18 July 2006

Dis vir hardop sê – eerder as anderpad kyk

In die afgeleë noord-weste van Skotland, naby ’n dorpie met die naam Rhiconich, lê Brittanje se grootste polisiedistrik.

Vir die afgelope nege jaar was polisiekonstabel David Inglis die enigste polisieman aan diens in die gebied van meer as 5 500 vierkante kilometer. Gedurende hierdie tyd was daar slegs “ ’n handvol inbrake” en nooit ’n moord of ’n ernstige misdaad nie, het hy onlangs aan die Daily Telegraph vertel.

Konstabel Inglis het egter nou genoeg gehad van die stryd teen misdaad en wil aftree sodat hy meer tyd kan hê vir visvang en sy hond Bruce.

Daarom soek die Skotse polisie nou vir ’n geskikte kandidaat, iemand wat besef dat ’n vriendelike woord dikwels baie meer effektief is as ’n boete en wat graag wil werk in ’n omgewing waar ’n polisieman nog kan staatmaak op die hulp van die gemeenskap.

Waarom het die storie my so geraak?

Omdat daar ’n tyd was – nie te lank gelede nie – dat konstabel Inglis ewe tuis sou gewees het in ’n polisiestasie in tientalle klein dorpies op die Suid-Afrikaanse platteland. ’n Gebied waar die grootste probleme, soos in konstabel Inglis se geval, beperk was tot dronkenskap en huishoudelike steurnisse.

Vandag, helaas, sal ek baie verbaas wees as daar een polisiekantoor in Suid-Afrika is waar daar nie ’n moorddossier in die afgelope drie maande geopen is nie.

Die Kaapse misdaad-aktivis Neil Watson was onlangs in die nuus (ook hier in Brittanje), omdat sy webruimte, crimexposouthafrica.co.za buitelandse toeriste afraai om Suid-Afrika te besoek – onder ander deur grafiese foto’s van moordtonele te plaas.

Watson se webruimte laat my met ’n morele dilemma.

Ek vind dit teenproduktief – selfs onsmaaklik – om buitelanders af te raai om Suid-Afrika te besoek, maar Watson se taktiek het my tog laat dink aan ’n gesprek wat ek ’n paar maande gelede met ’n Brit hier in Engeland gehad het.

Die man ken Suid-Afrika goed en het reeds ’n paar keer by vriende in Kwazulu-Natal gekuier. Ons praat oor my tuisland en, soos gereeld gebeur, neig die gespreksonderwerp gou na die netelige kwessie van misdaad.

“Hoe beïnvloed misdaad jou lewe in Suid-Afrika. Hoe kan julle so leef?” wil hy weet.

“Jy word gewoond daaraan,” antwoord ek.

En voeg by: “Op dieselfde manier as wat Engelse gewoond raak aan die weer, raak Suid-Afrikaners gewoond aan misdaad. Dis net iets waarmee jy leer saamleef.”

Hy kyk my vraend aan. Lag dan in ongeloof. “Dis ’n ander manier om daarna te kyk,” sê hy.

As ek nou daaraan terugdink, voel ek effens verleë oor dié antwoord.

Verleë oor my onbeholpe poging om die Engelse eendeweer te probeer gelykstel aan ’n moord. Maar veral omdat my antwoord ’n reuse swakheid in my Suid-Afrikaanse psige blootlê – die onvermoë om die harde en naakte waarheid in die gesig te staar.

Ek twyfel steeds nie aan die geldigheid van dié antwoord nie: Suid-Afrikaners leef met misdaad saam deur eenvoudig oë toe te knyp en blindelings voort te donner.

Ons onvermoë om ons probleme in die gesig te staar kom ook nie van gister nie.

Hoe lank het dit geneem voordat daar redelike eenstemmigheid onder wit Suid-Afrikaners was dat ons rasgebaseerde politieke bestel doodgebore is? Vir hoeveel dekades het ons onsself – en die buitewêreld – probeer oortuig dat die idee op een of ander manier tog uitvoerbaar was?

Wat misdaad betref is Suid-Afrika vandag presies waar ons onder PW Botha was: Terwyl ons leiers, soos Pieter Dirk-Uys in een van sy destydse vertonings opgemerk het, besig is om die dekstoele op die Titanic rond te skuif, is ons, die populus, besig om onsself agter hoë mure te oortuig dat dinge nie so goor is nie. Om die waarheid te sê, is dit eintlik heel normaal.

Ons noem dit ’n oorlewingstrategie. Die wêreld daar buite dink ons is gek.

Net soos PW Botha destyds die Rubicon wou oorsteek en toe in die dryfsand vasgeval het, het adj.komm. André Pruis ’n week of wat gelede in Rapport verklaar dat die polisie se vaste voorneme is om misdaad eens en vir altyd kort te vat. Lasbriewe is uitgereik. Bevelvoerders om dié aksie te lei gaan met die hand uitgesoek word…

Net soos PW sal Pruis ook agterkom dat dit beter is om te wag tot jy weer op droë grond aan die ander kant van die river staan voordat jy begin spog dat jy die Rubicon oorgesteek het.

In 1977 het Jimmy Kruger gesê die dood van Steve Biko laat hom koud. Sy woorde weergalm nou nog as ’n herinnering hoe hol, onverskillig en moreel bankrot die apartheidstaat was.

’n Paar weke gelede het die polisieminister Charles Nqakula verklaar dat almal wat kla oor misdaad gerus die land kan verlaat.

Hopelik sal ons oor ’n paar jaar terugkyk en besef dat dit die keerpunt was. Die oomblik wat gewone Suid-Afrikaners besef het hoe gevoelloos hulle leiers werklik teenoor een van die land se enkel grootste probleme staan en besef het dat dit onrealisties is om maar net agter jou veiligheidsheining weg te kruip en, soos ’n kreef, aan die warm water gewoond te raak.

Sê dit ten minste een keer ’n dag hardop. Aan jouself, aan jou buurman, aan jou stadsraadslid, aan jou plaaslike polisiebevelvoerder en ja, selfs aan jou oorsese besoekers: “So kan dit nie langer aangaan nie.”

04 July 2006

Die filosofie van die braai

Londen staan op die oomblik stil – in soverre ’n mens ooit kan sê dat Londen ooit vir enigiets stilstaan – vir Wimbledon.

Ek is vas oortuig dat dié tennistoernooi in die suidweste van Londen ’n baie belangrike funksie in die psige van Londenaars vervul.

Wimbledon gaan oor meer as tennis, dit is vir Londenaars ook ’n tasbare bewys van somer.

Om mense met sonhoede op die moltrein se District Line te sien wat tennisberigte op die koerante se sportblaaie lees terwyl hulle op pad is na die tennis is tasbare bewys dat jy nog ’n jaar van misrabele, vaal dae oorleef het en dat die hoogsomer hier is.

Want glo my, dit word wel somer in Londen. Die populêre beeld van Londen as ’n stad wat altyd nat en grys is, laat uit gedagte dat dit ook baie warm en sweterig kan raak. Veral tydens Wimbledon, waarvan die datum op die mees eksentrieke van maniere vasgestel word as “beginnende ses weke voor die eerste Maandag in Augustus”.

Dit, vermoed ek, is die groot verskil tussen Suid-Afrikaners en Engelse.

Terwyl die Engelse in die somer met baadjie en das gaan tennis kyk, is die sonnige seisoen ’n tyd vir Suid-Afrikaners om te braai.

Verlede week is ek laataand op pad huis toe ná ’n lang dag langs Wimbledon se grasbane – moeg gekyk na nóg ’n power Suid-Afrikaanse tennisvertoning.

Op die sypaadjies voor die beroemde stadion is daar reeds ’n lang ry mense wat begin toustaan vir kaartjies vir die volgende dag.

Dis nog een van die eienaardige tradisies van die toernooi. In ’n eeu van internetbesprekings en package deal toere word daar steeds elke dag sowat 500 kaartjies by die hek verkoop op ’n eerste-kom-eerste-in-basis.

Jou beste kans om dié kaartjies te kry, is om die nag voor die tyd voor die hekke te kampeer en die toustanery begin gewoonlik so van nege-uur die aand reeds.

Terwyl ek so verby die kamperendes loop let ek op dat ’n hele paar van hulle besig is om op amper klandestiene wyse in foeliebakke vuur te maak om ’n vleisie te braai.

Sodra die effense windjie na my kant toe stoot, vul die reuk van braaivleis die lug.

Vir ’n Suid-Afrikaner is die geur van braairook teen skemer op ’n soel somersaand natuurlik niks snaaks nie. Maar hierdie is nie Pretoria nie – of is dit?

En waaragtig: Elke enkele braaiende (en daar was baie) op die sypaadjie voor die All England Lawn and Tennis Club is Suid-Afrikaans.

En dit is hoe ek vir die eerste keer in my lewe gekonfronteer word met ’n feit wat so ooglopend is, ek is verbaas dat ek dit nou eers werklik besef: Suid-Afrikaners is nie net lief vir braai nie. Hulle is heeltemal, toetentaal verslaaf daaraan. Hulle kan eenvoudig nie daarsonder nie.

Ene Robin Millar, ’n Kapenaar wat deesdae in Londen woon, skryf die ander dag in die SA Times (’n weeklikse koerantjie wat onder Suid-Afrikaners hier in Londen versprei word) van die braai wat hy en ’n paar vriende in sy woonstel gehou het.

Die feit dat Robin-hulle se woonstel op die derde verdieping was – en hulle nie ’n balkon het nie – het hulle natuurlik nie een duit geskeel nie.

Met oondrakke het hulle ’n stellasie buite die kombuisvenster gebou en toe tinfoeliebakke met kole daarop gepak en so gebraai.

In dieselfde koerant was daar ’n storietjie van ’n klomp Suid-Afrikaners wat in ’n winkeltrollie gebraai het met ’n winkelmandjie as rooster nadat hulle nie ’n geskikte braaiplek kon kry nie.

’n Oud-kollega van my is uit Battersea Park verjaag omdat hy dit gewaag het om ’n vuurtjie daar aan te steek – maar het darem daarin geslaag om die polisieman te oorreed dat sy tjops amper gaar is. “Gee my net vyf minute asseblief meneer – dis al wat ek vra,” het hy gesmeek voordat hy die tjop in sy mond gedruk het en saam met sy familie die hasepad gekies het.

Net soos alkoholiste en ander verslaafdes sal hierdie braaiers tot die uiterstes gaan vir hul fix. Selfs die oortreding van elke moontlike brandbestrydingsreël wat die Britse wetgewer kan bedink of die moontlikheid van summiere arres sal hulle nie oortuig om die gewoonte te laat staan nie.

Waarom? Van al die dinge wat ons kon kies om vorm te gee aan ons kollektiewe identiteit, waarom vleisbraai?

Ek dink braai is ons manier van kleim afsteek en eienaarskap neem van ’n plek. Soos ’n hond wat teen ’n paal piepie eien Suid-Afrikaners hulle staning of blyplek deur vuur te maak en te braai. Die geur van ons braaivleis dra die boodskap na ons bure: hierdie is my plek dié. Moenie hier met my kom mors nie. (En moet veral nie my plek in die ry by Wimbledon kom afvat nie!)

Die braai annekseer en sluit egter nie net uit nie – dit verwelkom ook.

Braai is vir familie en vriende, want ’n mens braai nooit, ooit alleen nie. Soos ’n mens Kersfees reserveer vir familie, is braai die tyd vir mense waaraan jy die meeste erg het – die wat saam met jou braai, maar ook dié wat dit weens omstandighede nie kon maak nie.

Dis waarom Suid-Afrikaners in die buiteland so graag huis toe bel met die nuus: “Ons het gebraai.” Al wat ons wil sê is, ons mis julle. Moenie braai sonder om ook aan ons te dink nie…