10 December 2006

Ons soek vir Vader Krismis t'rug


Toe ek klein was het mens Vader Krismis net een keer per jaar gesien.

Ek onthou een jaar veral goed. Ons was saam met vriende op ’n plaas buite die dorp en my pa het hom met sy ou 1934-Chev op die stasie gaan haal waar hy met die trein aangekom het.

Die Chev het een van daardie oopklap dicky seats agter en Vader Krismis het “in die diekie gesit”, soos ons altyd gesê het. Van daar het hy vir ons kinders gewuif terwyl my pa op die toeter lê om seker te maak almal weet wie die belangrike gas is wat vanaand in die Chev se diekie ry.

Daarna het almal in ’n reuse kring onder ’n boom in die tuin gaan sit en een van die grootmense het vir Vader Krismis ’n opvou kampstoel in die middel van die kring neergesit. Dan het hy in die stoel neergesak en in ’n groot kussingsloop rondgekrap terwyl hy die kinders een vir een by die naam roep om hulle presente te kom kry.

Dan skielik was hy weg en moes ons ’n hele jaar wag voordat ons hom weer kon sien.

Die herinnering van Vader Krismis op sy opvou-kampstoel onder ’n groot plataanboom kom verlede naweek by my op terwyl ek in die grou strate van Amsterdam rondloop.

In Holland bring Sint Nicolaas sy presente al op 6 Desember en verlede Sondagaand sit ons by ons goeie vriendin Fen in haar woonstelletjie in die Rivierenbuurt in die suide van Amsterdam en wag op die heilige ou vader se koms.

Anders as ons Vader Krismis, wat in die diekie van die Chev gery het, ry Sint Nicolaas op ’n wit perd en kom hy en sy helper, Swarte Piet, elke jaar met ’n skip van Spanje af.

Terwyl ons wag eet ons marsepein, spekulaas en pepernoten terwyl Fen op die klavier speel en ons almal saamsing:

Zie ginds komt de stoomboot uit Spanje weer aan

Hij brengt ons Sint Nicolaas ik zie hem al staan

Zijn knecht staat te lachen en roept ons reeds toe:

Wie zoet is krijgt lekkers, wie stout is de roe!

Och lieve Sint Nicolaas, kom ook eens bij mij,

En rijd tog niet stilletjies ons huisje voorbij.

Gelukkig hoor hy ons pleidooi en kort voor lank lui die deurklokkie hard en aanhoudend. As ons die deur oopmaak staan daar ’n mandjie presente op die drumpel en wag wat ons opgewonde na binne dra om te kyk wat die goeie ou oom vir ons gebring het.

Ons Nederlandse vriende vertel dat hul tradisionele pakjesavond deesdae erg bedreig word deur die groot winkelgroepe wat besig is om die land se kinders bekend te stel aan Sint Nicolaas se meer wêreldwyse neef, Kersvader.

“Die Kersman”, soos hulle afwysend na hom verwys, het ook ’n groot wit baard, maar in plaas van die heilige Sint Nicolaas se biskoppehoed, dra hy ’n rooi slaaphoed en kom van die koue noordpool, eerder as Spanje met sy meer aangename klimaat.

Die rede vir die indringer se koms is duidelik. Die Nederlandse winkeliers besef dat die vrygewige Kersvader ’n baie beter verkoopsman is as die suinige Sint Nicolaas wat relatief klein geskenkies saam met ’n gediggie voor jou deur kom neersit.

En, reken hulle sinies: Sou dit nie wonderlik wees as elke Hollandertjie by Sint Nicolaas én by die Kersman ’n presentjie kry nie?

Die Nederlandse establishment is egter besig om moedig vas te skop. Die nasionale televisiestasies hou vol dat daar net één Sint Nicolaas is. Hulle ag om die waarheid te sê sy aankoms só belangrik dat die televisienuus elke jaar daaroor verslag doen.

En skielik besef ek dat ons Vader Krismis ook êrens langs die pad in ’n Kersman verander het. Hy kom lank reeds nie net een keer ’n jaar in die diekie van my pa se Chev by ons om nie. Hy sit ook nie meer op sy plêstiek kampstoel onder die plataanboom om die koel aandluggie te geniet ná ’n warm somersdag op die trein uit die Kaap nie.

Deesdae is sy na-apers oral. In hul vieslike plastiek-mombakkies en hul rubber-rendiere en die lawwe foamalite sneeu wat heeltemal uit plek lyk in die Afrika-son.

Miskien is dit tyd dat ons, soos die Hollanders, vasskop en sê: Weg met die winkel-Kersmanne met hul watte baarde en rooi slaaphoedens.

Ons soek vir Vader Krismis t’rug.

  • Hierdie rubriek het die eerste keer in Rapport verskyn op 10 Desember 2006.

1 comment:

Machiel said...

Dit was nou lekker om hierdie brokkie te lees. Net een korreksie, "pakjesavond" is 5 Desember, nie die 6de nie. Op die 6de vertrek Sint en sy Swarte Piete weer stil-stil na Spanje.

Die lekkerste van die Hollandse manier, is dat mens geen kersfeesliedjies of keersfeesadvertensies op tv op die radio hoor, voor 6 Desember nie. Anders as in SA, waar mens in Oktober, selfs in September al daarmee gebombardeer word.

Groete