30 August 2006

Verskoon die cliché, maar ken jy iemand by Google?

Ek stry nou reeds jare lank ’n verbete en meestal vrugtelose stryd vir die groter erkenning vir die onmisbare rol wat clichés in ons lewe speel.

My driftige en geïnspireerde verdediging van die cliché word gewoonlik begroet met uitdrukkings wat wissel van absolute afgryse tot matige geamuseerdheid deur my meer geleerde vriende.

As alles te veel word, troos ek my daaraan dat ek ten minste vir Naas Botha en Niekie van den Bergh aan my kant het. Soos Naas en Niekie (en ek) weet, is clichés handige goed om ’n komplekse wêreld mee te verduidelik

Té dikwels gebeur dit dat ’n mens iets op geen ander manier kan verstaan as om terug te val op ’n staatmaker cliché nie. Dit was Lord Acton, professor in geskiedenis aan die Universiteit van Cambridge, wat gesê het mag korrupteer en absolute mag korrupteer absoluut. Wat aan die einde van die 19de eeu ’n briljante en oorspronklike idee was, het sedertdien een van die grootste politieke clichés van ons tyd geword.

Verskoon my egter as ek op dié cliché terugval om die onlangse optrede van die internetsoekenjin Google te beskryf.

Die soekenjin het sedert sy ontstaan in 1999 só magtig en alomteenwoordig geraak dat die werkwoord “om te google” sekerlik aan die meeste lesers bekend is.

Om vir iets te google, beteken om ’n websoektog te doen. Die internet-ensiklopedie Wikipedia illustreer dit met ’n voorbeeldsin: “Mary googled for Wikipedia references.”

Nou lees ek dat Google begin het om mense te waarsku dat hulle sat is daarvoor dat hulle die woord “google” as werkwoord gebruik wanneer dit niks met Google uit te waai het nie.

Met ander woorde, jy mag net vir iets google as jy Google gebruik. Om, soos Wikipedia, te google deur Wikipedia te gebruik, is voortaan verboten.

Nou kyk hoe beef my broek nou!

Is dit nie ironies dat ’n maatskappy met die slagspreuk “Do no Evil” nou aan die res van ons wil voorskryf hoe ons taal mag maak en gebruik nie.

Die googledore (nog ’n woord wat hulle kan probeer verbied) se argument dat hulle hul handelsmerk moet beskerm, is loutere bog.

Die blote feit dat Google die wyse beheer waarop die meerderheid mense deesdae toegang verkry tot die inhoud van die wêreldwye web, beteken eerder dat ons teen Google beskerm moet word as andersom.

In elk geval sou ek dink dit is ’n geweldige eer as jou handelsnaam tot werkwoord verhef word. Ek hoor nie dat Hoover daaroor kla dat miljoene Engelse huise elke week gehoover word nie.

Vir diegene wat glo dat nugtere denke uiteindelik sal seevier en die magsbehepte googledore, Larry Page and Sergey Brin, se buitensporige eise ’n stille dood sal sterf, het ek slegte nuus: Hy dra ’n donker pak met ’n strepiesdas en sy naam is die handelsmerk-prokureur.

Hy kan so ’n onverkwiklike stryd vir jare lank uitrek, soos wat gebeur het met die hofstryd tussen Laugh-it-Off, die vervaardiger van studente T-hemde, en die brouers van Suid-Afrika se nasionale bruisdrankie.

Is dit nodig om julle te herinner aan die feit dat die slim regters van die Appèlhof destyds nie die grappie op die T-hemde kon snap nie en SAB gelyk gegee het dat ’n paar honderd T-hemde hul naam, en die van Carling Black Label, onherroeplik skade berokken het?

Dit het uiteindelik ’n volbank regters van die Konstitisionele Hof geneem om die brouers en hul prokureurs tot bedaring te bring en om die appèlhof te maan: Selfs die reg mag ’n sin vir humor hê.

As ek reg onthou, het regter Albie Sachs destyds in sy uitspraak bygevoeg dis ironies dat ’n maatskappy wat ’n produk maak wat sinoniem is met gesellige samesyn so woedend gereageer het toe ’n grappie ten koste van hulle gemaak is.

Ek lees dat Google se prokureurs selfs besig is om briewe aan sommige koerante en joernaliste te stuur waarin hulle gewaarsku word om nie verder die naam van die maatskappy te misbruik nie.

Ek hoop Google se prokureurs lees ook Rapport, want ek sal bitter graag een van daardie briewe vir my versameling wil hê. (Ek vertrou hulle lees Afrikaans, daar is immers ’n Afrikaanse weergawe van Google.)

Om die waarheid te sê, ek glo dit is van kardinale belang dat Google hul kleim afsteek en Afrikaanssprekendes verbied om ydelik te google.

Dit sou tog regsgesproke onhoudbaar wees as dit ’n oortreding is om iemand in Engels te google, maar dieselfde beletsel nie in Afrikaans bestaan nie. ’n Mens kan tog nie die woordeboekmakers in Oxford verbied om ’n inskrywing oor google te hê terwyl die manne en die vroue van die WAT in Stellenbosch mag maak wat hulle wil nie.

So, as iemand wat hier lees dalk iemand by Google ken, laat hulle tog weet daar is ’n rubriekskrywertjie by Rapport wat hom nie steur aan hulle diktat nie.

Sê vir hulle hy is ’n regte klein taalrebel – ’n Chrisjan de Wet wat die gedugte doktor Dan Roodt na ’n hensopper laat lyk.

Vertel vir Google dat hy nou al drie keer hierdie week iets op Aardvark gegoogle het. En dat hy dink Aardvark google in elk geval baie lekkerder as Google.

Toe, hardloop gou. Voor die pad vol duwweltjies raak.

(googledoor: ’n miljoenêr wat nog nat agter die ore is, maar dink die wêreld behoort aan hom).

23 August 2006

Sounds like a gimmick to me

Die tannie agter die apteektoonbank was in volle vaart.

Hier was ’n geleentheid om die nuutste en beste te verkoop, en dit was nie ’n geleentheid wat sy sommer wou laat verbygaan nie.

“Jy drink net hierdie melkskommeltjie,” por sy my aan.

“Ja, sommer in plaas van jou middagete. Dis so maklik. Vanaand eet jy ’n reuse maaltyd, ja, net waarvoor jy lus is. Waarvan hou jy jy baie?” wou sy weet. “Vis en chips? En ’n bier?”

Ek wou nog verduidelik dat ek nie vreeslik lief is vir die olierige deegbeslag wat die Engelse om hul vis sit nie, maar dit was reeds te laat.

“Maak nie saak wat jy eet jy nie, hierdie skommeltjie is gewaarborg om die vetrolletjies te laat verdwyn.”

Klink vir my na ’n bietjie baie moeite, het ek probeer protesteer. Is daar nie ’n makliker manier nie?

“Daar is altyd hierdie pilletjies.” Die tannie was besig om haar tweede asem te kry. “Jy sluk net vier elke aand voor jy gaan slaap.”

Nou toe nou, knik ek ongelowig.

“Hoe werk dit?” wou ek weet.

“Dit jaag jou metobolisme bietjie op,” verklaar sy trots. “Dit beteken dat jy meer energie verbrand terwyl jy slaap.”

Kan jy glo, sê ek.

“Is dit nie wonderlik nie,” sê sy.

“Al wat jy hoef te doen is om te gaan slaap en hierdie pilletjie doen dit alles vir jou.”

Ek weet darem nie, sê ek.

Die tannie kyk my gebelgd aan.

“Luister hier jong man,” sê sy streng. “Hierdie pilletjies is klinies getoets. Deur mense met baie meer grade as wat jy het.”

Daaraan twyfel ek nie, sê ek. Maar as jou metabolisme toeneem, beteken dit nie dat jy baie meer toilet toe moet gaan in die nag nie. Darem erg ongerieflik, met die Engelse winter net om die draai.

Sy weet nie, sê die tannie. Maar as ek nie daarvan hou nie, kan ek altyd een van die nuwe druiwe-diëte probeer.

Ag nee jinne, sê ek. Dit gaan hopeloos te lank vat. Ek soek ’n vinnige quick-fix oplossing vir my probleem.

“Komaan, jong man,” sê die tannie. “Niks in die lewe wat die moeite werd is, kom vanself nie.”

Miskien is dit tyd om die omvang van my probleem aan die tannie te verduidelik, dink ek.

Sien, die saak staan so, probeer ek haar stilmaak.

Dit sukkel aanvanklik om die tannie sover te kry om ’n slag na my te luister, maar na ’n tydjie begin haar stemmetjie tog stiller word.

Ek begin vir haar verduidelik van die werk wat ek doen. En ’n koerant ver-ver van Londen se bewolkte mistigheid. Van die lieflike oop vlaktes van die Vrystaat en ’n koerant met die naam Volksblad – die people’s paper.

Ek vertel van die rubriek wat ek skryf en hoe gaaf dit sal wees om ’n foto van myself by die rubriek te sit.

Maar daar is een probleem, sê ek.

“What is it my love?” vra sy in haar Liverpoolse aksent, vir die eerste keer regtig geïnteresseerd in my probleme.

Van al die lekker Engelse bier en die niksdoen het ek ’n bietjie dik geword, verduidelik ek. En ek wil graag mooi maer lyk op my foto.

O, ek sien, sê die tannie, en gryp weer na die pakkie met die melkskommel.

Nee, nee, keer ek, en haal ’n koerantknipsel uit my sak.

Ek wys vir haar die storie oor ’n nuwe kamera wat alle vetties wat daarmee afgeneem word, maer laat lyk.

Hierdie lyk vir my na net die oplossing vir my probleem, verduidelik ek.

’n Kitsoplossing wat my sal laat maer lyk vir my Volksblad-foto, en my terselfdertyd weke van hongerly spaar.

Op daardie manier is daar geen gevaar dat die redakteur van die Volksblad sal dink ek lê te veel in die Engelse pubs rond nie, verduidelik ek verder.

Die tannie kyk my op en af. Knik dan simpatiek.

So?, wil ek weet. Het julle al een van die kameras?

Die tannie kyk weer na my knipsel. Begin dit dan stadig van bo na onder deurlees.

Toe sy klaar is, kyk sy op, steeds omring van tientalle boksies en pilletjies en melkskommeltjies.

“I don’t know abut this thing, my love. Sounds like a gimmick to me.”

16 August 2006

My ouma kan wragtig beter doen as dit

Het jy al ooit die gevoel gehad dat die hele wêreld besig is om gek te word en jy is die enigste gesonde van gees wat op die planeet agtergelaat is?

Glo my, dit is ’n erg ongemaklike situasie en indien jy nie bitter vinnig ’n mede-reisiger kan vind wat met jou saamstem oor die stand van die heelal nie, loop jy die gevaar dat iemand jou in ’n japtrap by groendakkies inboek.

So loop ek nou al geruime tyd met die vermoede dat die mense rondom my aan ’n verstandstoornis ly en dat ek die enigste een is wat besef dat baie restaurateurs besig is om ons ’n rat voor die oë te draai.

Dit het begin as ’n vae ongemaklikheid, maar na ’n onlangse besoek aan ’n Turkse eetplek suid van die Teems is daar by my geen twyfel meer dat hierdie keiser poedelnaak is nie – al sê die res van die wêreld ook wat.

Die atmosfeer by EV (wat vir ’n naam is dit in elk geval vir ’n eetplek?) is modieus dog gemaklik. Die spyskaart indrukwekkend in omvang met disse waarvan die name jou laat droom van plekke meer kleurvol en sonnig as Londen.

Toe my beurt kom om te bestel druk ek soos ’n stomme met my voorvinger op iets met die naam Kul Basti – ’n gereg wat die spyskaart beskryf as ’n geroosterde lamsfillet met origanum.

’n Kwartier later daag iets op wat ek eerder sou beskryf as geroosterde karton met klonterige kapokaartappel.

Die karton het gesmaak soos, wel, soos karton. Baie smaaklik as jy lief is vir karton. Hoe die aartappel gesmaak het sal ek nie kan sê nie. Ek’s jammer. Na die karton het ek besef dat ’n Kul Basti nie eintlik met my akkordeer nie.

Die werklik verbysterende deel van my verhaal het ek egter nog nie vertel nie.

Pleks daarvan dat gesofistikeerde Londenaars hul rug draai op ’n eetplek wat geroosterde karton en klonterige aartappel weggee teen £8,85 ’n bord (ja, dis nie ’n setfout nie – die gereg het R113,46 gekos), doen hulle presies die teenoorgestelde. Hulle stroom daarheen.

Die tydskrif Time Out verklaar “die innoverende, moderne Turkse kos is smaaklik, verbeeldingryk en goed geprys”.

Nou toe nou. Ek besef die ou van Time Out het die reg op ’n eie mening, maar wragtag, vryheid van spraak het darem ook sy perke.

Net toe ek begin wonder of dit nie dalk ék is wat die kluts kwyt is nie, loop ek die afgelope week ’n boek raak wat pas hier verskyn het.

Bad Food Britain – How a Nation Ruined its Appetite laat my besef dat ek genadiglik nie die enigste mens is wat ongemaklik is oor alles wat in die Britse kombuis gebeur nie.

Die skrywer Joanna Blythman sê die probleem met die Britte is dat hulle dit nie geniet om te eet nie. En sy behoort te weet – sy is een van die land se bekendste kosskrywers.

Sy sê die gemiddelde Brit eet omdat hy sy tenk weer vol petrol moet maak. Dit is deel van die dag se roetine, soos om toilet toe te gaan. ’n Mens eet nie vir plesier nie.

Die mediabeeld van Londen as ’n stad wat deesdae spog met van die beste restaurante ter wêreld is erg oordrewe, voer sy aan.

Ja, daar mag ’n paar uitstekende restaurante wees, maar die oorgrote meerderheid Britse restaurante is steeds vreeslik vrot. (As jy hieraan twyfel, kyk bietjie na Ramsay’s Kitchen Nightmares, ’n televisieprogram waarin die sjef Gordon Ramsay wys wat in die kombuise van sommige Britse restaurante aangaan.)

Die feit dat televisiesjefs soos Jamie Oliver en die sensuele Nigella Lawson huishoudelike name in Brittanje is, word dikwels voorgehou as bewys dat die Britte’n nuutgevonde liefde vir die kombuis ontwikkel het.

Alles twak, sê Blythman. ’n Kwart van alle Britse huishoudings het nie eers meer ’n tafel groot genoeg vir die hele gesin om by te eet nie.

Sy vertel die storie van ’n groot behuisingsmaatskappy in die noordooste van die land wat ’n skema het waarby kliënte na ’n paar jaar hul huise kan “inruil” vir ’n nuwe groter huis.

Die maatskappy was verbaas om te vind dat die oonde in baie van hul kliënte se eerste huise nooit gebruik is nie. Hoe het hulle dit agtergekom? Die hoe-werk-die-oond-boekie was nog in sy plastieksakkie binne-in die oond!

Hierdie treurige verhale oor die benarde situasie van die Britse gesinsmaaltyd het my laat dink aan ’n opmerking van die Suid-Afrikaanse baaskok, Ina Paarman.

In ’n toespraak voor ’n klomp studente-sjefs in Stellenbosch ’n paar jaar gelede het sy gesê dat ’n land se restaurantbedryf afhanklik is van die kwaliteit van die etes wat tuis voorgesit word.

Jou ma of jou ouma se kos stel die standaard waaraan jy die wêreld se sjefs meet en niemand behoort te betaal vir kos wat nie hieraan voldoen nie.

Gemeet aan die standaard van die kos wat in menige Britse restaurant bedien word, het die gemiddelde Britse ouma ’n paar dingetjies om te verduidelik.

Was grannie se kos dan só sleg dat baie Britse restaurante daarmee wegkom om voorafvervaardigde etes in die mikrogolfoond warm te maak?

En voor iemand my van kulinêre chauvinisme beskuldig: ek weet van ’n paar Suid-Afrikaanse eetplekke waar dit nie veel beter gaan nie.

Maar anders as die Britte kan ons hopelik ’n stuk karton in ons bord herken – alles te danke aan die voorbeeld wat Ouma gestel het.

02 August 2006

Wie is die grootste politieke dwaas in die land?

Is daar ’n kompetisie vir die domste politikus ter wêreld?

En as daar is, wie sou dit wees? En wie op aarde sou die beoordelaars wees?

Wat van ’n gemenebes van nasies waar verteenwoordigers van lande reg oor die wêreld elke jaar bymekaar kan kom om te stry oor wie se verkose verteenwoordigers die grootste dwase op die planeet is.

Dit kon alles vreeslik vermaaklik gewees het, was dit nie vir die feit dat die onbesonne dinge wat politici doen en sê so ’n reuse invloed op ons lewens gehad het nie.

Want terwyl sommige politici se uitsprake en idees gewoon dom is, is daar sommige wat die geleentheid kry om hulle lawwe idees tot beleid te verklaar en onberekenbare skade aan hulle gemeenskappe te berokken.

Die politici noem dit “onbedoelde nagevolge” en net soos sy boetie, die oorlogsterm “kollaterale skade”, is dit ’n akademiese term wat ten alle koste uit ons taal geweer moet word.

Waarom? Omdat dit deel vorm van ’n taalspeletjie, bedoel om ons beleidmakers te beskerm en om die aaklige, wrede werklikheid te verbloem van dit wat werklik gebeur as regeringsbeleid skeef loop of ’n bom op ’n huis vol onskuldige kinders val.

Ek lees onlangs van ’n voorbeeld van hierdie “onbedoelde nagevolge” van ’n beleid wat kort na die Tweede Wêreldoorlog in Brittanje gevolg is en waarvan die nagevolge vandag, meer as 50 jaar later, steeds hier gevoel word.

Tydens die oorlog het werkersklasfamilies in Londen se East End besonder swaar gekry – nie net weens die armoede in hierdie buurte nie, maar ook omdat hulle woonbuurte reg langs die dokke in die Teems was, ’n gewilde teiken vir die Duitse bomwerpers.

Na die oorlog is navorsing gedoen oor hoe families tydens hierdie moeilike tye oorleef het.

Die sosioloog Michael Young het uiteindelik bevind dat die antwoord opgesluit was in die manier waarop families georganiseer was. In ’n tyd toe baie van die mans aan die front was, is die gesinne gedomineer deur ’n matriarg – dikwels ’n ouma – wat die familie bymekaar gehou deur haar morele en emosionele standvastigheid onder moeilike omstandighede.

Onlangs het sosioloë teruggekeer na hierdie area om te bepaal hoe die na-oorlogse welsynstaat – met sy maatskaplike werkers en ruim finansiële bystand – gesinne soos hierdie se lot verbeter het.

Die resultate was onthutsend.

Families in dieselfde omstandighede sukkel vandag om oor die weg te kom omdat die strukture wat hulle voorheen deur moeilike tye gedra het, intussen verbrokkel het.

Die ironie is egter dat dit verbrokkel het deur die toedoen van dieselfde staatstrukture – die maatskaplike werkers en die welsynstoelaes – wat veronderstel was om arm gesinne soos hierdie te help!

Soos Nick Cohen, ’n rubriekskrywer van die Observer dit onlangs stel: “(Die vriendelike tannies en omies) van die middelklas, met hul agterdog oor die vermoë van armes om hulle eie probleme op te los, het die oumas van vroeër vervang met professionele klas van burokrate en welsynswerkers.

In hierdie omgewing het die ouma van die huis al haar invloed verloor en, volgens die nuwe studie, “organiseer ’n leërskare maatskaplike werkers nou haar kinders en kleinkinders se lewens – dikwels volgens beginsels waarmee sy glad nie saamstem nie”.
’n Welsynstaat wat ten doel gehad het om haar te help, het haar kinders en haar rol van haar weggeneem.

’n Goeie voorbeeld hiervan was programme wat enkelma’s voorkeur gegee het in die toekenning van gesubsidieerde behuising – ’n beleid wat die perverse gevolg gehad het dat meisies swanger geraak het om sodoende ’n woonstel te bekom en van die invloed van haar familie te ontsnap!

Die ergste van alles was dat beleid geïmplementeer is deur ’n regering wie die welsyn en voorspoed van die armes op die hart gedra het en wie self sou kon droom dat hulle beleid so ’n lelike nadraai sou hê nie.

Iemand wat hierdie lees as ’n argument dat welsynshulp aan armes gedoem is om te faal moet sy kop laat lees. Maar terselfdertyd hoop ’n mens dat voorbeelde soos hierdie sommige van die ondeurdagte uitsprake van politici oor sake so kompleks en emosioneel soos welsyn en die gesin sal temper.

Watwou!

’n Paar dae gelede berig die Britse pers oor Alan Johnson, die minister van onderwys, se uitsprake dat tradisionele beeld van die gelukkige gesin om die Sondagtafel ’n “skadelike stereotipe” is en dat ouers nie getroud hoef te wees om goeie ouers te wees nie.

Dit is sulke morele relativistiese twak wat my laat hunker na ’n wêreld sonder politici.

Mnr. Johnson is reg: dit is moontlik vir ’n enkelouer om ’n goeie ouer te wees. Daar is egter ook oorweldigende getuienis dat kinders uit stabiele gesinne met ’n pa en ma wat vir baie jare liefdevol getroud was, ’n beter kans op lewenssukses het as ander.

Eerder as om gelukkige gesinne tot “skadelike stereotipe” te verhef, waarom prys die minister nie liewer hierdie gesinne vir die wonderlike voorbeeld wat hulle die res van die wêreld stel nie?

Ek kan net aan een rede dink. Soos miljoene politici die wêreld oor het Alan Johnson sy oog op ’n hoër prys. Die trofee as die grootste politieke dwaas op die planeet.