ’n nuwe bril.

Die afgelope week was dit presies 13 maande gelede dat ’n jong erfgenaampie in ons huis gearriveer het. Hy is kort vóór ons verlede Desember Londen toe verhuis het, in Kaapstad gedoop na sy oupa, Henri. Destyds was hy ’n stil en stemmige outjie. Hy aard na sy pa, het ek graag gespot: Hy hou van sy dop en daarna wil hy net uitgelos wees om te slaap.

Intussen het dinge effens verander.

Nou vind ek my dikwels op my knieë – nie die metaforiese knieë waaraan my skoonma my gereeld herinner nie, maar al kruipende agter ’n jonger weergawe van Osama Bin Laden. Altyd buite bereik en op pad na sy volgende missie van massavernietiging.

Hoe het dit gebeur dat dié outjie wat ek minder as twee jaar gelede vir die eerste keer as ’n kolletjie so groot soos ’n ertjie op ’n rekenaarskerm in ’n dokterspreekkamer gesien het, verander het in ’n terroris? (’n Terroris wat, soos ek hier skryf, langs my staan en pas my telefoon as ’n moontlike teiken vir verwoesting geïdentifiseer het?)

Op die oomblik kuier die twee-jarige Nina saam met haar ouers by ons.

Nina leef , net soos ek, in vrees vir Osama Bin Laden die jongere. As hy op haar afstorm om haar hare te trek, is haar vrees ook myne. Ek weet waardeur sy gaan.

Toe ek Nina ’n bietjie minder as ’n jaar gelede laas gesien het, het sy taamlik stom op die grasperk van my huis in Westdene in Johannesburg gesit.

Nou is sy in staat om haar vrees vir Osama in die mooiste Afrikaanse volsinne te verbaliseer.

Dis aan Nina en die klein kwaadstoker te danke dat ’n jaar skielik vir my veel meer beteken as die dralende opeenvolging van vier seisoene – selfs al is daardie seisoene so wonderlik gedefinieer as hier in die noordelike halfrond.

In die tyd wat dit geneem het vir vier seisoene om soomloos oor te gaan in die volgende, ’n tyd waarin die meeste van ons nie veel meer kon doen as besef hoe vinnig tyd vlieg nie, kon Nina haar eerste taal aanleer.

Haar nemesis kon vorder van ’n papie wat hulpeloos in sy ma se arms lê tot die Bin Laden van Kensington.

Dis klein lessies soos dié wat jou laat besef wat die klein terreursoekertjie hier op aarde doen – behalwe natuurlik om studeerkamers te verwoes en luidkeels te protesteer as sy ma hom verbied om seepwater uit ’n nat mop te suig.

Wat my laat dink aan ’n ander Leipoldt versreël:

Arm was ek gister,

maar nou is ek ryk

Nou skatryk

  • Hierdie rubriek het vir die eerste keer in Rapport verskyn op 1 Oktober 2006. Andrew Ingram se Namakwalandfoto's is by www.andrewingram.co.za