12 November 2006

Die boodskap van die Rooi Papawer

Die afgelope paar weke is Londen onder beleg van die Guy Fawkes-brigade.

Hoe dié tradisie dit regkry om te bly voortbestaan in ’n land wat só veiligheidsbewus is ek nie my klein seuntjie in die openbaar op my skouers mag ronddra nie, is my gat se deksel.

’n Vriendelik supermarkstem moedig my die ander dag in Sainsbury’s aan om by die toonbank te vra na hulle verskeidenheid klappers en vuurwerke “that will make your bonfire-night a truly memorable occasion”.

Vir eens was dit ’n advertensie wat geen doekies omgedraai het nie. Die donderbusse en ander munisie wat hulle daar verkoop is genoeg om my woonstelblok te laat sidder soos wat dit ’n halfeeu gelede onder die aanslag van daardie Mugabe-lookalike van Duitsland gedoen het.

So. Met ’n Londen wat op die oomblik sterk herinner aan Bagdad vind ek dit daarom baie gerusstellend dat Remembrance Day so kort op Guy Fawkes volg.

Die ou tannies wat rooi plastiek papawers by die ingange van treinstasies verkoop se boodskap dat niemand van ons die aaklike prys van oorlog durf vergeet nie, kan nooit té gering geskat word nie.

Ek voel bevoorreg om ’n Londen te kan beleef waar die tannies (en omies) agter die papawertafels en –kollektebussies nog deel vorm van die institusionele geheue van dié stad.

Hulle is die laaste oorlewendes van ’n generasie – in die Weste in elk geval – wat nog die twyfelagtige voorreg gehad het om in ’n totale oorlog betrokke te wees. ’n Oorlog waarby hele families, ma, pa, boetie en sussie teen wil en dank betrek is – die mans aan die front en die vrouens in die munisie-fabrieke terwyl hulle saans in die bomskuilings wegkruip vir die Duitse bomwerpers.

Een van die eerste dinge wat ’n mens opval van die Engelse is hoe, in die woorde van ’n goeie vriend, “oorlogbedonnerd” hulle is. Wat waar is. Probeer maar net tel hoeveel monumente en museums daar in Londen is met ’n oorlogstema. Om van oorlogsdokumentêre op televisie nie eers te praat nie.

Die voor die handliggende verduideliking hiervoor staan natuurlik elke Novembermaand agter die papawertafels: As Hitler so ’n ongelooflike direkte invloede op jou lewe gehad het, sou jy ook ’n reusagtige monument ter ere van jouself en jou medestryders laat oprig het!

Om oor die verlede te pieker is reg en goed en iets waarvoor ek die Engelse baie bewonder. Maar as dit gemakliker raak om die konflikte van 60 en 90 jaar gelede te onthou as die een waarin die land tans betrokke is, het jy probleme.

Daarmee wil ek nie sê dat die Britte besig is om die olifant in hul voorhuis – die oorlog in Irak – doelbewus te ignoreer nie. Allermins.

Die probleem is egter dat die debat oor die oorlog in Irak sukkel om enigsins verder te vorder as die “ek het jou mos gesê”-variëteit, so dan en wan afgewissel met ’n politikus of kommentator wat erken dat hy altyd ten gunste van die oorlog was, maar nou besef dat hy (of sy) verkeerd was. Big deal.

Die werklike olifant in die kamer is dat niemand – nie George Bush, Tony Blair óf hul politieke teenstanders – enige idee het hoe om probleem op te los nie.

Wat help dit enigeen om nou te sê dat hulle van die begin teen die oorlog gekant was? Óf dat Donald Rumsfeld hom nie gesteur het aan die Britte se weldeurdagte planne vir ’n post-Saddam Irak nie?

Die leier wat nou my stem sal kry, is die een wat met ’n vredesplan vorendag gaan kom. En dit is duidelik dat beide die Demokratiese Party in Amerika en David Cameron se Tories in Brittanje op die oomblik net tevrede is om politieke munt te slaan uit Bush en Blair se probleme – sonder om self hulle nekke uit te steek en hul alternatiewe op die tafel te sit.

Dié benadering mag miskien sin maak in die wêreld van Westminster en Capitol Hill se fokusgroepe en meningsopnames waar sukses gemeet word aan steun by die stembus.

Ek twyfel egter of dit heeltemal in die gees is van die boodskap wat die tannie met die rooi papawertjie – een van die min onder ons wat al self die teiken van ’n bom was –vandag op Herinneringsdag wil bring.

No comments: