31 May 2006

The broken laptop I sold on eBay

Ons almal ken die gevoel van absolute magteloosheid wanneer jy lelik ingeloop word deur een of ander skelm en jy absoluut niks daaraan kan doen nie.

Al wat jy kan doen is om swetsend rond te loop terwyl jou vriende jou probeer paai en sê jy moet die skade maar afskryf as skoolgeld en seker maak dat jy nie weer in dié gat trap nie. En al wat dié raad aan jou doen is om jou nog méér boos te maak.

Enigeen wat al in die posisie was, sal graag die skepper van die webblad “The Broken Laptop I sold on eBay” op die skouer wil klop.

Die storie is soos volg: ’n Paar maande gelede koop ’n student wat ons ongelukkig net ken as Spikytom ’n skootrekenaar op die internet vendusie eBay.

Ou Spiky se bod word toegeslaan op £375 (R4500), hy betaal sy geld en wag en wag, maar die rekenaar kom net nie te voorskyn nie. Toe die rekenaar uiteindelik twee maande later by hom aankom word sy ergste vrese bewaarheid.

Dit het nie soveel geheue soos beloof nie, dit het nie ’n DVD-skrywer soos beloof nie en, die ergste van alles, dit werk nie eers nie.

Omdat eBay ’n koop-en-verkoop gemeenskap is wat op wedersydse vertroue staatmaak, kontak Spiky die verkoper en vra hom mooi om die rekenaar terug te neem en sy geld terug te gee.

Nodeloos om te sê, het ons vriend Spiky hier te doen met een van daardie luisagtige swendelaars wat ons almal maar net te goed ken.

Al Spiky se pogings van mooi vra en pleit is puur verniet. Gelukkig is Spiky ’n jong man wat verstaan van computers en hy besluit om dan maar die rekenaar reg te maak.

Die oomblik wat hy uiteindelik die hardeskyf weer aan die draai kry, besef Spiky dat hy op die spreekwoordelike pot goud aan die einde van die reënboog afgekom het.

Want sien, omdat ons swendelaar geglo het die rekenaar is stukkend, het hy nooit die moeite gedoen om die hardeskyf skoon te maak voordat hy dit verkoop het nie.

En op die hardeskyf is die wonderlikste details van die geheime lewe van die verkoper, ene Amir Tofangsazan van Barnet, in die noorde van Londen.

Spiky begin toe ’n webruimte en dit begin so:

“Hallo, my naam is Amir Massoud Tofangsazan. Ek is 19… en gee voor ek is ’n groot besigheidsman, maar eintlik is ek glad nie so slim nie. Hoe hou julle van die foto van myself wat ek geneem het?”

oe

Die webruimte vertel dan die verhaal van die transaksie en hoe hy wat Amir is, gehoop het Spikytom eenvoudig van die hele petalje sal vergeet.

Wel, Spikytom het ongelukkig nie vergeet nie, en danksy die webblad weet die hele wêreld nou dat Amir die gewoonte het om meisies se bene met sy selfoonkamera af te neem terwyl hy op die Londense ondergrondse treine ry.

Daar is ook ’n paar foto’s van hom, sy vriende en sy meisies en een of twee wat liefs nie in ordentlike geselskap gewys moet word nie.

Daar is ook ’n paar CV’s van onse Amir. In die lig van sy transaksie op eBay, is daar veral een paragraaf wat nogal interessant is:

Amir beskryf homself as “eerlik in alle gevalle”. As voorbeeld noem hy die geleentheid toe die bank ’n fout van £5 000 (R60 000) in sy guns op sy rekening gemaak het. “Ek het my bank daarvan gesê en die geld teruggegee.”

Nodeloos om te sê, die webruimte het oornag ’n reuse treffer geword met meer as ’n halfmiljoen mense wat dit reeds besoek het.

Amir het hierdie week aan die Daily Mail gesê sy lewe “het hel geword” sedert die webblad verskyn het.

“Ek vrees my reputasie gaan geruïneer word.”

Hy ontken dat die rekenaar stukkend was of dat die Spikytom hom ooit vir sy geld terug gevra het nie.

So op die oomblik is dit ou Spiky se woord teenoor dié van Amir.

Maar ek vermoed ek weet waar die simpatie gaan lê van miljoene mense wat al uit hulle swaarverdiende geld geswendel is…

24 May 2006

Wie het ’n Beatle nodig op 64?


Oor ’n paar Sondae van nou breek een van die belangrikste dae in onlangse Beatle-geskiedenis aan.

As jy wonder waarom die 18de Junie so ’n vername dag is, het jy duidelik nie onlangs na die belangrikste popalbum van alle tye – Sgt Pepper’s Lonely Hearts Club Band vir die oningeligtes – geluister nie.

Op daardie dag behoort die draaitafel in menige getroue Beatle aanhanger se huis afgestof en ingeprop word.

Dan sal die swart viniel van Sgt Pepper met seremonie uit sy veelkleurige omslag gehaal word en met ’n klam lappie afgevee word. En ons sal weer besef dat die aksie om ’n CD se skip knoppie te druk totdat jy by die verlangde song kom net nie dieselfde is as die konsentrasie wat dit verg om die naald bewerig neer te sit aan die begin van snit twee op kant twee van Sgt Pepper nie.

Nou behoort jy terug te sak in jou gunstelingstoel terwyl jy wag vir die speelse en oorbekende melodie.

When I get older

losing my hair,

many years from now.

Will you still be be sending me a Valentine,

birthday greetings, bottle of wine?

Binnekort sal jy jou bierbottel vir ’n mikrofoon aansien en lustig begin saamsing:

Will you still need me,

will you still feed me,

When I’m sixty-four?

Jip. Reg geraai.

Paul McCartney word op 18 Junie 64 jaar oud.

So wat doen ’n Beatle in sy sestigs?

Vroeër hierdie week staan ek by die Chelsea Blommeskou in Londen toe ’n kort mannetjie met ’n uniform wat nie onvanpas op Sgt Pepper se omslag sou wees nie, verbygemarsjeer kom – die bebaarde gesiggie met die donkerbrilletjie onmiskenbaar die van Ringo Starr.

Veertig jaar gelede het die sedebewakers hom en sy mede-Beatles se musiek as immoreel veroordeel. Ek wonder wat daardie dominees sal sê as hulle hom nou moet sien terwyl hy – net soos 170 000 ander Britse pensioentrekkers – besig is om hom te verlustig aan die pragtige blommetjies by die wêreld se grootste tuinbouskou.

Ringo en vroulief Barbara Bach se besoek aan Chelsea was natuurlik al jare gelede op Sgt Pepper voorspel – en ’n mens hoef nie eers die plaat agteruit te speel om die boodskap te verstaan nie.

Doing the garden,

digging the weeds,

who could ask for more?

En terwyl Ringo, soos die ware eksentrieke Engelse heer na die fraai blommetjies by Chelsea kyk, is die Rolling Stones se Keith Richards op ’n botaniese uitstappie van sy eie. Hy val uit ’n palmboom uit terwyl hy op Fiji vakansie hou.

Ek wil nou nie die jare-lange sluimerende oorlog tussen Beatles en Stones-aanhangers weer laat opvlam nie, maar as Keith met meer aandag na Sgt Pepper geluister was hy die harsingskudding op sy oudag gespaar.

You can knit a sweater by the fireside,

Sunday mornings, go for a ride.

Maar terug na McCartney, want ongelukkig eindig die storie nie daar nie.

Macca (soos die Britse tabloids hom noem) het onlangs aangekondig dat hy en sy jong bruid, Heather Mills, se paadjies na ’n huwelik van vier jaar gaan skei.

Die twee sê die “konstante media-aandag” het vir hulle huwelik te veel geword.

Dis natuurlik alles absolute twak.

Na meer as 40 jaar in die openbare oog (en ’n lang, suksesvolle en liefderyke huwelik met die eerste mevrou McCartney, die nimlike Linda) is Sir Paul sekerlik nou al gewoond aan die aandag.

Mev. McCartney II, ’n model wat haar been in ’n ongeluk verloor het en uitgesproke is oor sake soos landmyne, diereregte en die drink van melk (dis glo sleg vir jou), is ook geen vyand van die media nie – veral as dit háár pas.

Die Engelse poniekoerante beweer die ware rede vir me. Mills McCartney se ongelukkigheid is nie die konstante aandag nie, maar eerder die feit dat die wêreld meer geïnteresseerd is in mnr. McCartney as in haar.

Nou wat het sy dan gedink? As jy met die grootste musikant sedert Beethoven trou moet jy bereid wees om soms tweede viool te speel.

Sir Paul se idee van ’n rustige oudag het ook blykbaar gebots met sy bruid se oorywerige skedule om die wêreld se aandag te probeer vestig op dinge soos landmyne en die jag van baba-robbe in die noorde van Kanada.

En, sê die skindertonge, is Macca in baie gevalle maar taamlik teësinnig ingesleep om aan hierdie kampanjes deel te neem.

Dis nie wat hy in gedagte gehad het toe hy amper veertig jaar gelede geskryf het:

I could be handy, mending the fuse,

when your lights have gone.

Nóg ’n storie het dit dat Heather eendag iets oor die radio gehoor het en aan Paul moes erken dat sy geen idee het wie dit is wat sing nie.

“O, dit?” het Macca skaam gesê. “Ag dis sommer vier outjies wat jare gelede nogal bekend was in Liverpool. Stem saam, die harmonieë klink nie te waffers nie.”

Miskien moet mens nie te hard op die girl wees nie. Sgt Pepper was immers al reeds sewe maande op die rak toe sy in Januarie 1968 gebore is.

Of nee wag. Dis geen verskoning nie. Almal – selfs Paul McCartney se vrou – behoort van die Lonely Hearts Club Band te weet.

As sy meer aandag in die klas gegee het sou sy ook nie so gekla het dat Sir Paul ’n bietjie suinig is en nie genoeg van sy R8 biljoen aan liefdadigheid wil weggee nie.

Hy het immers geskryf.

Every summer we can rent

a cottage in the Isle of Wight,

if it’s not to dear,

We shall scrimp and save.

So, as jy oor drie weke Macca se verjaarsdag vier met Sgt Pepper op die draaitafel, dink ’n bietjie aan die arme ou drommel.

Want op die vraag Will you still need me, will you still feed me, is daar vir ’n pensioentrekker soos hy net een antwoord.

Op 64? Nee.

10 May 2006

Tony Blair is nie meer die meester van sy eie lot

’n Adjunkleier met ’n voorliefde vir jonger vroue. Die hoof van die regering wat vinnig besig is om beheer oor sy eie party te verloor…

As jy dink bogenoemde is ’n kriptiese opsomming van gebeure wat tans die Suid-Afrikaanse politieke toneel oorheers, dink weer.

Terwyl die meeste Suid-Afrikaners hierdie week die finale ontknoping van die Zuma-verkragtingsdrama in Johannesburg dopgehou het om te sien hoe dit die leierstryd binne die ANC gaan beïnvloed, het ’n ewe interessante leierskapstryd homs binne die Britse Arbeidersparty afgespeel.

Soos dikwels die geval is, is struweling binne ’n politieke party baie meer boeiend, uitmergelend en gewelddadig as die stryd tussen opposisiepartye.

Die dispuut binne die Britse Arbeidersparty oor die – op die oog af onskuldige – vraag oor wanneer Tony Blair as premier en leier van die party moet uittree, is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Ten spyte van ’n politieke aanvoeling wat hom baie goed te staan gekom het in sy vroeë dae as leier van die Arbeiders is die wunderkind van die Britse politiek besig om sy touch te verloor.

Dit is ’n les wat Margaret Thatcher en PW Botha voor hom op die harde manier geleer het: Dit is onmoontlik vir ’n politieke leier om die draaiboek vir sy eie vertrek van die politieke verhoog te skryf. Daar is eenvoudig te veel mense wat graag daardie dag vir jou wil bederf. En om alles te kroon is dit mense uit jou eie politieke agterplaas.

Na die Arbeiders se powere vertoning in die plaaslike verkiesings tien dae gelede, toe hulle meer as 300 setels aan die Konserwatiewe Party afgestaan het, is die lang messe nou behoorlik uit.

Die politieke les vir Blair is so oud soos politiek self: As die storm op die oop see woed en die skip begin disintegreer, vra niemand wie die kiel gelê het nie. Hulle blameer die kaptein.

Dis presies wat nou met Blair gebeur – ten spyte van die feit dat baie ander mede-verantwoordelikheid vir die Arbeiders se huidige probleme moet dra.

John Prescott , die adjunkpremier wat ’n paar dae voor die verkiesing met sy broek op sy enkels gevang is toe ’n poniekoerant onthul het dat hy ’n verhouding met een van sy sekretaresses gehad het, moet sekerlik ’n deel van die blaam dra.

Nog ’n onthulling, dat meer as ’n 1000 immigrante-gevangenes wat gedeporteer moes word nadat hulle hul vonnisse uitgedien het in die strate van Engeland vrygelaat is om verder te roof en te moor, was miskien die laaste strooi in menige kieser se gemoed.

Soos dikwels die geval is as jy ’n hopelose situasie probeer regdokter, was Blair se reaksie op die verkiesingsuitslae ’n totale mislukking.

In ’n desperate poging om die aandag van die swak vertoning af te trek, kondig hy die dag na die verkiesing ’n kabinetskommeling aan. Charles Clarke, die minister van binnelandse sake verantwoordelik vir die fiasko rondom die vrylating van gevangenes, kry die trekpas.

Prescott aan die ander kant, behou sy pos, maar verloor die meeste van sy verantwoordelikhede.

Van die Britse belastingbetaler word dus verwag om ’n man te onderhou met bitter min om te doen en wat boonop ’n voorliefde vir die jong sekretaresses in sy kantoor het. Soos een poniekoerant dit gestel het: “Now we are all screwed.”

Selfs Blair se eie party was siedend. Baie van die meer radikale Arbeiders het dit gou duidelik gemaak dat hulle met niks minder as Blair se kop op ’n skinkbord tevrede sou wees nie.

Tot voor die verkiesingsfiasko het Blair volgehou dat hy sy volle derde termyn as premier sal deursien. Vir baie lede van die Arbeiderkoukus was dit nie meer goed genoeg nie. Hoe gouer Blair die leisels aan sy gesalfde – die minister van finansies Gordon Brown – oorhandig, hoe beter.

Blair-ondersteuners was gou uit die blokke met ’n offensief van hul eie. Hul hoof-woordvoerder, John Reid, die man wat pas aangestel is as nuwe minister van binnelandse sake, het gesê die anti-Blariete hunker na die dae van ou Arbeidersparty.

“So ’n party het geen hoop om ooit weer ’n verkiesing te wen nie,” het hy gesê in ’n beswaarlik bedekte skimp na enigeen wat Blair se nalatenskap van ’n “nuwe Arbeidersparty” ongedaan wil maak.

Die bepalende oomblik in dié stryd was klaarblyklik Dinsdag tydens ’n vergadering van die Arbeiderskoukus.

“Na die vergadering het Blair geweet hy is nie meer die meester van sy eie lot nie,” het The Times na afloop daarvan geskryf.

’n Senior partylid het blykbaar aan Blair en Brown gesê: “As julle nie die (kwessie van ’n magsoorhandiging tussen julle) uitsorteer nie, sal daar wel ’n stabiele en ordelike oordrag van mag wees: van die Arbeiders na die Tories.”

Dit was, volgens nog ’n waarnemer, die mees volgehoue kritiek wat Blair nog ooit as eerste minister van sy eie party moes verduur.

Die uiteinde van die vergadering was dat hy moes belowe om as premier te bedank op ’n tydstip wat aan Brown “oorgenoeg tyd” sal laat om voor te berei vir die volgende algemene verkiesing (wat waarskynlik in 2008 gehou sal word).

Oor wat dit in praktyk beteken is die meeste Arbeiders en politieke kommentators eens: Gordon Brown sal voor die einde van volgende jaar die eerste minister van Brittanje wees.

Of dit hom genoeg tyd sal laat om ’n stadig lekkende Arbeiderskip te lap, sal net die tyd leer.

03 May 2006

Roosterbrood val altyd jêmkant onder

Is dit nie ongelooflik hoe, net as 'n mens dit die minste nodig het, daardie roosterboord altyd met die jêmkant na onder op die vloer sal beland nie.

As jy op jou haastigste op pad uit is, is jou selfoon op sy wegste. En om alles te kroon verwag jy 'n vreeslike belangrike oproep en kan jy dit eenvoudig nie sonder jou foon uit die huis waag nie.

En waarom stap jou baas, sonder uitsondering, altyd jou kantoor binne die oomblik as jy besig is om jou hoogste telling ooit op jou gunsteling rekenaarspeletjie by die werk op te stel. Dit nadat hy enige rekenaarspeletjies in werktyd uitdruklik verbied het.

Sover dit daardie jêmkant na onder oomblikke aangaan, kon min mense seker die afgelope week vir Paul Compton klop.

Die 42-jarige 'n finansiële analis van Londen het twee weke gelede vir hom 'n pragtige nuwe 14m seiljag aangeskaf.

Die afgelope naweek was, net soos in Suid-Afrika, 'n langnaweek, en Compton het besluit hy het genoeg gehad van die sieldodende finansiële wêreld in Londen. Dit is tyd om met sy nuwe speelding langs die Engelse suidkus te gaan baljaar.

Vir die geleentheid het hy ook 'n 33-jarige vriendin, wat tot dusver naamloos gebly het, saamgenooi.

Die naweek, so wil mens graag glo, was idillies. 'n Rustige vaart al langs die suidkus van Engeland - 'n romantiese nag op die jag, vasgemeer e^rens in 'n beskutte baai en Maandag die terugvaart na die beskawing.

Wonderlik. Totdat mnr. Compton se sny roosterboord, by wyse van spreke, jêmkant op die vloer beland het.

Waarom hy nie besef het dat die punt op die maritieme kaart wat gemerk is "Aambeeld Punt" niks goeds voorspel nie, sou net hy weet.

En waarom hy besluit het om, die oomblik toe Aambeeld Punt op die horison verskyn, gou die kajuit binne te glip om iets te gaan haal (of dalk 'n uiltjie te knip?) sou 'n mens net kon raai.

Al wat ons weet is dat hy die roer aan sy vriendin oorhandig het en onder die dek verdwyn het.

Hoe lank hy weg was, sal na dese vir ewig 'n geskilpunt tussen hom en die naamlose dame bly.

Hoe lank dit ookal was, dit was te lank.

Want waaroor daar geen verskil bestaan nie, is die feit dat mnr. Compton en sy vriendin na dese baie goed weet waarom Aambeeld Punt se naam Aambeeld Punt is.

Gelukkig vir die twee het Compton darem nog genoeg tyd gehad om die radio te gryp en in 'n benoude stem te roep: "Mayday, Mayday".

Die ironie van die kreet op die eerste dag van Mei het sekerlik in die hitte van die oomblik verlore gegaan.

Al wat hulle toe kon doen is om van die seiljag tot op die rotse te klouter en van daar te sit en kyk hoe R2,8 miljoen stadig onder die koue water van die Engelse kanaal verdwyn.

Gelukkig het die Condor Vitesse, 'n katamaran wat passasiers oor die Engelse Kanaal neem, sy oproep om nood gehoor en die naaste seereddings-stasie in kennis gestel.

Waaroor mnr. Compton en sy vriendin gesels het terwyl hulle daar op die rotse sit en wag vir hul redders, weet mens nie.

Ek hoop van harte dat hy nooit die onderwerp van vrouebestuurders geopper het nie - uit eie ondervinding weet ek dit sou uiters onsensitief onder omstandighede gewees het. Maar ek weet ook dat die meeste mans geneties so geprogrammeer is dat hulle hulself onder sulke omstandighede net nie kan help nie - hulle sal altyd 'n reeds delikate situasie heeltemal verwoes.

Dit is waarom ek iets lees in die feit dat, toe die reddingsboot uiteindelik opdaag, mnr. Compton na veiligheid gespring het en sy vriendin op die rots agtergelaat het.

Volgens koerantverslae oor die gebeure het sy "gevries" en moes 'n helikopter uiteindelik ontbied word om haar met 'n windas van haar preke^re posisie te lig.

Hulle is later by die plaaslike hospitaal herenig waar hulle ondersoek en ontslaan is.

'n Taxi het hulle teruggeneem na Lymington, die dorpie naby Southampton waar mnr. Compton sy Porche geparkeer het.

Dis egter hier waar daardie jêmkant op die vloer oomblik die allerverskriklikste, absurde afmetings aanneem.

Ja, jy het reggeraai.

Compton het sy motorsleutels op die seiljag vergeet.