29 March 2006

Sinatra is soveel beter in 'n ouer lyf

Die lewe hier in Londen kan taamlik oordadig wees vir 'n Suid-Afrikaner wat op die kulturele ekwivalent van droe" brood en water grootgeword het.

So oorvloedig dat mens moet bietjie-bietjie proe om te keer dat jy binne 'n paar weke met 'n akute kultuur babbelas sit.

En hier praat ons nie net van hogere kultuur soos opera, beeldende kuns en ernstige teater nie.

Vir 'n filistyn, soos die uwe, is daar ook genoeg om van te smul.

Dis waarom dit goed is om so af en toe te ontspan met 'n bietjie kulturele kougom - iets wat nie te ernstig is nie en wat die siel darem 'n bietjie rus gee tussen al die uitdaging.

Met die in gedagte sit ek 'n paar dae gelede af na die weseinde vir 'n vertoning van Sinatra at the London Palladium.

Gedink 'Ole Blue Eyes is vergete al dood? Watwou. Met die hulp van moderne tegnologie is hy springlewendig.

Die vertoning volg 'n interessante konsep: Alles wat jy sien is regtig egtig. Die doobie-doobie meisies het regtige egtige lang bene en hul dans op die maat van 'n regtig egtige orkes wat die hele verhoog volsit.

Dis net die hoofattraksie, ou Frank homself, wat nie daar is nie. Sy beeld word geprojekteer op 'n silwerdoek - drie, vier keer lewensgroot - vanwaar hy sing en ook so 'n bietjie oor sy eie lewe vertel.

Alles historiese opnames wat onder hande geneem is deur digitale restoureerders wat Frank se stem van die bande gelig het sodat hy weer alleen saam met 'n werklike orkes kan sing.

'n Mens kan maar net telkens jou hande saamslaan oor al die truuks en soos die ou oom van my kinderjare in ongeloof prewel: "Hel, die Engelse is darem maar 'n slim klomp mense."

As jy my egter vra om die hele spulletjie krities te beoordeel moet ek eerlik se^: ek dink slim het hier sy baas gevang.

'n Mens voel telkens so bietjie gekul - kompleet asof jy 'n halwe dag in die warm son gestaan het om vir Nelson Mandela te sien, toe daag Thabo Mbeki op. Of kaartjies gekoop het vir die Rolling Stones, toe sing die Campbells.

Die bottom line is, 'n swart en wit fliek van Frank Sinatra wat sing (al is dit saam met 'n regtige orkes) bly net dit - 'n swart en wit fliek van Frank Sinatra. Geen hoeveelheid digitale sny en plak en asemrowende langbeenmeisies gaan dit verander nie.

Alles was natuurlik nie net sleg nie en die Sinatra ervaring het tog stof tot nadenke gelaat - 'n besef van 'n teenstrydigheid in die Sinatra persona waarvan ek nie voorheen bewus was nie.

Waarom is dit dat die tweede helfte van die vertoning, met 'n ouer Sinatra, soveel meer kykbaar is as die eerste?

'n Interessante fenomeen, siende dat Sinatra se stem bitter min oor die jare verander het. Hoeveel Sinatra aanhangers ken jy wat, deur bloot na 'n opname te luister, vir jou kan se^ of dit 'n ou of jong Sinatra is wat sing?

Van jongs af al was sy stem bykans volkome, insluitende daardie wonderbaarlike Sinatra tydsbereking - 'n eienskap wat U2 se Bono laat opmerk het: "Sinatra does not sing on the beat, but over it".

Selfvertroue? Hy't dit altyd gehad. Of hy 29 of 59 is, Sinatra het styl. Die onbesproke baas van die plaas. Die nek van die plek.

Tog is die ouer Sinatra net beter. Daar is meer van hom - so asof die stem en die houding en die selfvertroue, alles wat altyd daar was net beter in die ouer lyf pas. Asof hy in sy eie lyf ingegroei het.

Dit is alles natuurlik ongelooflike slegte nuus vir die korporatiewe meneertjies en mejuffroutjies - daardie twintig-en-iets bestuurdertjies in vrek senior posisies met groot salarisse wat op 'n jeugdige ouderdom in afdelings ver bo hulle eie gewigsklas probeer boks. Die Engelse het so 'n mooi woord vir hulle - wippersnappers.

Tot kort voor my aandjie in die Palladium saam met Frank was ek altyd bietjie snedig oor die ventjies. Ook seker bietjie jaloers, miskien, weens die feit dat hulIe - met minder as die helfte veldslagmedaljes as hul onderdane, nou die troepe probeer aanvoer.

Nadat ek vir Sinatra op doek gesien het voel ek selfs so bietjie jammer vir hulle.

Nou besef jy hoe moeilik dit moet wees om die stem en die selfvertroue en die tydsberekening te he^ terwyl die belangrikste bestandeel, die magic, net nie daar is nie.

En hoe hard jy ookal probeer, daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. Al wat jy kan doen is geduldig wag in die hoop dat jy meer en meer in jou posisie sal ingroei soos die jare aanstap.

Dis natuurlik as jy gelukkig is en, soos Sinatra, lank genoeg kan uithou totdat talent, houding, lyf en die ouderdom uiteindelik 'n gelukkige ewewig bereik.

Seker dan ook waarom, toe hy uiteindelik daar kom, hy daardie stoel so volkome en stewig vol gesit het, sonder enige gelyke.

Onbetwisbaar die chairman of the board tot die dag van sy dood.

15 March 2006

Vergifnis is nie vir Sissies nie

Ek wil nie eers begin om te vertel wat my alles onderkry van die moderne lewe nie. Niemand is tog lus vir 'n gesanik nie.

Laat my egter toe om oor een een gehate onderwerp meer te vertel: die hedendaagse versugting na die perfekte.

Perfekte mense lewe perfekte lewens, dra perfekte klere en stoot hul perfekte babatjies in perfekte stootkarretjies rond.

Soos enige advertensie op televisie vanaand aan jou sal vertel, kan enigiemand perfek wees - jy moet net dit wat die pefekte jong dame in die reklameflits aan jou oordra, perfek nadoen. Sit jou hand in jou sak en haal uit jou beursie, is altyd die verswygde boodskap van enige oproep tot kitsperfeksie.

Daarna spuit jy net 'n bietjie van hierdie wonderwater onder jou sweterige armholtes en voila. En as niks anders help nie, sit ons jou onder die mes. Die kosmetiese snydokter is die 21ste eeu se grootste smous in perfeksie.

Televisiekameras - om die waarheid te se^ enige kamera - is absoluut verslaaf aan perfeksie. Perfeksie en die kamera is vir mekaar gemaak soos Hollywood gemaak is vir 'n gelukkige einde.

Perfeksie is orals. Daar is geen plek waar iemand wat salig onperfek wil wees meer kan skuil nie.

Een van die dinge wat my werklik onderkry is die manier waarop godsdiens ook 'n slaaf geword het van hierdie soeke na perfeksie.

My stelling is miskien 'n bietjie onregverdig, gegee dat die meeste gelowe die strewe na die perfekte, 'n hiernamaals ver van die smart en swaarkry van 'n onperfekte lewe, as vertrekpunt neem.

Die gemak waarmee baie godsdienste (of moet ek se^ gelowiges?) egter aanneem dat hemel op aarde moontlik is, en hoe eenvoudig dit is, stuit my teen die bors.

Vat jou lewe 'n wobble? Gaan dinge 'n bietjie rof? Moenie stres nie: 'n Vinnige gebedjie en 'n psalm en jy is een, twee, drie weer pure perd.

Die waarheid is dat die lewe gereeld redelik nare goed na jou kant toe slinger. En Christelike begrippe soos liefde, geloof, hoop en vergifnis laat hulle nie sommer op die agterkant van 'n boekmerk definieer nie. Veral as jy nog plek moet los vir 'n prentjie van 'n bossie pienk rose.

Dit is daarom dat 'n nuusstorie wat onlangs hier in Engeland groot belangstelling ontlok het, my so aangegryp het.

Dit handel oor 'n vroulike predikant wat uit haar amp bedank het omdat sy dit ontmoontlik vind om die bomplanters te vergeef wat haar dogter vermoor het.

Julie Nicholson se dogter Jenny, was een van meer as 50 mense wat dood is tydens die selfmoordbomaanvalle in Londen op 7 Julie verlede jaar. Julie worstel nou al maande lank met die haat wat sy vir die selfmoord bomplanter, Mohammed Sidique Khan, koester. Vroee"r die maand het sy besluit dat haar haat nie versoenbaar is met haar amp in die Anglikaanse kerk nie, en bedank.

Sy se^ sy herhaal Khan se naam elke dag met bitterheid.

"Ek is woedend oor die feit dat 'n mens kan kies om 'n ander mens se lewe te neem. Ek is woedend dat iemand dit in die naam van 'n god kan doen. Ek vind dit uiters aanstootlik," het sy luidens een koerantonderhoud gese^.

"Kan ek hulle vergeef vir wat hulle gedoen het? Nee, ek kan nie. En ek wil ook nie."

Sy het daarom bedank as predikant van haar gemeente in Bristol omdat sy dit moeilik vind om die boodskap van vrede en versoening aan mense te bring terwyl sy dit self nie kan uitleef nie.

"As iemand vir my kan se^ dat my vermoe" om Jenny se moordenaar te vergeef 'n einde sal bring aan geweld, dan sal ek moontlik die moed kan vind om dit te doen. Maar ek is nie in my hart oortuig dat ek dit glo nie."

Sy se^ sy dit beteken nie dat sy opgehou het om 'n Christen te wees nie.

"Dit mag nie iets wees wat ek kan hanteer in hierdie lewe nie, maar dit beteken nie ek is nie 'n Christen nie."

Harde woorde, maar dit laat mens dink.

Hoe vergeef mens iemand wat jou kind vermoor het? Iemand wat haar waarskynlik daardie oggend in die oe" gekyk het en gese^ het: "Ek ken nie jou naam nie. Ek wil nie eers jou geld he^ nie, maar vandag gaan jy sterf."

Hoe begin jy om daardie wroeging te deurgrond as jy dit nog nie self beleef het nie?

Daar is egter nog 'n element van Nicholson se persoonlike pelgrimstog wat ek aangrypend vind: Die feit dat sy haar geloof so ernstig opneem dat sy uit haar amp bedank het.

Anne Atkins, 'n rubriekskrywer in die Daily Telegraph, som dit perfek op as sy skryf: "Occasionally - very occassionally, alas - one hears of someone who takes a stand so brave, so honest or so principled that it gives the rest of us strength and hope to carry on."

Dit is 'n verhaal van hoop vir die res van ons wat sukkel om in 'n perfekte we^reld ons koppe hoog te hou terwyl ons daagliks deur tydskrifte, koerante en televisie herinner word watter onaantreklike wurms ons werklik is.

'n Mens kan faal om die Christelike ideaal van vergifnis uit te lewe maar, soos Nicholson, steeds vasklou aan jou Christelike beginsels.

Haar verhaal laat jou ook besef watter ongelooflike pad van innerlike stryd iemand wat dit wel regkry om sulke afgryslikhede te vergeet en te vergewe moet bewandel voordat hy of sy by daardie punt uitkom.

Vergewe en vergeet is twee woorde wat maklik van die tong afrol, maar ware vergifnis is nie vir sissies nie.

08 March 2006

Die ou kon doen met 'n miljoen

Waarom is party mense nooit ryk genoeg nie en wil hul altyd meer geld hê?

Ek loop en tob nou reeds dae lank oor die kwessie en het, helaas, ongelukkig geen antwoord nie.

Die rede vir my getob het heel onskuldig begin.

Die afgelope paar weke was die Britse koerante vol van ‘n oor ‘n ongelooflike kontantrooftog suid-oos an Londen.

Suid-Afrikaners gewoond aan kontantrooftogte sal saamstem dat die rooftog by die Tonbridge kontantdepot naby Maidstone ‘n moerse poging was - om dit sommer in plein Afrikaans te stel.

Rowers het weggekom met £53 miljoen - 'n bedrag wat min klink totdat jy dit omskakel na rand. Ek het al 'n paar keer die afgelope paar weke daardie sommetjie gedoen, en skrik elke keer as ek die eindresultaat sien. Teen gister se wisselkoers was dit R578,949 miljoen. Dit is in enige man se boeke 'n kleinhuisie vol geld.

Die blote logistiek van die roof slaan mens se asem weg. Om so 'n klomp geld te steel moet 'n mens se plannetjies goed agtermekaar wees.

In die eerste plek moet 'n mens weet hoe om in die plek te kom waar die geld opgesluit word. Nodeloos om te se^ - as jy die eienaar van so 'n klomp geld is, laat jy dit nie sommer op straat rondle^ nie.

Die rowers het egter verder gegaan as net om uit te vind wie die sleutels van die depot hou. Omdat dit 'n depot is wat geld namens die Engelse reserwebank na verskillende banktakke versprei, het hulle besef daar is tye van die maand en jaar wanneer daar meer geld in die depot is. Teen die einde van die maand het die meeste mense die geld wat in hul sak is uitgegee. Die winkels het daardie kontant gebank en die banke is besig om dit terug te stuur na die reserwebank.

Nie net is daar meer kontant by die depot aan die einde van die maand nie. Aan die einde van Februarie is daar nog meer geld. Dit is twee maande na Kersfees en die meeste van ons gewone ouens het teen hierdie tyd selfs die spaarvarkie vermoor op soek na die laaste paar pennies.

Elke laaste sent is uitgegee en gebank – net die regte tyd vir die perfekte roof.

Wat die boewe dan ook doen het.

Maar soos ek gesê het, £53miljoen is nie ‘n bietjie pond nie – dit is ‘n industriële hoeveelheid geld. So dit help nie jy daag daar op met 'n ou streepsak en pak die geld daarin nie. Jy moet ten minste ‘n vragmotor hê – in dié geval ‘n sewe ton lorrie – om al die note in te pak.

En om sewe ton geld vinnig af te laai vat tyd en spierkrag. So ‘n vurkhyser is altyd handig as jy baie haastig is.

Sien wat ek bedoel? Om baie geld te steel kos bitter goeie beplanning.

Ten spyte van die feit dat mens van kleintyd geleer is dat dit lelik is om ander mense te goed te steel, kon ek dus nie help om 'n geheime bewondering te hê vir die manne en vroue wat dit reggekry het nie. Dink net daaraan: genoeg geld sodat jy nooit weer in jou lewe jou oor enigiets hoef te bekommer nie.

Lus vir ‘n bietjie vakansie, ‘n wegbreek na ‘n eksotiese bestemming? “Kry vir ons kaartjies liefling, dan ry ons sommer môre.”

Totdat die Britse polisie die eerste arrestasies gemaak het, het ek heimlik gewens dat ek een aand op 'n laatnagtrein een van die ouens sou raakloop. Sou dit nie gaaf wees as hy een van daardie pakke £20-note uit sy sak haal en dit vir my gee nie? As mens geld met 'n vurkhyser steel sal jy mos nie ‘n een pakkie mis nie?

So het ek aangedroom totdat die identiteit van die boewe bekend geword het.

Die aanvanklike berigte suggereer dat die meesterbrein agter die roof 'n miljoenêr motorverkoopsman is.

Bid jou dit aan. 'n Man met 'n vakansievilla in Spanje, 'n reuse paleis van 'n huis op 'n plaas op die Engelse platteland, duur motors en 'n voorspoedige besigheid en hy is steeds nie tevrede nie?

So gulsig dat hy en 'n paar pêlle een aand om 'n paar biere 'n plan bedink om 'n vragmotor vol geld te gaan steel. Ag nee man. Dit is obseen.

Dis een ding as jou liefde vir geld jou dryf om harder te werk en groter risiko's in die sakewêreld te neem sodat jy nog 'n paar nulle agter jou bankbalans kan skryf. Om geld met 'n vurkhyser te gaan steel is 'n heeltemal ander storie...

02 March 2006

'n Nasie van vrot winkeleienaars

Ek ontmoet verlede week 'n Sweedse joernalis, Caspar Opitz, tydens 'n besoek aan die Britse parlemente^re kompleks by Westminster.
Ons is daar vir 'n bekendstellingstoer van die Britse hoe"r- en laerhuis en om 'n paar Britse parlementslede te ontmoet.
Op die dag van ons besoek ruik die lug in die statige ou gebou na buskruit - gelukkig die politieke soort, nie die tipe wat selfmoordbomaanvallers rondom hul middellywe vasbind nie.
Dis die soort atmosfeer wat in parlementsgeboue regoor die we^reld heers ten tyde van politieke drama. 'n Gefluister in die gange en angskrete wat hol uit kelderverdiepings weergalm terwyl nog 'n politieke opponent by wyse van spreke keelaf gesny word.
Die rede vir die opgewondenheid in Westminster was die feit dat Tony Blair se Arbeiders die vorige aand twee keer na mekaar tydens 'n stemming in die laerhuis verslaan is.
Dit beteken natuurlik glad nie dat die Brittanje soos ons dit ken onherroeplik gaan verander nie. 'n Ander eienskap van parlemente dwarsdeur die demokratiese we^reld is dat politiek gevegte net belangrik is vir die mense wat daaraan deelneem. Buite op die sypaadjie voor Big Ben is die lug net gevul met die reuk van grondboontjies gedoop in warm karamel - die stapelvoedsel van toeriste wat dit waag om in die koue maande die Britse hoofstad te besoek.
Terwyl die hele kompleks rondom ons gons en elke parlementslid wat ons ontmoet nie kan wag om haar weergawe van gebeure met ons te deel nie, gesels ek en Caspar egter oor veel belangriker dinge. Die dinge wat gewone mense partykeer laat wens dat hulle 'n pakkie buskruit byderhand het...
Soos ek, het Caspar pas in Londen aangeland.
"So, het jy al alles gedoen wat nodig is om jou kantoor hier in Londen aan die gang te kry?" vra Caspar. "Het jy al 'n selfoon? Is jou internetkonneksie in orde?"
Ek rol my oe" in 'n woordelose gebaar, genoeg vir Caspar om te reageer.
"Is dit nie verskriklik nie?" vra hy.
"En ek het gedink ek kom bly in 'n eerstewe^reldse land," se^ ek.
Binne 'n gesprek van enkele sekondes raak Caspar my beste vriend in Londen. Uiteindelik het ek iemand met wie ek my frustrasie kan deel oor die skouer-optrekkende afsydigheid wat die meeste Londense winkelassistente en amptenare as goeie diens beskou.
Uitlanders, soos ek en my vriend Caspar, is nie die enigste mense wat kla oor die misrabele diens wat jy in die Hoofstraat kry nie.
'n Rubriekskrywer in die Daily Mail skryf onlangs dat dit Napoleon is wat gese^ het dat die Britte 'n nasie van winkeleienaars is. Hy gaan egter voort: "Wat Napoleon nagelaat het om te se^, is dat ons 'n nasie van besondere swak winkeleienaars is."
Die gemiddelde winkelassistent in Londen is klaarblyklik daar om die prys van die item wat jy van die rak geneem het te skandeer, jou geld te neem en die paar pennies kleingeld aan jou te oorhandig. Niks meer nie.
Jy mag niks bevraagteken nie, is die eerste gebod om te oorleef as Britse verbruiker. En die tweede en belangrikste: Moet nie 'n bank betree nie. Dit kan ernstige gevolge vir jou gesondheid inhou.
Van gesondheid gepraat: Die Britte kla steen en been oor hulle nasionale gesondheidstelsel, die NHS. Dit blyk egter dat beide ek en Caspar net goeie herinneringe van ons besoek aan ons onderskeie NHS-klinieke gehad het. Vriendelik, innemend, beleef en effektief. Alles wat die besoek aan die plaaslike hardewarewinkel nie was nie.
Vreemd dat die Britte veel meer krities is oor die diens wat hulle van hul regering kry as van hul kruidenier.
Van hulle bankier verwag hulle blykbaar heeltemal niks.
Ek het altyd gedink dat Suid-Afrikaanse banke onder die slegste finansie"le instellings ter we^reld moet tel. Dat hulle, met enkele uitsonderings na, daarop uit is om jou geld op allerhande onderduimse maniere - meestal vermom as bankkoste - vas te le^. En om alles te kroon is hulle nog ongeskik en onbehulpsaam ook.
Na twee maande in Londen het ek my deuntjie verander. Ek dink steeds Suid-Afrikaanse bankkoste is buitensporig, maar ten minste glimlag hulle terwyl hulle jou geld vat.
Na meer as agt weke se gesukkel het my onderhandelinge met Lloyds Plc, een van Brittanje se grootste banke, om tekenregte te kry op 'n werkrekening te kry tot stilstand geknars. Geskrewe korrespondensie raak gerieflikheidshalwe weg. Telefoonoproepe word deurgesit na die alomteenwoordige "oproepsentrum" waar gesiglose stemme die antwoord op jou vraag as 'n voorafgeskrewe rympie van 'n rekenaarskerm af herhaal. Op die vraag "wat het geword van persoonlike diens?" het die rekenaar geen antwoord nie.
Amptenare by die tak het, net soos die meeste winkelassistente, 'n kursus bygewoon waar hulle geleer is om moeilike klie"nte soos ek te hanteer. Hulle neem die heilige posisie in: Met palms na bo gedraai staar hulle met engelagtige gesiggie oor jou regterskouer na die horlosie teen die oorkantse muur terwyl hulle bid dat toemaaktyd vandag gouer moet kom. Onverstoord. Niks kan hulle oortuig dat die klie"nt, soos die beroemde spreuk dit wil he^, altyd reg is nie.
As ek 'n Absa-klie"nt was, het die nuus dat die Britse Barclays vir Absa oorgeneem het my snags in koue sweet laat rondrol uit vrees vir wat wag.
Op 'n onlangse besoek aan Barclays se tak in Knightsbridge word ek gehelp deur 'n vriendelike Afrikaanssprekende jong man, klaarblyklik gesekondeer van Absa na Barclays sodat hy by die Britte kan leer hoe die bankstelsel hier werk en, neem ek aan, sy nuutgevonde kennis in Suid-Afrika kan terugploeg.
Ongelukkig was ons gesprek baie vlugtig en kon ek hom nie uitvra oor die klie"ntedienshandboek wat hy besig was om op te swot nie. Ek kan egter net raai dat die eerste hoofstuk begin met die les: Hou op glimlag, hou jou palms na bo en wag vir toemaaktyd.