04 December 2006

Die waaiers van die oranje-blanje-blou is erg verward


Rian Oberholzer, ’n man wat eens op ’n tyd aan bestuur van rugby in Suid-Afrika gestaan het, het op ’n keer afkeurend na rugbyondersteuners verwys as die brandewyn-en-coke-brigade.

Destyds was die implikasie dat ons klomp op die pawiljoene effens minder breinselle as die gemiddelde het en daarom liefs moet stilbly oor sake soos swak skeidsregters, afrigters en rugbyadministrateurs.

Dis ’n baie onregverdige ding om van die mense wat jou salaris betaal te sê, maar soms – soos pas weer verlede Saterdag gebeur het – wonder ’n mens tog oor die intellek van sommige ouens wat saam met jou kom voetbôl kyk.

Soos die mense wat steeds met die oranje-blanje-blou by ’n rugbytoets opdaag.

Die gewoonte is klaarblyklik veral in die buiteland gewild en verlede Saterdag op Twickenham was daar maklik tien sulke vlae sigbaar.

Ek glo ons het hier te doen met ’n geval van erge simboolverwarring. Jong mense wat vlae rondswaai om uiting te gee aan hul politieke frustrasies – hulle glo klaarblyklik hulle is tweederangse burgers in hul eie land – sonder om te besef dat die simbool wat hulle gekies het onversoenbaar is met toetsrugby of hul eie lewensomstandighede.

Ek het verlede Saterdag met ’n hele paar van hulle gesels en die reaksie is bykans altyd dieselfde. As ’n mens hulle daarop wys dat die Springbokke nooit op Twickenham sou kon speel as dit nie was vir die nuwe Suid-Afrikaanse vlag nie – die een wat hulle klaarblyklik so afstootlik vind – kyk hulle jou met ongeloof aan.

“Dit is nie waar nie, ons het nog altyd hier gespeel,” het een kêrel vol selfvertroue teruggekap.

’n Ander se pa, ’n groot oom daar van Clanwilliam se wêreld, het op my afgestorm en gesê ek moet “die kinders” uitlos, klaarblyklik omdat hulle nie weet wat hulle doen nie.

Op ’n sekere vlak het ek simpatie met dié stelling. Toe die Springbokke laas op Twickenham gewen het, was hierdie jong manne nog nie eers op hoërskool nie.

Sportisolasie, die Nieu Seelandse meelbomtoer en Peter Hain is dinge waarvan hulle heel waarskynlik nog nooit gehoor het nie.

Selfs John Williams se ramspoedige Europese toer van 1992, die eerste Springboktoer van die post-isolasie era, is té ver in die verskiet om enige indruk op hulle jong gemoedjies te maak.

’n Gebrekkig historiese perspektief is natuurlik geen misdaad nie, maar as dit ’n verskoning word vir ’n onvanpaste gedrag by ’n internasionale toetswedstryd, is dit tyd vir ’n geskiedenisles.

Weet hierdie outjies nie dat in die jare rondom hulle geboorte talle jong mans van hul ouderdom in die bosse van suid-Angola doodgeskiet is nie? ’n Oorlog geveg onder dieselfde vlag waarmee hulle nou so trots na Twickenham marsjeer.

Hoeveel liewer sou hierdie jong soldate nie ook hul na-skoolse jare in Londen wou deurbring as om Kubane in die bosse rond te jaag nie? Hoeveel lekkerder sou dit nie wees om in Brittanje rond te jakker op ’n Statebondsvisa terwyl jy in pond betaal word nie?

Is dit té vergesog om van hierdie nuwe geslag jong Suid-Afrikaners te verwag om te weet dat dié voorregte wat hulle nou geniet nie moontlik sou wees onder die oranje-blanje-blou wat hulle nou met soveel animo swaai nie?

Hiermee wil ek vir geen oomblik voorgee dat protes – as dit inderdaad is waarmee ons hier te doen het – verbote is nie of dat die nuwe Suid-Afrika verhewe is bo enige kritiek nie. Allermins.

Daar is baie waarmee ek ook ongelukkig is. Dinge wat heeltemal anders uitgedraai het as wat baie van ons in 1994 gehoop het.

As ’n ingenieur met jare se ondervinding vir my sê dat hy bitter graag in Suid-Afrika wil werk, maar nie werk kon kry nie en daarom besluit het om ’n koue, nat en modderige eiland sy tuiste te maak, raak ek baie, baie moerig.

Maar is ek bereid om – net omdat ek kwaad is – in ’n oomblik van misplaaste nostalgie Twickenham toe te gaan met ’n vlag wat glad nie te versoene is met ’n moderne Springbokspan nie?

Beslis nie.

Vir die enkele swaaiers van die oranje-blanje-blou vra ek daarom mooi: Gebruik ’n slag jou verstand man. Die rugbywêreld kan doen met ’n paar minder morone.

  • Die rubriek het vir die eerste keer in Rapport verskyn op 3 Desember 2006.

3 comments:

Machiel said...

Persoonlik kan dit my nie skeel watter vlag vir wie waarde het nie. Wat my opval is dat baie van die oranje-blanje-blou outjies nie weet of dit nou die oranje baan, of die blou baan is wat bo moet wees nie... Hulle dink blykbaar dat die blou wys op die blou van onse hemel in plaas van die dieptes van ons see...

Gertjie said...

Kyk bietjie na: www.bcnet.co.za
Oulike afrikaanse inhoud
Groete

Gertjie said...

Ek dink enige vlagswaaiery by sport is onvanpas en kom neer op n politieke "statement". Ons wil rugby kyk man!, nie blootgestel word aan n ander ou se politieke sieninge nie.