25 April 2006

Oor lente en die voorreg om weer op straat te lag

Van 'n vriend uit Johannesburg kom daar hierdie week 'n e-pos.

"Dit word nou vinnig koud hier en ek dink ons is in vir 'n kouerige winter," laat hy weet.

In Londen is die dae genadiglik besig om langer te rek. 'n Soel lentedag kan steeds grys wees, maar om die vaalheid op te vrolik is daar darem die plate geel affodille in die parke, die kersiebloeisels aan die bome en die magnolias.

O, die magnolias. Is daar enigiets meer uitspattig as 'n magnoliaboom in vol blom voor 'n vaalbaksteensemi in 'n Londense buurt?

Dis 'n gesig wat die ontberinge van die winter die moeite werd maak.

Vir my vriend in Johannesburg skryf ek: "Die winter mag koud wees, maar gelukkig is die mense daar warm."

Deur die lang, donker Britse winter het ek vergeefs gesoek na 'n warm glimlag onder die toegewikkelde lywe op straat. My laaste poging tot 'n terloopse grappie met 'n winkelassistent het so klaaglik misluk dat ek my voorgeneem het om die lawwe gewoonte te laat staan.

Maar ook die Britse stugheid, kom ek nou agter, is saam met die seisoene aan die draai en Londen in die lente het al hoe minder plek vir suurknolle.

Hoe kan dit anders as die hele landskap rondom jou begin te bloei?

Na vandeesweek glo ek vas dat die waterskeiding - die punt waar winterknorrigheid na somervreugde transformeer - saamval met die naweek waarin die Londen Marathon gehardloop word.

Duisende Londenaars het verlede naweek hulle swart strepiespakke vir hardloopfrokkies verruil om die strate van hul eeu-oue stad terug te eis van die rooi busse en swart taxi's deur die lang pad van Greenwich in die ooste na Buckingham Paleis in die weste te voet aan te pak.

Nuuskierig om die stad se kollektiewe persoonlikheidsverandering eerstehands te beleef was ek vroeg verlede Sondagoggend op 'n trein op pad na Tower Bridge, nie ver van die halfpadmerk van die marathon nie.

Londenaars sukkel gewoonlik om naweke uit die kooi te kom en dit is taamlik ongewoon om voor 10-uur in die oggend enige teken van lewe op straat te bespeur.

Verlede Sondag was egter die uitsondering op die ree"l en ten spyte van die vroee" uur het die stasieperonne van Kensington tot Westminster gewemel van die mense.

Vir iemand gewoond aan die vaal, stugge en boekerige atmosfeer van 'n Londense moltrein op 'n weeksoggend, was die atmosfeer op hierdie trein aansienlik meer opgewek.

Terwyl ek my verluister na die opgewekte gekekkel van 'n groepie jong vrywilligers van die St John's ambulansdiens op pad na die noodhulppos wat hulle vir die duur van die marathon gaan beman, kom ek agter daar is iets eienaardig aan hul optrede. Dan besef ek - dis die eerste keer in baie maande dat ek enigiemand op 'n ondergrondse trein uitbundige hoor lag.

'n Paar uur later staan ek op die beroemde toringbrug. 'n Klein lorrietjie kom verby. Die bestuurder slaan opgewonde 'n ritmiese deuntjie op die toeter. Die skare op die sypaadjie begin entoesiasties bruis.

Dan volg 'n motorfiets en oomblikke later die amper geluidlose tip-tap van 'n dosyn paar voete van die voorste peloton elite atlete.

Hulle swiesj verby voordat ek nog behoorlik die groot name in we^reldatletiek onder hulle kon identifiseer - my kreet van "go Hendrick go" te laat om enigsins as aansporing te dien vir Suid-Afrika se Hendrick Ramaala wat hom ook onder die voorste groep bevind.

Met die voorlopers al kilometers verder op pad na die wenstreep voor Buckingham Paleis daag die res van die deelnemers op. Eers drup-drup, dan 'n straaltjie totdat dit uiteindelik 'n onophoudelike moee", dog vriendelike stroom word wat oor die brug kronkel, regs draai in die rigting van Canada Wharf voordat hulle 'n haarnaalddraai maak om terug te keer na die Embankment en die Mall.

Baie, baie later die middag - meer as ses uur nadat Ramaala in die derde plek klaargemaak het - staan ek naby die Tower of London terwyl die agterosse verby my drentel.

Twee vriende in kameelkostuum hobbel verby. Dan 'n paar soldate in gelid, elk met 'n geweer teen die skouer en hul marathonnommers netjies op hul uniforms vasgespeld.

Wat tot die besluit gelei het om die marathon op die' manier aan te pak, sal net hulle weet.

'n Weddenskap na die tweede of derde pint by die kuierplek om die hoek? 'n Desperate poging om 'n paar ekstra pennies in te samel vir 'n welsynsorganisasie wat hulle na aan die hart le^ miskien?

Of is daar 'n ander, meer fundamentele rede waarom duisende stugge Londenaars reg deur die lang donker winter hard geoefen het - net om alle behoorlikheid oorboord te gooi deur met 'n waansinnige kostuum deur die strate van hul stad te hinkepink?

Kan dit wees uit dankbaarheid vir langer dae, vir geel affodille en die vreugde om weer op straat te lag?

12 April 2006

Vlieg jy na Domodedovo? Los dan die Klipdrift by die huis...

Mense wat vreeslik kla en kerm oor die inbreuk wat geslotebaan televisie kameras en ander veiligheidsmaatreëls op hul privaatheid het, laat my koud.

Gelukkig is die kla-brigade nie vreeslik lawaaierig in Suid-Afrika nie - ek sou dink dat die meerderheid Suid-Afrikaners maar net te dankbaar sal wees vir enigiets wat hul omgewing veiliger sal maak.

Hier in Brittanje is daar gedurig 'n gedruis op die agtergrond van mense wat dit sien as 'n skending van hul privaatheid.

Self was ek nog altyd van mening dat daar veel erger dinge is om jou oor te bekommer. Op die oomblik is ek byvoorbeeld baie bekommerd oor die feit dat ek nie meer £2,50 in my beursie oor het vir 'n laatmiddag pint by my local, die Scarsdale Arms nie.

Ek glo as jy nie op straat afgeneem wil wees nie, is jy waarskynlik besig met een of ander skelmstreek.

Of soos die beroemde New Yorkse fotograaf Diane Arbus een keer opgemerk het: "As jy nie afgeneem wil wees nie, moenie op straat kom nie." Arbus sou natuurlik so sê, sy het haar lewe gemaak deur vreemde mense op straat af te neem.

Die gesindheid beteken ook dat ek min begaan is oor die elektroniese trein- en buskaartjie in my beursie, al weet ek dat dit "die owerhede" in staat sal stel om my bewegings oor Londen heen te monitor.

Die feit dat die Londense polisie, terwyl hul tuur na hul televisiemonitors, teen hierdie tyd bewus is van die feit dat ek vanoggend vir ten minste 'n uur in Kensington se hoofstraat rondgedrentel het en by drie buitelewe winkels en 'n boekwinkel ingeloop het terwyl ek nie 'n sent op my naam het om enigiets daar te koop nie, skeel my min.

Werklikheidstelevisie hou 'n veel groter gevaar vir ons samelewing in as geslotebaantelevisie. My raad aan die menseregte-aktiviste was dus nog altyd: As julle oor iets wil betoog, betoog liewer teen Big Brother en Survivor.

'n Onlangse berig in die Daily Telegraph dwing my egter om my gelatenheid oor die saak in heroënskou te neem. Na dese is selfs ek bekommerd oor my privaatheid.

Volgens die berig gaan "die owerhede" in Rusland binnekort 'n "waarheidskontroleerder" by lughawens installeer wat sal kan vasstel of passassiers lieg as hulle gevra word of daar enige plofstof of dwelms in hul bagasie versteek is.

Die masjien, wat ontwikkel is deur die Israeli's, "kan selfs bepaal of die antwoorde (wat 'n mens gee) van die geheue of die verbeelding afkomstig is".

Ek vermoed dit beteken as iemand homself verbeel hy is Osama Bin Laden, het hy niks om te vrees nie. As jy George Bush is, maar intussen vergeet het, mag jy dalk probleme hê. Of dalk nie?

Volgens die berig skei die masjien die bona fide passassiers van die terroriste en smokkelaars deur jou reaksie op drie vrae te meet.

Die eerste (wat is jou naam?) en die derde (het jy enige wapens of dwelms in jou bagasie?) is redelik voor die handliggend. Ek voorsien nie dat ek in die nabye toekoms probleme sal hê om hierdie vrae eerlik en opreg te beantwoord nie - ongeag of ek op my geheue of verbeelding staatmaak in my respons.

Die tweede vraag is egter, soos die Telegraph dit stel, "angswekkend in sy Sowjet-bruuskheid". Dit lui: "Het jy al ooit vir die owerheid gelieg?"

Dit is net hier waar ek vassteek soos 'n Cats-speler wat met 'n rugbybal gekonfronteer word.

Ek vermoed die teenvraag, "Nou hoe bedoel meneer dan nou?" sal nie onder sulke omstandighede deug nie.

Jy sal dus bitter vinnig moet besluit of die gesprek tussen jou en die verkeersman so 'n jaar gelede net buite Potchefstroom genoeg rede is vir 'n eenvoudige ja op hierdie vraag.

Nou dat ek daaroor begin nadink is ek ook nie so seker of ek my belastingopgawe vir die 1998/99 belastingjaar met die Russiese lugvaartowerhede moet bespreek nie? Hoe verduidelik 'n mens aan 'n lang maer donker man in 'n vaalgrys pak dat sub-paragraaf (iv) van vraag 3 (e) na jou mening oop was vir redelike liberale interpretasie. Wel, oop was vir huhhhhh... 'n baie liberale interpretasie.

Hoe sê mens nou weer "interpretasie" in Russies?

Ek sien al hersenskimme van koue Siberiese winters en doringdraad. Ek is klaar nie meer seker of ek te doen het met suiwer geheue of blote verbeelding nie.

Wat my skielik laat wonder, is die visioen van 'n Russies-Joodse waarheidskontroleerder feit of fiksie? So 'n blêddie masjien sal so met 'n mens se kop smokkel dat hulle bloot 'n ou hartmonitor in die lughaweterminaal sal kan neersit en almal sal hulle diepste hartsgeheime aan vreemdelinge van die KGB begin uitlap - om nie eers te praat van die ses bottels Klipdrift wat jy met jou saamsmokkel nie.

Daarom is ek nou van mening hoe gouer die Verenigde Nasies, die Wêreldhof en Stellenbosch Farmer's Winery begin kapsie maak teen hierdie inbreuk op 'n mens se privaatheid, hoe beter. So kan dinge nie langer aangaan nie.

Intussen sal ek enigeen aanraai om Moskou se Domodedovo Lughawe te vermy - in elk geval tot tyd en wyl jy die gesprek tussen jou en die Potchefstroomse verkeersman baie goed deurdink het. Om van jou belastingopgawe twee jaar gelede nie eers te praat nie.

En o ja, 'n laaste ding. As jy dan Domodedovo toe móét vlieg, los om vadersnaam die Klipdrift by die huis.

05 April 2006

Om 'n man op sy baadjie te takseer

In Engeland word 'n mens nog baie maklik op jou baadjie getakseer.

Dit kos so 'n paar maande in die Britse hoofstad om te besef hoe baie anders dinge in Suid-Afrika gedoen word - veral wat ons kleregewoontes betref. En hoe baie dinge in die laaste paar jaar in Suid-Afrika verander het.

'n Paar jaar gelede het die redakteur by die koerant waar ek as 'n jong verslaggewer begin werk het 'n mens nog oor die vingers getik as jy sonder 'n das en 'n baadjie kom werk het. Hy het toe reeds 'n verlore stryd gestry, want ons jongelinge het hom om elke hoek en draai probeer verneuk.

Ek het dit toe gesê en hou steeds by my storie: Dit is onmenslik wreed om 'n jong man op 'n warm Kaapse somersdag met baadjie en das Clifton toe te stuur om foto's te gaan neem van mooi meisies wat in die son bak.

Ek weet nie of Andrew Drysdale - my redakteur van destyds - uiteindelik self die onmenslikheid van sy reglement besef het nie, maar baie gou het dit moontlik geword om straffeloos en dasloos in The Argus se nuuskamer rond te loop, solank jy 'n das in die boonste laai van jou lessenaar gehad het vir 'n noodgeval. En 'n noodgeval is gewoonlik gedefinieer as: "Die redakteur soek jou in sy kantoor."

Om jeans werk toe te dra was natuurlik 'n ander storie - dit was 'n bietjie moeilik om ook 'n "netjiese" broek in jou boonste laai te hou. So dit was eers nadat Drysdale se opvolger self met 'n paar denims by die werk opgedaag het, dat daardie reël in die stof gebyt het. Vandag sal ek verbaas wees as enige jong verslaggewer steeds 'n das in sy laai hou vir 'n "noodgeval".

Ek is aan hierdie "das-in-die-laai" gewoonte herinner tydens 'n onlangse besoek aan 'n opregte Engelse "gentleman's club" in Londen.

Die Cavalry and Guards Club, met hul klubhuis by nommer 27 Piccadilly, is 'n vreeslike grênd affêre.

As jy dit hoegenaamd regkry om, soos ek, verby die deurman te sluip sonder dat hy jou eers goed deurkyk, sal jy gewis rens jou rieme styfloop.

Op pad na die kroegarea (waar terloops geen vrouens toegelaat word nie) bekruip 'n stem uit die hoek my.

"Excuse me."

Nou in Engeland praat hulle, ongeag wat enigeen al in die verlede aan jou probeer wysmaak het, nie net een taal nie. Hulle praat 'n klomp. Almal Engels, maar nie almal dieselfde Engels nie.

Engelse sinne wat met "excuse me, but..." begin, voorspel gewoonlik moeilikheid. Ouens wat sulke Engels praat het gewoonlik sulke swart pakke aan met dun wit potloodstrepies. Daardie pakke is donkiejare al uit die mode in Suid-Afrika, maar hier dra hulle dit nog steeds.

Die ou wat nou met my praat is nog deftiger. Sy pak het nie sulke dun potloodstrepies nie. Dis sommer sulke dikkes, chalk stripes hoor ek die Engelse noem dit. Elkeen so 'n duim of wat uitmekaar uit.

Hier rond is hy dus 'n meneer. 'n Baie Belangrike Persoon. En hy se^: "Excuse me, but you are not allowed in here without a tie."

Hy wou nog iets byvoeg, maar teen daardie tyd staan ek al lankal in die voorportaal, te bang dat die strepiesmanne my nog verder met hulle skerp tonge oprof. Hierdie tipe Engels mag miskien vreeslik polite klink, maar vriendelik is dit beslis nie.

Buite in die portaal kom die deurwag egter tot my redding met 'n hand vol dasse, waaruit ek een kan kies om my toegang tot die klub te verseker.

Ek kies vir my 'n gawe das om by my jas te pas en ek sluit skaam-skaam by my geselskap aan terwyl ek die terugdink aan Drysdale en die dasse wat ons altyd in ons laaie gehou het.

Vir die eerste keer in my lewe wens ek dat ek vir ou Drysdale geluister het. Hier staan ek in die Engelse heiligdom, vrek bang dat die manne in die strepiespakke my 'n tweede keer sal oplet. Want ek het 'n tweede van my voormalige redakteur se aantrekree"ls oortree: ek het 'n denimbroek aan.

En ek weet wat hierdie "excuse-me-engelse" daarvan gaan sê...